06 Maart 2017

Milan & Luzern

Dag 8 – 04.03.2017

Hoe minder ons se oor dag 8 van ons trippie, hoe beter.  Dit was ‘n absolute dag van chaos.  Ons was om 08:45 by die stasie in Nice en moes ‘n trein neem na Ventimiglia oppad na Milan in Italie.  Hierdie trein is afgestel en dit het beteken dat ons ons aansluiting trein om 11:04 sou mis.  ‘n Dag vol “trainhopping” het begin.  In plaas van 2 treine wat rondom 4 ure sou neem vat dit toe 6 treine – waarvoor ons nie kaartjies het nie, verkeerde stasies, kondakteurs wat ons kaartjies vra en ‘n bus om teen 22:00 die aand by ons hotel in Milan te wees!  Ons het altyd geweet die dag in Milan gaan ‘n uitdaging wees aangesien ons hotel ongeveer 14 km van die hoofstasie was, maar die treine het ons ‘n regte “curveball” gegooi.  Ons kon niks van Milan sien nie aangesien ons die volgende oggend 10:00 weer moes vertrek na Luzern.  Die ete in Milan die aand het bestaan uit verskillende pasta’s wat heerlik was.  Ten spyte van al die chaos was die uitstappie steeds heerlik en opwindend bloot deur die feit dat ons so”clueless” was!  More sal dit beter gaan….


Dag 9 – 05.03.2017

Ons verblyf was geboek by die Idea Hotel in Milan San Siro wat naby die sokker stadion is.  Dit was ons treinstop die vorige aand asook die een waar die hotel se bussie ons die oggend afgelaai het oppad terug na Milan se hoofstasie toe.  Ons het die beste ontbyt van al die hotele van die hele toer sover geeet by hierdie hotel.  Die hotel is nie baie sentraal nie, maar dis die eerste hotel waar ons spasie gehad het, oral, kamers en restaurant.  Ons is vort en het geweet dit kan net beter gaan as die vorige dag, min het ons geweet hoe baie beter dit kan gaan.


Die eerste ding wat beter was is die feit dat die trein op tyd, reg en baie “smart” was.  Alles het seepglad verloop en ons is Switzerland binne waar ons die pragtigste spoor gevolg het.  Hier loop dinge reg.  Daar is ‘n rede waarom daar verwys word na Switzerse presisie.  Die land is beeldskoon, presies soos wat jy al ooit voorgestel het en gesien het.  Dis ‘n poskaart van A-Z.  Die sneeu le nog dik op die berge, die mere is tjok en blok vol water.  Dit lyk sommer koud!


Ons het gesnak na ons asem toe ons by die stasie uitstap en die prentjie voor ons sien.  Hierdie was mooi op ‘n ander manier, ons tipe mooi.  Parys en Monaco was mooi gemaak deur mense en die geskiedenis.  Hierdie plek is mooi van nature.  Die stasie is so ‘n km van die hotel en ons het die stukkie gestap.  Die lug was vars, die wereld skoon.  Hier kom jy die reels na, dinge word self gepolisieer.  Mense kyk jou snaaks aan as jy oortree.  Die hotel was baie modern en uitgedos in baie helder kleure.  Die personeel was almal vriendelik en behulpsaam.  


Ons het ingetrek en was omstreeks 15:00 in die strate.  Meeste van die winkels is op ‘n Sondag oop van 15:00 tot 18:30.  Ons was op ‘n soeke na geskenke vir familie, kollegas en vriende.  In hierdie dorp is daar honderde horlosie, sjokolade en knipmes winkels.  Alles produkte wat eie is aan Switzerland.  Die volgende 3 ure was ons in die rumoer en kon darem redelik ver vorder met geskenkies. 


Dit het begin reen en die koue het nader aan die been beweeg.  Ons het voorspel dat dit die nag gaan sneeu en hoe fantasties dit sou wees indien ons die volgende oggend kon opstaan met sneeu in die strate.  Ons is terug kamer toe om die bagasie te gaan neersit voor ons uitgaan vir aandete.  Ons wou nie te vroeg eet en het eers ‘n lang ent langs die meer afgestap.  Ek het daar en dan besluit dat dit die pad is wat ek die volgende oggend sou draf.  Die ikoniese houtbrug van Luzern is van alle kante afgeneem.


Ons het by ‘n restaurant baie naby aan die brug aangekom waar ons sou aandeet.  Ek het by van my verskaffers borgskappe gekry vir hierdie toer en ons het besluit dat ons vanaand van die fondse gaan gebruik vir aandete in Luzern en nie terughou nie, ons wou die hele ervaring he!  Ook maar goed ons het dit so gedoen, want al wou ons terughou, kon ons nie.  Die kos was ontsaglik duur, so gelukkig het dit niemand se sakke geraak nie en ons het voluit gegaan.  Die restaurant se naam was Rathaus Brauerei en soos die naam se ‘n bierbrouery.  Jy  drink hulle bier hier wat in ‘n pragtige koperketel gestook word – Seidel Natrut.  Ons het direk die hoofmaal bestel.  Pieter en Christoffel elk die Kalbs Cordon Bleu en ek en Jacobus elk die Langrippenkotelett (250 gr varktjop).  Beide van die disse was van die huis-spesialiteite en absoluut fantasties.  Saam met dit het ons ‘n bottel Chateau Croix gedrink wat ook heerlik was.  Die aand was nog nie om nie en ons het 4 nageregte bestel wat ons tussen mekaar sou deel.  Dit het ingesluit 2 x Wit Tobleronemousse, Guiness Schokolade Brownies en Bieramisu.  Alles was briljant, maar my gunsteling was die Tobleronemousse.  Die kelnerin het ons meegedeel dat sy vir ons ‘n verrassing het (seker nadat sy ons rekening gesien het).  Sy het vir ons elkeen ‘n tipe aftreksel (witblits / mampoer) van hul bier gebring en dit het die aand mooi afgesluit.  ‘n Lekker stappie terug hotel was net die regte medisyne.  Ons was dit eens, hier sal ons kan woon.


My oggend draffie was verfrissend aanvanklik, maar na so 2 km was dit sommer koud!  Dit het verseker die nag gesneeu, die berge was spierwit en dit sneeu het baie laer gele as die vorige dag, ongelukkig nog nie in die dorp self nie.  Ons ontbyt was skitterend en wat baie oulik was, was die hoekie waar kinders hulself kon help met hul eie ontbyt.  My 2 sou mal wees hieroor!  Ons is te voet na die stasie waar ons 09:55 moes klim oppad na Mannheim. Dit is ons laaste treinrit.  In Mannheim huur ons ‘n motor, dit mag interessant raak!  Meer hieroor na Duitsland…


Auf Wiedersehen,
JG

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking