03 Maart 2017

SIMA Toer 2017 – Parys

Uiteindelik begin die lang verwagte uitstappie waaraan ons die laaste 7 maande reeds beplan.  Die roete lyk as volg – Vlieg vanaf Kaapstad na Charles de Gaulle in Parys.  Spandeer 5 nagte in Parys, vertrek met die TGV trein na Nice vir 2 nagte, neem dan die trein vanaf Nice na Milan, Milan na Lusern, Lusern na Mannheim, by elkeen van hierdie stede slaap ons ‘n nag.  Ons huur ‘n motor in Mannheim waar ons een nag slaap.  Vanaf Mannheim ry ons met motor na Stuttgart weer vir ‘n nag vanwaar ons vlieg na Amsterdam vir 2 nagte en vandaar terugkeer na Kaapstad.  Dis ‘n hele mondvol, volgepakte toer waarna ons bitter lank uitgesien het en nou uiteindelik aangebreek het.  Totaal 13 nagte op die pad en 5 Europese lande op die program.

Dit is nou Donderdag oggend, 2 Maart 2017 om 09:21 (Frankryk tyd) en ons is op die TGV trein oppad na Nice.  Die Parys been van die toer is verby en ek gaan probeer om die hele ervaring in een blog op papier vas te le, alhoewel ek nie kan dink dat dit enigsins moontlik is nie.  In hierdie 5 dae het ons waarskynlik meer beleef as wat by van Parys se eie inwoners in ‘n paar jaar beleef.  Die rede hoekom ek dit se is presies dieselfde as wanneer ons wat van Suid-Afrika kom met buitelandse toeriste praat.  Ons is so gewoond aan die dinge rondom ons dat ons dit as vanselfsprekend ervaar.  Ek bedoel iets eenvoudig soos wanneer iemand van oorsee na Kaapstad kom, dan doen hulle die “Big Bus” toer om Kaapstad en hulle besoek Tafelberg en hulle doen ‘n wyntoer op een naweek, maar ons wat daar bly doen dit nie self nie.  Ons het met ‘n paar mense in Parys (probeer) gesels en min van hulle was al by die Eiffel toring op of by die Musee du Louvre of Chateu Versailles.  Ons het alles gesien!

Ok, kom ek begin by die begin.  Die rede vir die toer was vir die SIMA Landbouskou by Parc de Expobition langs die Charles de Gaulle lughawe.  Ons 4 manne (ek, Jacobus Truter, Christoffel Lombard en Pieter Truter) is almal in die landboubedryf.  Jacobus en Christoffel is graanprodusente en het ‘n lewendehawe been van hul boerdery asook wingerd.  Pieter aan die ander kant is ook ‘n graanprodusent met hul eie slagpale en voerkraal asook slaghuis (Deli-Co).  Ons wou gaan kyk na die nuutste meganiese tegnologie wat beskikbaar is wat sal pas by elkeen van ons se onderskeie bedrywe.  Die toer gedeelte is by die pakkie gevoeg om die naweke om te kry asook die wereld te sien.  Ek gaan nou die eerste 5 dae van die toer dag vir dag, amper soos my eie persoonlike dagboekinskrywing probeer neerpen en die res van die toer in nog ‘n paar blogs probeer deurgee, al is dit op die ou end net vir my verwysings vir wanneer ek eendag op die ouetehuis se stoep sit!


