05 Augustus 2015

Tyd Vlieg

In my vorige blog het ek nog beloof van hoe ek julle gaan vertel van African X.  Nou ja, sonder dat ons dit besef het ons reeds die maand Augustus van 2015 bereik.  Ek dink dit is 'n bietjie vergesog om te sê dat die tyd vlieg, want ek dink vlieg is nie heeltemal die korrekte woord nie.  Wat is vinniger as vlieg?  Blitsvinnig vlieg?  Ek weet nie, maar al wat ek weet is dat in die huidige wêreld waar ons onsself bevind niks teen gewone tempo gebeur nie.

Elkeen het sy eie lysie wat hy moet afmerk en dit hang net af van jou betrokkenheid in besigheid, sosiaal en liefdadigheid op iemand anders se lysie om jou program te bepaal.  Julle sal duidelik sien ek los kinders uit die gesprek uit.  Dit is vir my en Hildegarde 'n nuwe wereld wat laerskool aanbetref en ons besef ons het nog eintlik niks gesien nie.  Kinders is beslis nie meer kinders nie, maar klein volwassenes.  Die druk is enorm op hulle en enigiets wat jy vir jouself as ouer beplan het sal aan die agterspeen suig.  Ons doelwitte was om dit wat ons graag wou saam doen soos bv. Epic klaar te doen voor kinders skooltoe is.  Dankie tog die tydsberekening het so uitgewerk.  Ek is tevrede met waar ek staan met my sport, Hildegarde oefen hard, want dis deels haar werk en sy het nog doelwitte wat sy vir haarself wil bereik.  Ek is egter ver agter met terugvoering en net voordat julle begin dink dat ons dalk glad meer aktief is nie, is hier 'n kort opsomming van die afgelope paar maande in die Geldenhuys se lewens.

ProNutro African X

Verskoon asb. die manier van verslag gee, maar ek is in die eerste plek nie 'n joernalis nie en in die tweede plek skryf ek soos ek praat en as ek nie self deelgeneem het nie, skryf ek soos ek dit sien afspeel het.

Die twee dames, Hildegarde en Marisa het met geen groot hoop na die African X gegaan.  Deels omdat dit vir beide van hulle vreemde gebied was en deels omdat hul nog nooit hul liggame tot die uiterste in hierdie sport beproef het nie.  Baie dinge kan oor 3 dae skeefloop en wat dit nog meer ingewikkeld maak is die feit dat jy alles saam met jou spanmaat moet deurgaan.  Jy kan nie sommer net op 'n oggend wakker word en besluit jy gaan nie hardloop of jy gaan vandag vinnig of stadig hardloop nie.  Dit gaan nie oor jou nie, maar oor wat die beste vir jou span is.  Die dames het egter vir hulself gesê dat indien hulle in die top 10 dames spanne kan eindig hul baie tevrede sal wees.

Dag 1 was 'n afstand van 34 km met 800 m klim.  Ek en Bouwer het rondgeskuif tussen die verskillende toeskouer punte en kon voortdurende die dames se gemoedstoestand sien.  Dag 1 was hulle sterk en het na die einde toe effens stadiger gegaan om hulself vir 'n harde dag 2 te spaar.  Hulle eindig op Dag 1 as die 5de vroue span en verbaas hulself in die proses.  Daar is egter baie onsekerheid oor hoe hul lywe gaan voel vir die volgende harde dag, so die besluit word reeds geneem om dag 2 stadiger van die begin af te vat om die einde in een stuk te kan haal.  Dag 2 was 'n riller van 'n roete met 1 100 m klim oor die 34 km.  Die dag is toe ook die warmste dag van 2015 se African X met temperature van bo 30 grade Celsius.  Hulle het hulself goed opgepas en eindig as die 8ste vroue span.  Teen hierdie tyd het hulle geweet hulle sal reg wees die volgende dag en die plan was om die laaste dag alles te gee.  So gese en so gedaan.  Die laaste dag was 22 km met 600 m klim.  Hulle het alles gegee en op die ou end 7de van die vroue spanne geeindig.  Hul het hul eie wildste drome oortref en ek is seker beid van hulle sal in 2016 terug wees vir hierdie onvergeetlike ervaring!  Well done Team Nexus!


@Hildegarde

Die gym groei van krag tot krag en Hildegarde kan regtig haar passie uitleef.  Daar is al baie veranderinge van hoe dit was op 5 Januarie 2015 tot nou en ledegetalle groei steeds soos wat ons probeer om vir elke individu se behoeftes voorsiening te maak.  Die nuutste toevoeging is die spinfietse waarvoor ek baie lank al vra.  Uiteindelik kon ons gedurende die winterskoolvakansie hulle aanskaf.  Daar word 'n wye reeks van klasse aangebied elke dag van die week so gaan kyk gerus by https://www.facebook.com/groups/404833636391635/
vir meer inligting rondom tye.


