13 Maart 2017

Mannheim, Stuttgart & Amsterdam

Dag 10 – 06.03.2017

Op die stasie aangekom vind ons uit dat dit beslis die maklikste sal wees om ‘n taxi na Europcar te neem waar ons huurmotor is.  Hulle is in “downtown” Mannheim en bietjie te ver om te loop.  Hierdie rit kos ons 12 €.  Ons motor is ‘n Kia en eers sukkel ons om die GPS op Engels te kry, met dit uitsorteer kom Pieter redelik vinnig reg aan die “verkeerde” kant van die pad as wat ons ry.  Die motortjie trek lekker en ons is tevrede.  Ons hotel was die Park Inn By Radisson.  Hierdie was ‘n lekker ruim hotel en alles het nie so beknop gevoel.
Dit was net na 16:00 en ons moes onsself gaan gereed maak vir die aand saam met BASF se manne.  Ons sou ‘n weinkeller toer en proe doen asook ‘n aandete in die 5-ster Gesellscahftshaus der Badischen Anilin & Soda-Fabrik (BASF).


Nadat ons voorgestel is aan ons gashere van die aand, Ivan Jurasin-Havranek (Gewasbestuurder Afrika en Midde-Ooste) asook Marco Moorfeld (Hoof van Gewasbestuur Grane en Mieles - Europa, Afrika, Midde-Oosteen Sentraal Asie) is ons deur ‘n baie interessante weinkeller toer gelei.  Ons het meer geleer rondom die weinkeller en hoe dit ontstaan het.  Die storie is eintlik baie interessant, aangesien dit steeds die rede vir hierdie afdeling is.  In die vroeë jare moes mense met perdekarre dorp toe kom.  Daar wees geen ander manier om wyn in die hande te kry as om dit self by die wynkamers op hul plase te gaan koop nie.  Die werknemers van BASF het in daardie jare die gewoonte gehad om na werk ‘n glas wyn te drink en te sosialiseer met mekaar.  BASF het dus ‘n fasiliteit geskep sodat hul werknemers dit daar by die werk te kon doen.  Hul het die wyn “bymekaargemaak”die kelders en dit dan na werk aan hul werknemers te koop aangebied.  Die publiek het gesien wat gebeur en die vraag het ontstaan na verkope aan die publiek.  Dis dan steeds hoe dit vandag is.  Intussen het BASF later begin self wyn maak, maar dit ook ongeveer 15 jaar terug gestaak as gevolg van die feit dat dit nie winsgewend was nie.  Deesdae koop hulle regoor die wêreld wyne in en hierdie wyne word sentraal verkoop.  BASF is een van die top 6 wynverspreiders in Duitsland.  Ons het verskeie van die plaaslike wyne geproe soos gesien kan word onder aan die foto.  Ons proemeester het ons vertel met watter kos die wyn gepaar kan word en ons het dit terdeë geniet.  Wat ‘n heerlike ondervinding.  Duitsland is baie bekend vir sy verouderde Rieslings en dit het duidelik uitgekom uit die proe.  Ons is rondom 20:00 na die restaurant…min het ons geweet dat ons vandat ons daai trappies sou klim soos konings behandel sou word.


Ons is onmiddellik verwittig dat foto’s nie toegelaat word nie.  Jacobus kon darem ‘n skelm fototjie van Pieter en Christoffel asook die nagereg neem.  Ons het ‘n 5-gang maaltyd geniet met verskeie disse soos jul kan sien op die spyskaart foto hieronder.  Daar was ‘n 6de gang wat vooraf bedien was wat eintlik net een hap was, ek weet self nou nog nie wat dit was nie, maar dit was iets visserigs!  Alles was voortreflik, ons het regtig die beste van die beste beleef in terme van voedsel en wyn.  Ek het natuurlik ten volle gebruik gemaak van hierdie twee wereldkenners rondom hul gewas en produkte en hul gepeper met die vrae.  Dit was voorwaar ‘n voortreflike aand en die kontakte wat ek opgebou het sal my verseker in my loopbaan baie help.  Ons was redelik uitgeput na ‘n lang dag en paar dae tot dusver en na hierdie “laat” aand was die manne reg vir die bed.  More se eerste afspraak was 09:00 by BASF se besoekersentrum.


Dag 11 – 07.03.2017

Ontbyt was regtig goed, hier was ‘n verskeidenheid van kouevleise beskikbaar wat nie teenwoordig was in Parys nie en almal kon hulself lekker volmaak vir die besige oggend wat voorlê.  Ons het bietjie gesukkel met parkering en het 09:05 ingehardloop by die besoekersentrum waar ons toerleier reeds gewag het.  Ons is deur 3 verdiepings voorlegging van BASF se geskiedenis en watter produkte hulle maak.  Hulle is eintlik feitlik in enige produk wat jy in jou besit het teenwoordig.  Weereens is ons gewaarsku dat geen foto’s toelaatbaar is nie.  BASF werk met enigiets van landbouchemie tot die plastiek wat in tekkies is asook issolasie teen koue wat in geboue se dakke is.  Die toepassing van hul produkte is eintlik oneindig.  Ons is na ‘n uur na buite waar ons in ‘n bussie geklim het wat ons deur die hele produksie aanleg geneem het.  Hierdie is ‘n enorme opset.  Daar is 2 800 km se pyp op die 10 vierkante km wat die area beslaan.  Hulle het hul eie vervoersisteem binne hierdie area en 15 000 fietse tot die 36 000 mense wat hier werksaam is se beskikking om tussen geboue te beweeg.  90 % van alle produkte wat geskep word, word gebruik.  Die afval gasse word omgeskakel na energie of na byprodukte.   Hierdie sisteem hardloop soos ‘n ge-oliede masjien en hier werk almal in sy boksie om te verseker dat dinge glad verloop.  Foute kan katastrofies weers, so alle veiligheidsmaatreels is in plek om dit te verhoed.  Ons was verskriklik beindruk.  Om 11:00 is ons afgelaai waar ons na ons motor is om 11:30 by die Agri-Centre wat ongeveer 12 km van die produksie aanleg  te kon wees.

Ons was bedtyds en na ‘n enorme sekuriteits ondersoek is ons die perseel toegelaat waar ons deur ons toerleier Inge Webb deur middel van ‘n PowerPoint voorlegging vertel van presies hoe dit vir BASF en ander maatskappye werk om ‘n nuwe produk na die veld te bring asook die tydlyn en koste daaraan verbonde.  Dit maak mens se oë bietjie oop om te sien wat alles in so ‘n produk ingaan.  Ons het ‘n ligte middagete geëet.  Ons is na afloop van hierdie voorlegging na die praktiese deel om te gaan kyk na die tonnels en labratoriums waar hierdie seleksie van produkte gedoen word.  Na 4 ure se intense besoeke was ons dit eens dat hierdie mense geweet het wat hulle doen en ons was vol komplimente vir hoe welkom hulle ons laat voel het.  Ons het een laaste stop gehad in Mannheim, die John Deere perseel in John Deere Straat!

Hierdie was nie ‘n gereelde toer nie, aangesien dit sou bots met ons besoeke aan BASF en omdat ons reeds baie van die produk gesien het by SIMA, wou ons net daar draai sodat ons darem kon se ons was daar.  Daar is baie geskiedenis opgeskryf rondom die totstandkoming van John Deere en dit was baie interessant.  Min het ons op die stadium geweet dat ons in die volgende dag nog baie gaan uitvind oor die geskiedenis van die motorbedryf.  Ons het ‘n paar geskenkies gekoop en het die 130 km aangevat na Stuttgart.


Ons was uit die veld geslaan met die hoeveelheid “lorries” op die pad.  Daar is een baan wat net vol trokke was.  Dit het gereen, maar in die linkerbaan (Autobaan) was daar nie beperkings op spoed nie.  Ons het by tye gesien dat die Kia tot 170 km / h doen.  Die Duitsers het vinnige karre, wat warmgemaak is.  Hulle is blitsig!


Natuurlik kan alles nie seepglad verloop op so ’n toer nie en ek het die vekeerde adres in die GPS getik wat gelei het tot ‘n draai van so ongeveer ‘n uur en ‘n half.  Dit het darem egter vir ons die geleentheid gegee om die wereld bietjie te verken en die stad Stuttgart self te sien.  Ons het by ons hotel aangekom en was baie verbaas om te hoor dat die bestuurderes ‘n Suid Afrikaner van Port Elizabeth is.  Ons het lekker gesels en deur al die geselsies agtergekom dat hier baie Suid Afrikaners kom oornag wat vir opleiding na Mercedes Benz kom.  Ons is uit vir ete en ons wou regte, egte Duitse kos hê.  Die restaurant van keuse was die Funzel.  Met die intrapslag het ons almal dadelik geweet wat ons wou eet en dit was net oor ons die ander mense se borde gesien het, Eisbein!  Jy kon kies tussen die bygeregte en ek het die tipies Duitse Sauerkraut gekies.  Ons het weggelê aan die 800 gr Eisbeins en nie een kon alles baasraak nie.  Ons het besluit hierdie oorskiet moet saamgaan en dien as middagete die volgende dag.


