Dit sal geensins help om eers te probeer verduidelik waarom daar niks op hierdie blog aangegaan het die afgelope paar maande nie, maar nou ja, ons is nou hier, 2 dae voor Comrades 2016 en dis waaroor ek gaan verslag doen. Ek gaan vlugtig, al is dit net vir my eie dagboek doeleindes, neerpen wat alles in die Geldenhuyse se lewens aangegaan het die laaste paar maande.
Na verlede winter se skrywe het ons steeds elkeen aangegaan met ons oefening soos altyd, doelwitte het net baie verander met baie van die "bucket list" items wat voltooi is. Dinge wat vir my voorgelê het was steeds Wines2Whales, Double Century en Attakwas. Hildegarde en Lood aan die ander kant het na haar en Marisa se African X besluit dat Comrades hul volgende doelpaal is. Deur die winter is daar geoefen om September by die Cape Town Marathon te probeer kwalifiseer vir Comrades. Die volle ondersteuning span was daar om hulle 2 aan te moedig.
Die Cape Town Marathon was natuurlik die dag nadat Suid Afrika teen Japan in die Wereldbeker verloor het en Pietman kon nie die foto oomblik met 'n Japanese atleet laat verbyglip nie. Beide Hildegarde en Lood het kwalifiseer en ons het geweet Comrades gaan ons in 2016 sien.
In my vorige blog het ek verwys na Blesfontein waar ons elke jaar gedurende die winter gaan kuier. Daai wereld het ons en die Fouche's se harte gesteel, maar wat ons nie geweet het nie, is dat die ander twee Geldenhuyse (Pietman en Woel) net so versot is op die Tankwa Karoo. Die aand na ons winterbesoek van 2015 aan Sutherland het ek spottenderwys vir Saretha gevra of ons dalk saam moet kyk na 'n strandhuis of 'n plekkie in die Tankwa en haar antwoord was beslis Tankwa, want ons kan altyd kamp by die see! Die Dinsdag stuur sy aan my 'n advertensie wat op Gumtree is. Ek het kontak gemaak met die eienaar en om 'n lang storie kort te maak, nadat Saretha en Pietman-hulle ook gepraat het is die Mooibergplaas (Edms) BPK maatskappy gestig en ons het ons eie stukkie hemel gekry.
Ons gesin is "gegear" vir 'n man en 'n vrou wat oefen, die gym, my werk, kinders op skool, vergaderings in die aande, maar Comrades oefening het alles kom verander! Tussendeur moes Hildegarde ook Double Century en Wines2Whales ry waarvoor sy fietlik niks op die fiets was nie. Haar gym, draf en die uur of 2 per week het haar egter deur beide gekry en die fokus kon 100% na die Comrades verskuif vanaf Desember 2015. Dit was presies 6 maande voor Comrades en Hildegarde het genoeg tyd gehad met die gym wat toe is om baie "base" myle in te kry voordat die hoer intensiteit oefening begin. Drawwers hardloop maar altyd met die een of ander besering en in Hildegarde se geval was daar geen uitsondering nie. Sy het egter maar altyd deur die pyn gedruk (want sy is hardegat) maar dit het sy tol begin eis toe sy nie haar doelwitte op haar program kon behaal nie. ITB is pynlik en jy moet dit rus en behandel. Rus is nogal 'n moeilike woord vir my bruid om te verstaan, maar sy het besef Comrades is die doelwit en ons het 10 weke gehad om dit reg te kry. Intensiteit is afgebring en rehabilitasie is aan die gang gekry. Lood het op sy beurt voortgegaan met sy program en die kilometers kaf gedraf en die kilogramme het weggesmelt van sy liggaam. Hy het 'n doelwit vir 'n gewig vir Comrades gehad en was baie vinnig oppad daarheen.
Intussen het ek saam met my skoolvriend Dirk Kotze, wat besig was om voor te berei vir sy derde Epic, aan die Tankwa Trek wat deelgeneem. Ons het vir die welsynsorganisasie waarvoor hul alreeds 2 Epics voltooi het, die J9 Foundation gery. Ons het 3 fantastiese dae gehad en sal hierdie geleentheid aan ieder en elk aanbeveel. Dit is nie net van die beste roetes om met 'n bergfiets te ry nie, maar ook die hele atmosfeer rondom dit is 'n belewenis. Baie goeie slypwerk is gedoen deur baie van Epic 2016 se ryers!
Op 1 Maart 2016 het @Hildegarde sy nuwe Spinstudio oopgemaak. Ons het ondervind dat daar 'n groot behoefte is vir so iets in Malmesbury. Klasse is lekker volgeboek en dit is 'n goeie toevoeging tot die gym soos wat hy nou daaruit sien.
Die ITB behandeling het baie goed verloop en Hildegarde was ingeskryf vir die Two Oceans Ultra Marathon wat deel sou uitmaak van haar voorbereiding vir Comrades 2016. Doelwitte het baie verander en tye was nie meer belangrik nie, maar wel die behoefte om te weet hoe haar vorm lyk presies 8 weke voor Comrades. Ons het die dag ingegaan, baie senuweeagtig en heeltemal onseker oor wat die been gaan doen. Die doelwit was om 30 km te hardloop en te kyk wat gebeur en indien die pyn te erg is, op te hou en met rehabilitasie voort te gaan tot so na as moontlik aan Comrades. Hildegarde hou egter nie van "DNF" agter haar naam as sy ingeskryf is vir 'n item nie en sy het in 5 uur 20 min die 56 km klaargemaak. Daar was natuurlik moeilike tye in die wedloop, maar sy het gevoel haar geluk is besig om te draai. Haar eerste Ultra met 'n effense besering, dinge kan net beter gaan, of so het ons ten minste gehoop.
Dit was skoolvakansie en die Geldenhuyse was oppad Kruger Wildtuin toe vir 4 nagte. Ek het grootgeword met feitlik elke tweede jaar in die Wildtuin gedurende die Julie-vakansie, maar met die aard van my werk is dit deesdae my besigste tyd van die jaar. Ons het die oggend na die Two Oceans gevlieg en dit was so uitgewerk dat Hildegarde die week wat ons weg van die huis was sou rus aangesien jy nie in die Wildtuin baie km's in die kampe kan afle nie. Ons het wonderlike gesinstyd spandeer en die tyd saam verskriklik geniet. Die Donderdag het Hildegarde begin kla van 'n krapperige keel en dat sy sukkel om asem te haal. Ek het gese dat dit moontlik die verandering van klimaat kan wees, asook die verskil in lugdruk. Ons het die res van ons vakansie geniet en met ons tuiskoms die Sondag het sy besluit om 'n ent te gaan hardloop. Sy sou 90 min hardloop, maar na minder as 'n uur was sy tuis. Ek het geweet daar was groot fout.
Longontsteking. Haar bors was seer, sy het baie gehoes en die uiteinde was 'n tussinribspier wat seergekry het van al die inspanning. Die volgende wedren was die Weskus Marathon te Langebaan op 23 April, 1 maand voor Comrades en Hildegarde was nie gesond nie. Sy het onttrek, die eerste keer ooit in haar lewe, maar ons fokus was by Comrades, nie by alles wat tussenin gebeur nie. Alles was gereel vir die naweek, sy het selfs registreer! Ons het saam met Lood en Saretha in 'n pragtige plek op die see gebly en dit sommer 'n naweek van ontspan gemaak, behalwe natuurlik Lood wat steeds die Weskus Marathon gehardloop het. Ons almal het ondersteun. Dit het goed met Lood gegaan en hy het geweet hy is naby aan reg vir Comrades. Ons het maar hoop en bid dat alles met Hildegarde sal reg uitwerk om oor 'n maand in top kondisie te wees.
Dinge het stadig beter begin gaan en op 2 Mei het hulle die Safari Halfmarathon in Wellington gehardloop. Lood het sy PB (persoonlike beste) van 1 uur 42 min gehardloop en Hildegarde het sonder enige pyne klaargemaak, alles was weer "on track". Daar was nog 2 weke van harde voorbereiding oor en dit het ook sonder beserings, pyne of dramas plaasgevind. Die laaste week, die een waarin ons nou is, is vir sekerlik enigeen wat so 'n ultra wedloop seker die moeilikste, aangesien jy feitlik niks "mag" doen nie. Rus is die heel belangrikste van hierdie week. Dit maak natuurlik dat jy baie meer energie het, asook baie meer tyd om senuweeagtig te wees oor die groot taak op hande.
Ons glo alles sal Sondag, 29 Mei 2016 goed gaan en dat alles gelyk sal "click". HIerdie jaar is die "downrun" soos die mense praat, dus harldloop hul van Pietermaritzburg "af" na Durban waar hul by Kingsmead Krieketstadion klaarmaak.89,1 km is nie maklik nie, maar ons glo die atlete se koppe is reg. Baie opofferings is deur baie mense gemaak om hierdie wonderlike ervaring vir ons moontlik te maak en ons wil van hierdie geleentheid gebruik maak om julle opreg te bedank vir al die ondersteuning. JJ en Hilge bly by Ouma Fanie en Oupa Kola en ons hoop hulle kuier lekker. Die wegspring is Sondag 05:30 en word gebeeldsend op SABC 2. Jy gaan waarskynlik nie vir Hildegarde of Lood sien nie, maar dit bly 'n insperasie om na die gebeurtenis te kyk. Vir updates oor die twee, volg my op Twitter by @Jaco_Geldenhuys. Sterkte ook aan almal wat deelneem, veral die Malmesbury span - Hercu Hofmeyer, Riaan van Zyl, Jenita du Plessis.
Nou ja, kom ons hoop Mango vat ons veilig tot in Durban. Volgende week gee ek terugvoering oor hoe dit gegaan het!
Cheers,
JG
Wys tans plasings met die etiket Wines2Whales. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Wines2Whales. Wys alle plasings
27 Mei 2016
30 Januarie 2015
November 2014

Impi Challenge 2014
Ek het gesê ek sal nie so lank vat om jul op hoogte te hou nie, maar tyd vlieg en 'n maand is al weer verby na die Impi Challenge. Dalk is een van die redes hoekom ek nog niks geskryf het nie, die feit dat ek op die ou end nie aan die Impi Challenge deelgeneem het nie. Die Vrydag aand het dinge vir my redelik skeef begin loop met 'n maagvirus. Ek was die hele Saterdag plat en het besluit om nie die Sondag deel te neem nie. Ek was maar redelik bleek om die kiewe, maar het besluit om deur te druk en saam te Stellenbosch toe en nogsteeds te probeer ondersteun.

Wat ek kan aflei by almal wat deelgeneem het is dit 'n definitiewe moet doen. Dit behels omtrent 20 hindernisse waaroor, waaronder, waardeur jy moet gaan en dit word oor 12 km afgelê. Jy raak vuil en moeg, maar die hoofding is al die pret wat jy met die res van jou spanmaats en ook ander op die roete het. Almal se gesinne was op die eindstreep waar lekker verder gekuier is na die tyd en oorlogstories uitgeruil is.
Wilde Bains Trail Run 2014
Baie mense vra vir ons na Epic wat volgende is. Vir my sal dit nog 'n Epic wees (eendag), maar Hildegarde het vir 2015 op iets heel anders besluit - Trail Run. Sy en Marisa van der Merwe het ingeskryf vir die African X 3 dag Trail Run uitdaging wat in Maart 2015 plaasvind.

Sy is baie lief vir hardloop en dus was dit redelik voor die hand liggend vir haar om hierdie 'n "go" te gee.
Ek hardloop bietjie, maar nou nie kranig nie, so ek sal nie veel kan sê van hoe die wedren was nie, maar ek weet dat dit nie net plat paaie was nie. Hildegarde is egter gaande oor 'n uitdaging en het gemaklik klaar gehardloop en algeheel 3de geeindig. Dit het haar ook goeie perspektief gegee van wat om te verwag en waaraan om te werk in die komende maande.
FNB W2W 2014
Op 7, 8, 9 November 2014 het een van die hoogtepunte van 2014 vir my en Lood plaasgevind. Dit was weer tyd vir die FNB Wines2Whales. Dit is seker een van die bes georganiseerde meerdaagse bergfietswedrenne in die land. Hierdie sou ons 2de W2W wees en die hoofdoelwit was om te verbeter op ons tye van die vorige jaar. Die natuur en mens se liggaam speel nie altyd saam nie. Op dag 1 was dit bitter warm. Ons het heel voor in ons wegspring groep gestaan en was vinnig uit die blokke. Ek het vir Lood gesê ons moet teen sy spoed ry waarmee hy gemaklik is. Dit was warm en ons het redelik hard gery. Iets was fout met Lood en toe ons met die wapad op begin stap was daar niks energie in sy liggaam oor nie. Dis ongeveer halfpad en ek het besef ons sal ons doelwitte moet aanpas as ons as 'n span die dag en wedren wil voltooi. Ek het opgehardloop, my fiets gaan neersit, weer afgehardloop en sy fiets gaan haal en hom gesê om op sy eie spoed berg-op te gaan en by die "medic" vir iets te vra om hom te help. Ou Lood was moeg en naar en daar was geen petrol in die tenk oor nie. Ons het met 'n groot gesukkel deur dag 1 gekom vanwaar Lood direk na die noodhulp tent is en op 'n drup gaan lê het.
Die drup het 'n enorme effek gehad. Dag 2 was in my opinie Lood se beste dag op 'n fiets vandat ek hom ken. Ons het hard gery en baie plekke opgemaak en ook die dag baie geniet met al die enkelspoor en bruggies wat daar op die roete was. Niks probleme en niks om oor te kla nie. Die aand het ons hele groep 'n afskeidsbraai gehou waar lekker saamgekuier is in Kleinmond. Voorwaar 'n voorreg.
Dag 3 voel jy altyd vroeg aan jou bene en dit vat bietjie langer om op te warm na die vorige 2 harde dae, maar jy weet ook dat dit die laaste dag is en jy wil jou alles gee. Ons het weereens lekker gery en was baie bly om ons gesinne by die eindstreep te sien en nog 'n suksesvolle FNB W2W te kon eindig
Ek wil enigeen aanbeveel om hierdie wedren te doen indien jy enigsins kan. Jy word op jou hande gedra. Alles is fantasties gereël en dit is 'n groot lekkerte om deel van hierdie ondervinding jaar op jaar te kan wees.
Coronation Double Century 2014
Vandat die Malmesbury Fietsryklub weer op die been gebring is, was dit nog altyd vir ons 'n droom om 'n volledige span van Malmesbury na die Coronation Double Century te neem. Ons het baie naby daaraan gekom deur uit die 12 ryers 9 te hê wat op Malmesbury woon, 2 wat baie sterk konneksies met ons het en 1 "uitruil" student! Ons het die naweek voor die DC op 'n oefenrit as span gegaan om basies die strategie vir die volgende naweek te bepaal.
Johann Rabie van Bike Addict was vir ons span goudwerd in voorbereiding tot die wedren. Hy en sy span het verseker dat ons almal se fietse op standaard en skoon is vir die wedren en vir ons sokkies en bottels gegee. Ons het dan ook op die dag onder die naam "Bike Addict" gery. Die span het bestaan uit myself, Hildegarde, Lood, Glenn Norrie, Charl (Tier) du Plessis, Kobus Duminy, Carl Malherbe, Loch Nel, Durwin Benjamin, Elfriede Wolfaardt, Bronwin Adams en Fietie Rocher. Elfriede se man, Herman, was ons ondersteuning vir die dag en hy het 'n uitstekende taak verrig. Ons het almal die aand voor die DC in Montagu saam gebly. Ek was die koördineerder van alles en toe ek met my spanpraatjie wil begin, kom ek agter ek het dit op Malmesbury vergeet! Gelukkig kon ons op daardie laat stadium nog planne maak en alles was reg vir die 202 km die volgende dag.
Die samesprekings die vorige aand het alles gedui daarop dat ons hierdie wedren as 'n span wil klaarmaak. Die tyd was vir ons minder belangrik, maar ons wou al 12 oor die wenstreep kry om sodoende vir die spesiale Charles Milner medalje te kan kwalifiseer. Ons wou niemand agterlaat en ons het van die begin af teen 'n spoed gery wat die hele groep pas met die oog op die moeilike 2de deel van die wedren. Almal was baie gemaklik toe ons na ongeveer 100 km stop by Ashton en daar was selfs grappies gemaak. Ons het weer 'n stop gehad op ongeveer 160 km. Minder grappies en meer ongemaklikheid, maar almal was steeds vasbeslote om klaar te maak. Die laaste deel van die wedren is altyd die moeilikste en ons span het hulself uitstekend van hul taak gekwyt om in 6 uur 53 min klaar te maak! Ons was almal baie tevrede hiermee en het al ons eie verwagtinge oortref. Volgende jaar maak ons beslis weer so.
Stellenbosch Cycle Tour 2014
Daar was nog een laaste hekkie vir my vir 2014 oor, die Stellenbosch Cycle Tour op 30 November 2014. Ek ry maar min padwedrenne, maar hierdie is die tweede keer dat ek hierdie wedren doen. Verlede jaar het die wind verskriklik gewaai en ek wou terugkom op 'n dag wat die weer beter is. 2014 was daai jaar. Dit was die perfekste dag wat jy jouself kan indink. Nie te warm nie en geen wind nie. Die begin was bietjie deurmekaar met 'n "rolling start", daarna moes ons oor Helshoogte Pas ry en vandaar was die wedren so te sê verby. Die groepe was bitter groot en jy kon nêrens iemand verbygaan. Dit was vinnig en as jy by jou groep kon hou het jy dieselfde tyd as almal gery.
Helshoogte Pas |
Ons praat weer in die nuwejaar en dan vertel ek jul meer van al ons nuwe uitdagings!
Mooi bly,
JG
08 April 2014
ABSA Cape Epic 2014
Ek sit en skryf nou hier, presies 'n week na die ABSA Cape Epic van 2014. Ons het ongelooflik baie tyd en energie in dit ingesit en dit voel asof iemand die ligte afgeskakel het. Dis oor en verby en 'n mens wonder of jy as amateur weer in jou lewe so hard sal werk om 'n doelwit te bereik. Ek is baie gevra oor hoogtepunte en laagtepunte van die week. Ek gaan so bes moontlik 'n opsomming van die hele wedren gee en so bietjie wat agter die skerms by ons gebeur het.
Prologue - Meerendal (23 km met 700 m klim)
Alles is reg, die fietse is gediens, ons voel goed en het vir 9 maande voorberei aan hierdie geleentheid wat hom nou uiteindelik kom voordoen het. Daar is baie emosies wat deur ons gaan. Opgewondenheid, senuwees en dan natuurlik al die adrenalien. Die belangrikste op hierdie dag is om in een stuk klaar te maak. Nie te haastig te begin en onnodige foute maak wat op die einde die einde van jou hele droom kan beteken nie. Familie en vriende was in groot getalle daar om ons te ondersteun en jy het tussen jou eie mense soos 'n "celebrity" gevoel! Ons het in ons "limited edition" hemde gery ten bate van bewusmaking van Sistiese Fibrose. Ons grootste vrees was om by die trappe van die Manor House af te ry. Die oggend toe ons daar aankom, sien ons daar is nog 'n kinkel in die kabel. Daar het plastieksakke vol druiwe gelê op die stuk gras net na die trappe. Ons moes van die trappe bo-oor die druiwe ry. Hulle maak dan 'n spesiale wyn van die druiwe waaroor ons gery het. Teen die tyd wat ons moes wegspring (08h48) was ons redelik kalm en baie lus om te begin. Ons het goed begin, deur die huis, trappe af, oor die druiwe en toe veilig op die pad sonder probleme. Dankie tog, die ergste deel van die roete was verby. Ons het baie verkeer op die pad gekry, maar steeds klaargemaak in 1 uur 33 min. Ons mikpunt was 1 uur 30 min, maar ons was tevrede. Hierdie was dan ook die grondslag vir ons week, want ons het gesien ons is die 20ste "Mixed Team" en het besef dat ons dalk in die top 20 van die gemengde pare kan eindig as ons konstant is.
![]() |
Foto's van Prologue in Sistiese Fibrose klere |
Stage 1 - Robertson tot Robertson (113 km met 2 950 m klim)


Stage 2 - Robertson tot Robertson (103 km met 1 550 m klim)
Ons het reeds deur die nag gehoor daar kom moeilikheid. Dit het katte en honde gereën. Ons is nie bang om nat te word nie, maar modder en fietse gaan beslis nie saam nie. Ons is begroet met 'n modder massa by die wegspring en geweet vandag gaan 'n lang dag wees. Dit was veronderstel om 'n "rusdag" te wees in Epic terme, maar die natuur het anders besluit. Ons het versigtig gery op die gladde paaie en die fietse so goed moontlik probeer oppas. My ouers sou met die kinders by waterpunt 2 in McGregor vir ons inwag. Ongeveer 10 km voor McGregor het ons deur taai modder / klei gery en die fietse se "drivetrains" was heeltemal toegepak. 'n Rivier moes eers gebruik word om alles af te was voor ons verder kon ry. Ons is deur McGregor en kon ons ondersteuners sien! Dit het ons nuwe energie gegee om die eindstreep te haal. Ons was deurtrek met die modder. Dit was op plekke waar ons nie eens geweet het modder kan in nie, maar ons het klaargemaak in 6 uur 18 min. Ons was die 14de "Mixed Team" vir die dag en 229ste algeheel. Dit het ons gehou by totale posisie van 15de in die gemengde afdeling en laat afskuif na 226ste vir die totale wedren. Gelukkig was my ouers daar om te help met die klere was. Dit was 'n enorme gemors en ons moes hard spook om dit alles skoon te kry. Nuwe briekblokke moes installeer word na hierdie rowwe dag.
![]() |
Die modderdag - Stage 2 |
Stage 3 - Robertson tot Greyton (134 km met 1 900 m klim)
Ons het ons laaste aand in Robertson deurgebring en was vandag oppad na The Oaks Estate in Greyton. Die langste dag van Epic 2014. Ons het geweet Stage 3 gaan moeilik wees. Jou liggaam is nog nie gewoond aan die roetine van 'n Ultra Marathon elke dag nie. Jou bene en lyf is moeg en jy voel pap. Ons het geweet ons moes net deurdruk, Stage 4 sal makliker gaan as die liggaam se nuwe roetiene inskop. Stage 3 was baie plat stukke distrikspaaie. Groot gedeeltes is soos 'n padwedren hanteer waar jy in bondels ry. Die eerste 20 km kon Hildegarde eenvoudig net nie by een bondel bly nie. Sy het die heeltyd vir my gesê sy trap swaar. Ons het toe besluit om te stop en kyk wat fout is. Haar nuwe remblokkies het teen die "rotor" geskaaf wat haar weerstand gebied het. Ek het dit reggemaak en dit het beslis baie makliker gegaan vandaar. Dit was 'n uiters lang en sieldodende dag met meeste van die gedeeltes die wind van voor. Ons was baie verbaas om by die laaste waterpunt weer my ouers en die kinders te sien. Hulle het besluit om weer vir ons te kyk en weereens het dit veroorsaak dat ons 'n ekstra bietjie energie kry om die eindstreep te haal. 'n Lang dag het in Greyton tot 'n einde gekom na 7 uur 39 min. Ons het gedink ons gaan redelik plekke verloor aangesien ons heeldag nie so sterk gevoel het soos die vorige paar dae nie. Tot ons verbasing het ons 19de van die "Mixed Teams" en 333ste algeheel vir die dag geëindig. Dit het ons totale posisie soos volg laat lyk - steeds 15de gemengde span en 262ste algeheel. Ons kon die kinders lekker druk en aangaan met ons Epic roetine.

![]() |
Ons aankoms in Greyton na Stage 3 |
Stage 4 - Greyton tot Greyton (88 km met 1 850 m klim)
Weereens 'n lekker mistige oggend, maar perfekte bergfietsry toestande. Ons het 'n goeie nagrus gehad en het baie goed gevoel. Dit het reflekteer in die fietsry met die wegspring. Ons was sterk vandag en ons het 'n punt gehad om aan onsself te bewys. Daar was een of twee van die ander gemengde spanne wat ons vandag wou wen. Ons het lekker gery en redelik tyd opgemaak, maar na sowat 15 km het my fiets snaakse geluide begin maak. Iets was ernstig fout. Op ongeveer 20 km kon ek nie meer die geraas verduur nie en het gestop, my agterwiel gewikkel en besef my "bearings" het opgepak. Ek kon deur nou te begin stap ernstige skade en kostes vermy, maar dit sou baie langer vat. Ek moes by waterpunt 1 kom waar die "Techzone" was sodat hulle na my wiel kan kyk. Dit was nog 9 km. Hildegarde het so 'n klein valletjie die oggend gehad en ons het hier tot 'n skop agtergekom dat haar "handlebar" gebreek is, presies waar sy dit vashou. Na die volgende 8 km het my wiel "gecease". Hy wou glad nie meer draai. Ek het die laaste km tot by die waterpunt gehardloop en my fiets gedra en gesien hoe ons grootste kompetisie verby ons gaan....
![]() |
Die stukkende wiel... |
Hildegarde se hart was gebroke. Ek het om hulp gesmeek by die "Techzone". Hulle het my meegedeel dat ek redelik ernstige skade veroorsaak het en hulle niks vir my kan doen nie. Ons het toe besluit om nuwe wiele te koop, asook 'n 10-spoed cazette. Dit op my fiets te bou en te hoop dat ons sou kon aanry. Dit het so 35 min geduur. Ons het besef dat daar nog ekstra "spasers" kort en hulle moes "race village" toe bel en die persoon moes dit met 'n motorfiets na ons bring. Na 1 uur 5 min was ons weer op die pad. Hildegarde het in die tyd wat ons gewag het op 'n stadium gewonder of sy nie maar alleen moet aanry nie. Die Epic is egter baie streng wat dit aanbetref. Indien jy en jou rymaat enige tyd verder as 2 min uitmekaar is, sal jy met 'n uur gepenaliseer word.
Met ons aankoms by die waterpunt was ons ongeveer 250 ste, met ons vertrek het die aankonidger gesê dat daar nou 1 100 ryers duur die waterpunt was. Dit het beteken dat ons ongeveer 550ste was! Ons moes deur die hele veld terugry en daar was bitter baie "singletrack" op hierdie dag. My nuwe wiele was egter nie "tubeless" en op 58 km het ek 'n pap wiel gehad. Hildegarde het nie besef ek het probleme en sy het aangery. Ek moes wiel regmaak en nadat die nuwe binneband in was wou hy ook nie styf! Ek het die klim uitgehardloop en hopelik kon ek vir Hildegarde sien. Sy was nêrens in sig en het al die ander "tools" gehad. Ek het aanhou hardloop met my fiets tot iemand my uiteindelik gehelp het met 'n ander binneband. Met die laaste pomp het Hildegarde van voor gekom en ons kon net lag vir wat nou nog kon verkeerd gaan. Ons het besluit om net te probeer klaarmaak. Ons het ongeveer 1 uur 45 min verloor op hierdie dag, so ons was glad nie meer optimisties oor posisies nie. Die nuwe mikpunt was om die Epic te voltooi! Ons het uiteindelik klaargemaak in die 53ste posisie van die "Mixed Teams" en 529ste vir die dag. Ons was baie verbaas om te sien dat ons algeheel steeds 20ste van die gemengde spanne was en afgeskuif het na 321ste vir ons totale tyd. Daar was steeds lig aan die einde van die tonnel! Ons fietse is ingegee vir 'n deeglike / duur diens en ons was die laaste span wat op hierdie dag masseer sou word. Lang, deurmekaar dag.
![]() |
Begin van die nagmerrie - Die "smiles het egter nooit verdwyn! |
Stage 5 - Greyton tot Elgin (115 km met 2 950 m klim)
Hierdie was die monster stage. Baie spanne het hulself deur die hele Epic gespaar vir hierdie dag. Ons het egter elke dag gery soos wat ons op daardie spesifieke dag gevoel het. Die nagmerrie van die vorige dag het ons ook weereens laat besef hoe bevoorreg ons is om steeds deel van die Epic te wees en dat daar dalk geen môre is nie. Jy moet elke dag alles tot die beste van jou vermoë doen. Die Epic is voorwaar baie soos die lewe (sal later in my opsomming weer hierna verwys). Ons het sommer van die staanspoor saam met lekker groepe gery en geweet dat indien ons die eindstreep gaan haal, die kinders saam met Lood en Saretha daar vir ons gaan wag. Ons hou van klim, maar selfs ons was redelik moeg van al die klimme op hierdie dag. Dit was bitter warm op die bo-punt van "Rusty Gate", die langste klim van die dag, maar ons het 'n paar gemengde spanne in die oog gehad wat ons moes verbygaan en ons het ons alles gegee. Uiteindelik was Oak Valley in sig. Ons het geëindig in 7 uur 35 min - 14de van die "Mixed Teams" en 242ste algeheel vir die dag. Ons het opgeskuif na algheel 16de van die gemengde pare en 297ste met ons totale tyd. Ons was besig om onsself terug te werk...
Stage 6 - Elgin tot Elgin (85 km met 1 800 m klim)
Ons nuwe "Race Village was by Oak Valley. Ek en Lood het verlede jaar saam W2W gery en ken die plek goed. Hierdie is beskou as die speeldag van die Epic. 'n Beloning vir die vorige dag se harde werk. Vir Hildegarde was dit 'n dag waarna sy glad nie uitgesien het nie. Enkelspoor paadjies is nou nie iets wat sy as lekker beskou nie, maar ek dink sy het tot haarself hierdie dag verbaas. Sy het voluit in dit ingegaan en haar uitstekend van haar taak gekwyt. Dit was 'n heerlike sonnige dag en ons het goed gery. Hildegarde se knie was besig om redelik ernstig inflamasie te kry en Eddie moes dit reeds die vorige dag "strap". Die pyn was besig om al erger te raak en ons wou so gou moontlik klaarmaak. 3 km voor die einde het Hildegarde 'n harde val gehad en dit nog op die knie ook! Ons het klaargemaak in 5 uur 33 min - 13de van die "Mixed" en 255ste vir die dag. Ons algehele posisie was nou weer 15de van die gemengde spanne en 287ste algeheel. Ons moes die laaste dag net konstant ry om ons posisie te verdedig. Ons was reeds baie tevrede met wat ons bereik het en kon dit eintlik steeds nie glo nie. Vriende van ons Pierre en Caroll Rossouw het ons kom ontvang by die eindstreep en 'n luilekker middag saam met ons spandeer.
Stage 7 - Elgin tot Lourensford (67 km met 1 800 m klim)
Iets ernstigs moet gebeur wat sal veroorsaak dat die posisies vreeslik verander. Die Epic is egter nie verby totdat jy oor die finale eindstreep is nie. 'n Harde oggend het vir ons voorgelê en toe dit met die wegspring reën was dit net nog harder. Ons moes die meeste van die klimwerk oor die eerste 35 km doen. Bene is koud, moeg en vol melksuur. Dit voel asof jy die eerste halfuur van die dag sonder jou bene ry. Hulle voel swaar, maar na die uitgerekte opwarming gaan dit darem beter. Ons wou klaarkry en het weereens nie op ons laat wag nie. Die spanne wat voor ons op die algehele klassifikasie was, was feitlik onmoontlik om verby te gaan, maar ons kon hulle ten minste op die dag probeer wen. Ons het alles gegee op die klimme en toe ons twee van die top gemengde spanne teen die pad verbygaan (hulle meganiese probleme) het ons begin droom van 'n plek in die top 10 vir gemengde pare vir die dag. Hildegarde se knie was swaar verbind en toe ons die ou wapad bereik wat 'n verpligte loop deel van ongeveer 1.2 km was, het Hildegarde regtig gesukkel. Die rowwe terrein, gladde klippe en afdraend het haar knie glad nie goed gedoen nie. Die son het egter uitgekom en die einde was in sig. Ons het mekaar bly motiveer oor die laaste paar km's en die pylvlak binne gery en die atmosfeer beleef. Wat 'n enorme voorreg! Ons het geëinding in 4 uur 32 min - 11de in die "mixed" en 221ste vir die dag. Ons was algeheel die 15de gemengde span en 275ste uit 620 spanne in 2014 se Epic. Ons was ook die 1ste getroude paartjie oor die eindstreep. Die Epic waarvoor ons so hard gewerk het, was in die sakkie!
![]() |
Die Grand Finale te Lourensford |
Die Epic was vir ons 'n onvergeetlike ervaring. Dit het 'n totaal van 47 uur 30 min oor 8 dae vir ons geneem om te voltooi. Dit het bestaan uit 718 km en 15 000 m se klim. Ons sou nooit in ons lewens kon droom dat ons 15de uit 73 gemengde spanne sou eindig nie. Ons kon al ons doelwitte bereik waarvoor ons so hard gewerk het. Hierdie reis is nie moontlik sonder baie goeie ondersteuning en mense wat in jou glo nie. Daarvan het ons te veel gehad om op te noem. Wat egter baie belangrik is met so iets, is die geloof in jouself en jou spanmaat. Sonder mekaar is daar niks. Ek was baie bevoorreg om hierdie projek saam met my "bruid" te kon aanpak. Ek het 'n nuutgevonde respek vir haar en haar innerlike krag. Ek loop oor van trots vir wat sy bereik het in die laaste jaar. Ek het vroeër verwys na die Epic as 'n simbool van die lewe. Net soos die Epic baie hoogtepunte en laagtepunte het, is die lewe ook. Die manier om dit te hanteer is wat jou 'n beter mens maak. Ek het met die Epic meer bereik as net nog iets wat om my "bucketlist" was wat ek kon afmerk. Ek het as mens gegroei in my benadering tot moeilike situasies. Ons (Team Nexus) is almal ewig dankbaar vir alles wat julle vir ons gedoen het die afgelope klomp maande. Ons borge wat in ons geglo het en ons heelpad ondersteun het, baie dankie.
Dit is beslis nie die einde van die pad vir my en Hildegarde nie. Ons volgende wedren is die Transkaroo op 26 April 2014 van Ceres na Sutherland waar ons ook as 'n gemengde span (Team Nexus) sal deelneem. Ons hou julle op hoogte!
Groete tot later,
JG
04 Desember 2013
Movember 2013
Nou ja, ons het aan 'n einde gekom van 'n baie besige November. Hierdie maand was Wines2Whales, Malmesbury Fietsryklub Gesinsdag, Coronation Double Century, Origins of Trials en Die Burger Fietstoer! Ek het in die omgewing van 55 ure op die fiets spandeer, nogal baie as jy daaraan dink dat dit 'n baie besige maand by die werk ook was. Die titel van hierdie blog is "Movember 2013". Ek het weer op my beskeie manier probeer om 'n snor te groei. Mense het dit darem raakgesien hierdie jaar! Dit is alles deel van die bewusmaking van manlike gesondheidsrisiko's. Ek het dit natuurlik sommer ook gebruik as aanknopingspunt vir Sistiese Fibrose.
Die Geldenhuyse was nie baie lus vir opstaan op Sondag 1 Desember 2013 nie. Die wind het gehuil om die huis en ons was moeg van die vorige 2 dae. Die wekker het 04:30 afgegaan en ons het maar vasgebyt. Ons het Stellenbosch ingery en gesien daar kom probleme. Die voertuie het toue gestaan om die dorp in te kom. Ons het besef ons het dalk ons lyne bietjie fyn gesny. Ek sou van die begin af in dieselfde groep as Hildegarde wegspring, Groep F, ons sou om 06:15 afgaan. Ons het deur die hekke gegaan, ingery en dadelik weggespring. Ons het nêrens gewag nie en was dadelik besig met die resies! Ons het dit as 'n "recovery ride" beskou, maar wou ook nie heeldag op die pad wees nie. Die wind was by tye verskriklik en die grootste werk was om nie van die fiets af te waai nie. Ek en Hildegarde het weereens saamgery. Die bene was maar moeg en seer, maar ons het ons eerste Burger Fietstoer baie geniet en klaargemaak in 3 uur 19 min. Johann Rabie van Malmesbury het die resies gewen in 'n tyd van 2 uur 27 min. Baie geluk Johann. Ons is trots op jou.
Ons het deur die 3 dae gekom met genoeg vertroue dat ons kan vasbyt en erge situasies kan hanteer. Baie goeie voorbereiding vir wat in die toekoms op ons wag. Ons het geen wedrenne vir Desember nie, net 'n lang oefen maand met die ure wat opgestapel sal word. Ons is ook hard aan die reël vir ons vroue oggend ten bate van Sistiese Fibrose wat op 8 Februarie 2014 te Delsma Farm sal plaasvind. Sal later in Desember meer inligting deurgee wanneer als gefinaliseer is. Vasbyt vir die laaste stuk van 2013. Dankie aan Cherie Vale en Jetline Actionphotos vir ons foto's.
Groete,
JG
As jy mooi kyk sal jy my "snor" sien!
Die Malmesbury Fietsryklub Gesinsdag is aangebied in 'n poging om gesinne by die sport te betrek. Dit was 'n groot sukses met 25 kinders wat die oggend aan die kinder-roete van 2.9 km deelgeneem het. Hulle is elkeen deur 'n ouer vergesel. Elke kind wat die roete voltooi het, is met 'n pragtige medalje beloon. Elke kind het ook 'n "Energade" van Pick & Pay Malmesbury ontvang - baie dankie vir jul lojale ondersteuning! Die kinder-roete is opgevolg met 'n aflos deur die volwassenes. 'n Span het uit 2 tot 4 persone bestaan. Die roete was 5.3 km lank en goeie tempo oefening. Die span wat die meeste rondtes binne 2 ure gery het, was die wenners. Hierdie dag het egter nie oor wen of verloor gegaan nie, maar oor deelname. Ons sal spoedig in die toekoms weer so 'n geleentheid aanbied. Die dag is afgesluit met heerlike saambraai en kuier.
Op Saterdag 23 November 2013 het ek en Hildegarde aan die Coronation Double Century as deel van "Team Lifepath Healthcare Allsorts" deelgeneem. Die resies begin in Swellendam vanwaar jy na Barrydale, Montagu, Ashton, Robertson en weer terug na Swelledam ry. Hierdie was ons grootste uitdaging nog op 'n padfiets en ons het dit as goeie tyd in die saal beskou. Ons het glad nie geweet wat om te verwag nie - dit was dalk beter so. Jy begin as 12 lede van die span. Ons mikpunt was dat almal saam moet klaarmaak en ons het vir ons 8 ure as mikpunt gestel. Die roete is oor 202 km met ongeveer 2 800 m klim. Ons het teen 'n lekker tempo begin en redelik gemaklik die eerste 115 km klaargemaak. Teen die tyd was ons op Ashton waar daar 'n stop-punt vir al die spanne is - hulle stop jou tyd ook vir 'n maksimum van 30 min. Hiervandaan moes ons bietjie teen die wind baklei en ons het teen 160 km reeds 3 van ons ryers verloor. Ons was egter voor op skedule en het seker gemaak dat die res almal ten minste klaarmaak. Ons is oor die eindstreep in 7 uur 22 min - nie te versmaai vir 'n eerste probeerslag nie. Dit was regtig 'n onvergeetlike ondervinding en ons sal beslis volgende jaar weer terug wees.
Die afgelope naweek was dit die Origins of Trails en Die Burger Fietstoer in Stellenbosch. Ek en Hildegarde het vir die eerste keer in 'n "Stage Race" saam deelgeneem. Ons het ook vir Die Burger ingeskryf om dit 3 intensiewe dae te maak en as goeie voorbereiding vir die Epic te dien. Dit kon nie slegter begin nie. Ek en Hildegarde het beide 'n maagvirus gehad wat ons redelik moeg en pap gelos het. Ek het teen die wegspring van Vrydag beter gevoel, maar Hildegarde was maar op. Ons moes deurdruk aangesien hierdie presies die situasie is waarin ons onsself op die Epic kan bevind. Dag 1 was veronderstel om 70 km met ongeveer 2 000 m klim te wees (elk geval, dis wat advertensie sê). Ons was bereid om dit te trotseer. Die weer was perfek en ons het weggespring. Die eerste 20 km was 'n nagmerrie vir Hildegarde. Sy was so pap dat sy nie gekonsentreer het nie en 2 lelike valle gehad het. Haar knie wou nie ophou bloei en op 40 km het die paramedici haar ingelig dat sy steke aan die knie sal moet kry. Dit het in effek beteken dat ons geen kanse verder gaan vat vir die dag nie - netnou val sy weer op die oop wond. Ons het aangery net om die dag klaar te kry. Dit was bitter warm en daar was genoeg "moans en groans". Op 67 km het ons besluit om 'n waterpunt verby te ry aangesien ons mos amper klaar is - toe nie, dit het ons nog 11 km geneem om op die eindstreep te kom. Baie moeg, gebreek en dors. Die enigste verblydende nuus was dat ons deur diep, donker oomblikke kon kom as 'n span en klaarmaak. Die dag was toe 78 km met amper 2 700 m klim en baie tegnies! Hildegarde het 3 steke aan haar linker knie gekry en die blou het oral begin wys. Ons het klaargemaak in 5 uur 49 min. Ek het geweet dag 2 sal 'n groot uitdaging wees aangesien ons nie reg kon eet op die fietse met die virus nie.
Dag 2 het sommer met wind begin met 70 km en 1 800 m se klim (ons maar gehoop dis waar!). Hildegarde was seer van al die valle. Die mikpunt was om rustig te ry en klaar te maak. Ons het ons eie spoed gery en Hildegarde het probeer om die linker knie te spaar. Dit bring natuurlik ander probleme, want die teenoorgestelde kant van jou liggaam werk dan baie harder. Ons het sonder pyne deur dag 2 gekom - op ons eie tyd en klaargemaak in 4 uur 24 min. Ons het die Origins of Trails klaargemaak as "Team Nexus" en ons weet ons kan deur moeilike tye volhard. Hierdie roetes van beide dae het ons deur pragtige plekke geneem. Roetes wat nie normaalweg vir die publiek oop is nie. Baie tegniese dag 1 en vet pret op dag 2. Die hoogtepunt was die G-spot op dag 2 wat jou weer soos 'n kind laat voel het! Ons kon egter nie te veel "party" na die tyd nie, Die Burger Fietstoer was die volgende dag.
Dag 2 het sommer met wind begin met 70 km en 1 800 m se klim (ons maar gehoop dis waar!). Hildegarde was seer van al die valle. Die mikpunt was om rustig te ry en klaar te maak. Ons het ons eie spoed gery en Hildegarde het probeer om die linker knie te spaar. Dit bring natuurlik ander probleme, want die teenoorgestelde kant van jou liggaam werk dan baie harder. Ons het sonder pyne deur dag 2 gekom - op ons eie tyd en klaargemaak in 4 uur 24 min. Ons het die Origins of Trails klaargemaak as "Team Nexus" en ons weet ons kan deur moeilike tye volhard. Hierdie roetes van beide dae het ons deur pragtige plekke geneem. Roetes wat nie normaalweg vir die publiek oop is nie. Baie tegniese dag 1 en vet pret op dag 2. Die hoogtepunt was die G-spot op dag 2 wat jou weer soos 'n kind laat voel het! Ons kon egter nie te veel "party" na die tyd nie, Die Burger Fietstoer was die volgende dag.
Ons het deur die 3 dae gekom met genoeg vertroue dat ons kan vasbyt en erge situasies kan hanteer. Baie goeie voorbereiding vir wat in die toekoms op ons wag. Ons het geen wedrenne vir Desember nie, net 'n lang oefen maand met die ure wat opgestapel sal word. Ons is ook hard aan die reël vir ons vroue oggend ten bate van Sistiese Fibrose wat op 8 Februarie 2014 te Delsma Farm sal plaasvind. Sal later in Desember meer inligting deurgee wanneer als gefinaliseer is. Vasbyt vir die laaste stuk van 2013. Dankie aan Cherie Vale en Jetline Actionphotos vir ons foto's.
Groete,
JG
12 November 2013
FNB Wines2Whales Race 2013
Wat is FNB Wines2Whales? Dit is 'n 3 dag wedren wat begin by Lourensford en eindig by Onrus Karavaanpark. Die "Race Village" is by Oak Valley waar deelnemers 2 dae oornag en op die hande gedra word. Daar word binne 10 dae 3 sulke wedrenne aangebied naamlik die Adventure, Ride en dan die Race. 600 spanne per wedren neem deel, dus is dit 'n enorme logistieke uitdaging vir die organiseerders en hulle het uitstekend geslaag in hulle doelwitte.

Dag 1 - Begin by Lourensford en ry ongeveer 78 km oor die berg na Oak Valley met ongeveer 1 800 m se klim. 'n Baie mooi oggend en adrenalien wat vloei. Ons het om 08:00 in Groep G weggespring. Elke dag se mikpunt was om so gou moontlik voor (binne ons vermoëns) te kom en die "singletrack" sonder te veel verkeer te trotseer. Ons het heerlik gery, maar op ongeveer 48 km was daar 'n verpligte loop zone - Die Historiese Gantouwpas waar meer as 4 000 ossewaens oor 'n periode van 200 jaar oorgetrek het. Die spore van die ossewaens lê uitgekerf in die rotse en sal nog vir baie lank daar wees. Hierdie gedeelte wat ons moes loop is ongeveer 1.2 km lank. Indien jy op hierdie erfenis gedeelte op jou fiets is, sal jy gediskwalifiseer word. Dit is elk geval eintlik onrybaar. Lood het na die stap effens begin kramp en ons moes onsself bestuur tot die eindpunt. Ons het dag 1 klaargemaak in 4 uur 57 min - ons mikpunt was 5 uur. Ons gesinne was daar en dit was 'n fantastiese gevoel.
Gantouwpas - Ossewaens het hieroor getrek |
![]() |
Water, brûe, rotse - Welkom in die wêreld van bergfiets! |
Dag 3 - Begin by Oak Valley en eindig by Onrus Karavaanpark. Die dag is ongeveer 74 km met 1 450 m se klim. Ons kon voel daar is al fietsgery in die twee vorige dae en het besluit om stadig te begin, eers warm te word en dan spoed te lig. Ons wou onsself bietjie spaar aangesien die klimme van die dag eers in die laaste 25 km is. Die mikpunt van die dag was weer 4 uur. Ons het lekker rustig gery en die omgewing en al die moeite met die roetes waardeer. Daar was weer baie enkelspoor aan die begin en omdat ons stadiger begin het was daar meer verkeer. Op 60 km kon ons die see sien en het geweet die einde is naby. Ons het Onrus ingery en oor die strand gery op palette, bo-oor 'n "scaffolding" brug tot by die eindstreep by Onrus Karavaanpark. Ons het klaargemaak in 4 uur 13 min. Ons mikpunt gemis, maar was steeds baie tevrede met wat ons die afgelope 3 dae bereik het. Voorwaar 'n heerlike ondervinding vir almal. Ek en Hildegarde weet nou hoe dit werk en is bitter opgewonde oor wat die volgende paar maande inhou. Ons (Ek en Lood) sou nie alles wat ons doen kon doen sonder ons ondersteuningsraamwerk nie. Baie dankie vir ons gesinne wat ons so ondersteun en motiveer! Ek voel goed na die wedren en is baie tevrede met waar ek in my voorbereiding is.
![]() |
Heerlike laaste dag! |


Net 'n kort nuusflits oor ons aksies vir Sistiese Fibrose. Daar is 3 groot projekte op die horison. Die eerste projek is die borg 'n km projek (Ride to Breathe). Ons gaan 2 000 km ry in wedren situasies tot na die Epic. Teen R10 / km kan ons R20 000 vir die projek insamel. Projek 2 is 'n vroue oggend op 8 Februarie 2014. Dames, hou asb die datum oop! Julle moet almal kom. Die derde projek is 'n veiling wat ons gaan hou na afloop van die Epic. Ons gaan "Limited Edition" fietsryhemde laat maak waarmee ons die Prologue en laaste dag van die Epic sal ry. Hierdie hemde sal die logo's van al ons borge en Sistiese Fibrose se logo ophê. Hierdie items en nog ander sal na die Epic opgeveil word ten bate van Sistiese Fibrose. Raak asb deel van die inisiatief - ons is baie opgewonde om 'n verskil te kan maak! Gaan lees meer oor die siekte by http://jaco-hildegarde.blogspot.com/2013/10/epic-2014-route-launch-ride-to-breathe.html
Eerskomende naweek is dit Malmesbury Fietsryklub se Gesinsdag. Hopelik kry ons 'n groot opkoms om die sport se toekoms te verseker. Dis 'n besige maand, maar ek hou julle op hoogte van alles.
Lekker week!
JG
Teken in op:
Plasings (Atom)