07 Augustus 2013

Die Burger Bergfietsuitdaging 2013

Hildegarde en Johann besig met "setup"
Voorbereiding vir die wedren het begin met iets wat lankal reeds gedoen moes gewees het, ons "bike setups".  Dit behels basies die opstel / instel van jou fiets sodat dit perfek vir jou is.  Dit is waar jy al jou krag en energie optimaal in die fiets plaas en die beste resultaat vir jou trap kry.  Ek en Hildegarde het vir Johann Rabie (Professionele pad- en bergfietsryer) genader om ons s'n te doen.  Ons is in die wolke!  Die resultaat is baie meer as wat ons verwag het en ons voel fantasties in die posisie wat ons nou op fietse is.  Ons het sommer al vier ons fietse (2 pad en 2 berg) gedoen.  Johann is geduldig en gebruik sy tyd met die opstellings - wat 'n belewenis.  Ek sal dit beslis vir enigeen aanbeveel.


Delheim enkelspoor - Jaco
Delheim enkelspoor - Hildegarde
Saterdag, 3 Augustus 2013, het aangebreek en dit was die eerste keer dat ek en Hildegarde met ons nuwe "kit" as Team Nexus sou ry.  Ons het van die begin af gesê dat ons as 'n span gaan ry, dus bymekaar gaan bly.  Makliker gesê as gedaan.  Ons het in groep D die oggend weggespring - 08h35.  Dit was koel, maar beslis nie koud nie.  Daar was 'n neutrale zone vir ons om uit die dorp te kom waar die regte resies sou begin.  Almal het ons gewaarsku dat daar ongeveer 1 500 m se vertikale klim in die 60 km wat ons sou aflê, is.  Ek was redelik goed voorbereid en het sterk gevoel.  Ons het met 'n gemaklike pas begin en die eerste klomp klimme trotseer.  Hildegarde het baie goed bygehou en ek het die heeltyd net gesorg dat sy my van agter kan sien.  Ons het lekker gery tot op so 25 km waar ons eerste probleempie van die dag om die draai was.  Dit was net na die eerste "singletrack" van die dag, gevolg met 'n afdraand.  Ek was voor en het 'n sloot in die pad gesien en stadiger gery.  Hildegarde het nie waargeneem dat ek stadiger ry nie en toe sy dit agterkom was dit te laat.  Sy het ankers gegooi, maar die koeël was reeds deur die kerk.  Sy is links teen die wal af en het 'n groot rots skrams geraak - val 1 en die bloed het gevloei en die humeure het begin optel.

Team Nexus - Einde in sig!
Julle moet nou mooi verstaan, Hildegarde is my Epic Partner, maar sy is ook die ma van my kinders en my bruid.  Dit is glad nie lekker om haar te sien seerkry nie.  Dit is die hoofrede hoekom ek op die stadium voor ry - wat die oog nie sien nie, weet die hart nie van nie!  Ek stres myself dood as ek agter haar ry en maak dan self onnodige foute.  Na die val kon ek min reg sê of doen.  Ek verstaan dit, want daar was pyn.  Bergfiets is egter 'n ingewikkelde sport en om emosies by die saak te gooi maak dit nie makliker nie.  Ons het in redelike stilte vir die volgende uur verder gery.  Ek kon agterkom Hildegarde raak al hoe sterker en vir myself gevra waarom nou en nie vroeër nie.  Sy het my meegedeel dat sy nog nie lekker weet om haarself te "pace" nie en dit met tyd sal regkom.  Dit maak sin en beteken vir my ook baie aangesien ek geneig is om te vinnig uit die blokke te kom en dan uit te sak in laaste deel van resies.
Ons is klaar!
Ouch! Hildegarde mediese hulp

10 km voor die einde het die noodlot ons weer getref.  Die korter afstand se groepe het deel geword van ons resies en daar was baie onervare ryers deel van die pakkie.  Ons is teen 'n bult af en die persoon voor my het briek  aangeslaan, ek ook - nie Hildegarde nie!  Sy het verby my gekom en my handvatsel getref.  Ons altwee het 'n pragtige stukkie wingerd in Stellenbosch gekoop!  Ek het nie so baie skade, maar Hildegarde het op die ander elmboog as die vorige val te lande gekom en hierdie was 'n lelike wond.  Haar agter cazette het ook vir die 2de keer losgekom en ons moes stop om dit met hand vas te draai - slegs 'n tydelike opsie.  Ons het klaargemaak in 3h55 min - baie tevrede.  Ons weet baie meer oor mekaar se vermoë asook waaraan ons moet werk.

Ons wil ook vir Malmesbury Toyota baie welkom sê as deel van ons borge span.  Malmesbury Toyota gaan ons ondersteun op ons pad na die Epic.  Ons waardeer die lojaliteit wat julle aan ons betoon en wees verseker van ons volgehoue ondersteuning.

Volgende op ons kalender is die Java Challenge wat gaan plaasvind op Saterdag, 10 Augustus by Van Loveren in Robertson.  Meer daaroor volgende week!

Groete,
Jaco G

29 Julie 2013

Gauteng toe

Scott Scale 900 RC
Laat ek begin deur jul te vertel hoe die afgelope naweek afgespeel het.  Daar het so baie dinge gebeur, dit voel amper asof dit langer as 'n naweek moes wees.  Ek is Vrydag rondom middagete op na Gauteng om my nuwe "Scott Scale 900 RC" te gaan haal.  Ek het verlede Maandag die advertensie op www.thehub.co.za gesien en dadelik geweet die fiets is vir my bedoel.  Ek was nie eerste in lyn vir hom nie, daar was reeds ander belangstelling, maar die aand het Iwan Roux (vorige eienaar) my laat weet die fiets is myne as ek hom wil he.  My antwoord was 'n besliste JA!


Welkom by Lanseria
Ek het reëlings begin tref om Vrydag op te vlieg, die fiets op te tel, by my broer te kuier en weer Saterdagaand terug te vlieg - regte Stralerjakker!  Ek is toe Vrydagoggend by Adventure Cycles om waar ek 'n boks gehuur het vir die naweek - ek kan dit aanbeveel indien jy ooit met 'n fiets moet reis.  Gaan kyk by www.bikesafe.co.za hoe die bokse lyk en werk.  Jou fiets is veilig en die boks sluit, so niks kan verdwyn nie.  Ek is na die lughawe en is toe om 11:20 in die lug oppad na Lanseria.  Ek sal nie sommer weer OR Thambo toe vlieg nie - Lanseria is lekker rustig en dinge gaan net baie makliker, ook goedkoper.


Ek en Iwan
Lekker Kaapse wyn!
My broer (Stephan Geldenhuys) het my opgetel en ons is Parkhurst in Johannesburg toe.  Dit was 'n eerste vir beide van ons - dankie GPS!  Vrydagmiddag verkeer in 
Johannesburg is nie vir sissies nie.  Teen hierdie tyd was ek al net so opgewonde om my bike te sien soos wat ek was toe Hildegarde my gevra het om te "kys" destyds!  Ons het by Iwan Roux se huis gestop en voordat ek die fiets gesien het, het ek geweet die fiets sal netjies wees.  Hul huis is onberispelik en ek kon 'n trots by Iwan bespeur en het geweet die fiets sal met dieselfde trots hanteer wees.  Ek was ook nie verkeerd nie. Top kondisie en elke sent werd - dankie Iwan.  Iets wat ek nie vroeër genoem het nie was dat Iwan my gesê het ek skuld hom Kaapse wyn omdat hy so baie mense moes wegwys.  Ek het toe so gemaak (sou elk geval) - dit tel nie as omkoop nie!

Hyundai vol gelaai!
Ek en Stephan - Monte Casino
Ons moes toe die fiets in die boks in 'n Hyundai I20 kry, nie so maklik, maar beslis doenbaar - sien foto!  Ons het van Parkhurst gery na Monte Casino vir lekker aandete by een van my gunsteling restaurante - Col'Cacchio.

Gesonde Ontbyt
Ellispark
Die volgende oggend het ons 'n rustige ontbyt by Mugg & Bean gehad, vanwaar ons na Ellispark vertrek het vir Stephan se wedstryd wat hy moes blaas Goue Leeus O/19 vs Vrystaat O/19 om 13:00. Hy moes ook 15:00 lynregter wees by die O/21's.  Ek moes 17:40 op lughawe wees.  Dit beteken dat as hy 17:00 klaar is met die wedstryd ons 40 min Lanseria toe het van Ellispark af.  Enigeen wat daai paaie ken sal weet dat dit feitlik onmoontlik is, maar ons moes probeer!  Ellispark was 'n enorme voorreg.  Ek was in die kleedkamers, in die tonnel en ook op die veld.  'n Voorreg wat ek dink nie vir almal beskore is nie - dankie Boet!


Ons het daai Hyandai oop kêtels lughawe toe gejaag.  Ek het solank ander vlugte begin "Google".  Om 17:43 is ek Lanseria binne, sonder my fiets, Stephan het nog aangekom met hom.  Ek is amper bo-oor die toonbank en het gemaak asof ons in 'n ongeluk was en dit net-net lewendig tot by lughawe gemaak het.  Hulle het my gehelp en om 17:50 het ek alweer geklim!  Ek was lanklaas so verlig.  Dit het gesorg vir enorme opwinding (en stres) na 'n fantastiese dag en 'n half saam met my broer.

Met my aankoms tuis rondom 21:30 het ek sommer dadelik begin om weer die fiets inmekaar te sit net vir ingeval dit ophou reen en ek die volgende dag dalk 'n spin kan gaan vat - kon toe nie en moes maar noodgedwonge Sondag padfiets ry.

My "trippie" was op verskillende vlakke vir my uiters geslaagd.  Ek het 'n great ou in Iwan Roux ontmoet.  Ek het meer as een nuwe plek in Johannesburg omgewing gesien en ek het kwaliteit saam met een van my beste pelle (my boet) gehad.  Als in als 'n uiters suksesvolle "roadtrip" en 'n lekker verhaal om te vertel!

Volgende op die lys is my en Hildegarde se "bike setups" met professionele fietsryer Johann Rabie voor Saterdag se Die Burger Bergfietsren.  Sal 'n blog skryf net oor die "setup" aangesien daar baie mense is wat nou begin ry en dalk nie die belangrikheid van so iets besef nie.  Meer daaroor volgende keer!

Lekker jaag!
JG

25 Julie 2013

Julie eskapades

Almal wonder seker nou al wat aangaan dat die blog so stil is.  Die feit van die saak is, dis koud en nat in die Wes-Kaap, my seisoen by die werk is aan die gang, dit was skoolvakansie wat dit 'n bietjie meer rustig gemaak het en daar was geen "races" op ons kalender gewees nie.  Dit is besig om vinnig te verander.  Ons volgende "race" is Die Burger Bergfietswedren op 3 Augustus 2013 te Stellenbosch.

Wat het die afgelope 3 weke in ons lewens gebeur?  Ek en Hildegarde is besig om fiksheidsvlakke in stand te hou.  Elkeen is steeds besig met sy eie oefenprogram.  Myne is so 7 - 9 uur per week op fiets.  Ek het ook weer begin draf - wat 'n marteling vir my, maar voel dis goed vir die longkapasiteit.  Hildegarde is besiger as ooit.  Klas gee, draf, bergfiets, padfiets en gym is heeltyd op haar program.  Ek dink die bergfiets gogga het haar nou lekker gebyt.  Sy is in konstante gesprekke met mense wat reeds die Epic voltooi het en weet nou al baie meer oor wat om te verwag.  Sy het ook begin om 'n biokinetikus te sien wat haar gaan help om die regte spiere te oefen en sterker te kry - sy sal maar vir my moet help!

Ons gesin - Oubergpas
Lekker om die vuur
Oubergpas van bo
Ons was die laaste naweek van die skoolvakansie vir 'n wegbreek na Blesfontein in Sutherland waar ons glad nie geoefen het nie - dit was baie nodig.  Lood en Saretha het saam met ons gegaan en ons het lekker gerus en gekuier.  Ons het ook met die terugkom slag dieselfde roete gery as wat ek en Lood met die fietse in April gedoen het, wat 'n belewenis!


Kerk in Sutherland
Die pragtige natuur daar is baie goed vir die siel en ons het vol energie teruggekom.  Die kinders kon darem ook so 'n bietjie van die vakansie gevoel kry en het die heeltyd gevra wanneer dit gaan sneeu!  Pa se antwoord - nooit die naweek nie!.


Skerp draai op Oubergpas
Ek en Lood kon elke knikkie in die pad onthou en het vir onsself gesê dat as ons voor die fietsrit geweet het hoe die pad is, ons dit waarskynlik nooit sou aanpak nie.


Lood se foto
Ons terugkoms het ook die nuwe skoolkwartaal se aankoms aangekondig en dinge is weer vinnig terug na normaal.  Week 1 na die skoolvakansie het vir my drie aandvergaderings beteken en weereens moes ek my dinge fyn sny om te kon oefen.  Een baie lekker van die nuwe kwartaal was ons nuwe "racekit" wat deur die pos gekom het.  Ek het lank daaraan beplan en is baie tevrede met die eindresultaat.  Dit voel fantasties en ek hoop dit vang die oog soos wat die bedoeling was!
Hildegarde - Fitting

In Malmesbury het ons die afgelope week ook die Malmesbury Fietsryklub "herstig".  Die sport groei baie goed in ons area en ons wil dit meer formeel aan die gemeenskap bemark.  Ons sal voorsiening maak vir pad- en bergfietsryers.  Gaan volg asb malmesburyfietsryklub.blogspot.com.  Daar sal inligting oor opkomende wedrenne, oefenritte en ander kommunikasie voordurend deurgegee word.

Eerskomende naweek gaan ek my "nuwe" fiets in Gauteng haal.  Ek gaan ook by my broer daar draai.  Hy blaas Saterdag op Ellispark, so dit sal 'n eerste vir my daar wees.  Bly asb ingeskakel op die blog, want Sondag "post" ek alles oor my trippie na die ou Transvaal!

So tot dan, lekker oefen en bly positief.  Onthou ons almal jaag verskriklik, maar eindig op dieselfde plek!

Tot dan,
JG

02 Julie 2013

My "regte" werk

Ek het op 'n plaas grootgeword, so die liefde vir die natuur was nog altyd daar.  Dit is ook waarom daar so 'n groot aantrekking na sporte soos bergfiets, draf en driekamp is.  Die beroep wat ek as my "regte" werk beskou, is 'n landbouchemiese verteenwoordiger.  In die ou dae het die mense na ons verwys as "gifsmouse"!  Ons werk met die natuur en ons kantoor is buite.  Ons het in meeste gevalle 'n baie alleen werk - op jou eie in die lande.  Ek kan my werk en my oefenprogram lekker kombineer deur my laaste kliënt van die dag se kampe met my fiets te besoek.  So kry ek die ure in die saal en ek kry die "regte" werk gedoen!


Hierdie boonste foto is 'n algemene gesig in ons beroep.  Die natuur op sy mooiste.  Hierdie foto is naby Riebeek-Wes geneem met verlede week se reën net na die laaste bui van die dag.  Ek het hierdie lande met my bergfiets deurgery toe ek die pragtige verskynsel sien!


Die volgende dag het ek hierdie foto van die berge by Hermon geneem tydens land besoeke.


Mooi uitsig van Kasteelberg in die verte.

Wat behels my werk, behalwe om die pragtige natuur te sien en foto's daarvan te neem?  Ons besoek ons kliënte en verskaf konsultasie aan hulle vir peste en plae.  My werk is om te verseker dat die produsent die beste moontlike opbrengs (kwaliteit en kwantiteit) lewer.  Ons kyk na swamme, insekte en onkruide wat 'n bedreiging vir die oes kan wees en gee ook aanbevelings vir blaarvoeding om die gewas te "boost".  Alle gewasse wat ons bedien (grane, druiwe, vrugte en groente) word op 'n gereelde basis deurgegaan en aanbevelings word gegee aan produsent om te spuit.  Ons is huidiglik in die middel van die graanseisoen in die Wes-Kaap.  Gewasse wat nou bestuur word is koring, hawer, korog, canola, medics en lupiene.  Voedsel vir die mensdom is van kardinale belang, aangesien die bewerkbare grond nie meer word nie, maar die populasie van die aarde wel.  Ons moet die grootste moontlike oes afhaal op die grond tot ons beskikking.




Lande word met vierwiel motorfiets deurgery om te kyk na moontlike probleme.  Elke land word individueel hanteer en kry sy eie aanbeveling vir die moontlike bedreigings.  Daar word 'n fyn lyn getrek tussen 'n plaag / probleem wat ekonomiese skade kan veroorsaak versus een wat slegs kosmeties is.


Bogenoemde foto is 'n medic land wat vir Raaigras behandel is.  Raaigras is die grootste onkruid probleem op die stadium in die Wes-Kaap.  Dit is 'n baie agressiewe plaag wat grane kan "doodgroei".  Die bruin hierbo is die grasse wat besig is om te vrek en die groen is die medics wat aanhou groei.  Kasteelberg is in die agtergrond.

Meeste van my en Hildegarde se borge is verskaffers van Nexus, maw, ons koop produkte by hulle wat ons dan weer aan die produsent verkoop om sy probleem aan te spreek.  Die verskillende borge handel onder andere in die volgende:

AgChem - Blaarvoedings, Oro Agri - Benatters saam met mengsels, Cosmocel - Blaarvoedings (Gespesialiseerde bemesting), Insect Science - Lokvalle en paringsontwrigting, Dow AgroScience - Swam, Insek en Onkruid middels en Sun Lab - Blaarvoedings.  Hierdie organisasies spandeer duisende rande jaarliks in navorsing en ontwikkeling om beter en innoverende oplossings vir ons as agente na die tafel te bring.

Ons is voorwaar bevoorreg om in so 'n pragtige omgewing en met sulke goeie ondersteuning ons dagtaak te kan verrig.  Ons is 3 vennote in die besigheid (Jaco, Stephan Venter en Eric Venter).  Ons twee admin dames (Anja Westenraad en Anke Steyn) is die rugsteun van die besigheid wat sorg dat daar altyd voorraad is en fakture die regte eindbestemming bereik!  Hierdie klomp is dan ook my klankbord wat daagliks oor my eie wedervaringe moet hoor en help met raad en wysheid.  Dankie vir alles julle!

Wat die oefen betref - ek ry gemiddeld so 9 ure per week fiets en Hildegarde is voluit op haar verskillende programme.  Die winter het ons darem tot dusver nie te veel gekortwiek nie - ons eet net meer!

Groete tot volgende keer,
Jaco G

25 Junie 2013

Die Klipkop

Kaart van Klipkop
In Malmesbury is daar nie so baie berge en koppies om te ry soos wat die manne rondom Wellington, Durbanville Hills, Jonkershoek en Devonvallei het nie.  Die wat wel daar is, is nie baie toeganklik vir bergfietse nie, maar ons is besig om dit te verander.  Ons het egter die Klipkop!

Die Klipkop
Jean du Plessis en Jaen Fouche het 'n groot behoefte gesien vir 'n bietjie meer tegniese "speelplek" in die Malmesbury omgewing.  Swartland Munisipaliteit het die projek goedgekeur en Jean-hulle het vir ons 'n roete gebou van ongeveer 13 km met so 350m klim.  'n Lekker tempo rit wat vir die vinnige manne rondom 40 min vat en die stadiger manne so 'n uur.  

Steil opdraend na 6 km
Na ongeveer 2.5 km
Die roete bestaan uit ongeveer 40% "jeep track", 30% distrikspaaie en 30% "singletrack".  Dit begin met 'n plat klim van ongeveer 800 m, dan 'n afdraend van 800 m, klim weer 600 m en weer af vir 600 m.  Glo my, hierdie stukkie laat jou blaas as jy koud is (Wenk:  Warm op voor jy begin met roete!).  Daarna is daar 'n lang plat opdraend van so 2.8 km met 'n baie steil opdraend vir so 400 m.  Daar is redelik erosie slote wat dit nog meer tegnies maak, so mens moet oral baie versigtig wees.  Dit word gevolg met "jeep track" van so 800 m afdraend en skerp links teen bult op met tegniese stukke oor rotse van so 300 m.


"Downhill jeep track"
Tegniese deel oor rotse
Vandaar loop die tweespoor pad redelik gemaklik vir so 600 m vanwaar die klim teen die bult op weer begin.  Na 500 m draai jy links in na die "nuwe" deel wat onlangs bygevoeg is.  By meeste dele van die roete het jy 'n volledige uitsig oor Malmesbury.


Eerste bult - "nuwe" deel
Houtbrug
Die "nuwe" deel is baie tegnies en moet met groot sorg aangepak word, veral as jy nie 'n ervare ryer is nie.  Na die eerste bult sak jy af na die houtbrug op regterkant en teen die bult af.  Wees gewaarsku, sodra jy teen bult af is, moet jy onmiddelik weer regs teen bult op en net goeie momentum sal jou bo kry.  Die "singletrack" loop heeltyd op die randjie van 'n baie hoë afgrond met 'n pragtige uitsig oor die distrik - jy sal dit egter nie kan sien, want as jy jou oë van die pad afhaal is jy teen die krans af!  Stop maar eerder om te kyk! 



Daar is baie skerp draaie en konsentrasie moet die heeltyd gehou word.  Daar is nie plek vir omdraai nie.  Baie mense sal hierdie gedeelte loop aangesien die afgrond baie naby is en daar niks is wat jou keer om daar af te foeter nie.  Die gedeelte sal mettertyd ook beter hanteer aangesien dit nou nog baie los en vars is.

Die enkelspoor kom tot 'n einde vanwaar jy weer regs draai in die rigting van die boonste Bloekombos.  Daar is 'n pragtige "singletrack" deur die hele bos - lekker tegnies, maar nie onrybaar.  Na afloop van dit kom jy uit die bos en ry ook met enkelspoor terug na die begin.  Totale km's sal so rondom 13 km wees, maar 'n uitstekende "workout"!

Die bergfiets gemeenskap in Malmesbury het die afgelope jaar baie gegroei en word steeds groter.  Ons het Woensdag aande om 17h30 van SAP 'n nagrit van ongeveer 2 ure en dit word uitstekend bygewoon.  Die Klipkop roete is ook vir almal toeganklik en word baie gery!  Baie dankie vir almal wat gehelp het met die ontwikkeling daarvan, dit word baie waardeer.  Ons geniet dit baie.

Nou ja, dit is steeds winter en dit reën baie in die Wes-Kaap, so oefentyd is maar min.  Die sessies wat gedoen word is gewoonlik maar in die koue en nat.  My program loop so tussen 7 en 10 ure per week op die fiets op die stadium.  Die volgende resies waarna ons opbou is Die Burger Bergfietsuitdaging in Stellenbosch.

Vasbyt,
Jaco G

12 Junie 2013

Gesinsvermaak

Ons vra onsself baie die vraag, wie oefen wanneer en wie gaan na die kinders kyk? Ons is 'n baie hegte gesin en geniet mekaar verskriklik baie. Dit is dan ook nie vir ons 'n straf om net saam te wees nie. Die kinders word groot met ma en pa wat aktief is. Hulle sien die voorbeeld wat ons probeer stel. Eet gesond, wees aktief en probeer soveel as moontlik buite doen.  JJ het 19 Mei verjaar en ons het gevoel dat in ons Epic jaar dit goed sal wees om vir elke kind ook 'n nuwe fiets te gee vir hul onderskeie verjaarsdae. Dit was JJ se eerste fiets en hy was baie opgewonde. Om dit regverdig te maak (so hoop ons!) het ons Hilge se fiets saam met JJ s'n op sy verjaarsdag gegee sodat hulle darem saam kan ry. Adventure Cycles was weer byderhand en het met goeie diens aan al ons behoeftes voorsien - dankie Niel en Annemarie!

JJ op fiets
Hilge op fiets
Ons het die afgelope Sondag die kinders se fietse op die bakkie gelaai en hulle na 'n gelyk stuk teer geneem om bietjie te ry - ons straat waar ons woon is baie skuins, so kan nie kanse daar vat nie! Hulle het dit verskriklik geniet om net sorgeloos te kon jaag. Hilge kom baie mooi reg met haar "backpedal" en JJ is 'n waaghals wat nog sy ma se hart gaan laat staan met die kanse wat hy vat. Die namiddag kon ek en Hildegarde ook 'n lekker 2 uur sessie inpas en fantastiese sonskyn weer na al die reën - blou lug, sneeu op die berge en groen koringlande. Waar wil jy anders wees?  Ons het 'n baie goeie ondersteuningspan wat in sulke tye as ons saam wil oefen na die kinders kan kyk - dankie almal!

Epic Partners
Hildegarde
Iets waaroor ons baie opgewonde is, is ons "race kit". Ons het die ontwerpe gekry en ons is baie tevrede. Hopelik is ons borge net so tevrede! Ek dink dit beeld presies uit waarvoor ons 'n liefde het - die aarde se kleure, die natuur. Die bruin is die grond wat ons moet bewerk en die groen die gewas (voedsel vir die mensdom) wat daarop groei. My werk verseker dat ek oplossings vir my kliente rondom peste en plae kan gee wat op die ou end groter oeste teweeg bring en sodoende meer voedsel vir die wereld. 'n Baie lekker werk en 'n enorme voorreg!


Kyk bietjie na die voorbeeld van ons hemde en gee opinie!  Dit was nogal 'n groot uitdaging om al die borge wie deel was van die  borg van die klere se name en logo's op die regte plekke te laat verskyn. Ons dink dit het baie goed uitgekom.  Hopelik sal ons oor 4 - 5 weke die besending kry en vandaar sal ons met dit kan deelneem, baie opgewonde.

Vir nou eers is dit werk, oefen en al die normale dinge van die lewe.  Hier kom weer bietjie reën, so byt vas en kom weer buite as dit oor is.

Groete tot later,
Jaco G

08 Junie 2013

Gesonde leefstyl

Om te verduidelik hoe ons leefstyl nou is, sal nie regverdig wees as ek nie by die begin kan begin nie.  In die eerste blog het ek julle vertel van hoeveel ek geweeg het (94 kg) en dat die aanvanklike plan was om 'n gesonde leefstyl (soos Hildegarde s'n) te kan handhaaf om 'n voorbeeld vir die twee kinders te wees.

Ek en Hildegarde het net na ons troue in 2006 vir ons bergfietse gekoop en in hele paar wedrenne deelgeneem vir die volgende 18 maande.  Glad nie op dieselfde vlak as nou nie, maar steeds aktief gewees en lekker geoefen.  Ons was kinderloos en ons tyd het aan onsself behoort.  Hildegarde het swanger geraak met Hilge en dit was die einde van fietsry, dus die einde van my hele oefenprogram!  Sy het steeds gegym en aktief gebly, maar ek glad nie.  JJ is gebore in Mei 2010.  Hildegarde het vinnig weer aan die gang gekom met oefen daarna en gou weer die kilogramme begin afgooi.  Ek was steeds vasgevang in my swak gewoontes.  Kitskos, ongereeld eet en glad nie oefen.  Hildegarde het ongeveer 'n jaar na JJ se geboorte begin kla dat sy 'n "plafon" bereik het met haar gewig, daai "barrier" waardeur se net nie kon breek nie.  Hier het ek ook begin agterkom dat ek heeltemal op die verkeerde pad was.


Ek het geweet dat ek veranderinge aan my leefstyl wil maak en wou gesonder en minder opgeblaas voel.  Gewig verloor of hoe ek lyk was nooit die hoofdoel nie.  Ek het vir my twee applikasies op my selfoon afgelaai - Runtastic en MyFitnessPal.  Hierdie 2 "apps" het ek gebruik om al my oefeninge en eetgewoontes te monitor.  Hildegarde het ook MyFitnessPal afgelaai en begin gebruik.

Hoe kan die "apps" jou help?  In die eerste plek moet ek sê dat enige van hierdie hulpmiddels slegs so goed is as wat jy dit gaan maak.  Jy moet die werk doen en die boekhouding van alles.  MyFitnessPal is 'n applikasie waar jy jou daaglikse voedsel inname byhou.  Daar is baie ander op die mark, ek was net gemaklik met hierdie een.  Jy voer al jou data in - huidige gewig, lengte, doelwit gewig en in watter tydperk jy die hoeveelheid gewig wil verloor.  Die program sê dan vir jou dat jy in my geval 2 050 kcal mag inneem per dag.  Elke ding wat jy in jou mond sit gedurende die dag voer jy in op die program.  'n Tipiese dag vir my sou so lyk:
Ontbyt - Koffie met 1 suiker en melk (50 kcal), Muesili + Joghurt (220 kcal)
Snack - 50 gr Biltong (120 kcal), 

Middagete - 250 gr Lasagne + Slaai (450 kcal), Coke Light
Salticrax met kaas (200 kcal), Neute (100 kcal)
Aandete - Frikadelle, skorsie, mash, slaai (500 kcal)
Nog 3 koppies koffie / tee deur dag (150 kcal)

Dit bring jou by totaal van 1775 kcal vir dag uit, maw jy is onder jou kalorieë.  Indien jy enige oefeninge doen, word dit bygetel by jou maksimum kaloriee bv. myne is 2 050.  Indien ek 40 min draf verbrand ek 650 kcal, dus tel jy dit by die 2 050 kcal wat jou 'n totaal van 2 700 kcal gee wat jy mag inneem vir die dag.  Ek het die ekstra "krediete" altyd gebruik vir my Windhoek Light, chips en Gin & Dry Lemon.

Windhoek Light 330 ml = 100 kcal
Single Gin & Dry Lemon = 180 kcal
Niknaks 50 gr = 271 kcal

Jy kan hierdeur sien dat die dinge waarmee jy jouself beloon, vinnig jou getal opjaag, dus ek het eenvoudig net harder geoefen om dit te kan verdien!  Hildegarde het MyFitnessPal gebruik om beter keuses te maak.  Jy kan voordat jy op iets besluit om te eet eers die kcal 
gaan kyk en dan die gesonder opsie kies.  Dit het ons beide op ons teiken gewig geplaas. Ek weeg nou enigiets tussen 78 en 80 kg.  Ons oefenlading is ook nou van so 'n aard dat ons baie moet eet om genoeg "brandstof" vir ons liggame te gee, so dit is beslis nie nou meer 'n program om gewig te verloor nie, maar wel om genoeg energie te kan he.






Runtastic neem elke oefen geleentheid se tyd, profiel asook kaart.  Sien prente aangeheg.  Dit is die tipe dinge wat my gemotiveerd hou - om myself te meet.  Dit maak dat jy volgende keer presies dieselfde roete kan ry en jouself verbeter.
Sien kort opsomming van afgelope week se oefenprogramme:

Hildegarde oefen

Maandag oggend - gee klas 1 uur - 420 kcal
Maandag aand - Draf treadmill 45 min - 418 kcal
Dinsdag oggend - Dance to fitness 1 uur - 285 kcal
Dinsdagaand -  Spin 40 min - 420 kcal
Woensdag oggend - draf 9 km 45 min - 400 kcal
Woensdag oggend - gee klas 1 uur - 591 kcal
Woensdag aand - MTB nightride 1 uur 40 min - 752 kcal
Donderdag oggend - Dance to fitness 1 uur - 281 kcal
Donderdag aand - doen gewigte (arms)

Totaal - 3 567 kcal

Jaco oefen

Maandag - Spin met padfiets - 40 min - 500 kcal
Dinsdag - MTB - 1 uur 750 kcal
Woensdag aand - MTB nightride 1 uur 40 min 1100 kcal
Donderdag - tempo plus MTB - 1 uur 15 min 1050 kcal
Vrydag - Rus
Saterdag - Spin met padfiets - 1 uur - 650 kcal

Totaal - 4 050 kcal

Ons is nou in 'n baie koue en nat winter, so motivering om te oefen is maar min.  Elke sonskyndag moet jy aangryp om buite te kom.  Ons sal vanaf September intensief vir die Epic begin oefen, vir nou is dit aan die gang bly en geen vorm verloor nie.

Tot volgende keer, mooi eet en lekker oefen!

Groete,
Jaco G

03 Junie 2013

Ons Borge

www.nexusag.net
In 'n vorige blog het ek verduidelik hoe ons by die punt uitgekom het waar ons gaan deelneem aan 2014 se Epic.  Wat ons egter deeglik bewus van is, is die astronomiese koste van so 'n projek.  Dit maak nie saak hoe goedkoop jy dit gaan probeer doen nie, dit gaan nogsteeds 'n kleinhuisie vol geld kos.

www.agchem.co.za
Ek en Hildegarde het onmiddellik nadat ons die inskrywing gekry het begin om idees rond te gooi oor hoe ons ekstra fondse kan insamel om ons droom 'n werklikheid te maak.  Daar is verskillende finansiële en logistieke beplannings wat gedoen moet word vir so iets.  Die groot kostes is nie net die inskrywing van die Epic nie, maar al die voorbereidings wedrenne, toerusting, dienste, brandstof, ens. wat deel van die hele prentjie vorm.  Die idees wat ons op die tafel geplaas het en ook nou reeds redelik ver uitgerol het is die volgende:

www.cosmocel.co.za
My "regte" werk / beroep is 'n landbouchemiese verteenwoordiger.  Ons verkoop produkte aan produsente wat hul onkruid, swam en insek probleme aanspreek.  Ek tree dus as 'n konsultant vir die produsent op en hy koop die landbouchemiese produkte by ons besigheid.  Ek is 'n vennoot in ons besigheid saam met my twee baie betroubare kollegas Eric Venter en Stephan Venter.  Hulle is uiters ondersteunend in alles wat ek en Hildegarde aanpak.  Ons drie is elkeen verantwoordelik vir verskillende funksies in die besigheid en werk baie lekker as 'n span saam.  Weens die feit dat ons produkte aankoop van verskillende maatskappye, gee dit ons 'n lekker netwerk van maatskappye van wie ons dan kliënte is.  Hierdie is dan ook die maatskappye wie ek genader het toe befondsing benodig is.  Ek wil baie dankie sê vir Nexus, AgChem, Cosmocel, Insect Science SA, Oro Agri, Sun Lab en Dow AgroSciences.  Hierdie maatskappye het uit die staanspoor onmiddellik ja gesê toe ons aan hul deur gaan klop.

www.insectscience.co.za
Wat kan ek my borge bied in ruil vir hul ondersteuning?  Ons gaan beslis nie 'n podium posisie beklee nie, maar kan steeds uitstekende ambassadeurs van die maatskappye en hul produkte wees, en wie is daar beter om oor hul produk te praat as een van hul verkoopspersone in die veld?  Die lojaliteit wat hulle teenoor ons betoon gaan ons beslis dubbeld aan hulle terug betoon - visueel en in die praktyk.  Nogmaals baie dankie aan julle!  Gaan besoek hulle webwerwe en kyk wat hulle doen.

Nog 'n idee wat ons gehad het om paar ekstra rande in te kry is om aan al ons vriende, kollegas, ondersteuners en kliënte lootjies te verkoop.  Die pryse wat jy met die lootjie kan wen was aanvanklik 'n kopkrap, maar met kliënte wat bereid is om vir ons 'n paar lammers te borg, is daardie probleem ook nou kleiner.  Vir jou lootjie sal jy in die trekking wees wat einde November 2013 plaasvind.  Die pryse is as volg:


www.dowagro.com
  1. R2 500 se waarde prys
  2. Heel lam (verwerk en netjies verpak)
  3. 60% van lam (verwerk en netjies verpak)
  4. 40% van lam (verwerk en netjies verpak)
  5. Biltong en wyn geskenkpak
www.oroagri.com
Hierdie idees sal ons hopelik bietjie nader aan ons droom plaas.  Die idee van die blog het ook voortgespruit uit een van ons borge wat gevra het hoe hulle ons doen en late kan volg.  Ek moet sê ek self kry baie bevrediging uit dit uit om so 'n tipe "dagboek" te hou van alles en dit sal vir ons oor 10 jaar nogsteeds van waarde wees om te kan terugblaai en te sien wat ons gedoen het.

Gedurende die maande van Junie, Julie en Augustus is dit bitter moeilik om gefokus te bly wat mens se oefenprogram aanbetref in die Wes-Kaap aangesien dit baie koud en nat is.  Dit is die tye wanneer mens dalk ekstra skeppie warm kos of ekstra glasie wyn drink.  Ek en Hildegarde sal in die volgende blog paar idees gee van hoe jy die ekstra kilogramme kan probeer verhoed - dinge wat vir ons werk.

Mooi bly en pas julle op,
Jaco Geldenhuys