13 Maart 2017

Mannheim, Stuttgart & Amsterdam

Dag 10 – 06.03.2017

Op die stasie aangekom vind ons uit dat dit beslis die maklikste sal wees om ‘n taxi na Europcar te neem waar ons huurmotor is.  Hulle is in “downtown” Mannheim en bietjie te ver om te loop.  Hierdie rit kos ons 12 €.  Ons motor is ‘n Kia en eers sukkel ons om die GPS op Engels te kry, met dit uitsorteer kom Pieter redelik vinnig reg aan die “verkeerde” kant van die pad as wat ons ry.  Die motortjie trek lekker en ons is tevrede.  Ons hotel was die Park Inn By Radisson.  Hierdie was ‘n lekker ruim hotel en alles het nie so beknop gevoel.
Dit was net na 16:00 en ons moes onsself gaan gereed maak vir die aand saam met BASF se manne.  Ons sou ‘n weinkeller toer en proe doen asook ‘n aandete in die 5-ster Gesellscahftshaus der Badischen Anilin & Soda-Fabrik (BASF).


Nadat ons voorgestel is aan ons gashere van die aand, Ivan Jurasin-Havranek (Gewasbestuurder Afrika en Midde-Ooste) asook Marco Moorfeld (Hoof van Gewasbestuur Grane en Mieles - Europa, Afrika, Midde-Oosteen Sentraal Asie) is ons deur ‘n baie interessante weinkeller toer gelei.  Ons het meer geleer rondom die weinkeller en hoe dit ontstaan het.  Die storie is eintlik baie interessant, aangesien dit steeds die rede vir hierdie afdeling is.  In die vroeë jare moes mense met perdekarre dorp toe kom.  Daar wees geen ander manier om wyn in die hande te kry as om dit self by die wynkamers op hul plase te gaan koop nie.  Die werknemers van BASF het in daardie jare die gewoonte gehad om na werk ‘n glas wyn te drink en te sosialiseer met mekaar.  BASF het dus ‘n fasiliteit geskep sodat hul werknemers dit daar by die werk te kon doen.  Hul het die wyn “bymekaargemaak”die kelders en dit dan na werk aan hul werknemers te koop aangebied.  Die publiek het gesien wat gebeur en die vraag het ontstaan na verkope aan die publiek.  Dis dan steeds hoe dit vandag is.  Intussen het BASF later begin self wyn maak, maar dit ook ongeveer 15 jaar terug gestaak as gevolg van die feit dat dit nie winsgewend was nie.  Deesdae koop hulle regoor die wêreld wyne in en hierdie wyne word sentraal verkoop.  BASF is een van die top 6 wynverspreiders in Duitsland.  Ons het verskeie van die plaaslike wyne geproe soos gesien kan word onder aan die foto.  Ons proemeester het ons vertel met watter kos die wyn gepaar kan word en ons het dit terdeë geniet.  Wat ‘n heerlike ondervinding.  Duitsland is baie bekend vir sy verouderde Rieslings en dit het duidelik uitgekom uit die proe.  Ons is rondom 20:00 na die restaurant…min het ons geweet dat ons vandat ons daai trappies sou klim soos konings behandel sou word.


Ons is onmiddellik verwittig dat foto’s nie toegelaat word nie.  Jacobus kon darem ‘n skelm fototjie van Pieter en Christoffel asook die nagereg neem.  Ons het ‘n 5-gang maaltyd geniet met verskeie disse soos jul kan sien op die spyskaart foto hieronder.  Daar was ‘n 6de gang wat vooraf bedien was wat eintlik net een hap was, ek weet self nou nog nie wat dit was nie, maar dit was iets visserigs!  Alles was voortreflik, ons het regtig die beste van die beste beleef in terme van voedsel en wyn.  Ek het natuurlik ten volle gebruik gemaak van hierdie twee wereldkenners rondom hul gewas en produkte en hul gepeper met die vrae.  Dit was voorwaar ‘n voortreflike aand en die kontakte wat ek opgebou het sal my verseker in my loopbaan baie help.  Ons was redelik uitgeput na ‘n lang dag en paar dae tot dusver en na hierdie “laat” aand was die manne reg vir die bed.  More se eerste afspraak was 09:00 by BASF se besoekersentrum.


Dag 11 – 07.03.2017

Ontbyt was regtig goed, hier was ‘n verskeidenheid van kouevleise beskikbaar wat nie teenwoordig was in Parys nie en almal kon hulself lekker volmaak vir die besige oggend wat voorlê.  Ons het bietjie gesukkel met parkering en het 09:05 ingehardloop by die besoekersentrum waar ons toerleier reeds gewag het.  Ons is deur 3 verdiepings voorlegging van BASF se geskiedenis en watter produkte hulle maak.  Hulle is eintlik feitlik in enige produk wat jy in jou besit het teenwoordig.  Weereens is ons gewaarsku dat geen foto’s toelaatbaar is nie.  BASF werk met enigiets van landbouchemie tot die plastiek wat in tekkies is asook issolasie teen koue wat in geboue se dakke is.  Die toepassing van hul produkte is eintlik oneindig.  Ons is na ‘n uur na buite waar ons in ‘n bussie geklim het wat ons deur die hele produksie aanleg geneem het.  Hierdie is ‘n enorme opset.  Daar is 2 800 km se pyp op die 10 vierkante km wat die area beslaan.  Hulle het hul eie vervoersisteem binne hierdie area en 15 000 fietse tot die 36 000 mense wat hier werksaam is se beskikking om tussen geboue te beweeg.  90 % van alle produkte wat geskep word, word gebruik.  Die afval gasse word omgeskakel na energie of na byprodukte.   Hierdie sisteem hardloop soos ‘n ge-oliede masjien en hier werk almal in sy boksie om te verseker dat dinge glad verloop.  Foute kan katastrofies weers, so alle veiligheidsmaatreels is in plek om dit te verhoed.  Ons was verskriklik beindruk.  Om 11:00 is ons afgelaai waar ons na ons motor is om 11:30 by die Agri-Centre wat ongeveer 12 km van die produksie aanleg  te kon wees.

Ons was bedtyds en na ‘n enorme sekuriteits ondersoek is ons die perseel toegelaat waar ons deur ons toerleier Inge Webb deur middel van ‘n PowerPoint voorlegging vertel van presies hoe dit vir BASF en ander maatskappye werk om ‘n nuwe produk na die veld te bring asook die tydlyn en koste daaraan verbonde.  Dit maak mens se oë bietjie oop om te sien wat alles in so ‘n produk ingaan.  Ons het ‘n ligte middagete geëet.  Ons is na afloop van hierdie voorlegging na die praktiese deel om te gaan kyk na die tonnels en labratoriums waar hierdie seleksie van produkte gedoen word.  Na 4 ure se intense besoeke was ons dit eens dat hierdie mense geweet het wat hulle doen en ons was vol komplimente vir hoe welkom hulle ons laat voel het.  Ons het een laaste stop gehad in Mannheim, die John Deere perseel in John Deere Straat!

Hierdie was nie ‘n gereelde toer nie, aangesien dit sou bots met ons besoeke aan BASF en omdat ons reeds baie van die produk gesien het by SIMA, wou ons net daar draai sodat ons darem kon se ons was daar.  Daar is baie geskiedenis opgeskryf rondom die totstandkoming van John Deere en dit was baie interessant.  Min het ons op die stadium geweet dat ons in die volgende dag nog baie gaan uitvind oor die geskiedenis van die motorbedryf.  Ons het ‘n paar geskenkies gekoop en het die 130 km aangevat na Stuttgart.


Ons was uit die veld geslaan met die hoeveelheid “lorries” op die pad.  Daar is een baan wat net vol trokke was.  Dit het gereen, maar in die linkerbaan (Autobaan) was daar nie beperkings op spoed nie.  Ons het by tye gesien dat die Kia tot 170 km / h doen.  Die Duitsers het vinnige karre, wat warmgemaak is.  Hulle is blitsig!


Natuurlik kan alles nie seepglad verloop op so ’n toer nie en ek het die vekeerde adres in die GPS getik wat gelei het tot ‘n draai van so ongeveer ‘n uur en ‘n half.  Dit het darem egter vir ons die geleentheid gegee om die wereld bietjie te verken en die stad Stuttgart self te sien.  Ons het by ons hotel aangekom en was baie verbaas om te hoor dat die bestuurderes ‘n Suid Afrikaner van Port Elizabeth is.  Ons het lekker gesels en deur al die geselsies agtergekom dat hier baie Suid Afrikaners kom oornag wat vir opleiding na Mercedes Benz kom.  Ons is uit vir ete en ons wou regte, egte Duitse kos hê.  Die restaurant van keuse was die Funzel.  Met die intrapslag het ons almal dadelik geweet wat ons wou eet en dit was net oor ons die ander mense se borde gesien het, Eisbein!  Jy kon kies tussen die bygeregte en ek het die tipies Duitse Sauerkraut gekies.  Ons het weggelê aan die 800 gr Eisbeins en nie een kon alles baasraak nie.  Ons het besluit hierdie oorskiet moet saamgaan en dien as middagete die volgende dag.


Dag 12 – 08.03.2017

Ons het besluit om die Porshe Museum asook die Mercedes Museum te besoek.  Biede van hierdie museums maak 09:00 oop en ons moes ons huurmotor om 15:00 weer by Stuttgart lughawe he, dus was dinge redelik “tight”.  Ons is eersta na Porshe waar ons deur die geskiedenis beweeg het.  Hierdie is vakmansskap op die hoogste vlak en selfs al is jy nie ‘n groot “petrolkop” nie, moet jy herdie ryke geskiedenis asook die kuns om sulke pragstukke te bou, waardeer.  Die manne het soos klein kindertjies opgewonde geraak as hulle die dreuning van ‘n sekere model oor die luidsprekers kon hoor.  Ons moes aanbeweeg om nog by Mercedes te kom en het die verkeer aangevat.


Mercedes is ‘n regte museum.  Die Porshe museum was intiem met al die geskienis op 3 vlakke, maar Mercedes was enorm.  Sewe verdiepings waar jy bo begin en af beweeg was net die ou voertuie.  Dit het ook vir jou ‘n tydlyn gegee wat in Europa op daardie spesifiekte tydstip gebeur het terwyl Mercedes se stigters bv. besig was om die eerste selfaangedrewe voertuig te bou, of watter model Mercedes op die paaie was terwyl die Berlyn muur afgebreek is.  Alles het soos ‘n legkaart inmekaar gepas.  Die karre is bitter, bitter mooi.  Daar staan baie ou, unieke voertuie wat ons nog nooit gesien het nie.  Jy kon ‘n F1 motor se “simulater” ry en voel hoe dit voel om teen 300 km / h te jaag.  Alles hier was die tekens van goeie kwaliteit.  Ons is na die geskiedenis toer na die 3 verdiepings met die nuwe voertuie.  Hierdie was baie spesiaal, want die “AMG” reeks was hier.  Dis hul vinnige karre.  Daai karre is amper te mooi om na te kyk.  Ek het persoonlik die Mercedes Museum meer indrukwekkend gevind as die Porshe Museum.  Dit was ‘n belewenis.  Ons het vertrek na Stuttgart lughawe om ons huurmotor terug te gee en ‘n vlug te vang na Schipol Amsterdam waar ons die laaste dag van ons reis sou spandeer.  


Die vlug was eers vertraag en daarna deur baie terbulensie, Pieter het dit nie verskriklik waardeer nie!  Veilig anderkant het ons ‘n bus gevat na ons hotel (Hotel Central Park), amptelik die kleinste kamer op die hele toer.  Ek en Jacobus kon nie saam ons sakke langs mekaar oopmaak nie.  Hierdie was letterlik ‘n geval van neem jou besluit voor jy by die badkamer ingaan, want daar is te min plek op jou gedagtes te verander.  Ons het naby die hotel by ‘n restaurant gaan burgers eet en het uitgesien na ons laaste dag van die toer waar ons Amsterdam te voet sou aanvat.


Dag 13 – 09.03.2017

Ek wou ‘n draffie inkry aangesien ons hotel langs Vondelpark was, maar die oggend was mistroostig met ‘n ligte, natmaak reëntjie.  Ons het ontbyt geëet en die strate ingevaar.  Ons was hopeloos te vroeg vir die winkels en  het net lekker rondgeloop en die Hollanders bekyk was so mobiel is met die fietse.  Almal ry fiets en dit lyk so gemaklik en lekker.  Al was die weer nie goed nie het hulle steeds fietse gebruik om oor die weg te kom.  Vir ons was dit vreemd, maar Amsterdam maak deeglik voorsiening vir die fietse met oral hul eie bane en verkeersligte, so jy kan eintlik nie anders nie.  Ek sal nogal van hierdie tipe leefstyl hou.  Ons is oor die kanale en in die winkels waar ons ons laaste aandenkings van die reis te koop.  Ons kon darem nie Holland verlaat sonder om rou “herring” te eet nie.  Niemand van ons 4 het dit al voorheen probeer nie en 2 van ons toerlede sal dit moontlik nooit weer probeer nie (Jacobus en Christoffel).  Ek en Pieter het nogal gehou daarvan.  Dit is rou “herring” wat voorgesit word saam met gepekelde agurkies en gekapte uie.  Jy eet dit by ‘n straatkafee.  Die pekel maak dat dit soet is.  Ek het dit geniet.  Sien foto’s hieronder.  Ook moes ons Fritis en Mayonaisse eet en op die koop toe sommer Bitterballen daarby saam met Heineken.  Hierdie was ons laaste dag en ons het alles probeer, letterlik, inprop! 


Ons is na Madame Tussaud waar Christoffel en Jacobus die waspoppe bekyk het terwyl ek en Pieter op die plein rondgedwaal het.  ‘n Lang dag met baie stap is afgesluit in ‘n Argentynse “steakhouse” waar ons ‘n heildronk ingestel het op ons baie suksesvolle reis.  Die ete was heerlik, die vleis smaaklik en dit het die manne se verlange vir die huis meer aangehelp.  Die span wou nou braai!  Ons is oppad terug hotel toe deur die baie bekende / berugte rooiligdistrik, wat na Pigalle waar ons in Parys gebly het niks vreemds vir ons was nie.  Dis iets wat jy moet sien as jy in Amsterdam is, al is dit net om te weet waarvan mense praat.  Dit is sekerlik een van die grootste toeriste attraksies van Amsterdam waarvoor jy nie hoef te betaal nie.  Jy kan bloot deurstap en waarneem saam met die ander duisende toeriste op straat.  Ons is terug hotel toe waar ons redelik uitgeput was en tot redelik laat moes sukkel om ons tasse wat nou baie anders gelyk het as op dag 1, toe te kry!  Die volgende dag vlieg ons huistoe, die tyd was nou reg.


Dag 14 – 10.03.2017

Ontbyt word in ons hotel eers van 07:00 af bedien en ons moes te vroeg lughawer toe, so ontbyt sou op lughawe geniet word.  Ons is weer met ‘n bus tot by die lughawe wat ons so 5 € per kop gekos het.  Die inboek, deurstap en sekuriteit het ongeveer ‘n uur en ‘n half geneem waarna ons ‘n ontbyt geeet het en die laaste, heel laaste, geskenke gekoop het.  Ons KLM vlug het ongeveer 10:30 opgestyg.  Ons het almal baie opgesien na die vlug, maar dit was in retrospek een van die lekkerste vlugte waarop ek nog was.  In die eerste plek sit jy langs mense wie jy ken.  In die tweede plek was dit ‘n dagvlug, so jy voel nie gedwing om te slaap nie.  Dit was ‘n redelike nuwe vliegtuig en die nuutste flieks het gewys.  Ons is twee etes en ‘n “snack” bedien tydens die vlug.  Ek persoonlik het 3 flieks gekyk, die helfte my boek klaargelees, asook hierdie blog getik tot op die punt waar ek slegs die foto’s moes bysit as ek weer internet het.  Die tyd het letterlik gevlieg en daar was nie een oomblik wat ek verveeld was nie.  Ons het 22:30 geland in Kaapstad en was spyt alles waarna ons so lank uitgesien het was verby, maar het baie uitgesien om by ons gesinne te kom.  Volgende keer vertel ek julle bietjie meer rondom kostes van so ‘n uitstappie asook wat ek persoonlik uit die toer as mens neem.

Afrika Groete,

JG

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking