05 Junie 2014

Darling Brew Extreme 2014

Ek het gedurende die 100 Miler reeds besluit dat ek gaan werk maak daarvan om vir my 'n "winter fiets" te bou.  Een wat ek bietjie minder oor "worry" en beslis 'n laer instanthoudingkoste as my Scott Spark 900 RC (Jet) het.  Die winter in die Wes-Kaap kan nogal nat en modderig raak en die fietse hou net mooi niks daarvan nie - Bike Addict is mal daaroor!

In die opbou na die Epic het ons baie verskillende komponente op fietse gehad, met die gevolg het ek omtrent vir elke deel van die fiets 'n ekstra een gehad wat in 'n boks in die garage staan.  Ek kon dit net sowel meer nuttig gebruik.  Ek het net 'n paar goedjies ekstra gekort en ek was "good to go".  Die resultaat is 'n baie lekker oefenfiets vir die winter met 'n lae instanthoudingskoste.  Dit is 'n "hardtail", so dit gaan 'n lekker speel-fiets ook wees.  Ek het Vrydag die fiets gekry en het oppad huistoe vir Gabri Steyn (mede-stiger van die Darling Brew Extreme en die man agter Wolwefontein MTB roete) gebel.  Hy vra my toe of ek die volgende dag kom ry en ek sê dat dit nie eintlik my plan was nie, maar ek het nou 'n fiets so ek kan kom!  Ek is baie bly ek het gegaan...

Dit was baie mistig op Saterdag, 31 Mei 2014.  Ek was vroeg reeds by registrasie en kon sien dat daar bitter baie moeite in hierdie dag ingegaan het.  Daar was 'n groot tent met seker 10 verskillende kos en drink stalletjies van organisasies in Darling.  Elkeen het sy produk aangebied en dit was salig vir die siel op so 'n ysige dag.  Die titelborg, Darling Brew was natuurlik in al sy glorie daar en ek is oortuig daarvan die meeste ryers net daar was vir hul produk!  Met registrasie het elkeen 'n "goodie bag" ontvang.


Daar was 3 afstande waaruit jy kon kies.  Baie oorspronklik is dit vernoem na Darling Brew se produkte.  Die lange wat op die ou end 58 km en nie soos adverteer 52 km was vanweë al die reën, was die Bone Crusher.  Die middelafstand van 35 km was die Black Mist (baie gepas op die dag) en die kort afstand was die Slow Beer.  Ek sou aan die Bone Crusher deelneem en het vir die eerste keer vanjaar gery as Nexus / Bike Addict om my nuwe fiets in te lyf!

Foto's:  Johan Viljoen (Die Courant)
Ek het redelik voor gestaan, omdat ek geweet het dat ons na 8 km die eerste "singletrack" van die dag kry en jy wil nie daar in 'n lang tou begin nie.  Die skoot het geklap en ons is uit die sportterein agter die ambulans op die teerpad, groot fout, die ambulans is in die verkeerde rigting!  Dit het beteken dat ons wat voor gestaan het, nou skielik heel agter was en deur die hele veld moes terugwerk.  Die eerste 8 km was lekker vinnig en plat, daarna was dit die beurt van Gabri Steyn se Wolwefontein "singletrack".  

Dit was steeds baie mistig en jy kon nie ver voor jou sien nie.  Ek het voorheen al hier gery en het 'n goeie idee gehad van die roete, as dit jou eerste keer was, sou jy verseker baie deurmekaar geraak het met waar jy was.  Daar was iets van alles - kort vinnige klimme, pragtige "berms" vir 'n lekker vloei in die enkelspoor, bruggies en natuurlik hier en daar water.  Ek het heerlik gery op Wolwefontein.  Nêrens hoef ek te gewag het nie en kon lekker gas gee.  Die een dink waarmee ek nie rekening gehou het nie, was my fiets se saal wat nie styf genoeg vas was nie.  Ek wou nie stop en tyd verloor nie, maar moes noodgedwonge op die dag 3 keer stop en elke keer het ek hom stywer vasgemaak, want as ek my kom kry voel dit of my knieë langs my ore sit!


Roete profiel - tawwe klimme op die einde!
Mens sou dink dat die paaie baie nat sou wees, maar Darling is redelik sanderig, so die water het redelik goed dreineer.  Nietemin was daar later in die wedren 'n redelike paar ryers wat se kettings van die nat grond op die ratte begin vassit het "chain suck" en dan moet jy maar stop en losmaak of ophou trap en kyk of dit loskom.  Dit gebeur natuurlik net met fietse wat meer as een rat voor het - myne op die dag was ook so, maar dit het slegs 2 keer met my gebeur.  Ons is van die enkelspoor af terug met dieselfde roete as waarmee ons gekom het, dus het jy van die stadiger ryers en afstande van voor gekry.  Ons is verby waterpunt 2, wat soos ek verstaan Darling Vleismark s'n was.  Ek het nêrens gestop nie, maar soos ek verstaan was hierdie punt uit die boonste rakke.  Ons is deur die dorp na die wingerde met 3 tawwe klimme.  Op 40 km kon ek voel dat die saal wat vroeër die heeltyd gesak het en ek wat aanhou trap het, my bo-bene se tol begin eis.  Ek het die klimme effens stadiger hanteer as wat ek normaalweg sou wou, maar ek het steeds voortgebeur en anderkant uitgekom.  Ons het in totaal so ongeveer 1 100 m vir die dag geklim oor die 58 km.

"Black Mist" wat die heeldag met ons was
Ons is weer deur die dorp, uiteindelik klaar met die klimme en kon die laaste 7 km redelik plat terugry eindstreep toe waar 'n heerlike, feestelike atmosfeer geheers het.  Ek het klaargemaak in 2 uur 50 min in algeheel 21ste plek, baie tevrede en bly dat ek daar was.  Elkeen wat klaargemaak het, het 'n Darling Brew bierglas ontvang met 3 goedjies in - 'n nickerball (vir jou gratis bier), 'n Darling Vleismark "voucher" (vir jou gratis droëwors) en 'n Darling Romery "voucher" (vir jou gratis drinkbare joghurt).  Baie goeie waarde vir geld.  Ek dink Darling en sy mense kan baie trots wees op hierdie dag wat hulle aangebied het.  Darling Brew is verseker 'n "brand" wat alreeds 'n huishoudelike naam geword het onder ons plaaslike mense, maar beslis 'n groot gunsteling sal word onder almal wat die dag daar was en die mense met wie hulle in aanraking kom.  Kevin Wood (ek ken jou nie persoonlik), ek dink hierdie wedren was die perfekte kombinasie met Darling Brew se produk.  Dankie vir die ondersteuning van die sport waarvoor ons so lief is en vir dit wat julle saam met Gabri en die hele gemeenskap vir ons aangebied het op Saterdag, 31 Mei 2014.

Dit reën verskriklik hierdie week, maar die son sal weer skyn.  Gryp maar elke stukkie sonskyn aan en gaan trap.  Skryf ook vir 'n paar wedrenne vorentoe in om die motivering daar te hou.

Mooi bly en dankie vir al die ondersteuning!

JG