18 Oktober 2013

Hoërskool Swartland MTB & Gun Run 2013

Ek het 'n punt bereik waar ek voel daar is niks meer krag nie.  Dieselfde roetes wat ek ry, neem my langer.  Ek is energieloos en pap.  Dit klink of ek kla, maar die realiteit is dat my besige skedule en harde oefen program sy tol begin eis het.  Dit was verlede Dinsdag.  Ek het almal se raad gevolg en besluit om van die fiets af te bly vir ten minste 3 dae aaneen.  Die Hoërskool Swartland se bergfietswedren en die Outsurance Gun Run was die naweek en ek wou graag ten minste kon deelneem.  Ek het ook vir die Vitamien B Kompleks inspuitings gegaan om my 'n "boost" te gee.  Saam met die rus en "ontspan" het dit 'n baie positiewe reaksie gehad.  Ek kon die Saterdag deelneem aan die MTB van die skool.  Hildegarde is op 'n heel ander oefenprogram as ek - dit begin al hoe meer lyk of hare beter is!  Sy doen baie kragwerk, draf en fietsry.  Sy was dus reg vir die naweek se uitdagings!
Hildegarde besig met kragoefeninge - Foto Crosstrain Somerset Wes
Saterdag het aangebreek en die reën het op ons neergedaal.  Daar was enkele oomblikke waar dit nie gereën het nie en ons het besluit om af te ry na die Hoërskool Swartland waar die wegspring vir die 40 km wedren sou wees.  Ons was skaars op ons fietse of die reën het weer begin val.  Ons was nat voor die wedren!  Ek en Hildegarde het besluit om nie te hard te ry nie, aangesien ons bietjie kragte wou spaar vir die Gun Run.  Ek het ook geen idee gehad van hoe ek sou voel na die paar dae af nie.  Ek sou oudergewoonte saam met haar ry.

Deelnemers aan die 40 km wedren
Ons het weggespring teen 'n lekker stywe spoed en vinnig "gesettle" teen die spoed waarteen ons die res van die pad sou ry.  Ons het lekker gery en min probleme gehad.  Die reën het ons gevang na 30 km, maar ons het deurgedruk.  Die laaste 5 km was reguit teen die Suide-wind en ons het maar agter mekaar geskuil.  Hildegarde was die 1ste vrou oor die eindstreep en ons was beide onder die eerste 10.  'n Lekker dag wat beslis die potensiaal het om te groei.  Dankie aan al die plaaslike ryers wat in groot getalle opgedaag het!  Dankie ook vir Die Gazette vir die foto van my en Hildegarde!  Waardeer jul ondersteuning.

Sondag was die Outsurance Gun Run.  Ek het Hildegarde belowe dat ek 2 halfmarathons saam met haar sal hardloop (relatiewe begrip, sê eerder ek is in dieselfde resies as sy!).  Hierdie was die 2de een vir die jaar, ook beslis my laaste vir die jaar!  Ek het laas die SAD halfmarathon gehardloop, so ek was erg senuweeagtig.  Hildegarde wou onder 1 uur 40 min hardloop.  Ek wou graag 2 ure breek.  Lood het besluit om sy eerste halfmarathon te doen.  Ek was vol raad vir hom oor die roete en hoe ons tempo moet wees, ens.  Ons was 06:00 reeds by die Kaapstad Stadion.  Die kanon het 07:00 afgegaan en ons was op die pad.  Ek het heel goed gevoel tot op so 10 km.  Die bene het begin pyn en Lood het sy hande vol gehad met my.  Soos julle op die foto's sal sien was hy beslis die sterker hardloper tussen ons.  Hy moes letterlik staan en wag vir my van 14 km af.  Ek dink Lood het 'n 42.2 km (marathon) in hom!  Ek skuld hom ten minste 10 min.  Ons het uiteindelik na baie pyn (vir my) klaargemaak in op die kop 2 ure.  Hildegarde het reeds (lank) vir ons gewag by die eindstreep.  Sy het 1 uur 33 min gehardloop!  Sy was die 14de vrou uit 2 170 deelnemers!

Julle sal waarneem dat daar 'n nuwe logo links bo verskyn op die blog.  Ons het besluit dat al die energie wat in die Epic reis ingaan vir 'n groter doel aangewend kan word.  Ons gaan baie nodige fondse insamel vir Sistiese Fibrose.  Ek sal in die volgende blog meer vertel oor hoe ons by die projek betrokke geraak het en wat ons beplan om te doen.  Ons projek sal bekend staan as "We Ride To Breathe".  Gaan klik solank op die "logo" en gaan lees meer oor die behoeftes en die siekte.  Enige van die "logo's" op ons blog is gekoppel aan daardie instansie se eie webwerf wat jou meer oor hulle werksaamhede kan vertel.

Die einde van die jaar begin vinnig nader kom.  Indien jy in Januarie 2013 nuwejaars voornemens gemaak het, sal jy moet spring om dit te verwesenlik - daar is nog tyd!  Vasbyt vir die laaste stuk.  November is 'n besige maand vir ons, so ons is besig met voorbereiding vir alles wat oppad is!

Lekker oefen,
JG

3 opmerkings:

  1. Ek dink dit is awesome dat jul gaan "ride to breath”. Dit maak my sommer opgewonde en lus om ook iets goed te doen. Hopelik spoor dit ander ook aan om betrokke te raak by iets groter...
    Hebrews 10:24-25: "And let us consider how we may spur one another on toward love and good deeds, 25 not giving up meeting together, as some are in the habit of doing, but encouraging one another..."

    AntwoordVee uit
  2. Vir ons 'n voorreg om terug te kan gee!

    AntwoordVee uit
  3. Bly jul het Wolwefontein Darling se MTB fietsry geniet - dit was die rede hoekom al die moeite gedoen is om dit t bou.Mense kom draf dit ook graag.
    CF - ja onbekend maak onbemind. Ek het hul al ondesteun tydens gholfdae te Parow.
    Geniet oefening terwyl jul jonk is [grysheid nader vinnig]. Gert Steyn

    AntwoordVee uit