31 Oktober 2013

Epic 2014 "Route Launch" & Ride to Breathe

Die tyd het gevlieg en ons bevind onsself aan die einde van Oktober 2013.  Dit is amptelik net so 'n rapsie oor die 4 maande voor een van die grootste uitdagings van my en Hildegarde se lewe - die ABSA Cape Epic 2014!

Hierdie afgelope week is die roete bekend gemaak.  Dit duur van 23 tot 30 Maart 2014 en neem ons van Meerendal na Robertson na Greyton na Oak Valley tot by die eindpunt in Lourensford.  Almal het met groot afwagting vir hierdie dag gewag en noudat dit bekend is, weet ek nie of ons opgewonde, bang of dalk net heeltemal onseker is nie!  Die roete behels 718 km met 14 850 m se klim oor die 8 dae.  Oudergewoonte begin almal op Sondag, 23 Maart 2014 by Meerendal vir die "Prologue".  Hierdie is 'n bene losmaker om net almal se senuwees tot bedaring te kry.  Die volgende 3 dae begin in Robertson vanwaar ons op dag 3 na Greyton ry en twee dae van daar wegspring.  Ons laaste vesting is Oak Valley in Elgin en die laaste Sondag ry ons weer oor die berg na Lourensford soos in die vorige 7 jare.

Die twee mees uitdagende dae is Dag 1 en Dag 5 - om niks weg te neem van die res van die roete nie!  Glo my alles is 'n enorme uitdaging.  Voorbereiding verloop goed en ons is positief dat ons op die regte pad is.  Ons is ook stadig maar seker besig om vir ons 'n klomp "spares" bymekaar te maak na aanleiding van wat alles met die mense gebeur het op vanjaar se Cape Pioneer Trek.  Al het ons nie gery, het ons baie geleer.  Ek was baie voor op die wa en het so 'n paar weke gelede van 'n baie goeie bron verneem waar die roete is en vir ons gastehuise in die spesifieke dorpe bespreek.  Gelukkig was die dorpe reg en ons gaan in bietjie meer luuksheid oornag - my bruid se een groot voorwaarde!

November is die maand waar ons programme ook in alle erns afskop.  Dit is 'n dol maand wat Wines2Wales, Double Century, Stellenbosch Origins of Trials en Die Burger padwedren insluit.  Baie goeie voorbereiding vir alles wat op ons wag.  Ons (Ek, Manus Bester en Thom Orchard) het so 'n week of wat gelede in Darling by Gabri Steyn op die plaas gaan ry.  Gabri het 'n 21 km "singletrack" op die plaas gebou.  Wat 'n fantastiese ondervinding.  Baie goed ontwerp en onderhou met 'n pragtige roete in Darling.  Hierdie roete is oop vir enigeen om te ry.  In die werf is 'n "Courtesy Box"  waar jy R20 ingooi en die roete gaan ry.

"Singletrack" in Darling


'n Saak wat my baie opgewonde maak is die veldtog wat ons op 1 November 2013 loods.  Dit word genoem die "We Ride to Breathe" veldtog.  Ons wil ons ekstra energie vir 'n goeie doel aanwend.  In ons geval is dit die Cape Cystic Fibrosis Association.  Sistiese Fibrose is oorerflike siekte wat in 75% van gevalle by kinders onder die oudedom van 2 jaar gediagnoseer word.  Die siekte affekteer verskeie organe in die liggaam, maar grotendeels die longe en pankreas wat hulle basies "verstop".  Herhaaldelike infeksies kan ernstige, permanente longskade veroorsaak wat tot die dood kan lei.  Die behandeling van die siekte sluit die voorkoming en beperking van infeksie in die longe in.  Verskillende tipes medikasie word gebruik om die kroniese en akkute infeksies te behandel.  Sistiese Fibrose kan nie genees word nie, slegs bestuur word.  Mense met die siekte haal gewoonlik nie hoë ouderdomme nie, maar met die nuwe middels wat beskikbaar gestel word, styg die gemiddelde lewensverwagting en kwaliteit van lewe.  Hierdie medikasie is egter bitter duur en dit is waarvoor ons ons hulp aanbied.  Ons wil probeer om iemand se las 'n bietjie ligter te maak.  Fondse wat ons insamel sal hoofsaaklik vir kinders aangewend word en dit lê ons baie naby aan die hart!



Ons gaan in die volgende paar maande oor die 2 000 km as "Team Nexus" ry.  Ons wil aan elkeen die geleentheid bied om vir die projek 'n bydrae te lewer.  Borg 'n km vir R10 en maak 'n verskil aan iemand se lewe - "We Ride to Breathe".

Maak asb 'n donasie in die volgende rekening:

Cape Cystic Fibroses Association
First National Bank
Table View Bank
Branch Code:  203 809
Acc no:  600-2120-3588
Ref:  Nexus Epic

Ek wil dit duidelik stel dat alle gelde wat ingesamel word na Cape Cystic Fibroses Association gaan.  Ons wil graag bewusmaking skep van 'n siekte waaroor daar huidiglik nie baie gepraat word nie.  Een van die beste maniere vir 'n langer lewe met die siekte is oefening, so dit pas perfek by dit waarmee ons besig is!

Lekker oefen, ons hou almal op hoogte van ons aksies.  Maak ook asb aan die onderkant van die blog 'n opmerking en deel ons opgewondenheid.

Groete,
JG

18 Oktober 2013

Hoërskool Swartland MTB & Gun Run 2013

Ek het 'n punt bereik waar ek voel daar is niks meer krag nie.  Dieselfde roetes wat ek ry, neem my langer.  Ek is energieloos en pap.  Dit klink of ek kla, maar die realiteit is dat my besige skedule en harde oefen program sy tol begin eis het.  Dit was verlede Dinsdag.  Ek het almal se raad gevolg en besluit om van die fiets af te bly vir ten minste 3 dae aaneen.  Die Hoërskool Swartland se bergfietswedren en die Outsurance Gun Run was die naweek en ek wou graag ten minste kon deelneem.  Ek het ook vir die Vitamien B Kompleks inspuitings gegaan om my 'n "boost" te gee.  Saam met die rus en "ontspan" het dit 'n baie positiewe reaksie gehad.  Ek kon die Saterdag deelneem aan die MTB van die skool.  Hildegarde is op 'n heel ander oefenprogram as ek - dit begin al hoe meer lyk of hare beter is!  Sy doen baie kragwerk, draf en fietsry.  Sy was dus reg vir die naweek se uitdagings!
Hildegarde besig met kragoefeninge - Foto Crosstrain Somerset Wes
Saterdag het aangebreek en die reën het op ons neergedaal.  Daar was enkele oomblikke waar dit nie gereën het nie en ons het besluit om af te ry na die Hoërskool Swartland waar die wegspring vir die 40 km wedren sou wees.  Ons was skaars op ons fietse of die reën het weer begin val.  Ons was nat voor die wedren!  Ek en Hildegarde het besluit om nie te hard te ry nie, aangesien ons bietjie kragte wou spaar vir die Gun Run.  Ek het ook geen idee gehad van hoe ek sou voel na die paar dae af nie.  Ek sou oudergewoonte saam met haar ry.

Deelnemers aan die 40 km wedren
Ons het weggespring teen 'n lekker stywe spoed en vinnig "gesettle" teen die spoed waarteen ons die res van die pad sou ry.  Ons het lekker gery en min probleme gehad.  Die reën het ons gevang na 30 km, maar ons het deurgedruk.  Die laaste 5 km was reguit teen die Suide-wind en ons het maar agter mekaar geskuil.  Hildegarde was die 1ste vrou oor die eindstreep en ons was beide onder die eerste 10.  'n Lekker dag wat beslis die potensiaal het om te groei.  Dankie aan al die plaaslike ryers wat in groot getalle opgedaag het!  Dankie ook vir Die Gazette vir die foto van my en Hildegarde!  Waardeer jul ondersteuning.

