Wys tans plasings met die etiket Adventure Cycles. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Adventure Cycles. Wys alle plasings

29 Julie 2013

Gauteng toe

Scott Scale 900 RC
Laat ek begin deur jul te vertel hoe die afgelope naweek afgespeel het.  Daar het so baie dinge gebeur, dit voel amper asof dit langer as 'n naweek moes wees.  Ek is Vrydag rondom middagete op na Gauteng om my nuwe "Scott Scale 900 RC" te gaan haal.  Ek het verlede Maandag die advertensie op www.thehub.co.za gesien en dadelik geweet die fiets is vir my bedoel.  Ek was nie eerste in lyn vir hom nie, daar was reeds ander belangstelling, maar die aand het Iwan Roux (vorige eienaar) my laat weet die fiets is myne as ek hom wil he.  My antwoord was 'n besliste JA!


Welkom by Lanseria
Ek het reëlings begin tref om Vrydag op te vlieg, die fiets op te tel, by my broer te kuier en weer Saterdagaand terug te vlieg - regte Stralerjakker!  Ek is toe Vrydagoggend by Adventure Cycles om waar ek 'n boks gehuur het vir die naweek - ek kan dit aanbeveel indien jy ooit met 'n fiets moet reis.  Gaan kyk by www.bikesafe.co.za hoe die bokse lyk en werk.  Jou fiets is veilig en die boks sluit, so niks kan verdwyn nie.  Ek is na die lughawe en is toe om 11:20 in die lug oppad na Lanseria.  Ek sal nie sommer weer OR Thambo toe vlieg nie - Lanseria is lekker rustig en dinge gaan net baie makliker, ook goedkoper.


Ek en Iwan
Lekker Kaapse wyn!
My broer (Stephan Geldenhuys) het my opgetel en ons is Parkhurst in Johannesburg toe.  Dit was 'n eerste vir beide van ons - dankie GPS!  Vrydagmiddag verkeer in 
Johannesburg is nie vir sissies nie.  Teen hierdie tyd was ek al net so opgewonde om my bike te sien soos wat ek was toe Hildegarde my gevra het om te "kys" destyds!  Ons het by Iwan Roux se huis gestop en voordat ek die fiets gesien het, het ek geweet die fiets sal netjies wees.  Hul huis is onberispelik en ek kon 'n trots by Iwan bespeur en het geweet die fiets sal met dieselfde trots hanteer wees.  Ek was ook nie verkeerd nie. Top kondisie en elke sent werd - dankie Iwan.  Iets wat ek nie vroeër genoem het nie was dat Iwan my gesê het ek skuld hom Kaapse wyn omdat hy so baie mense moes wegwys.  Ek het toe so gemaak (sou elk geval) - dit tel nie as omkoop nie!

Hyundai vol gelaai!
Ek en Stephan - Monte Casino
Ons moes toe die fiets in die boks in 'n Hyundai I20 kry, nie so maklik, maar beslis doenbaar - sien foto!  Ons het van Parkhurst gery na Monte Casino vir lekker aandete by een van my gunsteling restaurante - Col'Cacchio.

Gesonde Ontbyt
Ellispark
Die volgende oggend het ons 'n rustige ontbyt by Mugg & Bean gehad, vanwaar ons na Ellispark vertrek het vir Stephan se wedstryd wat hy moes blaas Goue Leeus O/19 vs Vrystaat O/19 om 13:00. Hy moes ook 15:00 lynregter wees by die O/21's.  Ek moes 17:40 op lughawe wees.  Dit beteken dat as hy 17:00 klaar is met die wedstryd ons 40 min Lanseria toe het van Ellispark af.  Enigeen wat daai paaie ken sal weet dat dit feitlik onmoontlik is, maar ons moes probeer!  Ellispark was 'n enorme voorreg.  Ek was in die kleedkamers, in die tonnel en ook op die veld.  'n Voorreg wat ek dink nie vir almal beskore is nie - dankie Boet!


Ons het daai Hyandai oop kêtels lughawe toe gejaag.  Ek het solank ander vlugte begin "Google".  Om 17:43 is ek Lanseria binne, sonder my fiets, Stephan het nog aangekom met hom.  Ek is amper bo-oor die toonbank en het gemaak asof ons in 'n ongeluk was en dit net-net lewendig tot by lughawe gemaak het.  Hulle het my gehelp en om 17:50 het ek alweer geklim!  Ek was lanklaas so verlig.  Dit het gesorg vir enorme opwinding (en stres) na 'n fantastiese dag en 'n half saam met my broer.

Met my aankoms tuis rondom 21:30 het ek sommer dadelik begin om weer die fiets inmekaar te sit net vir ingeval dit ophou reen en ek die volgende dag dalk 'n spin kan gaan vat - kon toe nie en moes maar noodgedwonge Sondag padfiets ry.

My "trippie" was op verskillende vlakke vir my uiters geslaagd.  Ek het 'n great ou in Iwan Roux ontmoet.  Ek het meer as een nuwe plek in Johannesburg omgewing gesien en ek het kwaliteit saam met een van my beste pelle (my boet) gehad.  Als in als 'n uiters suksesvolle "roadtrip" en 'n lekker verhaal om te vertel!

Volgende op die lys is my en Hildegarde se "bike setups" met professionele fietsryer Johann Rabie voor Saterdag se Die Burger Bergfietsren.  Sal 'n blog skryf net oor die "setup" aangesien daar baie mense is wat nou begin ry en dalk nie die belangrikheid van so iets besef nie.  Meer daaroor volgende keer!

Lekker jaag!
JG

12 Junie 2013

Gesinsvermaak

Ons vra onsself baie die vraag, wie oefen wanneer en wie gaan na die kinders kyk? Ons is 'n baie hegte gesin en geniet mekaar verskriklik baie. Dit is dan ook nie vir ons 'n straf om net saam te wees nie. Die kinders word groot met ma en pa wat aktief is. Hulle sien die voorbeeld wat ons probeer stel. Eet gesond, wees aktief en probeer soveel as moontlik buite doen.  JJ het 19 Mei verjaar en ons het gevoel dat in ons Epic jaar dit goed sal wees om vir elke kind ook 'n nuwe fiets te gee vir hul onderskeie verjaarsdae. Dit was JJ se eerste fiets en hy was baie opgewonde. Om dit regverdig te maak (so hoop ons!) het ons Hilge se fiets saam met JJ s'n op sy verjaarsdag gegee sodat hulle darem saam kan ry. Adventure Cycles was weer byderhand en het met goeie diens aan al ons behoeftes voorsien - dankie Niel en Annemarie!

JJ op fiets
Hilge op fiets
Ons het die afgelope Sondag die kinders se fietse op die bakkie gelaai en hulle na 'n gelyk stuk teer geneem om bietjie te ry - ons straat waar ons woon is baie skuins, so kan nie kanse daar vat nie! Hulle het dit verskriklik geniet om net sorgeloos te kon jaag. Hilge kom baie mooi reg met haar "backpedal" en JJ is 'n waaghals wat nog sy ma se hart gaan laat staan met die kanse wat hy vat. Die namiddag kon ek en Hildegarde ook 'n lekker 2 uur sessie inpas en fantastiese sonskyn weer na al die reën - blou lug, sneeu op die berge en groen koringlande. Waar wil jy anders wees?  Ons het 'n baie goeie ondersteuningspan wat in sulke tye as ons saam wil oefen na die kinders kan kyk - dankie almal!

Epic Partners
Hildegarde
Iets waaroor ons baie opgewonde is, is ons "race kit". Ons het die ontwerpe gekry en ons is baie tevrede. Hopelik is ons borge net so tevrede! Ek dink dit beeld presies uit waarvoor ons 'n liefde het - die aarde se kleure, die natuur. Die bruin is die grond wat ons moet bewerk en die groen die gewas (voedsel vir die mensdom) wat daarop groei. My werk verseker dat ek oplossings vir my kliente rondom peste en plae kan gee wat op die ou end groter oeste teweeg bring en sodoende meer voedsel vir die wereld. 'n Baie lekker werk en 'n enorme voorreg!


Kyk bietjie na die voorbeeld van ons hemde en gee opinie!  Dit was nogal 'n groot uitdaging om al die borge wie deel was van die  borg van die klere se name en logo's op die regte plekke te laat verskyn. Ons dink dit het baie goed uitgekom.  Hopelik sal ons oor 4 - 5 weke die besending kry en vandaar sal ons met dit kan deelneem, baie opgewonde.

Vir nou eers is dit werk, oefen en al die normale dinge van die lewe.  Hier kom weer bietjie reën, so byt vas en kom weer buite as dit oor is.

Groete tot later,
Jaco G

23 Mei 2013

Bergfiets mal

Die Maandag nadat Epic 2013 klaargemaak het, was ek een van die gelukkiges om 'n "early bird entry" vir 2014 in die hande te kon kry.  Daar was net 100 en dis binne 34 sekondes uitverkoop!  Op daardie stadium het ek nie gedink aan 'n "partner" nie, ek wou net eers entry vasmaak!  Ek bel toe vir Hildegarde in ekstase en vertel haar ek het entry gekry.  Sy was baie bly en bel my so 'n halfuur later terug en se sy gaan my "partner" wees!  Een van my grootste drome gaan waar word en ek is so bevoorreg om dit saam met my vrou te kan doen!

Scott Scale 910
Al negatief is dat my kostes nou sal verdubbel met alles, waar 'n buite "partner" vir sy eie kostes verantwoordelik sou wees, maar dis 'n klein prys om te betaal vir die groot voorreg.  Ons het dadelik begin planne maak oor hoe ons befondsing kan kry.  My verskaffers genader om borgskappe (sien bo regs), lootjies verkoop aan vriende, ondersteuners en familie, skape wat geskenk word deur kliënte - 'n fantastiese spanpoging, ons is baie geseënd!

Om aan die gang te kom, moes ek vir Hildegarde 'n bergfiets koop, Adventure Cycles is toe gekontak en ons kon Hildegarde se Epic fiets kry - Scott Scale 910, 'n pragtige masjien en weeg slegs 9.8 kg!


 . 
     Hildegarde oefen

    
Ek en Hildegarde
Ons het 'n paar keer saam geoefen en toe ingeskryf vir NG Kerk Philladelphia se bergfiets rit op Saterdag 27 April 2013.  Die roete was glad nie tegnies nie, net een baie rowwe klim, ook 'n gedeelte waar ons halflyf deur die rivier moes loop.  Ek het my en Hildegarde se fietse gedra en was bitter bly oor die min gewig van haar fiets.  Die "downhills" was vir haar bitter moeilik en sy het nog nie die selfvertroue gehad om dit gemaklik te ry nie - all in good time!  Bietjie oefen en sy sal daarmee gemaklik wees.
Philladelphia eindstreep

Ek, Hildegarde en Lood het heeldag saamgery en klaargemaak in 2 uur 40 min - dit was toe net 45 km.  Hierdie was
'n lekker resies vir haar om weer haar terugkeer na bergfiets te maak na 5 jaar!  Van hier kan dit 
beter raak.

Volgende aan die beurt was die SAD halfmarathon te Wellington op 1 Mei 2013.  Meer daarvan volgende keer.

Tot later,
Jaco G

19 Mei 2013

Argus MTB & Cape Argus 2013

Ek en Lood
Op Sondag, 3 Maart 2013, was dit die Argus bergfietsrit te Boschendal se beurt.  Teen hierdie tyd was ek al redelik moeg "gerace" aangesien Februarie baie besig was.  Een van die hoof redes vir die doen van hierdie wedren was die feit dat jy 'n derde medalje ontvang as jy dit en die Cape Argus doen.  Ek en Lood is weer die Sondag oggend saam deur Boschendal toe en beide het goed gevoel vir die 52 km wat voorlê.
Lekker afdraand
Ek en Lood in die wingerd

Ons het saam weggespring en die wedren was van die begin af lekker vinnig.  Na 25 km het ons vir mekaar gese dis te maklik, want tot op daai stadium was daar geen wesenlike klimme nie.  Die weer was fantasties en ons het die een noemenswaardige klim lekker uitgesukkel en die 52 km saam in 2 uur 56 min voltooi.  Dit was baie gesellig by die eindstreep en ons het lekker saam met vriende daar gekuier.


Hildegarde - Merida
Jaco - Scott (Gumtree)
Normaalweg oefen mens eers met toerusting voordat jy aan 'n groot wedren daarmee deelneem, maar die Sondag net na die Argus MTB soek ek vir Hildegarde 'n padfiets op die internet en kry toe vir my een!  Ek kontak die persoon en hy se die fiets is myne met al die ekstra's! Scott met Easton rims, helmet, bottelrakke, nuwe saal en pedale!  Ek koop toe maar vir Hildegarde 'n nuwe Merida by Adventure Cycles op Wellington.  Adventure Cycles word later 'n enorme deel van ons Epic voorbereiding en beide Hilge en JJ se fietse, asook Hildegarde se bergfiets is ook van hul afkomstig.  Hierdie nuwe padfietse gaan min oefening kry voor die Argus!

Presies een week later, 10 Maart 2013, was dit tyd vir die grote!  Die grootste padfietsrit ter wêreld, die Cape Argus Cycle Tour!  Hildegarde het met haar kansellasie 'n fantastiese wegspringtyd gekry om 07:10!  My geluk was dat ek om 08:48, na al die liefdadigheidsgroepe moes wegspring!  Hildegarde is hierdie keer saam met Lood vroegoggend al weg, terwyl ek die kinders klaargemaak en by ouma Fanie en oupa Kola gaan aflaai het.  Parkering met my wegspringtyd was 'n nagmerrie.  In my Nexus klere was ek darem betyds by wegspring en kon toe die skoot klap in die pad val.  Ek moes alles insit om verby al die stadige groepe te kom, maar nerens kon ek iemand optel wat my spoed ry nie en het geweet dat 'n harde dag voorle.  Padfietsry werk op die beginsel dat jy as 'n groep in mekaar se "slipstream" ry.  Die werk word gedeel en ryers maak beurte om voor te ry om energie verbruik te bestuur.  

Kort na Simonstad is daar 'n klim op na Smitswinkel toe.  Dis op ongeveer 40 km die rit in.  Die ou by wie ek die fiets gekoop het, het my gese die "shifters is sticky" dit het my nie gepla nie, want met die oefen het ek agtergekom dat as ek hom ligte tikkie op kant gee hy gemaklik ratte verwissel.  Teen die klim op wou hy net niks weet van ratte verander nie.  Ek het afgekyk om fout te soek en toe ek opkyk gaan staan die ou voor my in die pad doodstil! Ek raak sy wiel en val....Ek weet nie presies waarop ek val nie, maar voel my ribbes is bitter seer!  Ek staan op, spring op my fiets en trap, maar o wee, my ketting is af en die "shifters" staan heel skeef!  Ek vat toe maar my tyd en kry die ketting op en begin stadig aantrap.  My skouer en ribbes pyn en ek is kwaad vir myself.  Elke hobbeltjie in die pad voel ek in my ribbes.  Ek was vas oortuig hulle is gekraak of tussenribspiere beseer.  Na so 65 km het ek aangeneem dat Hildegarde al klaar moes wees en ek het haar gebel.  Sy het my meegedeel dat sy veilig is en 3 uur 48 min gery het!  Ek was vas oortuig dat ek 4 en 'n half ure gaan ry, Chapman's Peak en Suikerbossie was nog immers voor!  Ek het my ritme stadig maar seker teruggekry en teen 'n stadiger as gewoonlik, maar tog aanvaarbare pas aangebeur.  Chapman's en Suikerbossie oor en toe 10 km voor die einde 'n paar vinnige krampe in elke been en toe oor die wenstreep waar Hildegarde en Lood vir my gewag het tussen al die duisende mense.  Hulle kon my nie kry en Lood vra my toe oor die telefoon of ek ooit by die regte wenstreep is!  Hy het 'n skitterende 3 uur 28 min gery, my droomtyd!  


Hildegarde - Suikerbossie
Jaco - Chapman's Peak
Ek het die 4 ure net-net gemis, so baie werk vir volgende jaar.  Hildegarde het my weer gewen!  Geluk Babes met 'n uitstekende dag.  Haar fiets het soos 'n droom funksioneer en sy het net hier en daar met ratte gesukkel omdat hulle nog te styf van nuutgeit was!  Dankie Adventure Cycles.

Ons het beide die resies baie geniet en sal beslis volgende jaar weer probeer ry, dis darem immers in dieselfde maand as die Epic!


Mooi bly,
Jaco G