04 Desember 2013

Movember 2013

Nou ja, ons het aan 'n einde gekom van 'n baie besige November.  Hierdie maand was Wines2Whales, Malmesbury Fietsryklub Gesinsdag, Coronation Double Century, Origins of Trials en Die Burger Fietstoer!  Ek het in die omgewing van 55 ure op die fiets spandeer, nogal baie as jy daaraan dink dat dit 'n baie besige maand by die werk ook was.  Die titel van hierdie blog is "Movember 2013".  Ek het weer op my beskeie manier probeer om 'n snor te groei.  Mense het dit darem raakgesien hierdie jaar!  Dit is alles deel van die bewusmaking van manlike gesondheidsrisiko's.  Ek het dit natuurlik sommer ook gebruik as aanknopingspunt vir Sistiese Fibrose.


As jy mooi kyk sal jy my "snor" sien!


Die Malmesbury Fietsryklub Gesinsdag is aangebied in 'n poging om gesinne by die sport te betrek.  Dit was 'n groot sukses met 25 kinders wat die oggend aan die kinder-roete van 2.9 km deelgeneem het.  Hulle is elkeen deur 'n ouer vergesel.  Elke kind wat die roete voltooi het, is met 'n pragtige medalje beloon.  Elke kind het ook 'n "Energade" van Pick & Pay Malmesbury ontvang - baie dankie vir jul lojale ondersteuning!  Die kinder-roete is opgevolg met 'n aflos deur die volwassenes.  'n Span het uit 2 tot 4 persone bestaan.  Die roete was 5.3 km lank en goeie tempo oefening.  Die span wat die meeste rondtes binne 2 ure gery het, was die wenners.  Hierdie dag het egter nie oor wen of verloor gegaan nie, maar oor deelname.  Ons sal spoedig in die toekoms weer so 'n geleentheid aanbied.  Die dag is afgesluit met heerlike saambraai en kuier.



Op Saterdag 23 November 2013 het ek en Hildegarde aan die Coronation Double Century as deel van "Team Lifepath Healthcare Allsorts" deelgeneem.  Die resies begin in Swellendam vanwaar jy na Barrydale, Montagu, Ashton, Robertson en weer terug na Swelledam ry.  Hierdie was ons grootste uitdaging nog op 'n padfiets en ons het dit as goeie tyd in die saal beskou.  Ons het glad nie geweet wat om te verwag nie - dit was dalk beter so.  Jy begin as 12 lede van die span.  Ons mikpunt was dat almal saam moet klaarmaak en ons het vir ons 8 ure as mikpunt gestel.  Die roete is oor 202 km met ongeveer 2 800 m klim.  Ons het teen 'n lekker tempo begin en redelik gemaklik die eerste 115 km klaargemaak.  Teen die tyd was ons op Ashton waar daar 'n stop-punt vir al die spanne is - hulle stop jou tyd ook vir 'n maksimum van 30 min.  Hiervandaan moes ons bietjie teen die wind baklei en ons het teen 160 km reeds 3 van ons ryers verloor.  Ons was egter voor op skedule en het seker gemaak dat die res almal ten minste klaarmaak.  Ons is oor die eindstreep in 7 uur 22 min - nie te versmaai vir 'n eerste probeerslag nie.  Dit was regtig 'n onvergeetlike ondervinding en ons sal beslis volgende jaar weer terug wees.

Die afgelope naweek was dit die Origins of Trails en Die Burger Fietstoer in Stellenbosch.  Ek en Hildegarde het vir die eerste keer in 'n "Stage Race" saam deelgeneem.  Ons het ook vir Die Burger ingeskryf om dit 3 intensiewe dae te maak en as goeie voorbereiding vir die Epic te dien.  Dit kon nie slegter begin nie.  Ek en Hildegarde het beide 'n maagvirus gehad wat ons redelik moeg en pap gelos het.  Ek het teen die wegspring van Vrydag beter gevoel, maar Hildegarde was maar op.  Ons moes deurdruk aangesien hierdie presies die situasie is waarin ons onsself op die Epic kan bevind.  Dag 1 was veronderstel om 70 km met ongeveer 2 000 m klim te wees (elk geval, dis wat advertensie sê).  Ons was bereid om dit te trotseer.  Die weer was perfek en ons het weggespring.  Die eerste 20 km was 'n nagmerrie vir Hildegarde.  Sy was so pap dat sy nie gekonsentreer het nie en 2 lelike valle gehad het.  Haar knie wou nie ophou bloei en op 40 km het die paramedici haar ingelig dat sy steke aan die knie sal moet kry.  Dit het in effek beteken dat ons geen kanse verder gaan vat vir die dag nie - netnou val sy weer op die oop wond.  Ons het aangery net om die dag klaar te kry.  Dit was bitter warm en daar was genoeg "moans en groans".  Op 67 km het ons besluit om 'n waterpunt verby te ry aangesien ons mos amper klaar is - toe nie, dit het ons nog 11 km geneem om op die eindstreep te kom.  Baie moeg, gebreek en dors.  Die enigste verblydende nuus was dat ons deur diep, donker oomblikke kon kom as 'n span en klaarmaak.  Die dag was toe 78 km met amper 2 700 m klim en baie tegnies!  Hildegarde het 3 steke aan haar linker knie gekry en die blou het oral begin wys.  Ons het klaargemaak in 5 uur 49 min.  Ek het geweet dag 2 sal 'n groot uitdaging wees aangesien ons nie reg kon eet op die fietse met die virus nie.



Dag 2 het sommer met wind begin met 70 km en 1 800 m se klim (ons maar gehoop dis waar!).  Hildegarde was seer van al die valle.  Die mikpunt was om rustig te ry en klaar te maak.  Ons het ons eie spoed gery en Hildegarde het probeer om die linker knie te spaar.  Dit bring natuurlik ander probleme, want die teenoorgestelde kant van jou liggaam werk dan baie harder.  Ons het sonder pyne deur dag 2 gekom - op ons eie tyd en klaargemaak in 4 uur 24 min.  Ons het die Origins of Trails klaargemaak as "Team Nexus" en ons weet ons kan deur moeilike tye volhard.  Hierdie roetes van beide dae het ons deur pragtige plekke geneem.  Roetes wat nie normaalweg vir die publiek oop is nie.  Baie tegniese dag 1 en vet pret op dag 2.  Die hoogtepunt was die G-spot op dag 2 wat jou weer soos 'n kind laat voel het!  Ons kon egter nie te veel "party" na die tyd nie, Die Burger Fietstoer was die volgende dag.



Die Geldenhuyse was nie baie lus vir opstaan op Sondag 1 Desember 2013 nie.  Die wind het gehuil om die huis en ons was moeg van die vorige 2 dae.  Die wekker het 04:30 afgegaan en ons het maar vasgebyt.  Ons het Stellenbosch ingery en gesien daar kom probleme.  Die voertuie het toue gestaan om die dorp in te kom.  Ons het besef ons het dalk ons lyne bietjie fyn gesny.  Ek sou van die begin af in dieselfde groep as Hildegarde wegspring, Groep F, ons sou om 06:15 afgaan.  Ons het deur die hekke gegaan, ingery en dadelik weggespring.  Ons het nêrens gewag nie en was dadelik besig met die resies!  Ons het dit as 'n "recovery ride" beskou, maar wou ook nie heeldag op die pad wees nie.  Die wind was by tye verskriklik en die grootste werk was om nie van die fiets af te waai nie.  Ek en Hildegarde het weereens saamgery.  Die bene was maar moeg en seer, maar ons het ons eerste Burger Fietstoer baie geniet en klaargemaak in 3 uur 19 min.  Johann Rabie van Malmesbury het die resies gewen in 'n tyd van 2 uur 27 min.  Baie geluk Johann.  Ons is trots op jou.



Ons het deur die 3 dae gekom met genoeg vertroue dat ons kan vasbyt en erge situasies kan hanteer.  Baie goeie voorbereiding vir wat in die toekoms op ons wag.  Ons het geen wedrenne vir Desember nie, net 'n lang oefen maand met die ure wat opgestapel sal word.  Ons is ook hard aan die reël vir ons vroue oggend ten bate van Sistiese Fibrose wat op 8 Februarie 2014 te Delsma Farm sal plaasvind.  Sal later in Desember meer inligting deurgee wanneer als gefinaliseer is.  Vasbyt vir die laaste stuk van 2013.  Dankie aan Cherie Vale en Jetline Actionphotos vir ons foto's.

Groete,
JG