Sondag was die Outsurance Gun Run.  Ek het Hildegarde belowe dat ek 2 halfmarathons saam met haar sal hardloop (relatiewe begrip, sê eerder ek is in dieselfde resies as sy!).  Hierdie was die 2de een vir die jaar, ook beslis my laaste vir die jaar!  Ek het laas die SAD halfmarathon gehardloop, so ek was erg senuweeagtig.  Hildegarde wou onder 1 uur 40 min hardloop.  Ek wou graag 2 ure breek.  Lood het besluit om sy eerste halfmarathon te doen.  Ek was vol raad vir hom oor die roete en hoe ons tempo moet wees, ens.  Ons was 06:00 reeds by die Kaapstad Stadion.  Die kanon het 07:00 afgegaan en ons was op die pad.  Ek het heel goed gevoel tot op so 10 km.  Die bene het begin pyn en Lood het sy hande vol gehad met my.  Soos julle op die foto's sal sien was hy beslis die sterker hardloper tussen ons.  Hy moes letterlik staan en wag vir my van 14 km af.  Ek dink Lood het 'n 42.2 km (marathon) in hom!  Ek skuld hom ten minste 10 min.  Ons het uiteindelik na baie pyn (vir my) klaargemaak in op die kop 2 ure.  Hildegarde het reeds (lank) vir ons gewag by die eindstreep.  Sy het 1 uur 33 min gehardloop!  Sy was die 14de vrou uit 2 170 deelnemers!

Julle sal waarneem dat daar 'n nuwe logo links bo verskyn op die blog.  Ons het besluit dat al die energie wat in die Epic reis ingaan vir 'n groter doel aangewend kan word.  Ons gaan baie nodige fondse insamel vir Sistiese Fibrose.  Ek sal in die volgende blog meer vertel oor hoe ons by die projek betrokke geraak het en wat ons beplan om te doen.  Ons projek sal bekend staan as "We Ride To Breathe".  Gaan klik solank op die "logo" en gaan lees meer oor die behoeftes en die siekte.  Enige van die "logo's" op ons blog is gekoppel aan daardie instansie se eie webwerf wat jou meer oor hulle werksaamhede kan vertel.

Die einde van die jaar begin vinnig nader kom.  Indien jy in Januarie 2013 nuwejaars voornemens gemaak het, sal jy moet spring om dit te verwesenlik - daar is nog tyd!  Vasbyt vir die laaste stuk.  November is 'n besige maand vir ons, so ons is besig met voorbereiding vir alles wat oppad is!

Lekker oefen,
JG

08 Oktober 2013

Piket-Bo-Berg MTB, Koringblok, Kokkedoor 2013

Die afgelope 10 dae was redelik besig, minder oefen en meer werk!  Op Saterdag, 28 September 2013 het 'n hele groep van ons Malmesbury Fietsryklub lede die Piket-Bo-Berg bergfietsrit gaan doen.  Dit is adverteer as 'n 57 km rit, maar is op die dag verkort na 'n 53 km vanweë die reën van die vorige paar dae.  Dit was nie 'n groot groep wat die lang roete gedoen het nie.  Die wedren is berug vir baie klim en redelik tegnies.  Ons het weggespring en sommer binne die eerste 4 km 'n enorme klim begin.  Die veld is hier redelik uitgerek en ek het myself in die 5de posisie bevind.  Ek het van hierdie punt tot op 48 km geen ander fietsryers gesien nie.  Heeltyd alleen en ek het "gesuffer".  Die roete was nat, vol modder en baie tegnies.  Ek dink ek het dalk te vinnig begin die oggend en op 48 km het ek gebid dat die einde moet nader kom.  Ek het gehoor die mense by die waterpunte se gejuig raak al hoe gouer harder nadat ek verby hulle gaan, dit het beteken die ouens agter my is op my hakke en ek het omkyk, omkyk begin ry - 'n eerste vir my!  Ek was nog nooit in die posisie om te "race" vir 'n plek nie.  Ek het die manne in my nek voel blaas en nie probeer omkyk nie, slegs vorentoe.  Ek het begin kramp en my ketting was vol modder en wou nie meer glad vorentoe nie.  Die einde was in sig, ek het alles gegee tot na die wenstreep.  Ek was vyfde in 3 uur 30 min.  Charl du Plessis (Tier) was derde in 3 uur 4 min en Nico Pfitzenmaier het gewen in 2 uur 38 min.  Die hele gesin was op die wenstreep toe ek klaarmaak.  Dit was heerlik!  Hierdie is 'n baie lekker resies en bitter baie moeite word met die dag gedoen.  Dit dien ook as fondsinsameling vir die Piket-Bo-Berg Gemeenskap.  Ons sal beslis weer terug wees volgende jaar.



Verlede Dinsdag het ons ons eerste smakie van ABSA Cape Epic 2014 ontvang.  Ons is genooi na die "Rider Evening" wat by Canal Walk gehou is.  Verskillende sprekers het ons meer vertel oor wat om te verwag en waar ons nou reeds met ons voorbereiding moet wees - ons is gelukkig redelik op die regte pad!
Baie stories is met ons gedeel, maar die belangrikste punte was dat jy moet probeer om die ervaring te onthou.  Drie dinge waarna jy van jou kant moet omsien is:
  • Altyd glimlag
  • Jou "partner"
  • Jou boude (Klink my dis amper die belangrikste!)
Dit was 'n baie lekker aand en net wat ons nodig gehad het om onsself weer gefokus te kry en na die volgende rat oor te gaan.

Nexus span - Jacobus Truter, Stephan Venter, Jaco G en Hentie Engelbrecht
Vrydag was dit die Amos Plaasbediening Gholfdag in Wellington.  Hierdie organisasie werk onder die omliggende plase en bedien Die Woord aan plaaswerkers.  Jy kan duidelik sien op watter plase hulle betrokke is met die gesindhede van die mense en hulle doen voorwaar baie goeie werk.  Ons besigheid borg elke jaar 'n vierbal.  Vanjaar het ons 7de geëindig.  Lekker afwisseling om 'n slag weer bietjie stok te kon swaai!

Saterdag was dit die beurt van een van Hermon Landbouvereniging se ander hoogtepunte van die jaar - die Koringblokkompetisie vir 2013.  Elke produsent skryf sy beste kamp koring in.  Drie beoordeelaars besoek in die week voor die Saterdag die kampe en kies die top 5.  Ons as besoekers aan die dag gaan dan die Saterdag na die top 5 en kies die wenner van die dag.  Vanjaar se top 3 is as volg:
  1. Lombard Trust - Oom Dawie en Christoffel Lombard
  2. Vlakkerug - Oom Jannie en Stephanus du Toit
  3. Elandsberg Plase - Mike Gregor
Besoekers aan die dag in die koringlande
Dit bring ons dan by die laaste geleentheid van hierdie vol naweek, aandete gemaak deur Die Kokkedoor Mynhardt by Hofstraat Kelder van Wim en Karin Smit.  Die aand het bestaan uit 'n vyfgang maaltyd wat dan bedien word met wyne van Hofstraat Kelder.  Dit was 'n enorme bederf.  Ons was 'n lekker groep wat saam daar was die aand en het die ervaring terdeë geniet.  Die top wyn vir my persoonlik was die Barbera wat lekker saam met enige van die kosse gegaan het.  Baie dankie vir 'n heerlike aand!


Eerskomende naweek is dit die Hoërskool Swartland se bergfietswedren en dan my tweede (en laaste) halfmarathon vir 2013, die Outsurance Gunrun.  Ek het nie baie gedraf die laaste tyd nie, so dit sal maar seer wees!  Ek sal beslis nie probeer om die landspoedrekord te verbeter nie....Hildegarde gaan my weer baie ver weghardloop!  Dit is 'n baie mooi roete en verlede jaar het ongeveer 10 000 mense aan die verskillende afstande deelgeneem.

Volgende week meer oor al hierdie kaskanades.

Groete,
JG