Dag 12 – 08.03.2017

Ons het besluit om die Porshe Museum asook die Mercedes Museum te besoek.  Biede van hierdie museums maak 09:00 oop en ons moes ons huurmotor om 15:00 weer by Stuttgart lughawe he, dus was dinge redelik “tight”.  Ons is eersta na Porshe waar ons deur die geskiedenis beweeg het.  Hierdie is vakmansskap op die hoogste vlak en selfs al is jy nie ‘n groot “petrolkop” nie, moet jy herdie ryke geskiedenis asook die kuns om sulke pragstukke te bou, waardeer.  Die manne het soos klein kindertjies opgewonde geraak as hulle die dreuning van ‘n sekere model oor die luidsprekers kon hoor.  Ons moes aanbeweeg om nog by Mercedes te kom en het die verkeer aangevat.


Mercedes is ‘n regte museum.  Die Porshe museum was intiem met al die geskienis op 3 vlakke, maar Mercedes was enorm.  Sewe verdiepings waar jy bo begin en af beweeg was net die ou voertuie.  Dit het ook vir jou ‘n tydlyn gegee wat in Europa op daardie spesifiekte tydstip gebeur het terwyl Mercedes se stigters bv. besig was om die eerste selfaangedrewe voertuig te bou, of watter model Mercedes op die paaie was terwyl die Berlyn muur afgebreek is.  Alles het soos ‘n legkaart inmekaar gepas.  Die karre is bitter, bitter mooi.  Daar staan baie ou, unieke voertuie wat ons nog nooit gesien het nie.  Jy kon ‘n F1 motor se “simulater” ry en voel hoe dit voel om teen 300 km / h te jaag.  Alles hier was die tekens van goeie kwaliteit.  Ons is na die geskiedenis toer na die 3 verdiepings met die nuwe voertuie.  Hierdie was baie spesiaal, want die “AMG” reeks was hier.  Dis hul vinnige karre.  Daai karre is amper te mooi om na te kyk.  Ek het persoonlik die Mercedes Museum meer indrukwekkend gevind as die Porshe Museum.  Dit was ‘n belewenis.  Ons het vertrek na Stuttgart lughawe om ons huurmotor terug te gee en ‘n vlug te vang na Schipol Amsterdam waar ons die laaste dag van ons reis sou spandeer.  


Die vlug was eers vertraag en daarna deur baie terbulensie, Pieter het dit nie verskriklik waardeer nie!  Veilig anderkant het ons ‘n bus gevat na ons hotel (Hotel Central Park), amptelik die kleinste kamer op die hele toer.  Ek en Jacobus kon nie saam ons sakke langs mekaar oopmaak nie.  Hierdie was letterlik ‘n geval van neem jou besluit voor jy by die badkamer ingaan, want daar is te min plek op jou gedagtes te verander.  Ons het naby die hotel by ‘n restaurant gaan burgers eet en het uitgesien na ons laaste dag van die toer waar ons Amsterdam te voet sou aanvat.


Dag 13 – 09.03.2017

Ek wou ‘n draffie inkry aangesien ons hotel langs Vondelpark was, maar die oggend was mistroostig met ‘n ligte, natmaak reëntjie.  Ons het ontbyt geëet en die strate ingevaar.  Ons was hopeloos te vroeg vir die winkels en  het net lekker rondgeloop en die Hollanders bekyk was so mobiel is met die fietse.  Almal ry fiets en dit lyk so gemaklik en lekker.  Al was die weer nie goed nie het hulle steeds fietse gebruik om oor die weg te kom.  Vir ons was dit vreemd, maar Amsterdam maak deeglik voorsiening vir die fietse met oral hul eie bane en verkeersligte, so jy kan eintlik nie anders nie.  Ek sal nogal van hierdie tipe leefstyl hou.  Ons is oor die kanale en in die winkels waar ons ons laaste aandenkings van die reis te koop.  Ons kon darem nie Holland verlaat sonder om rou “herring” te eet nie.  Niemand van ons 4 het dit al voorheen probeer nie en 2 van ons toerlede sal dit moontlik nooit weer probeer nie (Jacobus en Christoffel).  Ek en Pieter het nogal gehou daarvan.  Dit is rou “herring” wat voorgesit word saam met gepekelde agurkies en gekapte uie.  Jy eet dit by ‘n straatkafee.  Die pekel maak dat dit soet is.  Ek het dit geniet.  Sien foto’s hieronder.  Ook moes ons Fritis en Mayonaisse eet en op die koop toe sommer Bitterballen daarby saam met Heineken.  Hierdie was ons laaste dag en ons het alles probeer, letterlik, inprop! 


