10 Februarie 2014

Sistiese Fibrose Vrouedag 2014

Al wat ek kan sê is WOW!  As ons op 30 Maart 2014 die helfte van die bevrediging het wat ons na afloop van die afgelope Saterdag se Vrouedag ten bate van Sistiese Fibrose het, het ons ‘n fantastiese Epic gehad.  Verlede week was absoluut chaos met al die reëlings vir twee funksies wat ek moes reël.  Die eerste een het Woensdag aand plaasgevind en was ‘n Bayer / Nexus aand met ‘n rapsie oor die 100 produsente teenwoordig.  Ons het ‘n bietjie vorentoe gekyk na wat die jaar in die graanbedryf kan oplewer, asook ‘n uitstekende praatjie van Prof Ettienne Kok oor “mens health” gehad.  O'kasi Spyseniering met Benita Bester aan die stuur het vir die ete gesorg en die komplemente stroom steeds in.  Ek sal later in die blog weer daarna verwys, maar dit help regtig as jy met mense saamwerk wat weet wat hulle doen, dit haal ‘n enorme hoeveelheid druk van jou as organiseerder af.

Die hoogtepunt van my en Hildegarde en ek hoop ook almal wat die oggend bygewoon het, se week was egter die Vrouedag te Delsma Farm ten bate van Sistiese Fibrose.  Ek was nou wel die ou wat die dag gereël het, maar blikskottel, dit het selfs my stoutste verwagtinge oortref.  Ek het altyd geweet dit sou ‘n lekker dag wees as alles saamwerk, maar ek het nooit kon dink dat dit so geslaagd sou wees nie.  Ek is maar van nature redelik skaam teenoor die skoner geslag, so vir my was dit nogal rof om een van 5 mans tussen 200 dames te wees!  Hier wil ek dit beklemtoon aan enigeen wat ooit so ‘n tipe funksie wil reël, werk met profesionele mense en jou werk is beslis die helfte ligter.  



Ek het vandat ons die Epic inskrywing gekry het die idee van ‘n Vrouedag gehad.  Ek het net nie op daardie stadium geweet ten bate waarvan ons dit sou doen nie.  Hildegarde was van die begin af aan boord met die gedagte.  Ek dink nie ek het al voorheen presies gesê waarom ons juis Sistiese Fibrose gekies het as ons organisasie nie.  Ek dien op Malmesbury Fietsryklub (Voorsitter), Malmesbury Wingerdstudiegroep (Sekretaris) en Hermon Landbouvereniging (Sekretaris).  In die gevalle waar ek sekretaris is, werk jy baie nou met jou voorsitter.  In Oktober 2013 moes ons totsiens se aan ons Malmesbury Wingerdstudiegroep voorsitter, wyle Bennie Lambrechts (Bennie Punte).  Dit was ‘n tragiese ondervinding vir ieder en elk, maar vir my het dit op ‘n ander vlak geraak.  Ek het besef dat ek in situasies geplaas word waar ek nou saam met mense werk, met wie ek nie noodwendig sou saamwerk as ons nie op die komitee saam gedien het nie.  Ek het in hierdie proses redelik “close” geraak met meeste van my vorige voorsitters.  Hulle het my beter leer ken en ek verseker vir hulle ook.  Dit bring my by die rede hoekom ons Sistiese Fibrose gekies het.  My huidige voorsitter by Hermon Landbouvereniging lei aan Sistiese Fibrose.  Hy het my eenmaal op ‘n gholfdag ten bate van die siekte laat saamspeel en ek het daardie tyd alreeds die nood gesien.  Die Epic en die hele reis het egter my oogklappe laat afgaan om te sien dat ons as “Team Nexus” ‘n verskil in iemand se lewe kan maak deur die positiewe energie vir ‘n goeie saak aan te wend.  Die ander hoofrede was natuurlik die feit dat 75% van diagnosisse van die siekte gedoen word op kinders onder die ouderdom van 2 jaar.  Ons kinders is onderskeidelik 3 en 5 jaar en ons kan net elke dag dankbaar wees dat hulle blakend gesond is, almal is nie so gelukkig nie.

Nou goed, lang storie om uiteindelik by die detail oor ‘n baie lekker Vrouedag uit te kom.  Die kaartjies is aan verskillende gasvroue uitgegee en elkeen moes ‘n tafel probeer volmaak.  Februarie is egter nie ‘n maklike maand wat kinders se sport ens. aanbetref nie, maar wanneer is nou eintlik deesdae ‘n goeie tyd vir iets?  Ons het reggemaak vir 220 dames.  Elkeen het ‘n “goodie bag” op sy stoel gekry met aankoms.  Die span by Delsma het absoluut uit hul pad gegaan om dit die beste Vrouedag ooit te maak.  Die kos en diens was puik.  Wicus van der Merwe was ons seremoniemeester en hy het dit met die “flair” gedoen wat slegs hy kan.  My persoonlike opinie is  dat die sukses van die dag grootliks toe te skryf was aan die manier hoe hy die dames op hul gemak geplaas en meeste van die tyd laat skater het.  Niks met Wicus is egter normaal nie en vir hom om ons funksie op Hermon, wat 30 km van sy huis, is te kon doen moes hy eers Donderdag aand in Buffelsfontein (êrens in die Noorde van die land) en Vrydag aand in George optree – waarna hy dieselfde aand terug na Malmesbury gery het (03:00 by huis gekom) en toe kraakvars vir ons funksie die volgende oggend was!  RESPEK Wicus, jy is super professioneel en ‘n plesier om mee saam te werk.  Dit was natuurlik nie sy laaste optrede van die naweek nie en hulle moes nog dieselfde aand in Robertson ook ‘n funksie doen.


Die volgende sleutelpersoon van ons oggend was ons gasspreker.  Mnr. Peter Leid is ‘n Sistiese Fibrose leier wat ‘n dubbele longoorplanting gehad het.  ‘n Merkwaardige praatjie met uitstekende foto’s wat meeste van ons presies gewys het hoe nodig bewusmaking en fondse vir hierdie siekte is.  Ons het verseker geslaag in ons doel om persone wat nog nooit van die siekte gehoor het nie, bewus te maak daarvan en ek dink vir baie van hulle, geintreseerd ook.  Die ander saak wat hy aangeraak het, en dit sal dalk deel uitmaak van ‘n volgende projek vir my en Hildegarde, is die belangrikheid van orgaan skenking.  As dit nie vir iemand anders was, wat tragies oorlede is nie, het Peter nie vandag gelewe nie.  Die spesifieke skenker het op die dag van haar afsterwing die lewens van 6 ander mense gered deur ‘n geregistreerde orgaanskenker te wees.  Peter het kans gegee vir vrae en die dames het hul antwoorde en ekstra inligting gekry.

Na Peter se praatjie wat genoeg stof tot nadenke gelaat het, moes ons die gemoedere ‘n bietjie ligter maak en Andriette Norman het op die verhoog verskyn met haar kitaarspeler Sven Blumer.  Mense, ek het geweet sy kan sing, maar ons het nooit geweet dat sy SO goed is nie!  Sy laat die gehoor spesiaal voel, sy praat met hulle asof sy hulle jare al ken, sy deel dinge van haar eie lewe en deur dit alles sien mens net hoe “nice” sy is.  Andriette, julle het gekook!  Julle vertoning was tops en al ons verwagtinge is oortref.  Andriette het uit haar eie 2 CD’s geskenk om ook opgeveil te word ten bate van Sistiese Fibrose.  Die 2 CD’s is onderskeidelik vir R540 en R1 400 verkoop!  Hoe’s daai vir ‘n advertensie vir die vrou se gehalte?  Andriette, Sven en Alice – julle is “great” mense en het ons almal se dag gemaak.


Wicus het voortdurend gelukkige trekkings gehou met sy kwinkslae tussenin.  Daar was sonbrille, geskenkbewyse, eiers, geskenkpakke en vele meer wat uitgedeel is.  Hierdie pryse, asook die pryse in die “goodie bag” is alles aan ons geskenk deur instansies in ons streek.  Die lys is aangeheg in die blog.  Hierdie organisasies het hul harte en beursies oopgemaak om die dag ‘n sukses te maak.  Ons het op die oggend ook ‘n paar lootjies verkoop.  Die prys was ‘n skaap.  Ons het ‘n verdere R3 000 met die lootjies ingesamel!  Ek het heeltyd ‘n bedrag in my kop gehad wat ek wou oorhandig aan die Cape Cystic Fibrosis Association.  In die week in opbou na die Vrouedag het ons ‘n enorme tjek laat druk met ‘n bedrag op.  Ek het geweet dat daar nog baie water in die see moet loop voor ons heeltemal by daardie bedrag sou kon uitkom, maar het geweet dinge sal uitwerk.  Die ekstra gelde wat ons met die CD’s en die lootjie ingesamel het, maak die bedrag wat op die tjek staan – R25 000 ‘n realiteit.  Hierdie gelde word aangewend om die masjiene te koop wat die Sistiese Fibrose leiers daagliks moet gebruik.  Een masjien kos in die omgewing van R2 000, so ons help met 12 en ‘n half masjiene!

Daar is geen manier wat jy so iets kan aanpak sonder ‘n sterk span nie, ons het so ‘n span.  Ek gaan niemand hier uitsonder nie, maar julle weet wie julle is en daarvoor bedank ons en Cape Cystic Fibrosis Association julle opreg.  Dankie ook aan Talitha Lambrechts en Saretha Fouche vir die pragtige foto's.  Ons klere is in die proses om gemaak te word, waarmee ons op die eerste en laaste dag van vanjaar se Epic ten bate van Sistiese Fibrose gaan ry.  Ons is ambasadeurs vir die organisasie en wil nog ‘n klomp masjiene help koop.  Jy kan enige tyd ‘n verdere bydrae maak deur deel te neem aan my en Hildegarde se “We Ride To Breathe” projek.  Die Epic bestaan uit 718 km en 15 000 m vertikale klim.  Ek en Hildegarde verkies altwee om eerder bult op as bult af te ry (ons maar lekker bang vir vinnige afdraende), so ons wil graag die meters wat ons klim in die Epic vir Sistiese Fibrose klim.  Borg ‘n meter vir ‘n rand en ons kan ‘n verdere R15 000 aan Cape Cystic Fibrosis Association oorhandig.  Kontak my gerus hieroor.



Verlede week was ‘n swak week van oefen met al die funksies, maar die gevoel wat ek het soos wat ek hier sit en tik, is een van dankbaarheid en ek weet met hierdie mense rondom my kan dit net goed gaan met ons voorbereiding en pad vorentoe.

Lekker week vir almal en hou die gedagtes positief!

Cheers,

JG