Dag 1 – 25.02.2017

Ons vlug het 00:30 vertrek uit Kaapstad en ons land rondom 11:00 in Parys by Charles de Gaulle.  Dis die einde van die winter in Europa en ons het opgestyg in temperature van ongeveer 40 grade en geland in die middel van die dag in onder 10 grade.  Charles de Gaulle is baie deurmekaar, maar ons het verbasend maklik (te danke aan baie ure se navorsing) uit die lughawe, deur doane tot by die RER trein wat van die lughawe na Gare de Nord loop.  Aangesien ons elke dag SIMA toe moes kom wat in Zone 1 was moes ons ‘n kaartjie koop wat alle zones dek.  Ons het elkeen ‘n Paris Visite 5 dag pas vir alle zones teen 63.90 gekoop wat ons van die Saterdag tot die Woensdag sou kon gebruik.  Hierdie kaartjie gee jou toegang tot al die treine in Parys en ons kon eintlik kom en gaan soos ons wil.  Ons hotel (Victor Masse) was geboek naby die Pigalle stasie wat ons later van tyd uitgevind het ‘n redelik “rowwe” area van Parys is.  Die hotelkamers is klein, maar skoon.  Ons moes so 250 m loop van die hotel na die stasie.  Ons het ingeboek, ons tasse neergesit en dadelik die stad begin verken.  Die eerste stop was die Champs-Elysees  (georganiseerde chaos – baie bane en geen lyne) wat vir my baie beteken weens die Tour de France en ons het dit per voet verken tot by Arc de Triomphe en toe die Eiffel Toring.  Sonder dat jy dit agterkom en al gebruik jy die Metro treine, loop jy ontsaglik baie.  Ons was 4 mans bymekaar so ons kon redelik gemaklik rondbeweeg.  Dit mag dalk moeiliker wees om so baie soos wat ons gedoen het met jou gesin en veral kleinder kinders in die selfde tyd te doen.  Ons het die eerste aand geeet by ‘n restaurant met die naam Marmite waar ek ‘n heerlike lasagna geeet het.  Die roetiene vir ete was ‘n bier vir elkeen dan opgevolg met ‘n bottel Franse wyn vir die tafel met elke ete.  Vir ons 4 werk so ‘n rekening ongeveer uit op enigiets tussen 100 en 150 €.  Parys is duur en hoe nader jy aan die toeriste atraksies gaan hoe duurder raak dit.  Ons plan elke dag was om ontbyt te eet by hotel (Croissants, pap, brood), op straat te eet in middag en dan in restaurant te eet in aand.  Almal was redelik uitgeput na die vlug en al die rondloop en ons het bedwaarts gekeer.


Dag 2 – 26.02.2017

Dit was Sondag in Parys en ons was van plan om een van die “open top” bustoere te doen.  Ek het die oggend in die stad gaan draf (baie deurmekaar en amper verdwaal) maar wou nie oefening oordoen nie, want daar was bitter baie stap vir die volgende week op hande.  Ons het in ons eie opinie dalk ‘n fout gemaak deur die groen bus kaartjie te koop en nie die rooi bus nie.  Ons het dit eers later deur die oggend agtergekom toe ons sien die groen bus se skedule is op wintertye en hy loop nie so gereeld soos die rooi bus nie.  In die somer is die skedules anders, maar vir die winter sou die rooi bus ‘n beter opsie gewees het.  Ons kennis van die vorige dag se verkenning het dit maklik gemaak om presies te kon identifiseer waar om te gaan en hoe om dit vinnig en effektief te doen.  Ons wou Eiffel Toring op en die Musee du Louvre sien asook die Notre Dame.  Die bus maak dit maklik om rond te beweeg deur die strate en jy kan luister na die geskiedenis van die stad en geboue soos jy deurry.  Die Metro loop baie dele onder die grond so dis effektief om rond te beweeg, maar nie om die plek te sien nie.  Die buskaartjie was rondom 32 € per persoon.  Ons het in die ry gaan staan vir die Eiffel Toring wat ons elkeen 17 € gekos het tot heel bo.  Die toring is ongeveer 320 m hoog en jy gaan met ‘n groot hysbak tot op ‘n punt vanwaar jy oorklik op ‘n kleiner een.  Dit was Sondag so daar was ontsettend baie toeriste.  Lank staan en wag om bo te kom, maar jy kan nie Parys toe kom sonder om dit te doen nie.  Voor ons uitstappie het ek ‘n skere persepsie gehad oor sekere goed wat my nie sou pla as ek dit nie sien of beleef nie.  Die Eiffel Toring was een daarvan.  Ek het gedink dit maak nie saak om hom van bo of onder te sien nie.  Jy moet opgaan!  Dit is ‘n vreesaanjaende ervaring as jy hoogtevrees het soos Pieter, maar die uitsig van daarbo is asemrowend.
Ons is van die Eiffel Toring na die Musee du Louvre om soos meeste toeriste na die Mona Lisa te gaan.  Die kaartjie vir toegang het ons elkeen 15 € gekos.  Die Musee du Louvre is ‘n tentoonstelling van wereldgeskiedenis en jy kan letterlik vergeet van tyd wanneer jy hier is.  Ure, dae en weke kan nodig wees afhangende van jou vlak van belangstelling.  Hierdie plek en die boumateriaal wat gebruik is om dit mee te bou asook die vakmanskap is uitmuntend.  Jy kan nie dink hoe so ‘n groteske gebou daardie jare met hande arbeid gebou is nie.  Ek sal onderaan die blog ‘n lys van “links” plaas waar jy kan gaan oplees oor die geskiedenis van die verskillende landmerke waarna ek in die blogs verwys.  Almal wat reeds daar was se vir jou die Mona Lisa is nie ‘n baie indrukwekkende skildery nie, dit is wel die geval, maar weereens, jy moet dit self sien.  Daar is duisende kunswerke in die museum wat baie meer indrukwekkend is, maar die Mona Lisa is weens haar geskiendenis spesiaal.  Die Musee du Louvre is baie spesiaal en ons was verby beindruk.