Blesfontein

Julle sal sien dat daar sekere mense en plekke is wat gereeld hul verskyning op die blog maak.  Dit is maar die plekke en mense waarmee ons onsself omring.  Blesfontein is een daarvan en ons probeer om eenkeer per jaar daar te draai.  Hierdie jaar sal ons 'n tweede keer moet gaan, want Lood het my rooster in hul huisie vergeet!  Ons was die laaste naweek van die skoolvakansie daar om te herlaai.  Daar is geen selfoon ontvangs nie, dus kan jy vir die 48 uur wat jy daar is werklik afskakel en kwaliteit saam met die mense naby aan jou spandeer.  Ons het die vanjaar amper reggekry om sneeu te kry, maar dit wou net nie koud genoeg raak nie.  Dit het verskriklik gereen, maar die sneeu het ontwykende gebly.  Ons sal weer teruggaan om dit eendag nog raak te slaan.



EasySkips Swartland

Hopelik het baie van julle al die rooi skips / bins in Malmesbury en omgewing gesien.  In Maart 2015 het ek my garage skoongemaak en een van hierdie skips gehuur.  Dit was so gerieflik om hom by die huis te he en net alles wat ek wou weggooi daarin te kon gooi en iemand anders gaan maak hom leeg, dat ek vir die vorige eienaar gevra het om my en my pa te kontak as hy eendag van die besigheid ontslae wil raak.  6 Weke later was onderhandelinge aan die gang en vandag kan ons trots se dat EasySkips Swartland aan ons behoort.  My pa is die kontakpersoon en ons sal met graagte vir jou een by jou huis kom neersit om van enige ongewenste bourommel, sand of vullis ontslae te raak.  



Hilge se eerste hokkie wedstryd

Ek was self nog altyd bitter bang vir hokkie. Die lyk gevaarlik. Hige is egter baie lief daarvoor en die afgelope naweek het sy die geleentheid gehad om deel te neem aan haar eerste wedstryd. Dit was ysig Saterdag oggend, maar hul opgewondenheid was aansteeklik en die hele familie, selfs oom Stephan, was langs die veld vir die groot wedstryd.  Al die opwinding was nie verniet nie en Hilge kon 3 doele skiet.  Ons het dit almal verskriklik geniet en is baie trots op haar.  Mens se kinders is die spil waarom alles draai en ons begin nou vinnig agterkom waarheen al ons tyd gaan, en dis baie lekker!


Die Burger Bergfietsuitdaging - 75 km

Wanneer jy gefokus is op 'n doelwit en jy werk hard daarvoor kom daar baie keer ander voordele op die pad na die einde van jou doelwit oor jou pad.  So is dit ook met Die Burger Bergfietsuitdaging se 75 km.  Persone wat hulself in ander wedrenne bewys het word na hierdie een genooi.  Daar is slegs 200 uitnodigings, dus voel mens so half verplig om in te skryf wanneer jy die "golden ticket" kry.  Wat mens net ook moet besef is dat hierdie uitnodigings gebasseer is op historiese data en dat jy nie noodwendig in dieselfde "shape" is as waarop jy uitgenooi is nie!  Ek het egter baie nederig in die wedren gegaan aangesien ek geweet het ek kom uit 'n winter van baie minder oefen.  Ek en Dirk het vooraf reeds besluit dat ons sou saamry.  Ons het teen 'n baie gemaklike spoed begin en glad nie gejaag nie.  Ek het goed gevoel na so 'n uur en 'n half en begin dink dat ek lekker op ou spiere staatmaak.  Die weer was perfek al het ons op 2 grade Celsius begin ry het die temperatuur vinning opgegaan.  Na so 2 en 'n half ure het my gemoed effens begin verander en ek kon die tekort aan oefening vinning begin voel.  Dirk aan die ander kant het al hoe sterker geraak en was sommer lekker haastig na die einde toe.  Ons het klaargemaak in 4 uur 28 min.  Ek is baie bly dat ek deurgedruk het.  Hierdie was beslis wat ek nodig gehad het om my fokus terug te bring.  'n Baie lekker wedren wat baie goed gereël was.  Volgende jaar gaan ek weer!

Gaan my bes doen om meer gereeld julle in te lig oor al ons aktiwiteite, belowe!

Groete,
JG