30 Januarie 2015

November 2014


Impi Challenge 2014

Ek het gesê ek sal nie so lank vat om jul op hoogte te hou nie, maar tyd vlieg en 'n maand is al weer verby na die Impi Challenge.  Dalk is een van die redes hoekom ek nog niks geskryf het nie, die feit dat ek op die ou end nie aan die Impi Challenge deelgeneem het nie.  Die Vrydag aand het dinge vir my redelik skeef begin loop met 'n maagvirus.  Ek was die hele Saterdag plat en het besluit om nie die Sondag deel te neem nie.  Ek was maar redelik bleek om die kiewe, maar het besluit om deur te druk en saam te Stellenbosch toe en nogsteeds te probeer ondersteun.

Daar het 'n baie lekker gees geheers, die weer was fantasties en almal was in ligte luim omdat hier nie regtig 'n kompetisie was nie, maar net lekker vet pret.  Hildegarde, Wim, Lood, Eduard, Riaan, Helena en Pierre het saam begin....maar nie saam geeindig.  Pierre en Lood het besluit die ander is bietjie te haastig oor van die hindernisse en hul wil eerder hul eie pas gaan.

Wat ek kan aflei by almal wat deelgeneem het is dit 'n definitiewe moet doen.  Dit behels omtrent 20 hindernisse waaroor, waaronder, waardeur jy moet gaan en dit word oor 12 km afgelê.  Jy raak vuil en moeg, maar die hoofding is al die pret wat jy met die res van jou spanmaats en ook ander op die roete het.  Almal se gesinne was op die eindstreep waar lekker verder gekuier is na die tyd en oorlogstories uitgeruil is.

Wilde Bains Trail Run 2014

Baie mense vra vir ons na Epic wat volgende is.  Vir my sal dit nog 'n Epic wees (eendag), maar Hildegarde het vir 2015 op iets heel anders besluit - Trail Run.  Sy en Marisa van der Merwe het ingeskryf vir die African X 3 dag Trail Run uitdaging wat in Maart 2015 plaasvind.


Dit behels net so oor die 90 km se hardloop op paaie waar ons gewoonlik met die bergfietse ry in Grabouw / Houwhoek area.

Sy is baie lief vir hardloop en dus was dit redelik voor die hand liggend vir haar om hierdie 'n "go" te gee.

Ek hardloop bietjie, maar nou nie kranig nie, so ek sal nie veel kan sê van hoe die wedren was nie, maar ek weet dat dit nie net plat paaie was nie.  Hildegarde is egter gaande oor 'n uitdaging en het gemaklik klaar gehardloop en algeheel 3de geeindig.  Dit het haar ook goeie perspektief gegee van wat om te verwag en waaraan om te werk in die komende maande.

FNB W2W 2014

Op 7, 8, 9 November 2014 het een van die hoogtepunte van 2014 vir my en Lood plaasgevind.  Dit was weer tyd vir die FNB Wines2Whales.  Dit is seker een van die bes georganiseerde meerdaagse bergfietswedrenne in die land.  Hierdie sou ons 2de W2W wees en die hoofdoelwit was om te verbeter op ons tye van die vorige jaar.  Die natuur en mens se liggaam speel nie altyd saam nie.  Op dag 1 was dit bitter warm.  Ons het heel voor in ons wegspring groep gestaan en was vinnig uit die blokke.  Ek het vir Lood gesê ons moet teen sy spoed ry waarmee hy gemaklik is.  Dit was warm en ons het redelik hard gery.  Iets was fout met Lood en toe ons met die wapad op begin stap was daar niks energie in sy liggaam oor nie.  Dis ongeveer halfpad en ek het besef ons sal ons doelwitte moet aanpas as ons as 'n span die dag en wedren wil voltooi.  Ek het opgehardloop, my fiets gaan neersit, weer afgehardloop en sy fiets gaan haal en hom gesê om op sy eie spoed berg-op te gaan en by die "medic" vir iets te vra om hom te help.  Ou Lood was moeg en naar en daar was geen petrol in die tenk oor nie.  Ons het met 'n groot gesukkel deur dag 1 gekom vanwaar Lood direk na die noodhulp tent is en op 'n drup gaan lê het.

Die drup het 'n enorme effek gehad.  Dag 2 was in my opinie Lood se beste dag op 'n fiets vandat ek hom ken.  Ons het hard gery en baie plekke opgemaak en ook die dag baie geniet met al die enkelspoor en bruggies wat daar op die roete was.  Niks probleme en niks om oor te kla nie.  Die aand het ons hele groep 'n afskeidsbraai gehou waar lekker saamgekuier is in Kleinmond.  Voorwaar 'n voorreg.



Dag 3 voel jy altyd vroeg aan jou bene en dit vat bietjie langer om op te warm na die vorige 2 harde dae, maar jy weet ook dat dit die laaste dag is en jy wil jou alles gee.  Ons het weereens lekker gery en was baie bly om ons gesinne by die eindstreep te sien en nog 'n suksesvolle FNB W2W te kon eindig




Ek wil enigeen aanbeveel om hierdie wedren te doen indien jy enigsins kan.  Jy word op jou hande gedra.  Alles is fantasties gereël en dit is 'n groot lekkerte om deel van hierdie ondervinding jaar op jaar te kan wees.

Coronation Double Century 2014

Vandat die Malmesbury Fietsryklub weer op die been gebring is, was dit nog altyd vir ons 'n droom om 'n volledige span van Malmesbury na die Coronation Double Century te neem.  Ons het baie naby daaraan gekom deur uit die 12 ryers 9 te hê wat op Malmesbury woon, 2 wat baie sterk konneksies met ons het en 1 "uitruil" student!  Ons het die naweek voor die DC op 'n oefenrit as span gegaan om basies die strategie vir die volgende naweek te bepaal.  

Johann Rabie van Bike Addict was vir ons span goudwerd in voorbereiding tot die wedren.  Hy en sy span het verseker dat ons almal se fietse op standaard en skoon is vir die wedren en vir ons sokkies en bottels gegee. Ons het dan ook op die dag onder die naam "Bike Addict" gery.  Die span het bestaan uit myself, Hildegarde, Lood, Glenn Norrie, Charl (Tier) du Plessis, Kobus Duminy, Carl Malherbe, Loch Nel, Durwin Benjamin, Elfriede Wolfaardt, Bronwin Adams en Fietie Rocher.  Elfriede se man, Herman, was ons ondersteuning vir die dag en hy het 'n uitstekende taak verrig.  Ons het almal die aand voor die DC in Montagu saam gebly.  Ek was die koördineerder van alles en toe ek met my spanpraatjie wil begin, kom ek agter ek het dit op Malmesbury vergeet!  Gelukkig kon ons op daardie laat stadium nog planne maak en alles was reg vir die 202 km die volgende dag.
Die samesprekings die vorige aand het alles gedui daarop dat ons hierdie wedren as 'n span wil klaarmaak.  Die tyd was vir ons minder belangrik, maar ons wou al 12 oor die wenstreep kry om sodoende vir die spesiale Charles Milner medalje te kan kwalifiseer.  Ons wou niemand agterlaat en ons het van die begin af teen 'n spoed gery wat die hele groep pas met die oog op die moeilike 2de deel van die wedren.  Almal was baie gemaklik toe ons na ongeveer 100 km stop by Ashton en daar was selfs grappies gemaak.  Ons het weer 'n stop gehad op ongeveer 160 km.  Minder grappies en meer ongemaklikheid, maar almal was steeds vasbeslote om klaar te maak.  Die laaste deel van die wedren is altyd die moeilikste en ons span het hulself uitstekend van hul taak gekwyt om in 6 uur 53 min klaar te maak!  Ons was almal baie tevrede hiermee en het al ons eie verwagtinge oortref.  Volgende jaar maak ons beslis weer so.

Stellenbosch Cycle Tour 2014

Daar was nog een laaste hekkie vir my vir 2014 oor, die Stellenbosch Cycle Tour op 30 November 2014.  Ek ry maar min padwedrenne, maar hierdie is die tweede keer dat ek hierdie wedren doen.  Verlede jaar het die wind verskriklik gewaai en ek wou terugkom op 'n dag wat die weer beter is.  2014 was daai jaar.  Dit was die perfekste dag wat jy jouself kan indink.  Nie te warm nie en geen wind nie.  Die begin was bietjie deurmekaar met 'n "rolling start", daarna moes ons oor Helshoogte Pas ry en vandaar was die wedren so te sê verby.  Die groepe was bitter groot en jy kon nêrens iemand verbygaan.  Dit was vinnig en as jy by jou groep kon hou het jy dieselfde tyd as almal gery.


Helshoogte Pas
Ek het klaargemaak in 2 uur 35 min.  My mikpunt was 'n goeie tyd aangesien hierdie wedren bydra tot jou Cape Town Cycle Tour wegspringplek, maar almal het goeie tye gery op die dag, so ek twyfel of dit enigsins sal help.  Nogsteeds was dit 'n lekker dag op die fiets en 'n goeie manier om 2014 af te sluit.

Ons praat weer in die nuwejaar en dan vertel ek jul meer van al ons nuwe uitdagings!

Mooi bly,
JG