Dag 6 – 02.03.2017
Ons aanvanklike reeling was om te vlieg van Parys na Nice,
maar ons wou graag meer van die platteland sien en ‘n baie goeie manier om dit
te kon doen was met die TGV trein. Die
TGV is Frankyk se interstad hoe spoed spoorweg opsie wat dit vir baie reisigers
‘n beter alternatief as vlieg maak. Baie
eenvoudig en maklik en in my opinie baie meer ontspanne as die hele lughawe
episode wat gewoonlik met baie senuwees gepaard gaan. Ons trein het Gare de Lyon verlaat en ons het
gereis na Nice-Ville.
Dit was ‘n 5 en ‘n
half ure reis. Ons is wel op ‘n stadium
deur ‘n Franse tannie stilgemaak toe ons viermanskap te hard geboer het! Sy kon kwansius nie konsentreer op haar
leesstof nie, ek persoonlik dink sy was nuuskierig om te hoor waaroor ons praat
maar kon nie verstaan nie. Dit is een
ding wat baie moeilik is vir ons om te verstaan en Max het dit aan ons
bevestig, die Franse se Engelse opleiding is pateties en hulle sonder hulself
heeltemal af van die buitewereld. Min
van die mense kan Engels verstaan en elkeen is baie op homself gefokus en nie
regtig op wat ander om hulle doen nie, behalwe as jy iets verkeerds doen soos
wat ek later in die blog sal verduidelik.
Hul moet hul vlerke dalk so ‘n bietjie sprei en meer verwereld.
Om in Nice te kom ry jy vir ‘n lang stuk langs die see af en
ons kon duidelik sien waarom hierdie streek vir die hele wereld so ‘n bekende
vakansie bestemming was. Die doel van
ons besoek was slegs om te kon se dat ons wel in Nice was. Al was dit die enigste doel was dit beslis
die moeite werd. Hier ruik jy geld, Nice
nie so erg soos Monte Carlo en Monaco nie, maar dinge is verseker anders hier
as in Parys. Vir een ding is hier meer
ruimte. Die verkeer vir ons is maar ‘n
nagmerrie aangesien alles verkeerdom is.
Ons eerste hekkie was toe ons in Nice land om ons hotel te
kry. Alhoewel dit slegs 300 m van die
stasie af was, was die deure gesluit.
Daar was glo herstelwerk besig om plaas te vind en ons is na ‘n ander
hotel geskuif. Dit het ‘n tydjie gevat,
maar ons het darem die nuwe een wat deel was van dieselfde groep, gekry. Al die kamers tot dusver was baie klein!
Tasse neergesit en ons is strate toe. Die 3 musketiers is te voet see se kant toe
en ek is na Holiday Bikes om vir my ‘n trapfiets te huur. Ek se trapfiets, want die ander 3 het vir
hulle die volgende dag “scooters” gehuur.
Ek het hulle 3 by ‘n strand restaurant gekry waar Jacobus en Pieter
elkeen met 1 lt bier gesit het! Ek en
Christoffel het die kleiner 50cl
weergawe gevat om ons in Nice te verwelkom.
Ons is vandaar na die Hard Rock Café vir aandete en ons het weggele aan ‘n Trio-Combo van hoender,
“pulled pork” en “spareribs” alles met ‘n “Hickory” sous. Die volgende dag sou ek Nice te padfiets
verken en rondom ete het die 3 musketiers besluit om “scooters” te huur en nie
die “Hop-on, Hop-Off” bus nie.
Ontbyt was nie ingesluit by Nice se verblyf nie. Ons was dankbaar, want die Franse is nie
groot op “bacon” en eiers nie. Ons is
weer af see toe (1 km se loop van hotel) vir ontbyt. Ek was uitgerus in my fietsryklere met my KTM
padfiets en tekkies. Ons het elkeen ‘n
English Breakfast geeet vir 13.50 €.
Dit was ‘n pragtige dag en ons was reg vir die rykmanswereld. Die manne kon met hul internasionale rybewyse
tot en met ‘n 50CC motorfiets huur vir 35 € en my padfiets het my 26 € gekos. Ons paaie het geskei en ek is op my eie met
die fiets weg terwyl hulle die verkeer trotseer het met hul “scooters”.
Alhoewel daar derduisende fietsryers jaarliks hier ry, bly dit
maar steeds vir iemand van buite ‘n nagmerrie.
Daar is wel ‘n paar plekke met gereserveerde fietspaadjies, maar vir die
res is jy op straat.
Veral die tonnels
is nogals angswekkend aangesien die voertuie teen ‘n redelike spoed jaag. Ek was 7 ure in my fietsryklere waarvan ek 4
ure effektief gery het. Sommige plekke
soos die Pienk Paleis mag ek nie ry nie en mos my fiets stoot by al die trappe op,
maar ek kon oral uitkom waar meeste toeriste gaan. Een voordeel wat ek gehad het bo die
“scooters” was dat indien ek vasdraai met pad ek sommer gou op sypaadjie
spring! Ek het die “scooter” manne by
die Pienk Paleis gekry en hulle het gestraal soos opgewonde kinders oor hul
manier van toeris wees. Hulle is op
Paleis toe, ek was reeds daar voor hulle my gekry het en ons paaie het weer
geskei.
Op hierdie stadium het ek reeds
30 km gery en wou nou begin klim. Ek het
seelangs tot in Monaco gery en wou bo-om, bergop terugkeer na Nice. Ek is deur die F1 Monaco renbaan en kon stop
vir die foto’s hieronder. Op die dag se
roete was die pragtigste poskaartmooi uitsigte en jou kon sien hier word nie
met geld gespeel nie. Die karre op die
paaie is die duurste van die duurstes.
Die hawes le vol van die wereld se duurste bote en seiljagte. Die taxi’s is voertuie wat enigeen se
droomkar is en die hotelle en huise het net die beste van die beste. Dit alles maak steeds nie op vir hoe nors en
onbeskof die klomp blikskottels is nie.
Dis asof hulle lui is om ‘n mens te probeer help.
Ek het ‘n klim gekry wat gevoel het asof hy reguit op hemel toe
gaan en my gehuurde padfietsie het die knop uitgekreun. Ek was bo en kon die wereld met ander oe
beskou. Dis ‘n klein plekkie wat geskei
word met ‘n klom baaitjies en in elke een probeer die manne net duurder en
beter gaan.
Die musketiers was nog besig
daar onder in die verte en ek het begin terugkeer Nice toe wat van hier af
redelik maklik gelyk het. Ek was op ‘n
semi-hoofweg deur ‘n 1.8 km tonnel waar ek ‘n paar ongemaklike toeters van
trokke gekry het. Iets het my die idee gegee
dat ek nie hier hoort nie. Ek moes erens
verkeerd gedraai het, want toe ek weer sien staan ek voor tolhekke. Ek was mos nie ‘n motor nie, so ek spring op
die sypaadjie en ry om die tolhekke. Na
so 500 m het dit vir my begin voel of ek met ‘n laserkol op my rug ry. Ek was almal se teiken. Die mense le op hul toeters en wys die aller
vieslikste handgebare. Hierdie blog word
gelees deur kinders, so ek kan ongelukkig nie uitbrei op die tekens nie! Ek was nou beslis op verkeerde plek en het ‘n
ligte angsaanvalletjie gehad. Waarheen
nou? Die mense gaan my vrek ry of
toesluit. Ek het so ‘n entjie afgery en
‘n afdraai gesien wat toegekamp is. Die
bergfietsryer in my het besluit hier moet ek oor. Ek is oor die draad met die fiets en uit die
spervuur. Ek is met die padfiets met 8
bar bande by ‘n grondpad af. Ek het net
heeltyd gebid dat niemand my sien nie.
Ek het geen idee gehad waar ek is nie en maar net op ‘n positiewe
uitkoms gehoop. Ek was kwaad vir myself
en het die ander manne wat in die dorp rondry met hul “scooters” beny. Stadig maar seker het ek afgesak in iets wat
lyk soos ‘n plaas. Daar was olyfbome
rondom my en skielik was daar huise. Ek
was gelukkig oppad af, want die paadjie wat nou verander het in teer was die
steilste wat ek nog in my lewe gesien het.
Daar moet stukke van 25% wees en ek was bly ek hoef nie op te gaan
nie. Ek was nou reeds langer as 3 ure
vir die dag op die fiets en het met my stop en stap manier al oor die 50 km
gery. Nice se middel was voor my en ek
was verlig. Ek het steeds heeltyd
omgekyk of iemand my nie dalk agtervolg met booie nie, maar dit het gelyk of ek
veilig is. Nou in retrospek so ek dit
natuurlik nie anders wou he nie en die hele avontuur het bygedra tot die genot
van die hele fietsrit, maar op daardie spesifieke oomblik was ek skytbang! Ek is strandlangs terug hotel toe en die
musketiers was ook oppad terug met hul “scooters”. Die weer was besig om vinnig te verander en
mens kon sien daar was onweer oppad. Ek
het gestort en hulle weer teen die strand gekry vir ‘n bier. Vir die eerste keer kon ons oorlogstories
uitruil oor ons dag se wedervaringe. In
my opinie het ek die lekkerste dag gehad en hul opinie hulle!
Ek was nou nie deel van die “scooter” avontuur nie, maar ek kan
wel verslag doen daaroor soos rondom die bier aan my deurgegee. Christoffel jaag vooruit, Jacobus jaag vir
Christoffel en Pieter (wat 15 jaar laas op ‘n motorfiets was) raak agter. Hulle, tipies plaas, stop en ry soos hulle
wil en die Franse verkeer moet by hulle aanpas.
“Om hier te ry is maklik, as jy iets verkeerd doen gooi jy net jou hande
/ arms in die lug en se jammer!” Hierdie
dag was uiters suksesvol, maar die lekker was nie oor nie, aandete was nog
oppad….
Ek hou nie van die woord boer nie, ek gebruik graag die woord
produsent, maar jy kan nie van ‘n produsentklong praat nie, jy praat van ‘n
boerklong. Nou hierdie 4 boerklonge (ek
in ‘n baie mindere mate, maar ook tog na die fietsry) hou van eet. Die prys van ‘n ete in ‘n restaurant vir dit
wat jy kry teruggewerk na die Suid-Afrikaanse konteks is eintlik belaglik. Hierdie is nie ‘n kos blog nie, maar ek moet
terugvoering gee oor die laaste aand in Nice se ete. Ons weet dis naby Italie so ons het die kans
gevat om by ‘n pizza / pasta restaurant te gaan eet – Villa D’Este. Ons kon nie kies tussen pizza of pasta en het
besluit om helfte, helfte te gaan. Ons
moes dalk net een van elk gevat het. Die
porsies was enorm. Hulle het vir ons 3
bakke brood vir voorgereg gebring, toe ‘n skottel van die macorroni met
bolognese sous (porsie vir 2) en toe die 2 pizzas! Sien onder die foto. Dit was verskriklik baie kos, maar ons het
hul probeer wys hul gaan ons nie baasraak en die bakke probeer leegkry. Ons het ‘n heerlike bottel rooiwyn van Cote
du Rhone by dit gehad en ons kon ‘n glasie klink op ‘n baie suksesvolle dag!
Die terugstap huistoe was net die regte
medisyne om die kos te laat sak en ons kon tevrede en dankbaar gaan rus. More gaan ons met die trein na Milan…ek
vertel julle volgende keer meer oor die chaos van daai “trippie”!
Au Revoir,
JG
Sjoe, ek is darem bly dat jy heelhuids anderkant uitgekom het!! Dit is voorwaar 'n avontuur en 'n belewenis!!
AntwoordVee uit