Ons is na Madame Tussaud waar Christoffel en Jacobus die waspoppe bekyk het terwyl ek en Pieter op die plein rondgedwaal het.  ‘n Lang dag met baie stap is afgesluit in ‘n Argentynse “steakhouse” waar ons ‘n heildronk ingestel het op ons baie suksesvolle reis.  Die ete was heerlik, die vleis smaaklik en dit het die manne se verlange vir die huis meer aangehelp.  Die span wou nou braai!  Ons is oppad terug hotel toe deur die baie bekende / berugte rooiligdistrik, wat na Pigalle waar ons in Parys gebly het niks vreemds vir ons was nie.  Dis iets wat jy moet sien as jy in Amsterdam is, al is dit net om te weet waarvan mense praat.  Dit is sekerlik een van die grootste toeriste attraksies van Amsterdam waarvoor jy nie hoef te betaal nie.  Jy kan bloot deurstap en waarneem saam met die ander duisende toeriste op straat.  Ons is terug hotel toe waar ons redelik uitgeput was en tot redelik laat moes sukkel om ons tasse wat nou baie anders gelyk het as op dag 1, toe te kry!  Die volgende dag vlieg ons huistoe, die tyd was nou reg.


Dag 14 – 10.03.2017

Ontbyt word in ons hotel eers van 07:00 af bedien en ons moes te vroeg lughawer toe, so ontbyt sou op lughawe geniet word.  Ons is weer met ‘n bus tot by die lughawe wat ons so 5 € per kop gekos het.  Die inboek, deurstap en sekuriteit het ongeveer ‘n uur en ‘n half geneem waarna ons ‘n ontbyt geeet het en die laaste, heel laaste, geskenke gekoop het.  Ons KLM vlug het ongeveer 10:30 opgestyg.  Ons het almal baie opgesien na die vlug, maar dit was in retrospek een van die lekkerste vlugte waarop ek nog was.  In die eerste plek sit jy langs mense wie jy ken.  In die tweede plek was dit ‘n dagvlug, so jy voel nie gedwing om te slaap nie.  Dit was ‘n redelike nuwe vliegtuig en die nuutste flieks het gewys.  Ons is twee etes en ‘n “snack” bedien tydens die vlug.  Ek persoonlik het 3 flieks gekyk, die helfte my boek klaargelees, asook hierdie blog getik tot op die punt waar ek slegs die foto’s moes bysit as ek weer internet het.  Die tyd het letterlik gevlieg en daar was nie een oomblik wat ek verveeld was nie.  Ons het 22:30 geland in Kaapstad en was spyt alles waarna ons so lank uitgesien het was verby, maar het baie uitgesien om by ons gesinne te kom.  Volgende keer vertel ek julle bietjie meer rondom kostes van so ‘n uitstappie asook wat ek persoonlik uit die toer as mens neem.

Afrika Groete,

JG

06 Maart 2017

Milan & Luzern

Dag 8 – 04.03.2017

Hoe minder ons se oor dag 8 van ons trippie, hoe beter.  Dit was ‘n absolute dag van chaos.  Ons was om 08:45 by die stasie in Nice en moes ‘n trein neem na Ventimiglia oppad na Milan in Italie.  Hierdie trein is afgestel en dit het beteken dat ons ons aansluiting trein om 11:04 sou mis.  ‘n Dag vol “trainhopping” het begin.  In plaas van 2 treine wat rondom 4 ure sou neem vat dit toe 6 treine – waarvoor ons nie kaartjies het nie, verkeerde stasies, kondakteurs wat ons kaartjies vra en ‘n bus om teen 22:00 die aand by ons hotel in Milan te wees!  Ons het altyd geweet die dag in Milan gaan ‘n uitdaging wees aangesien ons hotel ongeveer 14 km van die hoofstasie was, maar die treine het ons ‘n regte “curveball” gegooi.  Ons kon niks van Milan sien nie aangesien ons die volgende oggend 10:00 weer moes vertrek na Luzern.  Die ete in Milan die aand het bestaan uit verskillende pasta’s wat heerlik was.  Ten spyte van al die chaos was die uitstappie steeds heerlik en opwindend bloot deur die feit dat ons so”clueless” was!  More sal dit beter gaan….


Dag 9 – 05.03.2017

Ons verblyf was geboek by die Idea Hotel in Milan San Siro wat naby die sokker stadion is.  Dit was ons treinstop die vorige aand asook die een waar die hotel se bussie ons die oggend afgelaai het oppad terug na Milan se hoofstasie toe.  Ons het die beste ontbyt van al die hotele van die hele toer sover geeet by hierdie hotel.  Die hotel is nie baie sentraal nie, maar dis die eerste hotel waar ons spasie gehad het, oral, kamers en restaurant.  Ons is vort en het geweet dit kan net beter gaan as die vorige dag, min het ons geweet hoe baie beter dit kan gaan.


Die eerste ding wat beter was is die feit dat die trein op tyd, reg en baie “smart” was.  Alles het seepglad verloop en ons is Switzerland binne waar ons die pragtigste spoor gevolg het.  Hier loop dinge reg.  Daar is ‘n rede waarom daar verwys word na Switzerse presisie.  Die land is beeldskoon, presies soos wat jy al ooit voorgestel het en gesien het.  Dis ‘n poskaart van A-Z.  Die sneeu le nog dik op die berge, die mere is tjok en blok vol water.  Dit lyk sommer koud!


Ons het gesnak na ons asem toe ons by die stasie uitstap en die prentjie voor ons sien.  Hierdie was mooi op ‘n ander manier, ons tipe mooi.  Parys en Monaco was mooi gemaak deur mense en die geskiedenis.  Hierdie plek is mooi van nature.  Die stasie is so ‘n km van die hotel en ons het die stukkie gestap.  Die lug was vars, die wereld skoon.  Hier kom jy die reels na, dinge word self gepolisieer.  Mense kyk jou snaaks aan as jy oortree.  Die hotel was baie modern en uitgedos in baie helder kleure.  Die personeel was almal vriendelik en behulpsaam.  


Ons het ingetrek en was omstreeks 15:00 in die strate.  Meeste van die winkels is op ‘n Sondag oop van 15:00 tot 18:30.  Ons was op ‘n soeke na geskenke vir familie, kollegas en vriende.  In hierdie dorp is daar honderde horlosie, sjokolade en knipmes winkels.  Alles produkte wat eie is aan Switzerland.  Die volgende 3 ure was ons in die rumoer en kon darem redelik ver vorder met geskenkies. 


Dit het begin reen en die koue het nader aan die been beweeg.  Ons het voorspel dat dit die nag gaan sneeu en hoe fantasties dit sou wees indien ons die volgende oggend kon opstaan met sneeu in die strate.  Ons is terug kamer toe om die bagasie te gaan neersit voor ons uitgaan vir aandete.  Ons wou nie te vroeg eet en het eers ‘n lang ent langs die meer afgestap.  Ek het daar en dan besluit dat dit die pad is wat ek die volgende oggend sou draf.  Die ikoniese houtbrug van Luzern is van alle kante afgeneem.


Ons het by ‘n restaurant baie naby aan die brug aangekom waar ons sou aandeet.  Ek het by van my verskaffers borgskappe gekry vir hierdie toer en ons het besluit dat ons vanaand van die fondse gaan gebruik vir aandete in Luzern en nie terughou nie, ons wou die hele ervaring he!  Ook maar goed ons het dit so gedoen, want al wou ons terughou, kon ons nie.  Die kos was ontsaglik duur, so gelukkig het dit niemand se sakke geraak nie en ons het voluit gegaan.  Die restaurant se naam was Rathaus Brauerei en soos die naam se ‘n bierbrouery.  Jy  drink hulle bier hier wat in ‘n pragtige koperketel gestook word – Seidel Natrut.  Ons het direk die hoofmaal bestel.  Pieter en Christoffel elk die Kalbs Cordon Bleu en ek en Jacobus elk die Langrippenkotelett (250 gr varktjop).  Beide van die disse was van die huis-spesialiteite en absoluut fantasties.  Saam met dit het ons ‘n bottel Chateau Croix gedrink wat ook heerlik was.  Die aand was nog nie om nie en ons het 4 nageregte bestel wat ons tussen mekaar sou deel.  Dit het ingesluit 2 x Wit Tobleronemousse, Guiness Schokolade Brownies en Bieramisu.  Alles was briljant, maar my gunsteling was die Tobleronemousse.  Die kelnerin het ons meegedeel dat sy vir ons ‘n verrassing het (seker nadat sy ons rekening gesien het).  Sy het vir ons elkeen ‘n tipe aftreksel (witblits / mampoer) van hul bier gebring en dit het die aand mooi afgesluit.  ‘n Lekker stappie terug hotel was net die regte medisyne.  Ons was dit eens, hier sal ons kan woon.


My oggend draffie was verfrissend aanvanklik, maar na so 2 km was dit sommer koud!  Dit het verseker die nag gesneeu, die berge was spierwit en dit sneeu het baie laer gele as die vorige dag, ongelukkig nog nie in die dorp self nie.  Ons ontbyt was skitterend en wat baie oulik was, was die hoekie waar kinders hulself kon help met hul eie ontbyt.  My 2 sou mal wees hieroor!  Ons is te voet na die stasie waar ons 09:55 moes klim oppad na Mannheim. Dit is ons laaste treinrit.  In Mannheim huur ons ‘n motor, dit mag interessant raak!  Meer hieroor na Duitsland…


Auf Wiedersehen,
JG

05 Maart 2017

Nice, Monaco en Monte Carlo

Dag 6 – 02.03.2017

Ons aanvanklike reeling was om te vlieg van Parys na Nice, maar ons wou graag meer van die platteland sien en ‘n baie goeie manier om dit te kon doen was met die TGV trein.  Die TGV is Frankyk se interstad hoe spoed spoorweg opsie wat dit vir baie reisigers ‘n beter alternatief as vlieg maak.  Baie eenvoudig en maklik en in my opinie baie meer ontspanne as die hele lughawe episode wat gewoonlik met baie senuwees gepaard gaan.  Ons trein het Gare de Lyon verlaat en ons het gereis na Nice-Ville.  


Dit was ‘n 5 en ‘n half ure reis.  Ons is wel op ‘n stadium deur ‘n Franse tannie stilgemaak toe ons viermanskap te hard geboer het!  Sy kon kwansius nie konsentreer op haar leesstof nie, ek persoonlik dink sy was nuuskierig om te hoor waaroor ons praat maar kon nie verstaan nie.  Dit is een ding wat baie moeilik is vir ons om te verstaan en Max het dit aan ons bevestig, die Franse se Engelse opleiding is pateties en hulle sonder hulself heeltemal af van die buitewereld.  Min van die mense kan Engels verstaan en elkeen is baie op homself gefokus en nie regtig op wat ander om hulle doen nie, behalwe as jy iets verkeerds doen soos wat ek later in die blog sal verduidelik.  Hul moet hul vlerke dalk so ‘n bietjie sprei en meer verwereld.

Om in Nice te kom ry jy vir ‘n lang stuk langs die see af en ons kon duidelik sien waarom hierdie streek vir die hele wereld so ‘n bekende vakansie bestemming was.  Die doel van ons besoek was slegs om te kon se dat ons wel in Nice was.  Al was dit die enigste doel was dit beslis die moeite werd.  Hier ruik jy geld, Nice nie so erg soos Monte Carlo en Monaco nie, maar dinge is verseker anders hier as in Parys.  Vir een ding is hier meer ruimte.  Die verkeer vir ons is maar ‘n nagmerrie aangesien alles verkeerdom is.

Ons eerste hekkie was toe ons in Nice land om ons hotel te kry.  Alhoewel dit slegs 300 m van die stasie af was, was die deure gesluit.  Daar was glo herstelwerk besig om plaas te vind en ons is na ‘n ander hotel geskuif.  Dit het ‘n tydjie gevat, maar ons het darem die nuwe een wat deel was van dieselfde groep, gekry.  Al die kamers tot dusver was baie klein!


Tasse neergesit en ons is strate toe.  Die 3 musketiers is te voet see se kant toe en ek is na Holiday Bikes om vir my ‘n trapfiets te huur.  Ek se trapfiets, want die ander 3 het vir hulle die volgende dag “scooters” gehuur.  Ek het hulle 3 by ‘n strand restaurant gekry waar Jacobus en Pieter elkeen met 1 lt bier gesit het!  Ek en Christoffel het die kleiner  50cl weergawe gevat om ons in Nice te verwelkom.  


Ons is vandaar na die Hard Rock Café vir aandete en ons  het weggele aan ‘n Trio-Combo van hoender, “pulled pork” en “spareribs” alles met ‘n “Hickory” sous.  Die volgende dag sou ek Nice te padfiets verken en rondom ete het die 3 musketiers besluit om “scooters” te huur en nie die “Hop-on, Hop-Off” bus nie.


 Dag 7 – 03.03.2017

Ontbyt was nie ingesluit by Nice se verblyf nie.  Ons was dankbaar, want die Franse is nie groot op “bacon” en eiers nie.  Ons is weer af see toe (1 km se loop van hotel) vir ontbyt.  Ek was uitgerus in my fietsryklere met my KTM padfiets en tekkies.  Ons het elkeen ‘n English Breakfast geeet vir 13.50 €.  Dit was ‘n pragtige dag en ons was reg vir die rykmanswereld.  Die manne kon met hul internasionale rybewyse tot en met ‘n 50CC motorfiets huur vir 35 € en my padfiets het my 26 € gekos.  Ons paaie het geskei en ek is op my eie met die fiets weg terwyl hulle die verkeer trotseer het met hul “scooters”.


Alhoewel daar derduisende fietsryers jaarliks hier ry, bly dit maar steeds vir iemand van buite ‘n nagmerrie.  Daar is wel ‘n paar plekke met gereserveerde fietspaadjies, maar vir die res is jy op straat.  


Veral die tonnels is nogals angswekkend aangesien die voertuie teen ‘n redelike spoed jaag.  Ek was 7 ure in my fietsryklere waarvan ek 4 ure effektief gery het.  Sommige plekke soos die Pienk Paleis mag ek nie ry nie en mos my fiets stoot by al die trappe op, maar ek kon oral uitkom waar meeste toeriste gaan.  Een voordeel wat ek gehad het bo die “scooters” was dat indien ek vasdraai met pad ek sommer gou op sypaadjie spring!  Ek het die “scooter” manne by die Pienk Paleis gekry en hulle het gestraal soos opgewonde kinders oor hul manier van toeris wees.  Hulle is op Paleis toe, ek was reeds daar voor hulle my gekry het en ons paaie het weer geskei.  


Op hierdie stadium het ek reeds 30 km gery en wou nou begin klim.  Ek het seelangs tot in Monaco gery en wou bo-om, bergop terugkeer na Nice.  Ek is deur die F1 Monaco renbaan en kon stop vir die foto’s hieronder.  Op die dag se roete was die pragtigste poskaartmooi uitsigte en jou kon sien hier word nie met geld gespeel nie.  Die karre op die paaie is die duurste van die duurstes.  Die hawes le vol van die wereld se duurste bote en seiljagte.  Die taxi’s is voertuie wat enigeen se droomkar is en die hotelle en huise het net die beste van die beste.  Dit alles maak steeds nie op vir hoe nors en onbeskof die klomp blikskottels is nie.  Dis asof hulle lui is om ‘n mens te probeer help.


Ek het ‘n klim gekry wat gevoel het asof hy reguit op hemel toe gaan en my gehuurde padfietsie het die knop uitgekreun.  Ek was bo en kon die wereld met ander oe beskou.  Dis ‘n klein plekkie wat geskei word met ‘n klom baaitjies en in elke een probeer die manne net duurder en beter gaan.  


Die musketiers was nog besig daar onder in die verte en ek het begin terugkeer Nice toe wat van hier af redelik maklik gelyk het.  Ek was op ‘n semi-hoofweg deur ‘n 1.8 km tonnel waar ek ‘n paar ongemaklike toeters van trokke gekry het.  Iets het my die idee gegee dat ek nie hier hoort nie.  Ek moes erens verkeerd gedraai het, want toe ek weer sien staan ek voor tolhekke.  Ek was mos nie ‘n motor nie, so ek spring op die sypaadjie en ry om die tolhekke.  Na so 500 m het dit vir my begin voel of ek met ‘n laserkol op my rug ry.  Ek was almal se teiken.  Die mense le op hul toeters en wys die aller vieslikste handgebare.  Hierdie blog word gelees deur kinders, so ek kan ongelukkig nie uitbrei op die tekens nie!  Ek was nou beslis op verkeerde plek en het ‘n ligte angsaanvalletjie gehad.  Waarheen nou?  Die mense gaan my vrek ry of toesluit.  Ek het so ‘n entjie afgery en ‘n afdraai gesien wat toegekamp is.  Die bergfietsryer in my het besluit hier moet ek oor.  Ek is oor die draad met die fiets en uit die spervuur.  Ek is met die padfiets met 8 bar bande by ‘n grondpad af.  Ek het net heeltyd gebid dat niemand my sien nie.  Ek het geen idee gehad waar ek is nie en maar net op ‘n positiewe uitkoms gehoop.  Ek was kwaad vir myself en het die ander manne wat in die dorp rondry met hul “scooters” beny.  Stadig maar seker het ek afgesak in iets wat lyk soos ‘n plaas.  Daar was olyfbome rondom my en skielik was daar huise.  Ek was gelukkig oppad af, want die paadjie wat nou verander het in teer was die steilste wat ek nog in my lewe gesien het.  Daar moet stukke van 25% wees en ek was bly ek hoef nie op te gaan nie.  Ek was nou reeds langer as 3 ure vir die dag op die fiets en het met my stop en stap manier al oor die 50 km gery.  Nice se middel was voor my en ek was verlig.  Ek het steeds heeltyd omgekyk of iemand my nie dalk agtervolg met booie nie, maar dit het gelyk of ek veilig is.  Nou in retrospek so ek dit natuurlik nie anders wou he nie en die hele avontuur het bygedra tot die genot van die hele fietsrit, maar op daardie spesifieke oomblik was ek skytbang!  Ek is strandlangs terug hotel toe en die musketiers was ook oppad terug met hul “scooters”.  Die weer was besig om vinnig te verander en mens kon sien daar was onweer oppad.  Ek het gestort en hulle weer teen die strand gekry vir ‘n bier.  Vir die eerste keer kon ons oorlogstories uitruil oor ons dag se wedervaringe.  In my opinie het ek die lekkerste dag gehad en hul opinie hulle!

Ek was nou nie deel van die “scooter” avontuur nie, maar ek kan wel verslag doen daaroor soos rondom die bier aan my deurgegee.  Christoffel jaag vooruit, Jacobus jaag vir Christoffel en Pieter (wat 15 jaar laas op ‘n motorfiets was) raak agter.  Hulle, tipies plaas, stop en ry soos hulle wil en die Franse verkeer moet by hulle aanpas.  “Om hier te ry is maklik, as jy iets verkeerd doen gooi jy net jou hande / arms in die lug en se jammer!”  Hierdie dag was uiters suksesvol, maar die lekker was nie oor nie, aandete was nog oppad….


Ek hou nie van die woord boer nie, ek gebruik graag die woord produsent, maar jy kan nie van ‘n produsentklong praat nie, jy praat van ‘n boerklong.  Nou hierdie 4 boerklonge (ek in ‘n baie mindere mate, maar ook tog na die fietsry) hou van eet.  Die prys van ‘n ete in ‘n restaurant vir dit wat jy kry teruggewerk na die Suid-Afrikaanse konteks is eintlik belaglik.  Hierdie is nie ‘n kos blog nie, maar ek moet terugvoering gee oor die laaste aand in Nice se ete.  Ons weet dis naby Italie so ons het die kans gevat om by ‘n pizza / pasta restaurant te gaan eet – Villa D’Este.  Ons kon nie kies tussen pizza of pasta en het besluit om helfte, helfte te gaan.  Ons moes dalk net een van elk gevat het.  Die porsies was enorm.  Hulle het vir ons 3 bakke brood vir voorgereg gebring, toe ‘n skottel van die macorroni met bolognese sous (porsie vir 2) en toe die 2 pizzas!  Sien onder die foto.  Dit was verskriklik baie kos, maar ons het hul probeer wys hul gaan ons nie baasraak en die bakke probeer leegkry.  Ons het ‘n heerlike bottel rooiwyn van Cote du Rhone by dit gehad en ons kon ‘n glasie klink op ‘n baie suksesvolle dag!  


Die terugstap huistoe was net die regte medisyne om die kos te laat sak en ons kon tevrede en dankbaar gaan rus.  More gaan ons met die trein na Milan…ek vertel julle volgende keer meer oor die chaos van daai “trippie”!

Au Revoir,

JG