19 Maart 2014

Cape Argus Pick 'n Pay Momentum Cycle Tour 2014

Ons laaste groot dinge voor die ABSA Cape Epic 2014 is iets van die verlede.  Ek was bietjie stiller die afgelope paar weke, daar was maar baie dinge om aan aandag te gee.  Ons het vir een van ons getroue borge - Bartholomeusklip Gastehuis 'n fotosessie gedoen vir hul webwerf, asook die Cape Argus Pick 'n Pay Momentum Cycle Tour 2014 gedoen.

Op 'n pragtige Saterdagoggend het ek en Hildegarde met blink fietse na Bartholomeusklip vertrek.  Mike en MariĆ«tte het ons ingewag en ons het dadelik vertrek na die spesifieke plek wat sy vir ons sessie uitgesoek het terwyl die lig nog reg was.  Hulle het ons deur die Elandsberg Natuur Reservaat geneem na die perfekte plek.  Ons het verskeie foto's van ons op ons fietse met die pragtige natuurskoon in die agtergrond geneem.  Dit was 'n heerlike ondervinding en iets heel anders as ons normale Saterdag oefensessie!  Sien onderstaande 'n paar foto's van die oggend.






Ons het op Sondag, 9 Maart 2014 as "Team Nexus" aan die Cape Argus Pick 'n Pay Momentum Cycle Tour 2014 deelgeneem.  Ons het dit beskou as ons laaste groot voorbereiding vir Epic 2014.  Die doel van die oggend was om as span saam te ry, asook om nie te val nie!  Die wind het baie sterk gewaai deur die nag en ons het geweet die dag sou nie veel makliker gaan nie.  Ek het saam met Hildegarde om 06:50 in groep M weggespring.  Ons was so net na 06:00 reeds in die "shoot".  Dit was bitter koud!  Hildegarde het 'n swartsak aangetrek om warm te bly - dit werk baie goed!  Die skoot het geklap en ons was weg.  Skielik was die wind vergete.  Ek het sterk gevoel en het meestal voor in die groep gery met Hildegarde kort op my hakke.  Die ooreenkoms was dat indien ons mekaar tussen die hordes mense sou verloor, elkeen so hard as moontlik eindstreep toe moet ry.  Die span se mikpunt was om ten minste onder 3 uur 30 min klaar te maak.  By Smitswinkel het ons mekaar teen 'n klim verloor. Hildegarde was heel regs en ek heel links.  Twee groepe het een geword en ons kon mekaar nie kry nie.  Ek was onder die indruk dat sy agter my was, sy het weer gedink ek is ver voor en het die spoed bietjie opgestoot, ek het vir haar gewag.  Later besef ek sy moet voor wees en het gejaag om haar te kry.  Net voor Chapman's Peak kry ek haar!  Ons het lekker verder gery en uiteindelik in 3 uur 26 min klaargemaak sonder enige valle - "mission accomplished".

Team Nexus

Ons gaan aan vanjaar se Cape Epic deelneem ten bate van Sistiese Fibrose.  Ons sal met hierdie hemde in die boonste foto die Proloog en laaste dag ry.  Kyk asb uit vir ons!  Jy kan 'n bydrae maak deur R1 per meter wat ons klim te help borg.  Ons gaan so amper 15 000 m klim gedurende die Epic.  Enige bydraes kan direk oorbetaal word aan die Cape Cystic Fibrosis Association.

Cape Cystic Fibrosis Association
First National Bank
Table View Bank
Branch Code:  203 809
Acc no:  600-2120-3588
Ref:  Nexus Epic

Indien jy ons vordering wil volg, stuur asb. vir ons 'n epos na jacogeldenhuys@icloud.com.  Ek sal dan jou epos adres op ons "Buddy List" plaas.  Die Epic stuur daagliks inligting oor hoe dit met ons gegaan het.  Om meer direk op hoogte te bly, volg ons op Twitter of Facebook!  Die blog sal bietjie stil wees tot ons klaar is....

Kontakbesonderhede:

Twitter:  @Jaco_Geldenhuys
Facebook:  Soek vir Hildegarde Hoctor Geldenhuys
E-pos:  jacogeldenhuys@icloud.com

Baie dankie vir almal se wonderlike ondersteuning en belangstelling die afgelope tyd, ons waardeer dit opreg.  Dit is lekker om te kan weet dat die doel van ons projek na mense deurdring en ons die verskil kan sien wat ons wedersyds in mekaar se lewens maak.

Groete tot later,
JG