31 Oktober 2013

Epic 2014 "Route Launch" & Ride to Breathe

Die tyd het gevlieg en ons bevind onsself aan die einde van Oktober 2013.  Dit is amptelik net so 'n rapsie oor die 4 maande voor een van die grootste uitdagings van my en Hildegarde se lewe - die ABSA Cape Epic 2014!

Hierdie afgelope week is die roete bekend gemaak.  Dit duur van 23 tot 30 Maart 2014 en neem ons van Meerendal na Robertson na Greyton na Oak Valley tot by die eindpunt in Lourensford.  Almal het met groot afwagting vir hierdie dag gewag en noudat dit bekend is, weet ek nie of ons opgewonde, bang of dalk net heeltemal onseker is nie!  Die roete behels 718 km met 14 850 m se klim oor die 8 dae.  Oudergewoonte begin almal op Sondag, 23 Maart 2014 by Meerendal vir die "Prologue".  Hierdie is 'n bene losmaker om net almal se senuwees tot bedaring te kry.  Die volgende 3 dae begin in Robertson vanwaar ons op dag 3 na Greyton ry en twee dae van daar wegspring.  Ons laaste vesting is Oak Valley in Elgin en die laaste Sondag ry ons weer oor die berg na Lourensford soos in die vorige 7 jare.

Die twee mees uitdagende dae is Dag 1 en Dag 5 - om niks weg te neem van die res van die roete nie!  Glo my alles is 'n enorme uitdaging.  Voorbereiding verloop goed en ons is positief dat ons op die regte pad is.  Ons is ook stadig maar seker besig om vir ons 'n klomp "spares" bymekaar te maak na aanleiding van wat alles met die mense gebeur het op vanjaar se Cape Pioneer Trek.  Al het ons nie gery, het ons baie geleer.  Ek was baie voor op die wa en het so 'n paar weke gelede van 'n baie goeie bron verneem waar die roete is en vir ons gastehuise in die spesifieke dorpe bespreek.  Gelukkig was die dorpe reg en ons gaan in bietjie meer luuksheid oornag - my bruid se een groot voorwaarde!

November is die maand waar ons programme ook in alle erns afskop.  Dit is 'n dol maand wat Wines2Wales, Double Century, Stellenbosch Origins of Trials en Die Burger padwedren insluit.  Baie goeie voorbereiding vir alles wat op ons wag.  Ons (Ek, Manus Bester en Thom Orchard) het so 'n week of wat gelede in Darling by Gabri Steyn op die plaas gaan ry.  Gabri het 'n 21 km "singletrack" op die plaas gebou.  Wat 'n fantastiese ondervinding.  Baie goed ontwerp en onderhou met 'n pragtige roete in Darling.  Hierdie roete is oop vir enigeen om te ry.  In die werf is 'n "Courtesy Box"  waar jy R20 ingooi en die roete gaan ry.

"Singletrack" in Darling


'n Saak wat my baie opgewonde maak is die veldtog wat ons op 1 November 2013 loods.  Dit word genoem die "We Ride to Breathe" veldtog.  Ons wil ons ekstra energie vir 'n goeie doel aanwend.  In ons geval is dit die Cape Cystic Fibrosis Association.  Sistiese Fibrose is oorerflike siekte wat in 75% van gevalle by kinders onder die oudedom van 2 jaar gediagnoseer word.  Die siekte affekteer verskeie organe in die liggaam, maar grotendeels die longe en pankreas wat hulle basies "verstop".  Herhaaldelike infeksies kan ernstige, permanente longskade veroorsaak wat tot die dood kan lei.  Die behandeling van die siekte sluit die voorkoming en beperking van infeksie in die longe in.  Verskillende tipes medikasie word gebruik om die kroniese en akkute infeksies te behandel.  Sistiese Fibrose kan nie genees word nie, slegs bestuur word.  Mense met die siekte haal gewoonlik nie hoë ouderdomme nie, maar met die nuwe middels wat beskikbaar gestel word, styg die gemiddelde lewensverwagting en kwaliteit van lewe.  Hierdie medikasie is egter bitter duur en dit is waarvoor ons ons hulp aanbied.  Ons wil probeer om iemand se las 'n bietjie ligter te maak.  Fondse wat ons insamel sal hoofsaaklik vir kinders aangewend word en dit lê ons baie naby aan die hart!



Ons gaan in die volgende paar maande oor die 2 000 km as "Team Nexus" ry.  Ons wil aan elkeen die geleentheid bied om vir die projek 'n bydrae te lewer.  Borg 'n km vir R10 en maak 'n verskil aan iemand se lewe - "We Ride to Breathe".

Maak asb 'n donasie in die volgende rekening:

Cape Cystic Fibroses Association
First National Bank
Table View Bank
Branch Code:  203 809
Acc no:  600-2120-3588
Ref:  Nexus Epic

Ek wil dit duidelik stel dat alle gelde wat ingesamel word na Cape Cystic Fibroses Association gaan.  Ons wil graag bewusmaking skep van 'n siekte waaroor daar huidiglik nie baie gepraat word nie.  Een van die beste maniere vir 'n langer lewe met die siekte is oefening, so dit pas perfek by dit waarmee ons besig is!

Lekker oefen, ons hou almal op hoogte van ons aksies.  Maak ook asb aan die onderkant van die blog 'n opmerking en deel ons opgewondenheid.

Groete,
JG

4 opmerkings:

  1. Great blog vandag Jaco, dinge kom nou vinnig nader! Dis ook great dat julle nog bo-op alles tyd het om behoeftiges te help. Inspirerend ou! Groete, Thomas.

    AntwoordVee uit
  2. Hi Jaco
    Hierdie blog is werklik fantsties. Ek volg dit noukeurig en dink die dinge wat julle aan pak is great. Hou so voort. Ek wil jou net te kenne stel van nog great ding wat julle in die toekoms kan aanpak. Die challenge se naam is The Unogwaja Challenge. Jy skryf in daarvoor en word dan gekeur. Keuring het klaar gesluit vir 2014 maar ek dink julle kan werklik dit dalk aanpak in 2015. Dis basies 'n 10 dag fietstoer van die Kaap tot waar die Comrades begin en op die 11de dag hardloop jy die Comrades Maraton. Vir meer inligting en hope You Tube videos oor die jaar se challenge, kan jy gerus loer op http://www.unogwajachallenge.com

    Bou voort op wat julle klaar bereik het en hou aan reik na die sterre.

    Vriendelike groete
    Nico

    AntwoordVee uit
  3. Baie dankie vir die fantastiese terugvoering!

    AntwoordVee uit
  4. Dankie dat jy my vandag kom inlig het waarmee julle besig is, Jaco. Jy het my ook bewus gemaak van Sistiese Fibrose . Julle het my en Nexus se volle ondersteuning Sterkte met die goeie werk (en voorebereiding) !

    AntwoordVee uit