Na die Musee du Louvre is ons na die Notre Dame kasteel.  Ons tyd het begin uithardloop en het hom van buite beskou.  Hier onder is foto’s van hom en ander historiese geboue wat ons van die bus af gesien het.


Ons het die aand geeet by Buffalo Grill restaurant.  My ete was “spareribs” en die manne het steak probeer – nie ‘n goeie plan in Parys nie!  Dit was die laaste steak probeerslag in Parys.  Selfs al was dit Sondag aand, was die strate ‘n warboel van mense en ons het agtergekom ons deel van die stad kom nie vroeg tot ruste nie.  Ons moes slaap inkry, die volgende dag was ons eerste dag by SIMA.

Dag 3 – 27.02.2017

Ons moes die RER terugneem na die Parc des Expositions.  SIMA se deure maak 08:30 oop en dit het ons soggens so 45 min geneem met die RER trein vanaf die hotel tot by SIMA.  Die Metro en RER sisteem is uiters effektief.
SIMA laat enige landbouskou waar ons al was na ‘n kinderpartytjie lyk.  Ons was so oorweldig deur die omvang daarvan dat dit letterlik ‘n tyd vat om in te sink waar om te gaan en hoe om te beweeg.  Gelukkig was ons van die eerste mense deur die deure die Maandag so ons kon ons “bearings” agtermekaar kry.  SIMA is 27 ha onderdak uitstalruimte wat versprei is deur 7 sale.  Foto’s kan nie die grootte wys nie, jy moet dit self ervaar en ons sal dit vir enigeen aanbeveel wat enigsins ‘n liefde vir tegnologie en landboutoerusting, veral die groot masjiene, het.  Ons het by saal 7 begin en teruggewerk na saal 2 toe op dag een.  Heeldag op ons voete met ‘n 15 min middagete.  Ek is fietsryfiks, maar die reeds baie stap en die draf van die vorige oggend asook die staan het my op gehad teen 16:00.  Jy is later so uitgeput dat jy nie registreer nie en ek het min ingeneem van die laaste 3 sale.  Ons sou die volgende dag terugkom en dan van saal 2 na 7 werk om meer aandag aan die laaste paar sale te kon gee.

Ons het die trein geneem en die oomblik toe ons buite kom was almal se energievlakke reeds hoer!  Ons manne is net nie gebou om heeldag binne te wees nie.  Op die pad terug Parys was die stop na die Stade de France stadion en ons het besluit om darem net ‘n “selfie” te gaan neem sodat ons kan se ons was daar ook en sommer ‘n bier gedrink by ‘n restaurant daar.  Ons sou aandete nader aan die hotel geniet.  Ons het terug gery met die RER en by ‘n restaurant met die naam Tablapizza geeet.  Ek is nie vol nonsense met kos nie en wou bietjie wegkom van die brood af (brood maak in Suid-Afrika glad nie deel uit van my dieet nie) en het besluit om ‘n slaai te eet.  Die slaai het pragtig vertoon, maar ek kan met alle eerlikheid se dit was nie die lekkerste slaai wat ek nog geeet het nie.  Die ondertoon van die slaaisous was amper iets met ‘n visserigheid te doen en het glad nie vir my gewerk nie.  Na ete het ek en Pieter gaan slaap maar Christoffel en Jacobus het die trein terug Eiffel Toring toe gevat om hom in die nag met sy liggies te sien.



Dag 4 – 28.02.2017

Dit was koud, so 5 grade en nat.  Ons dag was beplan vir SIMA waar die sale verwarm is (soos al die geboue in Europa, amper te warm).  Ons het by saal 2 begin en teruggewerk in die teenoorgestelde rigting as die vorige dag.  Hierdie dag was daar ontsettend baie mense.  Hulle praat van ongeveer 250 000 mense deur die week wat SIMA aan die gang is.  Ons kon vandag meer tyd spandeer aan dit waarin ons belangstel en hoef nie noodwendig na alles te kyk nie.  My opdrag was “state of the art” motorfiets spuitpomp en “drone” tegnologie wat ons in my beroep kon gebruik om ‘n verdere diens aan ons produsente te kon lewer.  Dit was natuurlik alles daar.  Ons het na die middag die dag by SIMA voltooi met rugsakke vol pamflette, kontakbesonderhede van verskaffers en die nodige verspreiders se besonderhede is Suid-Afrika.  


Dit was rondom 14:00 en ons het besluit om ‘n groot kans te waag en te probeer om die Paleis van Versailles (Chateua de Versailles) te gaan besoek wat ‘n redelike ent se ry met die trein was.  Ons het die RER gevat na Versailles-Chateau en ons is 16:00 by die Paleis in (deure sluit 17:00) en kon meer leer oor die hele geskiedenis van hoe hierdie pragtige plek gebou is.  Jy kan nie dink dat soveel geld spandeer is op ‘n gebou nie.  Toegang tot die paleis was 18 € per kop.


 As die paleis se deure 17:00 toemaak kan jy nog tot 18:00 in die tuine wandel.  Dit was bitter koud, maar ons kon nie anders as om deur te druk.  Hierdie plek is ook ‘n moet!  Die tuine bestaan uit 800 ha.  Sien “link” onder vir al die geskiedenis.  Ons kon slegs ‘n klein deel sien, maar dit is absoluut die moeite werd.  Hier is baie hande arbeid in.  Ons het die middag afgesluit by die restaurant in die tuine met ‘n bier.  Versailles is ‘n pragtige plek en ons het besluit om die plek te verken en hier aand te eet.  Vanaand se spyskaart het bestaan uit die beste hamburger wat ek nog geeet het by Big Ferdinand.  Ons almal het dieselfde geeet en die ete het ‘n 250 cl bier ingesluit vir 17 €.  Ons is terug met die RER na Parys en ons kon die Eiffel Toring met sy ligte aan sien!


 Dag 5 – 01.03.2017

Die manne was dit almal eens dat ons wil wegkom van mense.  Parys se beton het sy tol op ons gemoedere begin eis.  Ons wou plase sien.  Christoffel wou graag Euro Disney sien en ons ander 3 het besluit om saam te ry en dan af te klim by die stop net voor dit.  Ons wou nie Euro Disney sonder ons gesinne doen.  Ook maar goed ons het dit gedoen, want die weer was aaklig.  Dit was koud en het heeltyd gereen.  Ons 3 het afgeklim by die Val d’Europe stasie en het ‘n Uber gevat na die platteland.  ‘n Dorpie met die naam Monte.  Ons kon van die bietjie landbou aktiwiteite rondom die dorpie sien en ook die plaaslike supermark besoek.  Ek het nie my “roaming” aangesit nie.  Ek hanteer al my kommunikasie met wi-fi van hier.  In die stede is daar redelik gratis wi-fi beskikbaar by meeste plekke, maar in die klein dorpies moet jy by ‘n restaurant in om die kode te kry, maar dan kan jy ten minste jou Uber reel.  Christoffel het intussen by ons aangesluit.  Sy Disney besoek was nie baie suksesvol met die weer nie en net voor hy die 92 € (toegangsfooi per dag vir volwassene) vir die 3 ure tot sy beskikking moes betaal het hy gelukkig omgedraai.


Dit was ons laaste middag in Parys en ons wou na die indrukwekkende Galeries Lafayette winkelsentrum gaan.  Dit is ook een van daai goed wat jy moet sien.  Ons was 14:00 daar en was 15:45 weer daaruit.  Die plek is fantasties met meer as een gebou en 7 verdiepings, maar ons manne was baie deurmekaar daar binne en die handelsname is ontsaglik duur!


Ons is terug hotel toe om te gaan gereed maak vir ‘n aand uit saam met Max de Bollivier, een van my verskaffers, wat ons 4 bederf met ‘n aandete in die Moulin Rouge!

Nou hierdie besoek was een van die plekke wat ek ‘n persepsie gehad het van “dit maak nie saak of ek dit sien of nie sien nie”.  Dit is die verkeerde persepsie.  Hierdie is ‘n absolute moet!  Dit is deel van Parys se geskiedenis en bestaan reeds van 1889.  Ons kaartjie het ‘n 3 gang maaltyd asook ‘n halwe bottel wyn of sjampanje en die “show” ingesluit.  Dit is ‘n elegante, stylvolle plek en vertoning met verskillende versierings, kostuums en beligting.  Die dansers is briljant en jy kan nie glo hoeveel talent party mense het nie.  Dit is ‘n ervaring wat jy moet beleef indien jy ooit die geleentheid kry om hierheen te kom.  My driegang maal het bestaan uit geseelde tuna vir ‘n voorgereg, “scallops” vir hoofgereg en ‘n donker sjokolade mousse vir nagereg.  Ons het ons sjampanje en wyn gedeel wat ook heerlik was.  Max het ons met hierdie geleentheid baie bederf en ons sal nog lank oor hierdie aand praat!  Die Moulin Rouge is stapafstand van ons hotel en ons het huiswaarts gekeer rondom 23:30.  More gaan ons Nice toe met die TGV trein!


Ek skryf na die naweek weer!

JG

Links na inligting oor die plekke wat ons besoek het:

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking