27 Januarie 2014

Wingerd Safari 2014

Die Malmesbury Wingerdstudiegroep bied elke jaar in Januarie hul boeredag aan.  Vir die laaste 3 jaar doen ons dit in die vorm van 'n Wingerd Safari.  

Wat beteken 'n Wingerd Safari?  Die studiegroep kry eerstens 'n area in die Malmesbury distrik wat hulle vir die jaar wil ten toon stel.  Hierdie jaar het die eer geval op die Paardeberg, met die wegspring by Jakkalsfontein van oom Kobus Smit - wat 'n uitstekende venue!  Daar word 'n roete uitgesit met aanwysings en vrae.  Die aanwysings word gevolg en so word jy begelei deur die hele area.  Vanjaar se roete was iets besonders en ek dink meeste van die deelnemers het nog nie die Paardeberg gesien soos Saterdag nie.  Daar was 160 volwassenes en ongeveer 50 kinders wat die dag bygewoon het.  Die samestelling van die spanne bestaan uit 2 tot 4 persone, met die hoof oogmerk op gesinne.  Dit is amper soos 'n skattejag en baie opwindend.




Vanjaar se vrae het gehandel oor wingerd, die geskiedenis van die Paardeberg asook die omliggende omgewing.  Pryse word oorhandig aan die top 10 spanne.  Daar word baie swaar gesteun op borge om hierdie dag moontlik te maak en vanjaar se dag was 'n reuse sukses vanweë almal se bydraes en betrokkenheid.


Ek en my kollegas van Nexus (Conre Groenewald en Johan Jooste) het die "natgat" geborg en klink my van die deelnemers het tot 400 m van die punt af parkeer net om 'n lafenis te kon kry.  Van waar die "natgat" was, kon jy die pragtigste uitsig oor die Paardeberg se klowe sien.  Dit was werklik 'n baie mooi gesig en die weer het uitstekend saamgespeel.  Die gaste is almal op die eindstreep bederf met 'n lekker braaivleis en gratis drankies.  Die kinders kon in die parsbakke baljaar en daar was ook 'n springkasteel en "slip and slide" - die grootmense het dit netso geniet!

Ons wil van die geleentheid gebruik maak om elke borg baie hartlik te bedank vir die sukses van ons dag en ons hoop julle kry net soveel myle uit die dag soos ons.  Volgende jaar sal ons dit weer doen met 'n nuwe venue en roete!  Dankie aan Bernice Jooste vir die gebruik van die foto's.



Daar is nog kaartjies beskikbaar vir die CF Vrouedag op 8 Februarie 2014 te Delsma Farm.  Kontak asb vir my of Hildegarde indien iemand belangstel.  Ons beplan om 2 dae van die Epic met spesiale klere ten bate van Sistiese Fibrose te ry.  Ons sal op Meerendal (Prologue) wegspring met die klere en weer Lourensford binnery met dit op die laaste dag.  Ek noem dit ons "limited edition kit" vir die Epic.  Hierdie hemde sal na afloop van die Epic ten bate van Sistiese Fibrose opgeveil word.  Sien onderstaande 'n voorbeeld van hierdie hemde.  Ons het elke maatskappy wat 'n bydrae aan ons of Sistiese Fibrose gelewer se logo op die hemde gesit.


Druk maar deur met die hitte.  In die winter mis ons weer die sonskyn dae!

Groete,
JG

21 Januarie 2014

Attakwas 2014

Dit word beskou as die moeilikste eendag bergfiets wedren in Suid-Afrika.  Dit word aanbeveel deur ieder en elk om te doen in die jaar wat jy aan die Epic deelneem, want dan kry jy 'n voorsmakie van wat jy vir 8 dae gaan deurmaak.  Dis die Attakwas van Oudtshoorn na Groot Brak waarvan ek praat.  Die wedren bestaan uit 'n 121 km, baie tegniese, amper onrybare roete wat 2 900 m se vertikale klim in het.  Die eerste 70 km is so tegnies dat 90%, self meeste van die professionele ryers party dele eerder loop.  Die laaste 50 km het weer die klimme waarvoor jy glad nie lus is na die vorige 70 km se "full body workout" nie.


Ek, Hildegarde en die kinders het die Donderdag middag na Heroldsbaai vertrek, die aand by my ouers geslaap.  My pa het ons die Vrydag deurgeneem Oudtshoorn toe.  Die kinders het die Vrydagaand ook daar geslaap.  Iets wat ek nog nie genoem het nie, was dat beide ek in Hildegarde in die week voor die Attakwas van fietse verander het, beide van ons ry nou "Dual Suspension".  Dit het net meer sin gemaak om dit so te doen vir die Epic - was ons nie op die eindstreep van die Attakwas baie bly hieroor nie!  Ons het by Kleinplaas oornag, dieselfde plek waar die registrasie ook plaasgevind het.  Ons het kinderloos die aand heerlik saam met Lood en Saretha gaan uiteet en vroeg in die bed probeer kom voor die groot wedren.  Deelnemers van Malmesbury aan die Attakwas Mini was Shane Ketel, Madeleen Kotze en Elishia Drotschie.  Malmesbury Fietsryklub het 'n hele paar verteenwoordigers in die Attakwas Extreme gehad.  Sien op onderstaande foto vlnr - Lood Fouche, Pieter Malherbe, Hildegarde, Johann Loubser, Jaco, Kobus Drotschie.


Ek was veronderstel om in groep B weg te spring, maar het saam met Hildegarde in groep D begin - die plan was altyd dat ons as span sou ry en kyk hoe ons as span funksioneer.  Ons het met 'n lekker spoed begin en feitlik die heel dag daardie spoed gehandhaaf.  Ek het meeste van die tyd voor gery om te kyk watter gevare op die horison is sodat ek vir Hildegarde betyds kan waarsku.  Ons het tot by die Spur waterpunt (70 km) goed gery en was daar na so 4 uur 50 min.  Hildegarde het begin kla van krampe.  Ons het geëet, ergste modder afgewas en was weer op die pad.  Die klimme het begin - ek en Hildegarde is altwee sterker teen die bulte uit - en ons was net dankbaar die erge tegniese dele is klaar.  Na 100 km het ons beide begin krampe kry, maar deur dit gewerk.  Ons het altyd 'n mikpunt van 8 uur in die oog gehad en die tyd was vinnig besig om ons in te haal.  By die laaste 2 waterpunte het ek haar laat verby ry, ek het die bottels volgemaak en ander versnapperings gekry.  Ek het haar weer gevang en ons het ten minste 2 minute per stop gespaar - sal beslis dit meer doen in toekoms.  Sy behou haar ritme, maar kry steeds wat sy nodig het.  Die laaste 5 km het verby gevlieg en ons het klaargemaak in 7 uur 56 min.  Ons het ons mikpunt behaal!  Saretha was met die kinders op die eindstreep wat dit nog meer spesiaal gemaak het.  Voorwaar 'n belewenis.  Twee van ons lede het ook by die Ratel klub aangesluit, dit beteken jy het die Attakwas al 5 keer voltooi.  Hulle is Pieter Malherbe en Johann Loubser - baie geluk julle!


Ons is baie tevrede met hoe die wedren verloop het, hoe ons fietse hulle gedra het, asook waar ons fiksheidsvlakke is voor 23 Maart 2014.

Op die werksfront is daar paar projekte wat in die volgende paar weke plaasvind.  Hierdie komende Saterdag is die Malmesbury Wingerd Safari te Jakkalsfontein.  Dit bestaan uit gesinne wat saam op 'n roete deur die Paardeberg geneem word.  Verskeie vrae word dan aan die deelnemers gestel.  Meeste vrae handel oor wingerd, die omgewing en relevante gebeurtenisse.  Voorwaar 'n lekker dag om saam met jou geliefdes die natuur te ervaar.  Daar is ook hope pryse te wen.



Kaartjie verkope vir die CF Vroue Oggend op 8 Februarie 2014 verloop ook uitstekend.  Indien jy nog nie 'n kaartjie het nie, maak asb kontak met my of Hildegarde.  Dit gaan voorwaar 'n fantastiese oggend wees vir 'n baie goeie doel.


Aanhou oefen, lekker baie ure inkry en positief lewe!

Groete,
JG

08 Januarie 2014

'n Nuwe begin - 2014

Ons het aan die einde gekom van 2013, 'n baie vol jaar met baie hoogtepunte en regmerkies wat langs ons "bucket list" gemaak is.  Die nuwe jaar het begin en die pas sal seker gouer as later begin optel.  Ons het 'n heerlike feesseisoen saam met familie en vriende gehad.  Daar is steeds hard geoefen, maar wanneer die normale roetine effens versteur word, voel oefen ook soos vakansie!



Ons het 'n hele paar lekker sessies gehad, onder andere 'n groot deel van die Prologue se roete by Meerendal, wat baie vir die selfvertroue beteken het!  Julle sal nie glo nie, maar ek en Hildegarde het vandat ons die inskrywing vir die Epic gekry het, weinig saam geoefen.  Sy het 'n intense "cross-training" program (fietsry, draf en kragoefeninge) en ek oefen meestal op die fiets.  Ons was oppad na Heroldsbaai vir 'n week en wou graag van die geleentheid gebruik maak om 'n paar keer saam te oefen.


Hildegarde - Meerendal
Die week het goed begin met elkeen 'n aparte sessie op die eerste dag.  Ons kamp in die karavaanpark en die kinders het vakansie-maatjies wat elke jaar daar is.  Die enigste manier om Heroldsbaai te verlaat, is om teen een van die twee enorme bulte uit te ry of draf.  Hierdie is reeds 'n groot "workout".  Wat dit nog moeiliker maak is die feit dat jy die bulte slaan nog voordat jy enigsins opgewarm is.  Ek het baie klimme geoefen en baie ritte langs die see gehad - dit kan mos nie tel as oefen nie?!


Ek en Hildegarde het die voorreg gehad om een oggend lekker vroeg die pragtige Montagu Pas net buite George te gaan ry.  Dit was 'n mistige oggend en windstil.  Ons het lekker rustig gery en die pragtige natuur waardeer.  Dit is beslis 'n moet vir elke bergfietsryer om hierdie pas te gaan ry.
Alles was darem nie net oefen die heeltyd nie.  Ons het baie goeie familietyd spandeer en lekker ontspan na die harde jaar.  Batterye is gelaai en ons kan fokus op die volgende 3 maande.  Dit gaan beslis nie maklik wees nie, maar die grootste pret is die uitdaging en dan die terugblik daarop wanneer jy dit kan afmerk.


Al die positiewe energie wat ons aan die hele Epic-reis spandeer, het vir ons die geleentheid gegee om vir 'n goeie doel ietsie van onsself terug te gee.  Ons neem aan vanjaar se Epic deel ten bate van Sistiese Fibrose.  Ons hou op 8 Februarie 2014 'n Vroue-oggend om mense bewus te maak van die siekte en fondse vir dit in te samel.  Gaskunstenaars is Wicus van der Merwe en Andriette Norman wat ons glo vir groot vermaak sal sorg.  Daar is 'n klomp "lucky draws" en elkeen kry 'n "goodie bag" met hul aankoms.  Daar sal 'n spreker wees wat ons meer oor Sistiese Fibrose vertel, asook van die masjiene en toestelle wys waarmee hierdie mense elke dag van hul lewens moet werk.  Indien jy enigsins belangstel om die dag by te woon, voel asb. vry om my te kontak.  Ek sal onderaan die blog al my kontakbesonderhede plaas.  Alle gelde wat op hierdie dag ingesamel word, word geskenk aan Cape Cystic Fibrosis Association.



Lekker baie uitdagings op die horison en baie positiewe energie om te versprei.  Lekker oefen, en onthou asb die volgende leuse (My moto vir 2014) - "Don't promise when you're happy, Don't reply when you're angry, and don't decide when you're sad."  Weet nie wie dit gesê het nie, maar dit sal my riglyn wees met emosies in 2014!

Voorspoed met alles en 'n geseënde jaar vir elkeen en sy familie!

Groete,
JG

Kontakbesonderhede:

Twitter:  @Jaco_Geldenhuys
Facebook:  Soek vir Hildegarde Geldenhuys
E-pos:  jacogeldenhuys@icloud.com

04 Desember 2013

Movember 2013

Nou ja, ons het aan 'n einde gekom van 'n baie besige November.  Hierdie maand was Wines2Whales, Malmesbury Fietsryklub Gesinsdag, Coronation Double Century, Origins of Trials en Die Burger Fietstoer!  Ek het in die omgewing van 55 ure op die fiets spandeer, nogal baie as jy daaraan dink dat dit 'n baie besige maand by die werk ook was.  Die titel van hierdie blog is "Movember 2013".  Ek het weer op my beskeie manier probeer om 'n snor te groei.  Mense het dit darem raakgesien hierdie jaar!  Dit is alles deel van die bewusmaking van manlike gesondheidsrisiko's.  Ek het dit natuurlik sommer ook gebruik as aanknopingspunt vir Sistiese Fibrose.


As jy mooi kyk sal jy my "snor" sien!


Die Malmesbury Fietsryklub Gesinsdag is aangebied in 'n poging om gesinne by die sport te betrek.  Dit was 'n groot sukses met 25 kinders wat die oggend aan die kinder-roete van 2.9 km deelgeneem het.  Hulle is elkeen deur 'n ouer vergesel.  Elke kind wat die roete voltooi het, is met 'n pragtige medalje beloon.  Elke kind het ook 'n "Energade" van Pick & Pay Malmesbury ontvang - baie dankie vir jul lojale ondersteuning!  Die kinder-roete is opgevolg met 'n aflos deur die volwassenes.  'n Span het uit 2 tot 4 persone bestaan.  Die roete was 5.3 km lank en goeie tempo oefening.  Die span wat die meeste rondtes binne 2 ure gery het, was die wenners.  Hierdie dag het egter nie oor wen of verloor gegaan nie, maar oor deelname.  Ons sal spoedig in die toekoms weer so 'n geleentheid aanbied.  Die dag is afgesluit met heerlike saambraai en kuier.



Op Saterdag 23 November 2013 het ek en Hildegarde aan die Coronation Double Century as deel van "Team Lifepath Healthcare Allsorts" deelgeneem.  Die resies begin in Swellendam vanwaar jy na Barrydale, Montagu, Ashton, Robertson en weer terug na Swelledam ry.  Hierdie was ons grootste uitdaging nog op 'n padfiets en ons het dit as goeie tyd in die saal beskou.  Ons het glad nie geweet wat om te verwag nie - dit was dalk beter so.  Jy begin as 12 lede van die span.  Ons mikpunt was dat almal saam moet klaarmaak en ons het vir ons 8 ure as mikpunt gestel.  Die roete is oor 202 km met ongeveer 2 800 m klim.  Ons het teen 'n lekker tempo begin en redelik gemaklik die eerste 115 km klaargemaak.  Teen die tyd was ons op Ashton waar daar 'n stop-punt vir al die spanne is - hulle stop jou tyd ook vir 'n maksimum van 30 min.  Hiervandaan moes ons bietjie teen die wind baklei en ons het teen 160 km reeds 3 van ons ryers verloor.  Ons was egter voor op skedule en het seker gemaak dat die res almal ten minste klaarmaak.  Ons is oor die eindstreep in 7 uur 22 min - nie te versmaai vir 'n eerste probeerslag nie.  Dit was regtig 'n onvergeetlike ondervinding en ons sal beslis volgende jaar weer terug wees.

Die afgelope naweek was dit die Origins of Trails en Die Burger Fietstoer in Stellenbosch.  Ek en Hildegarde het vir die eerste keer in 'n "Stage Race" saam deelgeneem.  Ons het ook vir Die Burger ingeskryf om dit 3 intensiewe dae te maak en as goeie voorbereiding vir die Epic te dien.  Dit kon nie slegter begin nie.  Ek en Hildegarde het beide 'n maagvirus gehad wat ons redelik moeg en pap gelos het.  Ek het teen die wegspring van Vrydag beter gevoel, maar Hildegarde was maar op.  Ons moes deurdruk aangesien hierdie presies die situasie is waarin ons onsself op die Epic kan bevind.  Dag 1 was veronderstel om 70 km met ongeveer 2 000 m klim te wees (elk geval, dis wat advertensie sê).  Ons was bereid om dit te trotseer.  Die weer was perfek en ons het weggespring.  Die eerste 20 km was 'n nagmerrie vir Hildegarde.  Sy was so pap dat sy nie gekonsentreer het nie en 2 lelike valle gehad het.  Haar knie wou nie ophou bloei en op 40 km het die paramedici haar ingelig dat sy steke aan die knie sal moet kry.  Dit het in effek beteken dat ons geen kanse verder gaan vat vir die dag nie - netnou val sy weer op die oop wond.  Ons het aangery net om die dag klaar te kry.  Dit was bitter warm en daar was genoeg "moans en groans".  Op 67 km het ons besluit om 'n waterpunt verby te ry aangesien ons mos amper klaar is - toe nie, dit het ons nog 11 km geneem om op die eindstreep te kom.  Baie moeg, gebreek en dors.  Die enigste verblydende nuus was dat ons deur diep, donker oomblikke kon kom as 'n span en klaarmaak.  Die dag was toe 78 km met amper 2 700 m klim en baie tegnies!  Hildegarde het 3 steke aan haar linker knie gekry en die blou het oral begin wys.  Ons het klaargemaak in 5 uur 49 min.  Ek het geweet dag 2 sal 'n groot uitdaging wees aangesien ons nie reg kon eet op die fietse met die virus nie.



Dag 2 het sommer met wind begin met 70 km en 1 800 m se klim (ons maar gehoop dis waar!).  Hildegarde was seer van al die valle.  Die mikpunt was om rustig te ry en klaar te maak.  Ons het ons eie spoed gery en Hildegarde het probeer om die linker knie te spaar.  Dit bring natuurlik ander probleme, want die teenoorgestelde kant van jou liggaam werk dan baie harder.  Ons het sonder pyne deur dag 2 gekom - op ons eie tyd en klaargemaak in 4 uur 24 min.  Ons het die Origins of Trails klaargemaak as "Team Nexus" en ons weet ons kan deur moeilike tye volhard.  Hierdie roetes van beide dae het ons deur pragtige plekke geneem.  Roetes wat nie normaalweg vir die publiek oop is nie.  Baie tegniese dag 1 en vet pret op dag 2.  Die hoogtepunt was die G-spot op dag 2 wat jou weer soos 'n kind laat voel het!  Ons kon egter nie te veel "party" na die tyd nie, Die Burger Fietstoer was die volgende dag.



Die Geldenhuyse was nie baie lus vir opstaan op Sondag 1 Desember 2013 nie.  Die wind het gehuil om die huis en ons was moeg van die vorige 2 dae.  Die wekker het 04:30 afgegaan en ons het maar vasgebyt.  Ons het Stellenbosch ingery en gesien daar kom probleme.  Die voertuie het toue gestaan om die dorp in te kom.  Ons het besef ons het dalk ons lyne bietjie fyn gesny.  Ek sou van die begin af in dieselfde groep as Hildegarde wegspring, Groep F, ons sou om 06:15 afgaan.  Ons het deur die hekke gegaan, ingery en dadelik weggespring.  Ons het nêrens gewag nie en was dadelik besig met die resies!  Ons het dit as 'n "recovery ride" beskou, maar wou ook nie heeldag op die pad wees nie.  Die wind was by tye verskriklik en die grootste werk was om nie van die fiets af te waai nie.  Ek en Hildegarde het weereens saamgery.  Die bene was maar moeg en seer, maar ons het ons eerste Burger Fietstoer baie geniet en klaargemaak in 3 uur 19 min.  Johann Rabie van Malmesbury het die resies gewen in 'n tyd van 2 uur 27 min.  Baie geluk Johann.  Ons is trots op jou.



Ons het deur die 3 dae gekom met genoeg vertroue dat ons kan vasbyt en erge situasies kan hanteer.  Baie goeie voorbereiding vir wat in die toekoms op ons wag.  Ons het geen wedrenne vir Desember nie, net 'n lang oefen maand met die ure wat opgestapel sal word.  Ons is ook hard aan die reël vir ons vroue oggend ten bate van Sistiese Fibrose wat op 8 Februarie 2014 te Delsma Farm sal plaasvind.  Sal later in Desember meer inligting deurgee wanneer als gefinaliseer is.  Vasbyt vir die laaste stuk van 2013.  Dankie aan Cherie Vale en Jetline Actionphotos vir ons foto's.

Groete,
JG

12 November 2013

FNB Wines2Whales Race 2013

Die oomblik het aangebreek, my eerste "Stage Race" waaraan ek deelneem, die FNB Wines2Whales Race.  Ek en Lood het kort na die Transkaroo besluit om 'n kans te vat en as 'n span in te skryf vir hierdie wedren.  Hulle het ons op die waglys geplaas en ons het eintlik vergeet van dit.  Intussen het ons die Epic inskrywing gekry en ek en Hildegarde het as 'n span aan wedrenne begin deelneem.  Ongeveer 6 weke terug kry ek en Lood elkeen 'n epos wat sê dat ons aansoek vir die FNB Wines2Whales suksesvol was!  Ek het oral probeer om vir Hildegarde ook 'n inskrywing te kry saam met 'n ander span, maar dit was tevergeefs.  Die opgewondenheid na my en Lood se eerste "Stage Race" het begin...


Wat is FNB Wines2Whales?  Dit is 'n 3 dag wedren wat begin by Lourensford en eindig by Onrus Karavaanpark.  Die "Race Village" is by Oak Valley waar deelnemers 2 dae oornag en op die hande gedra word.  Daar word binne 10 dae 3 sulke wedrenne aangebied naamlik die Adventure, Ride en dan die Race.  600 spanne per wedren neem deel, dus is dit 'n enorme logistieke uitdaging vir die organiseerders en hulle het uitstekend geslaag in hulle doelwitte.

Ons het van die begin af geweet ons sal ons gesinne saamneem op hierdie ervaring en vir ons 'n huis bespreek in Kleinmond.  Registrasie het plaasgevind Donderdag middag.  Ek en Hildegarde en die kinders het names "Team Nexus" gaan registreer aangesien Lood nog op 'n vlug van Johannesburg oppad was.  Hulle sou later die aand by ons aansluit in Kleinmond.  Ons het met Lood en Saretha se aankoms vinnig bosberaad gehou oor hoe die logistiek sou werk en Saretha het oudergewoondte weer hand opgesteek en is as ons amptelike "transporter" gekroon.  Hierdie was die begin van 3 vroeë oggende om betyds by wegspring te wees.  Ons het elke oggend tussen 07:40 en 08:00 weggespring, so moes redelik vroeg wikkel om betyds te wees.  Hilge het natuurlik die twee oggende wat Saretha ons deurgeneem het ook saamgery - bang sy mis iets!

Dag 1 - Begin by Lourensford en ry ongeveer 78 km oor die berg na Oak Valley met ongeveer 1 800 m se klim.  'n Baie mooi oggend en adrenalien wat vloei.  Ons het om 08:00 in Groep G weggespring.  Elke dag se mikpunt was om so gou moontlik voor (binne ons vermoëns) te kom en die "singletrack" sonder te veel verkeer te trotseer.  Ons het heerlik gery, maar op ongeveer 48 km was daar 'n verpligte loop zone - Die Historiese Gantouwpas waar meer as 4 000 ossewaens oor 'n periode van 200 jaar oorgetrek het.  Die spore van die ossewaens lê uitgekerf in die rotse en sal nog vir baie lank daar wees.  Hierdie gedeelte wat ons moes loop is ongeveer 1.2 km lank.  Indien jy op hierdie erfenis gedeelte op jou fiets is, sal jy gediskwalifiseer word.  Dit is elk geval eintlik onrybaar.  Lood het na die stap effens begin kramp en ons moes onsself bestuur tot die eindpunt.  Ons het dag 1 klaargemaak in 4 uur 57 min - ons mikpunt was 5 uur.  Ons gesinne was daar en dit was 'n fantastiese gevoel.


Gantouwpas - Ossewaens het hieroor getrek
Dag 2 - Begin by Oak Valley en eindig weer daar na 68 km en 1 350 m se klim.  Hierdie dag is beskou as die dag van "singletrack".  Daar is bitter baie moeite gedoen met die roetes van al 3 dae.  Hierdie dag was egter ekstra spesiaal met brûe wat by Paul Cluver gebou is.  Ons het geweet dat dit redelik stadig kan gaan indien ons in 'n bondel by die enkelspoor aankom en was sommer voor op die wa deur heel voor weg te spring.  Dit was beslis die moeite werd en ons kon heeltyd sonder verkeer ry en hoef nêrens te gewag het nie.  Die brûe was "awesome" en dit het jou weer soos 'n kind laat voel!  Ons mikpunt vir die dag was 4 ure en ons moes die laaste 5 km alles gee om dit te kon maak.  Lood het die laaste enkelspoor soos 'n "pro" gery en ons het klaargemaak in 3 uur 54 min.  Nog 'n suksesvolle dag.   Weereens was almal by die eindstreep en daar is lekker gekuier.


Water, brûe, rotse - Welkom in die wêreld van bergfiets!
Dag 3 - Begin by Oak Valley en eindig by Onrus Karavaanpark.  Die dag is ongeveer 74 km met 1 450 m se klim.  Ons kon voel daar is al fietsgery in die twee vorige dae en het besluit om stadig te begin, eers warm te word en dan spoed te lig.  Ons wou onsself bietjie spaar aangesien die klimme van die dag eers in die laaste 25 km is.  Die mikpunt van die dag was weer 4 uur.  Ons het lekker rustig gery en die omgewing en al die moeite met die roetes waardeer.  Daar was weer baie enkelspoor aan die begin en omdat ons stadiger begin het was daar meer verkeer.  Op 60 km kon ons die see sien en het geweet die einde is naby.  Ons het Onrus ingery en oor die strand gery op palette, bo-oor 'n "scaffolding" brug tot by die eindstreep by Onrus Karavaanpark.  Ons het klaargemaak in 4 uur 13 min.  Ons mikpunt gemis, maar was steeds baie tevrede met wat ons die afgelope 3 dae bereik het.  Voorwaar 'n heerlike ondervinding vir almal.  Ek en Hildegarde weet nou hoe dit werk en is bitter opgewonde oor wat die volgende paar maande inhou.  Ons (Ek en Lood) sou nie alles wat ons doen kon doen sonder ons ondersteuningsraamwerk nie.  Baie dankie vir ons gesinne wat ons so ondersteun en motiveer!  Ek voel goed na die wedren en is baie tevrede met waar ek in my voorbereiding is.
Heerlike laaste dag!
Daar was nog 2 Malmesbury manne behalwe ons twee wat deelgeneem het aan Wines2Whales.  Charl (Tier) du Plessis het saam met sy mede-wynmaker, Anthony de Jager as "Team Fairview Vets" gery.  Hulle het soos gewoonlik baie goed presteer en hul klas duidelik gewys.  Die ander man is Johann Rabie.  Hy het saam met sy "nuwe" spanmaat Hanco Kachelhoffer vir "Team EAI Reeds Nuwater" gery en letterlik stof in die oposisie se oë gelaat.  Hulle het algeheel 3de geëindig - baie geluk julle, ons is voorwaar trots.

Net 'n kort nuusflits oor ons aksies vir Sistiese Fibrose.  Daar is 3 groot projekte op die horison.  Die eerste projek is die borg 'n km projek (Ride to Breathe).  Ons gaan 2 000 km ry in wedren situasies tot na die Epic.  Teen R10 / km kan ons R20 000 vir die projek insamel.  Projek 2 is 'n vroue oggend op 8 Februarie 2014.  Dames, hou asb die datum oop!  Julle moet almal kom.  Die derde projek is 'n veiling wat ons gaan hou na afloop van die Epic.  Ons gaan "Limited Edition" fietsryhemde laat maak waarmee ons die Prologue en laaste dag van die Epic sal ry.  Hierdie hemde sal die logo's van al ons borge en Sistiese Fibrose se logo ophê.  Hierdie items en nog ander sal na die Epic opgeveil word ten bate van Sistiese Fibrose.  Raak asb deel van die inisiatief - ons is baie opgewonde om 'n verskil te kan maak!  Gaan lees meer oor die siekte by http://jaco-hildegarde.blogspot.com/2013/10/epic-2014-route-launch-ride-to-breathe.html

Eerskomende naweek is dit Malmesbury Fietsryklub se Gesinsdag.  Hopelik kry ons 'n groot opkoms om die sport se toekoms te verseker.  Dis 'n besige maand, maar ek hou julle op hoogte van alles.

Lekker week!
JG

31 Oktober 2013

Epic 2014 "Route Launch" & Ride to Breathe

Die tyd het gevlieg en ons bevind onsself aan die einde van Oktober 2013.  Dit is amptelik net so 'n rapsie oor die 4 maande voor een van die grootste uitdagings van my en Hildegarde se lewe - die ABSA Cape Epic 2014!

Hierdie afgelope week is die roete bekend gemaak.  Dit duur van 23 tot 30 Maart 2014 en neem ons van Meerendal na Robertson na Greyton na Oak Valley tot by die eindpunt in Lourensford.  Almal het met groot afwagting vir hierdie dag gewag en noudat dit bekend is, weet ek nie of ons opgewonde, bang of dalk net heeltemal onseker is nie!  Die roete behels 718 km met 14 850 m se klim oor die 8 dae.  Oudergewoonte begin almal op Sondag, 23 Maart 2014 by Meerendal vir die "Prologue".  Hierdie is 'n bene losmaker om net almal se senuwees tot bedaring te kry.  Die volgende 3 dae begin in Robertson vanwaar ons op dag 3 na Greyton ry en twee dae van daar wegspring.  Ons laaste vesting is Oak Valley in Elgin en die laaste Sondag ry ons weer oor die berg na Lourensford soos in die vorige 7 jare.

Die twee mees uitdagende dae is Dag 1 en Dag 5 - om niks weg te neem van die res van die roete nie!  Glo my alles is 'n enorme uitdaging.  Voorbereiding verloop goed en ons is positief dat ons op die regte pad is.  Ons is ook stadig maar seker besig om vir ons 'n klomp "spares" bymekaar te maak na aanleiding van wat alles met die mense gebeur het op vanjaar se Cape Pioneer Trek.  Al het ons nie gery, het ons baie geleer.  Ek was baie voor op die wa en het so 'n paar weke gelede van 'n baie goeie bron verneem waar die roete is en vir ons gastehuise in die spesifieke dorpe bespreek.  Gelukkig was die dorpe reg en ons gaan in bietjie meer luuksheid oornag - my bruid se een groot voorwaarde!

November is die maand waar ons programme ook in alle erns afskop.  Dit is 'n dol maand wat Wines2Wales, Double Century, Stellenbosch Origins of Trials en Die Burger padwedren insluit.  Baie goeie voorbereiding vir alles wat op ons wag.  Ons (Ek, Manus Bester en Thom Orchard) het so 'n week of wat gelede in Darling by Gabri Steyn op die plaas gaan ry.  Gabri het 'n 21 km "singletrack" op die plaas gebou.  Wat 'n fantastiese ondervinding.  Baie goed ontwerp en onderhou met 'n pragtige roete in Darling.  Hierdie roete is oop vir enigeen om te ry.  In die werf is 'n "Courtesy Box"  waar jy R20 ingooi en die roete gaan ry.

"Singletrack" in Darling


'n Saak wat my baie opgewonde maak is die veldtog wat ons op 1 November 2013 loods.  Dit word genoem die "We Ride to Breathe" veldtog.  Ons wil ons ekstra energie vir 'n goeie doel aanwend.  In ons geval is dit die Cape Cystic Fibrosis Association.  Sistiese Fibrose is oorerflike siekte wat in 75% van gevalle by kinders onder die oudedom van 2 jaar gediagnoseer word.  Die siekte affekteer verskeie organe in die liggaam, maar grotendeels die longe en pankreas wat hulle basies "verstop".  Herhaaldelike infeksies kan ernstige, permanente longskade veroorsaak wat tot die dood kan lei.  Die behandeling van die siekte sluit die voorkoming en beperking van infeksie in die longe in.  Verskillende tipes medikasie word gebruik om die kroniese en akkute infeksies te behandel.  Sistiese Fibrose kan nie genees word nie, slegs bestuur word.  Mense met die siekte haal gewoonlik nie hoë ouderdomme nie, maar met die nuwe middels wat beskikbaar gestel word, styg die gemiddelde lewensverwagting en kwaliteit van lewe.  Hierdie medikasie is egter bitter duur en dit is waarvoor ons ons hulp aanbied.  Ons wil probeer om iemand se las 'n bietjie ligter te maak.  Fondse wat ons insamel sal hoofsaaklik vir kinders aangewend word en dit lê ons baie naby aan die hart!



Ons gaan in die volgende paar maande oor die 2 000 km as "Team Nexus" ry.  Ons wil aan elkeen die geleentheid bied om vir die projek 'n bydrae te lewer.  Borg 'n km vir R10 en maak 'n verskil aan iemand se lewe - "We Ride to Breathe".

Maak asb 'n donasie in die volgende rekening:

Cape Cystic Fibroses Association
First National Bank
Table View Bank
Branch Code:  203 809
Acc no:  600-2120-3588
Ref:  Nexus Epic

Ek wil dit duidelik stel dat alle gelde wat ingesamel word na Cape Cystic Fibroses Association gaan.  Ons wil graag bewusmaking skep van 'n siekte waaroor daar huidiglik nie baie gepraat word nie.  Een van die beste maniere vir 'n langer lewe met die siekte is oefening, so dit pas perfek by dit waarmee ons besig is!

Lekker oefen, ons hou almal op hoogte van ons aksies.  Maak ook asb aan die onderkant van die blog 'n opmerking en deel ons opgewondenheid.

Groete,
JG

18 Oktober 2013

Hoërskool Swartland MTB & Gun Run 2013

Ek het 'n punt bereik waar ek voel daar is niks meer krag nie.  Dieselfde roetes wat ek ry, neem my langer.  Ek is energieloos en pap.  Dit klink of ek kla, maar die realiteit is dat my besige skedule en harde oefen program sy tol begin eis het.  Dit was verlede Dinsdag.  Ek het almal se raad gevolg en besluit om van die fiets af te bly vir ten minste 3 dae aaneen.  Die Hoërskool Swartland se bergfietswedren en die Outsurance Gun Run was die naweek en ek wou graag ten minste kon deelneem.  Ek het ook vir die Vitamien B Kompleks inspuitings gegaan om my 'n "boost" te gee.  Saam met die rus en "ontspan" het dit 'n baie positiewe reaksie gehad.  Ek kon die Saterdag deelneem aan die MTB van die skool.  Hildegarde is op 'n heel ander oefenprogram as ek - dit begin al hoe meer lyk of hare beter is!  Sy doen baie kragwerk, draf en fietsry.  Sy was dus reg vir die naweek se uitdagings!
Hildegarde besig met kragoefeninge - Foto Crosstrain Somerset Wes
Saterdag het aangebreek en die reën het op ons neergedaal.  Daar was enkele oomblikke waar dit nie gereën het nie en ons het besluit om af te ry na die Hoërskool Swartland waar die wegspring vir die 40 km wedren sou wees.  Ons was skaars op ons fietse of die reën het weer begin val.  Ons was nat voor die wedren!  Ek en Hildegarde het besluit om nie te hard te ry nie, aangesien ons bietjie kragte wou spaar vir die Gun Run.  Ek het ook geen idee gehad van hoe ek sou voel na die paar dae af nie.  Ek sou oudergewoonte saam met haar ry.

Deelnemers aan die 40 km wedren
Ons het weggespring teen 'n lekker stywe spoed en vinnig "gesettle" teen die spoed waarteen ons die res van die pad sou ry.  Ons het lekker gery en min probleme gehad.  Die reën het ons gevang na 30 km, maar ons het deurgedruk.  Die laaste 5 km was reguit teen die Suide-wind en ons het maar agter mekaar geskuil.  Hildegarde was die 1ste vrou oor die eindstreep en ons was beide onder die eerste 10.  'n Lekker dag wat beslis die potensiaal het om te groei.  Dankie aan al die plaaslike ryers wat in groot getalle opgedaag het!  Dankie ook vir Die Gazette vir die foto van my en Hildegarde!  Waardeer jul ondersteuning.

Sondag was die Outsurance Gun Run.  Ek het Hildegarde belowe dat ek 2 halfmarathons saam met haar sal hardloop (relatiewe begrip, sê eerder ek is in dieselfde resies as sy!).  Hierdie was die 2de een vir die jaar, ook beslis my laaste vir die jaar!  Ek het laas die SAD halfmarathon gehardloop, so ek was erg senuweeagtig.  Hildegarde wou onder 1 uur 40 min hardloop.  Ek wou graag 2 ure breek.  Lood het besluit om sy eerste halfmarathon te doen.  Ek was vol raad vir hom oor die roete en hoe ons tempo moet wees, ens.  Ons was 06:00 reeds by die Kaapstad Stadion.  Die kanon het 07:00 afgegaan en ons was op die pad.  Ek het heel goed gevoel tot op so 10 km.  Die bene het begin pyn en Lood het sy hande vol gehad met my.  Soos julle op die foto's sal sien was hy beslis die sterker hardloper tussen ons.  Hy moes letterlik staan en wag vir my van 14 km af.  Ek dink Lood het 'n 42.2 km (marathon) in hom!  Ek skuld hom ten minste 10 min.  Ons het uiteindelik na baie pyn (vir my) klaargemaak in op die kop 2 ure.  Hildegarde het reeds (lank) vir ons gewag by die eindstreep.  Sy het 1 uur 33 min gehardloop!  Sy was die 14de vrou uit 2 170 deelnemers!

Julle sal waarneem dat daar 'n nuwe logo links bo verskyn op die blog.  Ons het besluit dat al die energie wat in die Epic reis ingaan vir 'n groter doel aangewend kan word.  Ons gaan baie nodige fondse insamel vir Sistiese Fibrose.  Ek sal in die volgende blog meer vertel oor hoe ons by die projek betrokke geraak het en wat ons beplan om te doen.  Ons projek sal bekend staan as "We Ride To Breathe".  Gaan klik solank op die "logo" en gaan lees meer oor die behoeftes en die siekte.  Enige van die "logo's" op ons blog is gekoppel aan daardie instansie se eie webwerf wat jou meer oor hulle werksaamhede kan vertel.

Die einde van die jaar begin vinnig nader kom.  Indien jy in Januarie 2013 nuwejaars voornemens gemaak het, sal jy moet spring om dit te verwesenlik - daar is nog tyd!  Vasbyt vir die laaste stuk.  November is 'n besige maand vir ons, so ons is besig met voorbereiding vir alles wat oppad is!

Lekker oefen,
JG

08 Oktober 2013

Piket-Bo-Berg MTB, Koringblok, Kokkedoor 2013

Die afgelope 10 dae was redelik besig, minder oefen en meer werk!  Op Saterdag, 28 September 2013 het 'n hele groep van ons Malmesbury Fietsryklub lede die Piket-Bo-Berg bergfietsrit gaan doen.  Dit is adverteer as 'n 57 km rit, maar is op die dag verkort na 'n 53 km vanweë die reën van die vorige paar dae.  Dit was nie 'n groot groep wat die lang roete gedoen het nie.  Die wedren is berug vir baie klim en redelik tegnies.  Ons het weggespring en sommer binne die eerste 4 km 'n enorme klim begin.  Die veld is hier redelik uitgerek en ek het myself in die 5de posisie bevind.  Ek het van hierdie punt tot op 48 km geen ander fietsryers gesien nie.  Heeltyd alleen en ek het "gesuffer".  Die roete was nat, vol modder en baie tegnies.  Ek dink ek het dalk te vinnig begin die oggend en op 48 km het ek gebid dat die einde moet nader kom.  Ek het gehoor die mense by die waterpunte se gejuig raak al hoe gouer harder nadat ek verby hulle gaan, dit het beteken die ouens agter my is op my hakke en ek het omkyk, omkyk begin ry - 'n eerste vir my!  Ek was nog nooit in die posisie om te "race" vir 'n plek nie.  Ek het die manne in my nek voel blaas en nie probeer omkyk nie, slegs vorentoe.  Ek het begin kramp en my ketting was vol modder en wou nie meer glad vorentoe nie.  Die einde was in sig, ek het alles gegee tot na die wenstreep.  Ek was vyfde in 3 uur 30 min.  Charl du Plessis (Tier) was derde in 3 uur 4 min en Nico Pfitzenmaier het gewen in 2 uur 38 min.  Die hele gesin was op die wenstreep toe ek klaarmaak.  Dit was heerlik!  Hierdie is 'n baie lekker resies en bitter baie moeite word met die dag gedoen.  Dit dien ook as fondsinsameling vir die Piket-Bo-Berg Gemeenskap.  Ons sal beslis weer terug wees volgende jaar.



Verlede Dinsdag het ons ons eerste smakie van ABSA Cape Epic 2014 ontvang.  Ons is genooi na die "Rider Evening" wat by Canal Walk gehou is.  Verskillende sprekers het ons meer vertel oor wat om te verwag en waar ons nou reeds met ons voorbereiding moet wees - ons is gelukkig redelik op die regte pad!
Baie stories is met ons gedeel, maar die belangrikste punte was dat jy moet probeer om die ervaring te onthou.  Drie dinge waarna jy van jou kant moet omsien is:
  • Altyd glimlag
  • Jou "partner"
  • Jou boude (Klink my dis amper die belangrikste!)
Dit was 'n baie lekker aand en net wat ons nodig gehad het om onsself weer gefokus te kry en na die volgende rat oor te gaan.

Nexus span - Jacobus Truter, Stephan Venter, Jaco G en Hentie Engelbrecht
Vrydag was dit die Amos Plaasbediening Gholfdag in Wellington.  Hierdie organisasie werk onder die omliggende plase en bedien Die Woord aan plaaswerkers.  Jy kan duidelik sien op watter plase hulle betrokke is met die gesindhede van die mense en hulle doen voorwaar baie goeie werk.  Ons besigheid borg elke jaar 'n vierbal.  Vanjaar het ons 7de geëindig.  Lekker afwisseling om 'n slag weer bietjie stok te kon swaai!

Saterdag was dit die beurt van een van Hermon Landbouvereniging se ander hoogtepunte van die jaar - die Koringblokkompetisie vir 2013.  Elke produsent skryf sy beste kamp koring in.  Drie beoordeelaars besoek in die week voor die Saterdag die kampe en kies die top 5.  Ons as besoekers aan die dag gaan dan die Saterdag na die top 5 en kies die wenner van die dag.  Vanjaar se top 3 is as volg:
  1. Lombard Trust - Oom Dawie en Christoffel Lombard
  2. Vlakkerug - Oom Jannie en Stephanus du Toit
  3. Elandsberg Plase - Mike Gregor
Besoekers aan die dag in die koringlande
Dit bring ons dan by die laaste geleentheid van hierdie vol naweek, aandete gemaak deur Die Kokkedoor Mynhardt by Hofstraat Kelder van Wim en Karin Smit.  Die aand het bestaan uit 'n vyfgang maaltyd wat dan bedien word met wyne van Hofstraat Kelder.  Dit was 'n enorme bederf.  Ons was 'n lekker groep wat saam daar was die aand en het die ervaring terdeë geniet.  Die top wyn vir my persoonlik was die Barbera wat lekker saam met enige van die kosse gegaan het.  Baie dankie vir 'n heerlike aand!


Eerskomende naweek is dit die Hoërskool Swartland se bergfietswedren en dan my tweede (en laaste) halfmarathon vir 2013, die Outsurance Gunrun.  Ek het nie baie gedraf die laaste tyd nie, so dit sal maar seer wees!  Ek sal beslis nie probeer om die landspoedrekord te verbeter nie....Hildegarde gaan my weer baie ver weghardloop!  Dit is 'n baie mooi roete en verlede jaar het ongeveer 10 000 mense aan die verskillende afstande deelgeneem.

Volgende week meer oor al hierdie kaskanades.

Groete,
JG

27 September 2013

Karoo to Coast 2013

Ons opset by Hartenbos ATKV 
Die afgelope naweek was een van die lang afgewagte geleenthede van ons jaar, ons eerste Karoo to Coast van Uniondale na Knysna.  Ons het lank gewik en weeg of ons moet voortgaan om deel te neem aan die wedren, dis 'n logistieke nagmerrie en die feit dat ek en Hildegarde beide deelneem maak dit net nog ingewikkelder.  Ons het plek bespreek in Hartenbos by die ATKV oord en my ouers gevra om saam te gaan.  Hierdie was ook die eerste amptelike wedren vir ons Epic voorbereiding.  Ek wil vir al ons borge wat tot op hede na die tafel gekom het, baie dankie sê vir die ondersteuning.  Almal se inligting verskyn aan die regterkant van die blog!

Die naweek program sou dan as volg lyk:
Nuwe borge baadjie!


Die manne braai
Vrydagaand, 20 September 2013 - Slaan kamp op in Hartenbos en slaap die aand daar.
Saterdagaand, 21 September 2013 - Pa Kobus neem ons deur na Uniondale en ek en Hildegarde slaap in tente op die Hoërskool se rugbyveld.  Sondag, 22 September 2013 - Ry Karoo to Coast van Uniondale na Knysna en hele gesin kom haal ons in Knysna en slaap weer in Hartenbos.  Kamp vandaar in Hartenbos!

Hilge en Ghia
Redelike deurmekaarspul, maar soos julle kan sien, die ondersteuningsraamwerk was weer almal teenwoordig!  Om alles te kroon, was ons bure - Ivan, Ankea en Ghia Louw - ook in Hartenbos.  Hulle is saam met my ouers en Elsie (ons getroue huishulp) ons regterhande.  Die kinders speel permanent oor en weer en ons is soos een groot familie!  Die kinders was dus heeltyd besig by die see.


Tente op rugbyveld - Uniondale
Die wit is ys!
Saterdagmiddag is ek, Hildegarde en my pa deur Uniondale toe.  Ek het vir my en Hildegarde elkeen 'n eenman tent geboek om die deurmekaarspul van die volgende oggend te probeer afweer.  Die weer het mooi saamgespeel en daar was geen reën, maar die koue was met ons.  Ons het alles in ons vermoë gedoen om gepanser te wees teen die koue en om eerlik te wees was dit op die ou end nie so sleg nie.  Die registrasie proses was maklik en ons het 'n lekker spaghetti ete vir aandete gehad.  Vroeg in die bed gekruip om 100% te wees die volgende oggend.  Sondagoggend 05:00 was ons wakker en het stadig maar seker die koue begin trotseer.  Die tentjie het 'n yslaag oor gehad, maar toe die sonnetjie sy kop uitsteek het dit begin warmer raak.  Ons het muffins, koffie en oats vir ontbyt gehad en begin aanstoot na die wegspring.  Ons was in groep C wat beteken het ons moes 08h10 wegspring.


Jaco neem foto van Hildegarde!
Die skoot het geklap en ons was in die pad.  Ons eerste Karoo to Coast het amptelik begin!  Ons het vir ons 'n tyd van 4 uur 30 min as mikpunt gestel, maar moes vroeg al verstaan dat dit nie so maklik tussen al die mense gaan wees nie.  Daar is 'n wye spektrum van fiksheid- en uithouvermoë vlakke, dus die opdraendes waar slegs tweespoor paadjies is, was maar redelik beknop.  Daarna was dit 'n "oop" wedren en ons kon lekker gemaklik ry.  Hierdie is 'n pragtige roete met van die mooiste natuurskoon wat ek nog op my bergfiets beleef het.  Dit wissel tussen die stiltes van die Klein Karoo en die bosse van Knysna.  Dit was nooit warm nie, maar ook nooit onaangenaam koud nie - net perfek!  Ons het geen probleme op die pad gehad nie en toe die laaste 30 km aanbreek het ek vir Hildegarde gesê dat as ons hard ry, ons nog 'n kans het om ons mikpunt te behaal.  Sy het nie op haar laat wag nie en het 'n baie sterk poging ingesit.  Ons het lekker gejaag en klaargemaak in 4 uur 40 min.  Ons mikpunt met 10 min gemis, maar steeds baie tevrede.  Hildegarde was die 32ste vrou.


Team Nexus op die eindstreep!
Daar was 'n baie lekker atmosfeer by die eindpunt.  Die Lions Klubs van Uniondale en Knysna het baie hard gewerk om 'n groot sukses van die geleentheid te maak.  Fondse wat ingesamel word op hierdie geleentheid word gebruik vir die Lions se "SightFirst" projek.  Die projek behels oog genesing operasies vir die armes en dien dus weereens 'n uitstekende doel. Baie dankie vir jul inisiatief en harde werk!  Baie geluk ook met 'n uitstekende geleentheid!  Ek sal beslis enige persoon wat van 'n uitdaging hou aanbeveel om hierdie wedren te gaan doen.  Dit is beslis nie "a walk in the park" nie.  Oefen genoeg, anders gaan dit 'n lang dag op die fiets raak.  Dit klink afdraand, maar jy klim rondom 1 800 m vir die dag!
  
Die Maandagoggend het Hildegarde vir 'n uur gaan draf en ek het 'n "recovery ride" van so bietjie meer as 'n uur gedoen.  Dit was heerlik om langs die see tussen Klein Brak en Hartenbos net rustig te ry.  Sou graag elke dag so wou kon oefen!

"Recovery Ride" teen die see!
Hierdie naweek neem ek deel aan die Piket-Bo-Berg wedren.  Sal volgende week meer daarvan vertel!

Lekker bly,
JG