Wys tans plasings met die etiket Nexus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Nexus. Wys alle plasings

05 Augustus 2015

Tyd Vlieg

In my vorige blog het ek nog beloof van hoe ek julle gaan vertel van African X.  Nou ja, sonder dat ons dit besef het ons reeds die maand Augustus van 2015 bereik.  Ek dink dit is 'n bietjie vergesog om te sê dat die tyd vlieg, want ek dink vlieg is nie heeltemal die korrekte woord nie.  Wat is vinniger as vlieg?  Blitsvinnig vlieg?  Ek weet nie, maar al wat ek weet is dat in die huidige wêreld waar ons onsself bevind niks teen gewone tempo gebeur nie.

Elkeen het sy eie lysie wat hy moet afmerk en dit hang net af van jou betrokkenheid in besigheid, sosiaal en liefdadigheid op iemand anders se lysie om jou program te bepaal.  Julle sal duidelik sien ek los kinders uit die gesprek uit.  Dit is vir my en Hildegarde 'n nuwe wereld wat laerskool aanbetref en ons besef ons het nog eintlik niks gesien nie.  Kinders is beslis nie meer kinders nie, maar klein volwassenes.  Die druk is enorm op hulle en enigiets wat jy vir jouself as ouer beplan het sal aan die agterspeen suig.  Ons doelwitte was om dit wat ons graag wou saam doen soos bv. Epic klaar te doen voor kinders skooltoe is.  Dankie tog die tydsberekening het so uitgewerk.  Ek is tevrede met waar ek staan met my sport, Hildegarde oefen hard, want dis deels haar werk en sy het nog doelwitte wat sy vir haarself wil bereik.  Ek is egter ver agter met terugvoering en net voordat julle begin dink dat ons dalk glad meer aktief is nie, is hier 'n kort opsomming van die afgelope paar maande in die Geldenhuys se lewens.

ProNutro African X

Verskoon asb. die manier van verslag gee, maar ek is in die eerste plek nie 'n joernalis nie en in die tweede plek skryf ek soos ek praat en as ek nie self deelgeneem het nie, skryf ek soos ek dit sien afspeel het.

Die twee dames, Hildegarde en Marisa het met geen groot hoop na die African X gegaan.  Deels omdat dit vir beide van hulle vreemde gebied was en deels omdat hul nog nooit hul liggame tot die uiterste in hierdie sport beproef het nie.  Baie dinge kan oor 3 dae skeefloop en wat dit nog meer ingewikkeld maak is die feit dat jy alles saam met jou spanmaat moet deurgaan.  Jy kan nie sommer net op 'n oggend wakker word en besluit jy gaan nie hardloop of jy gaan vandag vinnig of stadig hardloop nie.  Dit gaan nie oor jou nie, maar oor wat die beste vir jou span is.  Die dames het egter vir hulself gesê dat indien hulle in die top 10 dames spanne kan eindig hul baie tevrede sal wees.

Dag 1 was 'n afstand van 34 km met 800 m klim.  Ek en Bouwer het rondgeskuif tussen die verskillende toeskouer punte en kon voortdurende die dames se gemoedstoestand sien.  Dag 1 was hulle sterk en het na die einde toe effens stadiger gegaan om hulself vir 'n harde dag 2 te spaar.  Hulle eindig op Dag 1 as die 5de vroue span en verbaas hulself in die proses.  Daar is egter baie onsekerheid oor hoe hul lywe gaan voel vir die volgende harde dag, so die besluit word reeds geneem om dag 2 stadiger van die begin af te vat om die einde in een stuk te kan haal.  Dag 2 was 'n riller van 'n roete met 1 100 m klim oor die 34 km.  Die dag is toe ook die warmste dag van 2015 se African X met temperature van bo 30 grade Celsius.  Hulle het hulself goed opgepas en eindig as die 8ste vroue span.  Teen hierdie tyd het hulle geweet hulle sal reg wees die volgende dag en die plan was om die laaste dag alles te gee.  So gese en so gedaan.  Die laaste dag was 22 km met 600 m klim.  Hulle het alles gegee en op die ou end 7de van die vroue spanne geeindig.  Hul het hul eie wildste drome oortref en ek is seker beid van hulle sal in 2016 terug wees vir hierdie onvergeetlike ervaring!  Well done Team Nexus!


@Hildegarde

Die gym groei van krag tot krag en Hildegarde kan regtig haar passie uitleef.  Daar is al baie veranderinge van hoe dit was op 5 Januarie 2015 tot nou en ledegetalle groei steeds soos wat ons probeer om vir elke individu se behoeftes voorsiening te maak.  Die nuutste toevoeging is die spinfietse waarvoor ek baie lank al vra.  Uiteindelik kon ons gedurende die winterskoolvakansie hulle aanskaf.  Daar word 'n wye reeks van klasse aangebied elke dag van die week so gaan kyk gerus by https://www.facebook.com/groups/404833636391635/
vir meer inligting rondom tye.


Blesfontein

Julle sal sien dat daar sekere mense en plekke is wat gereeld hul verskyning op die blog maak.  Dit is maar die plekke en mense waarmee ons onsself omring.  Blesfontein is een daarvan en ons probeer om eenkeer per jaar daar te draai.  Hierdie jaar sal ons 'n tweede keer moet gaan, want Lood het my rooster in hul huisie vergeet!  Ons was die laaste naweek van die skoolvakansie daar om te herlaai.  Daar is geen selfoon ontvangs nie, dus kan jy vir die 48 uur wat jy daar is werklik afskakel en kwaliteit saam met die mense naby aan jou spandeer.  Ons het die vanjaar amper reggekry om sneeu te kry, maar dit wou net nie koud genoeg raak nie.  Dit het verskriklik gereen, maar die sneeu het ontwykende gebly.  Ons sal weer teruggaan om dit eendag nog raak te slaan.



EasySkips Swartland

Hopelik het baie van julle al die rooi skips / bins in Malmesbury en omgewing gesien.  In Maart 2015 het ek my garage skoongemaak en een van hierdie skips gehuur.  Dit was so gerieflik om hom by die huis te he en net alles wat ek wou weggooi daarin te kon gooi en iemand anders gaan maak hom leeg, dat ek vir die vorige eienaar gevra het om my en my pa te kontak as hy eendag van die besigheid ontslae wil raak.  6 Weke later was onderhandelinge aan die gang en vandag kan ons trots se dat EasySkips Swartland aan ons behoort.  My pa is die kontakpersoon en ons sal met graagte vir jou een by jou huis kom neersit om van enige ongewenste bourommel, sand of vullis ontslae te raak.  



Hilge se eerste hokkie wedstryd

Ek was self nog altyd bitter bang vir hokkie. Die lyk gevaarlik. Hige is egter baie lief daarvoor en die afgelope naweek het sy die geleentheid gehad om deel te neem aan haar eerste wedstryd. Dit was ysig Saterdag oggend, maar hul opgewondenheid was aansteeklik en die hele familie, selfs oom Stephan, was langs die veld vir die groot wedstryd.  Al die opwinding was nie verniet nie en Hilge kon 3 doele skiet.  Ons het dit almal verskriklik geniet en is baie trots op haar.  Mens se kinders is die spil waarom alles draai en ons begin nou vinnig agterkom waarheen al ons tyd gaan, en dis baie lekker!


Die Burger Bergfietsuitdaging - 75 km

Wanneer jy gefokus is op 'n doelwit en jy werk hard daarvoor kom daar baie keer ander voordele op die pad na die einde van jou doelwit oor jou pad.  So is dit ook met Die Burger Bergfietsuitdaging se 75 km.  Persone wat hulself in ander wedrenne bewys het word na hierdie een genooi.  Daar is slegs 200 uitnodigings, dus voel mens so half verplig om in te skryf wanneer jy die "golden ticket" kry.  Wat mens net ook moet besef is dat hierdie uitnodigings gebasseer is op historiese data en dat jy nie noodwendig in dieselfde "shape" is as waarop jy uitgenooi is nie!  Ek het egter baie nederig in die wedren gegaan aangesien ek geweet het ek kom uit 'n winter van baie minder oefen.  Ek en Dirk het vooraf reeds besluit dat ons sou saamry.  Ons het teen 'n baie gemaklike spoed begin en glad nie gejaag nie.  Ek het goed gevoel na so 'n uur en 'n half en begin dink dat ek lekker op ou spiere staatmaak.  Die weer was perfek al het ons op 2 grade Celsius begin ry het die temperatuur vinning opgegaan.  Na so 2 en 'n half ure het my gemoed effens begin verander en ek kon die tekort aan oefening vinning begin voel.  Dirk aan die ander kant het al hoe sterker geraak en was sommer lekker haastig na die einde toe.  Ons het klaargemaak in 4 uur 28 min.  Ek is baie bly dat ek deurgedruk het.  Hierdie was beslis wat ek nodig gehad het om my fokus terug te bring.  'n Baie lekker wedren wat baie goed gereël was.  Volgende jaar gaan ek weer!

Gaan my bes doen om meer gereeld julle in te lig oor al ons aktiwiteite, belowe!

Groete,
JG

06 Maart 2015

Cape Town Cycle Tour MTB & AfricanX 2015

Op Sondag, 1 Maart 2015 het ek gaan deelneem aan die Cape Town Cycle Tour se bergfiets wedren te Le Bonheur Wynplaas en die groter Simonsberg bewaringsgebied.  Ek is altyd eerste om vol kritiek te wees met sulke groot bemarkte wedrenne waar daar korter roetes op 'n stadium saamsmelt met die langer roete.  Dis juis met dit ingedagte wat ek na hierdie wedren vertrek het.  Wat 'n aangename verrassing was dit nie om te sien hoe uitstekend hierdie wedren georganiseer was nie...Die wegspring en die eindstreep is 1.2 km uitmekaar en alle toeskouers is na die eindstreep met "shuttels" geneem.  Die roete het bestaan uit 55 km met ongeveer 1 300 m se klim.


Ek het weggespring die tweede groep.  Dit het my perfek gepas en ek was een van die sterker ryers in daardie groep.  Ek kon my eie spoed ry en is nooit gedruk in 'n zone wat vir my ongemaklik was nie.  As dit somtyds ongemaklik was, was dit ek wat myself gedruk het.  Ek het gesukkel om warm te word en dit het 'n goeie halfuur vir my geneem om gemaklik op my saal te word.  


Vandaar was dit heerlik!  Niks was te tegnies nie, die enkelspoor en die weer was fantasties.  Ons het baie van die eerste groep se agterste ryers begin vang, maar dit het glad nie gepla nie.  Ek was baie lanklaas in 'n posisie wat ek deelgeneem het aan 'n wedren wat net 55 km was.  Die meeste wedrenne wat ek doen is altyd 75 km of meer.  Hierdie was werklik verfrissend vir my en ek het die uitstappie geweldig baie geniet.  Die roete was pragtig met baie mooi uitsig oor die Simonsberg bewaringsarea.  Na die tweede helfte van die wedren het ek lekker sterk begin voel en bietjie gas gegee.  Die meeste klimme was in die middelste deel van die wedren en dit het perfek gewerk vir my.


Ek is beslis nie profesioneel nie, maar wat vir my die lekkerste is na al die ure wat ek alreeds ingesit het met die sport, is hoe goed jy jou liggaam leer ken.  Geen boek of program kan vir jou daardie ervaring gee nie.  Ek weet presies wat werk vir my en wanneer ek dit moet gebruik.  Dit maak dit baie makliker om te bestuur en jy dra ook nie onnodig 'n verskriklike klomp bagasie saam nie.  


Ek het een groot bottel en een klein bottel saamgeneem vir Sondag, en ek het meer as die helfte van die klein bottel eers by die eindstreep gedrink.  Ek het wel twee FIT gels gebruik onderskeidelik na uur 1 en die tweede na uur 2.  Ek het nooit uit stoom gehardloop nie en was baie tevrede met hoe ek my wedren bestuur het.  Ek het klaargemaak in 2 uur 48 min.  Ons eie Johann Rabie van EAI Cycling het 1 sekonde na Erik Kleinhans van RECM klaargemaak.  Erik se kennis van die plaaslike roetes het Johann net-net van eerste posisie gehou.  Well done Johann.  Ek sal beslis weer volgende jaar hier gaan deelneem.

AfricanX

Baie mense vra vir ons wat is AfricanX.  Dit is 'n "trailrun" wat van 13 tot 15 Maart 2015 te Houw Hoek Inn, Grabouw plaasvind.  Hildegarde en Marisa van der Merwe neem as 'n span deel aan die wedren.  Dit behels dat deelnemers elke dag 'n afstand van tussen 22 en 34 km in die Grabouw koppe hardloop.  Elke dag word daar ongeveer 1 000 m geklim.  Die totale afstand van die wedloop is ongeveer 90 km wat in die 3 dae afgelê word.  Hierdie is nie speletjies nie.  Hulle gaan baie van die paadjies hardloop wat ons altyd by Wines@Whales ry asook die Gantouw Pas (Ou-wapad) waar ons altyd met ons bergfietse oor stap.

Om voor te berei het hulle in die opbou na die wedloop wat volgende week begin enigiets tussen 70 en 100 km per week gehardloop.  Hulle is beslis nou reg vir die uitdaging.  Ons gaan volgende Donderdag registreer.  Ek en Bouwer sal as ondersteuning optree en dit vir die twee dames so gemaklik moontlik maak.  Hulle hardloop onder die naam van "Team Nexus" so hopelik kan ek vir julle baie mooi foto's van die twee ysters wys!

Ek sal natuurlik op Twitter by @Jaco_Geldenhuys al die nodige inligting deurgee.  Na afloop van die naweek se AfricanX bly ek agter op Grabouw vanwaar ek vir J9 ondersteuning met die Epic sal bied.  Ek sien baie uit om daar van hulp te wees agter die skerms!  Ons is baie opgewonde oor die uitdaging en weet die twee dames gaan uitstekend doen.

Na aflloop van die afgelope week se ernstige brande in die Kaap is die Cape Town Cycle Tour verkort na 47 km.  Ons as Malmesbury Fietsryklub het besluit om die wedren as 'n groep te doen en saam te ry in solidariteit.  Dit gaan beslis 'n belewenis wees om in die stad op gesluite paaie te kan ry saam met al jou vriende.  Dit sal glad nie geval gewees het indie die Cycle Tour normaal aangegaan het nie, so hierdie is in sy eie reg baie geskiedkundig.  Ons sal sommer baie foto's neem en dit ook volgende week oplaai.

Tot later...

JG

12 Februarie 2015

@Hildegarde

Baie mense vra my wanneer ek weer 'n slag ietsie skryf, ek wil nie verskonings maak nie, maar ons blog het effens aan die agterspeen gesuig die laaste paar weke.  Ons het middel Desember 2014 gehoor dat ons een van die bestaande gimnasiums op Malmesbury vanaf Januarie 2015 kan oorneem.  Hildegarde gee reeds vanaf Junie 2014 oefenklasse in Malmesbury, maar ons plekkie het bietjie klein begin raak en hierdie was net die regte deur wat vir ons oopgegaan het om van 'n passie 'n beroep te maak.

Op 5 Januarie 2015 het @Hildegarde dus sy deure vir die publiek in Piet Retiefstraat 6, Malmesbury oopgemaak.  Ek sien altyd die bobbejaan baie vêr agter die bult en ek kon sien dat daar groot aanpassings vir ons as gesin wag om van hierdie nuwe uitdaging 'n sukses te maak.  Die passie en die wil was daar, maar die logistiek met die kinders en stabiliteit (roetine) vir hulle was vir my die groot uitdagings.  Hildegarde sluit self 05:30 soggens oop en sy sluit self in die aand na die laaste klas - 19:00.  Dit beteken dus sy is weg as hulle opstaan en sy kom tuis as hul klaar gebad is.  Gelukkig sien hulle haar baie deur die dag en sy doen steeds die normale rywerk ens.  Ons huishulp werk egter tot 16:00 en die periode tussen 16:00 en 19:00 (wanneer ek klaar geoefen is) was vir ons in die eerste paar weke 'n kopseer.  In hierdie tyd het die swaard van die naderende Attawas ook oor ons gehang, beide ek en Hildegarde gaan ry en om te kan oefen ens. was 'n groot uitdaging.  Hildegarde se oefenprogram waarmee sy vanaf begin Desember 2014 besig was, verg ook naweke lang ure en ons moes baie goed beplan om alles te laat uitwerk.  Ouma en Oupa was ook nog by die see, so hulp het van vriende van oral ingestroom om te help en hulle het natuurlik baie tyd by @Hildegarde spandeer!


@Hildegarde Logo - Kyk uit vir hom!
@Hildegarde op 12 Februarie 2015
Hildegarde het letterlik een keer fiets gery vanaf die Coronation Double Century en dit was die Woensdag voor Attakwas 2015.  Sy is in baie goeie vorm van al die hardloop, maar ons was baie senuweeagtig oor hoe sy op die fiets gaan hou by die moordende Attakwas.  Gaan lees meer oor Attakwas by http://jaco-hildegarde.blogspot.com/2014/01/attakwas-2014.html.  Ons is die Vrydag laat oggend af Oudtshoorn toe waar ons weer by Kleinplasie oornag het saam met Lood en Saretha.  Die Saterdag oggend was ons rondom 06:00 by die wegspring.  Ek het in groep A weggespring en Lood en Hildegarde in groep B.  Saretha sou die kinders en die voertuig in Groot Brak besorg.  Dit was 'n lieflike oggend, effens koel en daar was 'n gevoel van senuwees en opgewondenheid in die lug.  Daar was groot name op die wegspring en almal het geweet dis 'n moeilike dag wat voorlê.  Die Attakwas pak jy nie sonder die nodige respek aan nie.

Elkeen gaan in elke wedren met sy eie doelwitte in.  Myne vir die Attakwas was om 7 ure te probeer breek.  Lood wou sy tyd op verlede jaar verbeter en Hildegarde wou dit klaarmaak sonder baie voorbereiding op die fiets.  Ek het goed gevoel by die wegspring en heeltyd my eie spoed gery.  Alles het baie goed gegaan tot by die Spur waterpunt - ongeveer 65 km.  Daar het ek die tekort aan voorbereiding begin voel.  My langste rit vir Desember en Januarie was 4 uur 30 min op die padfiets en ek het gevoel ek kort "endurance".  Ek het deur die volgende 25 km geworstel, maar vasgebyt.  By die volgende waterpunt het ek lekker herstel en ek kon die laaste 30 km huistoe aanvat.  Ek het ernstig begin kramp in die laaste 5 km, maar het deurgedruk en klaargemaak in 6 uur 38 min.  Baie tevrede, maar weet ook dat daar 20 min van my êrens op die roete lê wat ek in 'n volgende jaar sal moet gaan haal!
Lood en Hildegarde net voor Attakwas 2015 - Ek was reeds by wegspring!
Lood het toe sy tyd verbeter en Hildegarde het toe klaargemaak en haar vorige jaar se tyd ook verbeter.  Baie tevrede met hierdie mikpunte.  Ons het lekker saamgekuier met die manne van J9 - Dirk en Brendan en het die aand by Hartenbos ATKV oornag.  Wat 'n heerlike vinnige wegbreek!  Ons sal weer teruggaan....

Na die eerste maand wat @Hildegarde oop is, kan ons net dankbaar wees.  Alles verloop baie goed.  Daar is 'n verskeidenheid van aktiwiteite wat aangebied word soos Zumba, Circuit Training, Twenty Four, Body Conditioning.  As jy meer oor hierdie dinge wil weet, praat maar met Hildegarde self.
  
@Hildegarde het ook die afgelope maand begin om op Vrydae tussen 15:00 en 15:30 vir kinders Zumba aan te bied.  Dit lyk of dit baie gewild kan word onder die Laerskool kinders.


Kinder Zumba klas!
Intussen oefen Hildegarde en Marisa kliphard aan die oefen vir die Pronutro AfricanX Trailrun wat van 13 - 15 Maart 2015 te Houw Hoek Inn aangebied word.  Dit behels om "offroad" afstande van tussen 22 en 35 km daagliks te hardloop.  Hildegarde en Marisa neem as 'n span hieraan deel en hardloop as "Team Nexus".  In die volgende blog sal ek meer inligting hieroor verskaf - roete profiel, afstande ens.  

Ek probeer steeds so rondom 10 ure per week fietsry, maar het geen wedrenne voor Cape Town Cycle Tour nie.  Alle tyd gaan nou in Hildegarde se voorbereiding vir AfricanX.  Ek gaan haar en Marisa ondersteun by Houw Hoek en dan bly ek daar agter om paar spanne te help by Epic.  Baie opgewonde om vanjaar bietjie agter die skerms te werk aangesien ek reeds die voorkant ervaar het!


Die tyd vlieg en ons is alweer by middel Februarie van 2015.  Die seisoene gaan een van die dae begin draai wat vroeg opstaan vir oefen bietjie moeiliker maak.  Ek het gevind al hoe ek gemotiveer kan bly om hard te oefen, is om dit saam met iemand te doen.  @Hildegarde is van Maandag tot Donderdag van 05:30 tot 19:00 oop, Vrydae van 05:30 tot 18:00 en Saterdae van 08:00 tot 11:00.  Hier sal altyd iemand wees om saam te oefen.  Kontak hildegarde_g@vodamail.co.za direk vir meer inligting rondom klasse ens.  Bly aktief en kry daai balans in jou lewe wat ons almal so broodnodig het.  Hier is beslis iets vir elkeen om te doen, van baie jong tot baie meer ervare in jare!  Al het jy 20 jaar laas geoefen, hier sal beslis 'n manier wees om 'n bietjie sweet te laat spat.

Ons praat gou weer,
JG

30 Januarie 2015

November 2014


Impi Challenge 2014

Ek het gesê ek sal nie so lank vat om jul op hoogte te hou nie, maar tyd vlieg en 'n maand is al weer verby na die Impi Challenge.  Dalk is een van die redes hoekom ek nog niks geskryf het nie, die feit dat ek op die ou end nie aan die Impi Challenge deelgeneem het nie.  Die Vrydag aand het dinge vir my redelik skeef begin loop met 'n maagvirus.  Ek was die hele Saterdag plat en het besluit om nie die Sondag deel te neem nie.  Ek was maar redelik bleek om die kiewe, maar het besluit om deur te druk en saam te Stellenbosch toe en nogsteeds te probeer ondersteun.

Daar het 'n baie lekker gees geheers, die weer was fantasties en almal was in ligte luim omdat hier nie regtig 'n kompetisie was nie, maar net lekker vet pret.  Hildegarde, Wim, Lood, Eduard, Riaan, Helena en Pierre het saam begin....maar nie saam geeindig.  Pierre en Lood het besluit die ander is bietjie te haastig oor van die hindernisse en hul wil eerder hul eie pas gaan.

Wat ek kan aflei by almal wat deelgeneem het is dit 'n definitiewe moet doen.  Dit behels omtrent 20 hindernisse waaroor, waaronder, waardeur jy moet gaan en dit word oor 12 km afgelê.  Jy raak vuil en moeg, maar die hoofding is al die pret wat jy met die res van jou spanmaats en ook ander op die roete het.  Almal se gesinne was op die eindstreep waar lekker verder gekuier is na die tyd en oorlogstories uitgeruil is.

Wilde Bains Trail Run 2014

Baie mense vra vir ons na Epic wat volgende is.  Vir my sal dit nog 'n Epic wees (eendag), maar Hildegarde het vir 2015 op iets heel anders besluit - Trail Run.  Sy en Marisa van der Merwe het ingeskryf vir die African X 3 dag Trail Run uitdaging wat in Maart 2015 plaasvind.


Dit behels net so oor die 90 km se hardloop op paaie waar ons gewoonlik met die bergfietse ry in Grabouw / Houwhoek area.

Sy is baie lief vir hardloop en dus was dit redelik voor die hand liggend vir haar om hierdie 'n "go" te gee.

Ek hardloop bietjie, maar nou nie kranig nie, so ek sal nie veel kan sê van hoe die wedren was nie, maar ek weet dat dit nie net plat paaie was nie.  Hildegarde is egter gaande oor 'n uitdaging en het gemaklik klaar gehardloop en algeheel 3de geeindig.  Dit het haar ook goeie perspektief gegee van wat om te verwag en waaraan om te werk in die komende maande.

FNB W2W 2014

Op 7, 8, 9 November 2014 het een van die hoogtepunte van 2014 vir my en Lood plaasgevind.  Dit was weer tyd vir die FNB Wines2Whales.  Dit is seker een van die bes georganiseerde meerdaagse bergfietswedrenne in die land.  Hierdie sou ons 2de W2W wees en die hoofdoelwit was om te verbeter op ons tye van die vorige jaar.  Die natuur en mens se liggaam speel nie altyd saam nie.  Op dag 1 was dit bitter warm.  Ons het heel voor in ons wegspring groep gestaan en was vinnig uit die blokke.  Ek het vir Lood gesê ons moet teen sy spoed ry waarmee hy gemaklik is.  Dit was warm en ons het redelik hard gery.  Iets was fout met Lood en toe ons met die wapad op begin stap was daar niks energie in sy liggaam oor nie.  Dis ongeveer halfpad en ek het besef ons sal ons doelwitte moet aanpas as ons as 'n span die dag en wedren wil voltooi.  Ek het opgehardloop, my fiets gaan neersit, weer afgehardloop en sy fiets gaan haal en hom gesê om op sy eie spoed berg-op te gaan en by die "medic" vir iets te vra om hom te help.  Ou Lood was moeg en naar en daar was geen petrol in die tenk oor nie.  Ons het met 'n groot gesukkel deur dag 1 gekom vanwaar Lood direk na die noodhulp tent is en op 'n drup gaan lê het.

Die drup het 'n enorme effek gehad.  Dag 2 was in my opinie Lood se beste dag op 'n fiets vandat ek hom ken.  Ons het hard gery en baie plekke opgemaak en ook die dag baie geniet met al die enkelspoor en bruggies wat daar op die roete was.  Niks probleme en niks om oor te kla nie.  Die aand het ons hele groep 'n afskeidsbraai gehou waar lekker saamgekuier is in Kleinmond.  Voorwaar 'n voorreg.



Dag 3 voel jy altyd vroeg aan jou bene en dit vat bietjie langer om op te warm na die vorige 2 harde dae, maar jy weet ook dat dit die laaste dag is en jy wil jou alles gee.  Ons het weereens lekker gery en was baie bly om ons gesinne by die eindstreep te sien en nog 'n suksesvolle FNB W2W te kon eindig




Ek wil enigeen aanbeveel om hierdie wedren te doen indien jy enigsins kan.  Jy word op jou hande gedra.  Alles is fantasties gereël en dit is 'n groot lekkerte om deel van hierdie ondervinding jaar op jaar te kan wees.

Coronation Double Century 2014

Vandat die Malmesbury Fietsryklub weer op die been gebring is, was dit nog altyd vir ons 'n droom om 'n volledige span van Malmesbury na die Coronation Double Century te neem.  Ons het baie naby daaraan gekom deur uit die 12 ryers 9 te hê wat op Malmesbury woon, 2 wat baie sterk konneksies met ons het en 1 "uitruil" student!  Ons het die naweek voor die DC op 'n oefenrit as span gegaan om basies die strategie vir die volgende naweek te bepaal.  

Johann Rabie van Bike Addict was vir ons span goudwerd in voorbereiding tot die wedren.  Hy en sy span het verseker dat ons almal se fietse op standaard en skoon is vir die wedren en vir ons sokkies en bottels gegee. Ons het dan ook op die dag onder die naam "Bike Addict" gery.  Die span het bestaan uit myself, Hildegarde, Lood, Glenn Norrie, Charl (Tier) du Plessis, Kobus Duminy, Carl Malherbe, Loch Nel, Durwin Benjamin, Elfriede Wolfaardt, Bronwin Adams en Fietie Rocher.  Elfriede se man, Herman, was ons ondersteuning vir die dag en hy het 'n uitstekende taak verrig.  Ons het almal die aand voor die DC in Montagu saam gebly.  Ek was die koördineerder van alles en toe ek met my spanpraatjie wil begin, kom ek agter ek het dit op Malmesbury vergeet!  Gelukkig kon ons op daardie laat stadium nog planne maak en alles was reg vir die 202 km die volgende dag.
Die samesprekings die vorige aand het alles gedui daarop dat ons hierdie wedren as 'n span wil klaarmaak.  Die tyd was vir ons minder belangrik, maar ons wou al 12 oor die wenstreep kry om sodoende vir die spesiale Charles Milner medalje te kan kwalifiseer.  Ons wou niemand agterlaat en ons het van die begin af teen 'n spoed gery wat die hele groep pas met die oog op die moeilike 2de deel van die wedren.  Almal was baie gemaklik toe ons na ongeveer 100 km stop by Ashton en daar was selfs grappies gemaak.  Ons het weer 'n stop gehad op ongeveer 160 km.  Minder grappies en meer ongemaklikheid, maar almal was steeds vasbeslote om klaar te maak.  Die laaste deel van die wedren is altyd die moeilikste en ons span het hulself uitstekend van hul taak gekwyt om in 6 uur 53 min klaar te maak!  Ons was almal baie tevrede hiermee en het al ons eie verwagtinge oortref.  Volgende jaar maak ons beslis weer so.

Stellenbosch Cycle Tour 2014

Daar was nog een laaste hekkie vir my vir 2014 oor, die Stellenbosch Cycle Tour op 30 November 2014.  Ek ry maar min padwedrenne, maar hierdie is die tweede keer dat ek hierdie wedren doen.  Verlede jaar het die wind verskriklik gewaai en ek wou terugkom op 'n dag wat die weer beter is.  2014 was daai jaar.  Dit was die perfekste dag wat jy jouself kan indink.  Nie te warm nie en geen wind nie.  Die begin was bietjie deurmekaar met 'n "rolling start", daarna moes ons oor Helshoogte Pas ry en vandaar was die wedren so te sê verby.  Die groepe was bitter groot en jy kon nêrens iemand verbygaan.  Dit was vinnig en as jy by jou groep kon hou het jy dieselfde tyd as almal gery.


Helshoogte Pas
Ek het klaargemaak in 2 uur 35 min.  My mikpunt was 'n goeie tyd aangesien hierdie wedren bydra tot jou Cape Town Cycle Tour wegspringplek, maar almal het goeie tye gery op die dag, so ek twyfel of dit enigsins sal help.  Nogsteeds was dit 'n lekker dag op die fiets en 'n goeie manier om 2014 af te sluit.

Ons praat weer in die nuwejaar en dan vertel ek jul meer van al ons nuwe uitdagings!

Mooi bly,
JG

30 Mei 2014

Amarider 100 Miler

Verandering van seisoene, 'n baie lae immuniteit en kinders wat met nat neuse huistoe kom is glad nie die perfekte voorbereiding vir 'n wedren soos die Amarider 100 Miler nie.  Hildegarde staan sterk deur alles, maar ek is maar 'n "softie".  As daar 'n virus in die lug is, sal ek hom kry.  Dit was dan ook die geval van so 10 dae voor die 100 Miler af.  Ek was nie bedlêend nie, maar beslis nie gesond.  

Die Maandag (op JJ se verjaarsdag - 19 Mei 2014) het ek begin met 'n kursus antibiotika.  Ek kon elke dag in opbou na die 100 Miler voel ek raak beter.  JJ het 'n Spiderman partytjie gehou soos wat julle kan sien op die aangehegde foto.  Hy is regs en sy maatjie HB is links.  Beste dag van sy lewe tot dusver!

Ons sou as Team Nexus deelneem.  Hierdie keer was ons 4 ryers - ek, Hildegarde, Glenn Norrie en Charl (Tier) du Plessis.  Die reëls van die 100 Miler verskil so bietjie van die ander wedrenne as jy in span verband ry.  By die 100 Miler kan jy as 'n span ry, maar jy hoef nie saam te ry nie.  Hulle vat net die tyd van die span as die laaste persoon van die 4 se tyd en al 4 moet klaarmaak om as 'n span te kwalifiseer.  Ons het egter in die gemengde spanne deelgeneem en ons moes die dag voor die wegspring uitvind dat daar net een ander gemengde span ingeskryf is, so daar sal nie 'n gemengde kategorie wees nie.  Ons het egter steeds besluit om as span te ry en ook nie elkeen op sy eie spoed te ry nie, maar die heeltyd as "Team Nexus" bymekaar te bly.

Jaco Geldenhuys, Hildegarde Geldenhuys, Glenn Norrie en Charl (Tier) du Plessis

Die wedren begin by Swartland Wynkelder en eindig, net soos die naam sê, na 100 myl (163 km) weer by Swartland Wynkelder.  Daar is ook 'n 50 Miler wat by Delico Slaghuis op Riebeek Kasteel begin en die laaste 80 km van die 100 Miler roete is, en ook by Swartland Wynkelder eindig.  Malmesbury was uitstekend verteenwoordig in beide wedrenne en daar was ongeveer 30 van ons wat deelgeneem het!  Voorwaar uitstekend vir 1 dorp.  Ons het natuurlik ook 'n moontlike algehele wenner in die wedren vir die 100 Miler in ons midde gehad - Johann Rabie was ook op die beginstreep.  Die roete was beslis nie plat nie en ons moes buiten die ekstreme weerstoestande 2 400 m oor 163 km klim!


Ons span het ongeveer in die middel van die bondel begin en my begin kon ek nie slegter voorspel het nie.  Ek het by die mense voor my probeer verbykom en deur 'n rolletjie hakiesdraad gery wat net langs die pad gelê het.  Dit het in my "cluster" opgewen aan die speke se kant.  Ek en twee Barmhartige Samaritane het seker 5 min gesukkel om dit los te kry, gelukkig was daar geen skade en ek kon aanry.  My span het so 500 m verder vir my gewen.  Op dieselfde oomblik het die donderweer en blits begin slaan en ons het sommer lekker vroeg al natgereën.  Hierdie was die begin van 'n baie lang en moeilike dag!


Ons het weer bymekaargekom as span en dadelik met 'n paar kort klimme begin.  Vir ons ryers wat nie "race" nie, moet jy baie hard waak daarteen om nie ingetrek te word met die persone wat vinnig begin nie.  Hierdie is 'n Ultra Ultra marathon en jy moet alle energie soos goud oppas, want jy gaan dit beslis later nodig kry.  Glenn was ook die heel week effens ongemaklik met sy hartklop se reaksie as hy tempo gery het en dit was dieselfde storie op die dag van die wedren.  Hy het egter by ons gebly en probeer bepaal wat aangaan.  Die eerste ongeveer 50 km was eintelik heel aangenaam, toe draai ons in 'n Oostelike rigting.  Die wind was besig om te draai na Noordwes om die enorme kouefront in te bring en ons het die wind van voor begin kry.  Op 61 km was ons by die eerste "tagpunt".  Almal was ongedeerd en wou net graag by die halfpad merk kom.  Dit was egter baie makliker gesê as gedaan.  Die wind was nou van die Noordweste en ons moes reguit teen hom ry tot by Delico.  Hierdie gedeelte van die roete is eintlik 'n maklike deel.  Min bulte en lekker plat.  Ons kon beswaarlik 20 km / uur handhaaf.  Ons het na 4 ure by Delico aangekom en vir Riaan van Zyl wat ons en Dr. Loch Nel, wat ook 100 Miler gery het, se bystandvoertuig gery het daar gekry.  Ons kon ons eie bottels kry en warm klere kry - die kouefront was naby.




Ons het verder gery en na ongeveer 2 km het Glenn gesê hy voel glad nie goed nie.  Die dag het al hoe moeiliker geraak en ons wou beslis nie sy gesondheid in gevaar stel nie.  Hy het besluit om terug te gaan na die voertuig toe.  Dit het beteken dat ons nou net drie was wat teen die wind moet baklei en dat ons nie meer as 'n span kwalifiseer nie.  Na die tyd het ons verneem dat Delico die eindpunt van baie ryers se dag was.  Ons moes ongeveer nog 25 km teen die wind ry voor ons 'n effense blaaskans gekry het waar die wind van die kant af gewaai het.  Dit was 'n moeilike stuk.  Ons 3 het min gepraat en elkeen het in homself geworstel oor hoe aaklig dit was om op daardie spesifieke tyd daar te wees.  Ons het uiteindelik die "tagpunt" met ongeveer 45 km bereik en geweet dat ons nou twee gedeeltes gaan kry met die wind van agter.  Die weer het nog slegter geraak en dit het begin reën.  Ons was nou op die paaie wat ons gereeld oefen, dit het nie gehelp dat ons weet wat kom nie!


Die laaste klimme was uitmergelend na die harde dag.  Emosies was hoog en die dag kon gerus klaarkry.  Ons het op een van die drie laaste bulte reguit teen die wind ingedraai.  Dit het gereën en jy moes letterlik teen die afdraend trap om nie stil te staan nie.  Ons is daar deur en op die laaste 7 km het ons die wind van agter gehad.  Wat 'n verligting.  Ons het klaargemaak in 8 uur 11 min.  Dit was in alle waarskynlikheid my hardste dag op 'n fiets nog, my span het my beslis deurgedra.  Dankie Charl, Glenn en Hildegarde.  Ons het ook uitgevind dat Hildegarde die 3de vrou in die Sub-vets was!
Hildegarde op podium (Foto: Saretha Fouche)
Johann Rabie, Malmesbury se eie professionele fietsryer, het die 100 Miler gewen met ongeveer 8 min.  Hy het dit in 1 minuut vinniger gery as 2013 se wentyd (waar hy net-net 2de was) ten spyte van die haglike weersomstandighede in 5 uur 58 min.  Almal het na die tyd gesê ons gewone ouens kan 10% aftrek by ons tyd - hoeveel moes Johann dan aftrek?!  

Johann Rabie - Wenner Amarider 100 Miler (Foto: Johann Notnagel)
Johann het ook onlangs as deel van EAI Cycling saam met Gawie Combrinck die Joberg2C gewen en 2de plek behaal in die Sani2C.  Malmesbury is baie trots op jou!  Ons is ook uiters bevoorreg om hom as deel van Malmesbury Fietsryklub te kan hê en in sy geselskap op Woensdae ons klub se sosiale ritte te kan byhê.  Malmesbury het in 2013 geen fietswinkels gehad nie.  In Januarie 2014 het Johann sy winkel, Bike Addict oopgemaak en kort daarna het Crispin en Juan vir Kroff oopgemaak.  Ons is meer as 60 lede in die klub en die sport groei van krag tot krag in ons omgewing.  Kom besoek hierdie manne se winkels vir professionele hulp en advies.

Vir nou is dit winter en dit raak al hoe moeiliker om aan die oefen te bly!  Trek dik aan en laat daai wiele rol.

Tot later,
JG

30 April 2014

Transkaroo 2014

Die afgelope Saterdag, 26 April 2014 het 'n groot groep van Malmesbury die Transkaroo van Ceres na Sutherland aangepak.  Ek gaan begin by die opbou na die rit, maar eers van 'n ander klein resies vertel wat ek gedoen het vroeër in die maand.

Ek en Hildegarde het besluit om op Saterdag 12 April 2014 'n lekker lang ent te gaan fietsry om haar knie te toets na Epic.  Die fisio het haar egter die Vrydagmiddag meegedeel dat indien sy die Transkaroo wil ry, sy nog eers rustig moet wees.  Ek besluit toe laat die aand om die volgende dag die Fine Breed MTB net buite Worcester te gaan doen.  Dit was 'n 46 km wedren.  Die hele Epic het ons gery aan gemiddeld 100 km per dag.  Nou skielik moes ek 'n baie kort afstand jaag.  Ek het glad nie geweet hoe ek sou voel om van die geweerskoot af reg te wees om hard te ry nie en was stilweg ongemaklik met die onbekende.  Ons het eers 08h30 weggespring en dit was reeds warm.  Ek het in groep C begin en was dadelik voor in my groep, maar kon voel die bene is nie gewoond aan die vinnige wegspring nie.  Na ongeveer 'n halfuur was ek lekker opgewarm en kon die pas opstoot.  Ons het van die A en B groepe se ryers begin verbygaan en ek was baie tevrede met hoe ek gevoel het.  Ek het klaargemaak in die 23ste posisie algeheel in 'n tyd van 2 uur 22 min.  Johann Rabie (my chaffeur vir die dag) het gewen in 'n tyd van 1 uur 54 min.  Sy prys was wyn tot dieselfde gewig as wat hy is.  Ons is daar weg met 13 x 6 bokse!  Geluk Johann...

Om terug te kom na die Transkaroo, ek en Lood het dit verlede jaar saam voltooi.  Hierdie jaar was daar 9 ander ryers van Malmesbury teenwoordig.  Wat 'n lekker uistappie om na uit te sien.  My voorbereiding die week voor die wedren was weglaatbaar min.  Ek het die vakansiedag (Maadag van Paasnaweek) met Hildegarde 2 ure gery en gevoel my keel voel nie lekker.  Van daar was dit al die tyd afdraend met my gesondheid.  Woensdag dokter toe, Vrydag weer en antibiotika moes my deurtrek.  Ek het myself tot 100 km in die wedren gegee om te besluit wat ek sou doen.



Hierdie is nie 'n wedren waaraan jy deelneem vir 'n tyd nie.  Jy neem deel om onder die afsnytyd van 17 ure klaar te maak.  Dis glad nie tegnies nie, maar baie lank en jy klim oor die 3 000 m op die rit van 240 km.  Die ergste van alles is dat jy die pragtige Oubergpas op 190 km bereik.  Teen daardie tyd is jy redelik siek en sat van jou fiets se saal en dan wag hierdie monster voor jou!


Ons het om 07h00 op 'n pragtige oggend weggespring by Eselfontein in Ceres.  Die roete sou ons oor die Bo-Swaarmoed pas neem, deur die Karoo Poort oor die Oubergpas na Sutherland.  Gemoedere was goed en almal was gereed vir die groot uitdaging.




Ek en Hildegarde het besluit ons gaan weer net ry met 'n tempo waar ons gemaklik is.  My keel het nog gekrap en ek het besluit om net op mart hartklop te konsentreer.  Die oomblik wat hy oor 160 bpm gaan het ek die voet van die pedaal gehaal.  Op 38 km het Saretha, Makkie en die kinders gewag en almal was baie behulpsaam om ons warm klere ens. aan te vat wat ons uitgetrek het, asook broodjies aangee.  Hulle is ook verantwoordelik vir paar van die foto's in die blog.  Die ander foto's is die werk van www.oakpics.com.  Na hierdie dienspunt was ek en Hildegarde alleen vir ongeveer 30 km vanwaar ons by 'n bondel aangesluit het tot by die volgende "checkpoint" op 90 km.  Hier het ek beter begin voel en besluit dat ek en Hildegarde as "Team Nexus" dalk 'n kans het vir die podium van die gemengde pare.  Dit was 'n sieldodende stuk pad vir die volgende 90 km.  Daar was darem 'n liggie in die tonnel met die kinders wat weer vir ons op 145 km sou inwag!  Ons het die wind van voor gekry vir groot gedeeltes van roete met die middel klimme van die dag op 120 km.  Ons kon vinnig stop op 145 km en die kinders was baie bly om ons te sien.  Warm klere, ligte en kos en ons was binne 5 minute weer op die pad.  Hierdie items sou later die aand eers nodig wees, maar ons moes dit nou al in ontvangs neem aangesien daar nie weer 'n dienspunt met ons eie "crew" was nie.  Daar was 40 km teen die wind op die warmste deel van die dag wat voor ons uitgestrek gelê het tot die voet van Oubergpas.  Die Tankwa karoo was pragtig en omdat die roete glad nie tegnies was nie, kon ons die omgewing regtig waardeer.  Indien ons weer sal terugkom om hierdie wedren te ry, sal die skoonheid en SKOON-HEID (daar lê niks rommel en lug is skoon) die hoofredes wees.




Ons het aan die voet van Oubergpas besef dat ons dalk die sonsondergang van daar bo gaan kan beskou.  Ons het ook vir Saretha by die vorige waterpunt ingelig dat ons vir 12 ure mik, wat sou beteken dat ons 19h00 in Sutherland behoort te wees.  Oubergpas is moeilik, maar beslis nie die einde van die wêreld.  Ons was rustig daarop, maar het nie piekniek gehou nie.  17h00 was ons bo.  198 km was agter die rug en die einde was in sig.  Vinnig bottels volmaak, ietsie eet, warm klere aantrek en ons was weer op die pad.  Ek weet nie of ek die woord op so 'n openbare platvorm mag gebruik nie, maar hier kon ek agterkom dat Hildegarde begin GATVOL raak.  Ons was so net oor die 10 ure op die pad en wou net klaarkry.  Daar was nog een of twee klimme oor en die beentjies kon dit begin voel.  Ons het die laaste 40 min ons ligte nodig gehad en het om 19h17 Sutherland bereik.  Ons totale tyd vir die Transkaroo was 12 uur 17 min.  Die organiseerders het ons ingelig dat ons die eerste gemengde span was en die volgende oggend by die prysuitdeling moet teenwoordig wees.  Saretha, Makkie en die kinders was daar en ons was baie verlig en trots!



Die pragtige Oubergpas
Ons het al die ander Malmebury ryers ingewag.  Sutherland was koud en daar het baie vure gebrand.  Ons is bederf met lekker lamspot.  Die ander ryers het in groepe van 2 begin klaarmaak.  Hulle was Johann Loubser en Elischia Drotschie 14 uur 20 min, Kobus Drotschie en Jaen Fouche 14 uur 26 min, Lood Fouche en Manus Bester 15 uur 8 min en Madeleen Kotze 15 uur 27 min.  Die "spangees" onder mekaar was fantasties en ons was trots om die ervaring met hierdie mense te kon deel.  Ek, Hildegarde, Lood, Saretha en die kinders moes nog terug na ons verblyf wat ongeveer 30 km buite Sutherland op ons geliefde Blesfontein was.  'n Baie lang dag met 'n baie mooi einde....


Heerlike ontbyt is bedien by Jupiter Lounge waar die eindstreep en die prysuitdeling sou plaasvind.  Toesprake is gemaak en die aankondiger het al die kategorie wenners gevra om na die tyd 'n onderhoud vir die TV te doen.  Ons is op die verhoog geroep onder groot toejuiging van ons mede Swartlanders.  Dit het dit baie spesiaal gemaak en ons het dit verskriklik waardeer dat almal die oggend daar was.  Aan die regterkant van hierdie paragraaf is die foto van die trofee wat elkeen ontvang het.  1ste prys was 'n volledige fiets, terwyl 2de en 3de elk net 'n voorwiel gekry het, baie oorspronklik!  Ons moet ook bieg, die een bottel vonkelwyn is reeds iets van die verlede.

 Die prysuitdeling is gevolg deur die onderhoude.  Vrae het meestal gehandel oor die afstand en lengte van die resies, asook die pragtige natuur ens.



Ons is na afloop van die oggend se verrigtinge weer terug na Blesfontein waar almal 'n redelike lang siesta gehad het en die aand afgesluit met 'n heerlike Noord-Kaap braai en sonsondergang.


 'n Onvergeetlike naweek en goeie lafenis vir die siel.  Blesfontein is vir ons 'n moet elke jaar en ons sal met hierdie tradisie (om daar te gaan kuier, nie noodwendig Transkaroo ry) voortgaan so lank as moontlik.

Ons hou onsself maar steeds besig met oefen, daar is lekker paar wedrenne in ons area in Mei maand waaraan ons sal deelneem.

Cheers vir nou,
JG

08 April 2014

ABSA Cape Epic 2014

Ek sit en skryf nou hier, presies 'n week na die ABSA Cape Epic van 2014.  Ons het ongelooflik baie tyd en energie in dit ingesit en dit voel asof iemand die ligte afgeskakel het.  Dis oor en verby en 'n mens wonder of jy as amateur weer in jou lewe so hard sal werk om 'n doelwit te bereik.  Ek is baie gevra oor hoogtepunte en laagtepunte van die week.  Ek gaan so bes moontlik 'n opsomming van die hele wedren gee en so bietjie wat agter die skerms by ons gebeur het.

Prologue - Meerendal (23 km met 700 m klim)

Alles is reg, die fietse is gediens, ons voel goed en het vir 9 maande voorberei aan hierdie geleentheid wat hom nou uiteindelik kom voordoen het.  Daar is baie emosies wat deur ons gaan.  Opgewondenheid, senuwees en dan natuurlik al die adrenalien.  Die belangrikste op hierdie dag is om in een stuk klaar te maak.  Nie te haastig te begin en onnodige foute maak wat op die einde die einde van jou hele droom kan beteken nie.  Familie en vriende was in groot getalle daar om ons te ondersteun en jy het tussen jou eie mense soos 'n "celebrity" gevoel!  Ons het in ons "limited edition" hemde gery ten bate van bewusmaking van Sistiese Fibrose.  Ons grootste vrees was om by die trappe van die Manor House af te ry.  Die oggend toe ons daar aankom, sien ons daar is nog 'n kinkel in die kabel.  Daar het plastieksakke vol druiwe gelê op die stuk gras net na die trappe.  Ons moes van die trappe bo-oor die druiwe ry.  Hulle maak dan 'n spesiale wyn van die druiwe waaroor ons gery het.  Teen die tyd wat ons moes wegspring (08h48) was ons redelik kalm en baie lus om te begin.  Ons het goed begin, deur die huis, trappe af, oor die druiwe en toe veilig op die pad sonder probleme.  Dankie tog, die ergste deel van die roete was verby.  Ons het baie verkeer op die pad gekry, maar steeds klaargemaak in 1 uur 33 min.  Ons mikpunt was 1 uur 30 min, maar ons was tevrede.  Hierdie was dan ook die grondslag vir ons week, want ons het gesien ons is die 20ste "Mixed Team" en het besef dat ons dalk in die top 20 van die gemengde pare kan eindig as ons konstant is.

Foto's van Prologue in Sistiese Fibrose klere

Stage 1 - Robertson tot Robertson (113 km met 2 950 m klim)

Ons eerste "race village" was by Arabella Wines in Robertson.  Ons het nie in die "race village" geslaap nie, maar meeste van die goed daar gedoen.  Ons het soggens voor wegspring daar ontbyt genuttig en een of twee aande daar gaan eet.  Jou wegspring tyd word bepaal op jou GC (General Classification).  Hoe beter jou klassifikasie is, hoe vroeër is jou wegspring die volgende oggend.  Die eerste ryers spring 07:00 weg en vandaar volg die res in groepe 10 min uit mekaar uit.  Stage 1 was 'n harde dag (soos op elke Epic!).  Die organiseerders WIL jou seermaak en kyk of jy mans genoeg is om Stage 2 weer by die wegspring te wees.  Die oggend was effens mistig en koel, maar eintlik baie aangename weer vir fietsry.  Ons was lekker vars en reg vir die aksie.  Die klimme het gewag en ons voorbereiding moes ons nou deurtrek.  Die eerste 30 km was relatief plat en vinnig.  Ons is deur wingerde met baie volstruisdorings en die wiele het baie gespuit (seëlmiddel wat die gatjies moet toemaak).  Ons het die eerste klimme bereik sonder probleme.  Van hier het ons die grootste deel van die dag in die koppe by Robertson gery.  Die mis was dik daar hoog bo en daar was baie gevaarlike en vinnige afdraendes.  Hildegarde het almal gery en hoef nêrens af te geklim het nie.  Afdraendes was haar grootste vrees voor die Epic en ek kan met trots sê dat sy haar vrese oorkom het.  Sy het dit soos 'n professionele ryer hanteer.  Dit was 'n harde dag, maar ons het dit suksesvol klaargemaak in 6 uur 46 min.  Ons was die 15de "Mixed Team" vir die dag en die 218de span vir die dag.  Ons baie klim oefening het beslis ingeskop!  Dit het ons testaan gebring op 15de van die gemengde spanne en 234ste vir die wedren se totale tyd....Skielik het ons geweet dat ons nie meer hier was om net klaar te maak nie, ons kan hier dalk iets bereik as alles hou!

Stage 2 - Robertson tot Robertson (103 km met 1 550 m klim)

Ons het reeds deur die nag gehoor daar kom moeilikheid.  Dit het katte en honde gereën.  Ons is nie bang om nat te word nie, maar modder en fietse gaan beslis nie saam nie.  Ons is begroet met 'n modder massa by die wegspring en geweet vandag gaan 'n lang dag wees.  Dit was veronderstel om 'n "rusdag" te wees in Epic terme, maar die natuur het anders besluit.  Ons het versigtig gery op die gladde paaie en die fietse so goed moontlik probeer oppas.  My ouers sou met die kinders by waterpunt 2 in McGregor vir ons inwag.  Ongeveer 10 km voor McGregor het ons deur taai modder / klei gery en die fietse se "drivetrains" was heeltemal toegepak.  'n Rivier moes eers gebruik word om alles af te was voor ons verder kon ry.  Ons is deur McGregor en kon ons ondersteuners sien!  Dit het ons nuwe energie gegee om die eindstreep te haal.  Ons was deurtrek met die modder.  Dit was op plekke waar ons nie eens geweet het modder kan in nie, maar ons het klaargemaak in 6 uur 18 min.  Ons was die 14de "Mixed Team" vir die dag en 229ste algeheel.  Dit het ons gehou by totale posisie van 15de in die gemengde afdeling en laat afskuif na 226ste vir die totale wedren.  Gelukkig was my ouers daar om te help met die klere was.  Dit was 'n enorme gemors en ons moes hard spook om dit alles skoon te kry.  Nuwe briekblokke moes installeer word na hierdie rowwe dag.

Die modderdag - Stage 2
Stage 3 - Robertson tot Greyton (134 km met 1 900 m klim)

Ons het ons laaste aand in Robertson deurgebring en was vandag oppad na The Oaks Estate in Greyton.  Die langste dag van Epic 2014.  Ons het geweet Stage 3 gaan moeilik wees.  Jou liggaam is nog nie gewoond aan die roetine van 'n Ultra Marathon elke dag nie.  Jou bene en lyf is moeg en jy voel pap.  Ons het geweet ons moes net deurdruk, Stage 4 sal makliker gaan as die liggaam se nuwe roetiene inskop.  Stage 3 was baie plat stukke distrikspaaie.  Groot gedeeltes is soos 'n padwedren hanteer waar jy in bondels ry.  Die eerste 20 km kon Hildegarde eenvoudig net nie by een bondel bly nie.  Sy het die heeltyd vir my gesê sy trap swaar.  Ons het toe besluit om te stop en kyk wat fout is.  Haar nuwe remblokkies het teen die "rotor" geskaaf wat haar weerstand gebied het.  Ek het dit reggemaak en dit het beslis baie makliker gegaan vandaar.  Dit was 'n uiters lang en sieldodende dag met meeste van die gedeeltes die wind van voor.  Ons was baie verbaas om by die laaste waterpunt weer my ouers en die kinders te sien.  Hulle het besluit om weer vir ons te kyk en weereens het dit veroorsaak dat ons 'n ekstra bietjie energie kry om die eindstreep te haal.  'n Lang dag het in Greyton tot 'n einde gekom na 7 uur 39 min.  Ons het gedink ons gaan redelik plekke verloor aangesien ons heeldag nie so sterk gevoel het soos die vorige paar dae nie.  Tot ons verbasing het ons 19de van die "Mixed Teams" en 333ste algeheel vir die dag geëindig.  Dit het ons totale posisie soos volg laat lyk - steeds 15de gemengde span en 262ste algeheel.  Ons kon die kinders lekker druk en aangaan met ons Epic roetine.  
Ons was 3 spanne wat vir Eddie du Toit van RE-CON gebruik het vir ons masserings.  Hy het hulp gehad van Pallo Manuel om ons so spoedig op die regte plekke te kry.  Na afloop van 'n dag sal Eddie die eerste groep dadelik huistoe neem en so gou moontlik begin met die masserings.  Gewoonlik teen die tyd wat hy met die eerste span klaar is, was die ander span reg vir hulle sessie.  Dit het baie goed gewerk en het vir ons as deelnemers die lewe baie makliker gemaak.
Ons aankoms in Greyton na Stage 3
Stage 4 - Greyton tot Greyton (88 km met 1 850 m klim)

Weereens 'n lekker mistige oggend, maar perfekte bergfietsry toestande.  Ons het 'n goeie nagrus gehad en het baie goed gevoel.  Dit het reflekteer in die fietsry met die wegspring.  Ons was sterk vandag en ons het 'n punt gehad om aan onsself te bewys.  Daar was een of twee van die ander gemengde spanne wat ons vandag wou wen.  Ons het lekker gery en redelik tyd opgemaak, maar na sowat 15 km het my fiets snaakse geluide begin maak.  Iets was ernstig fout.  Op ongeveer 20 km kon ek nie meer die geraas verduur nie en het gestop, my agterwiel gewikkel en besef my "bearings" het opgepak.  Ek kon deur nou te begin stap ernstige skade en kostes vermy, maar dit sou baie langer vat.  Ek moes by waterpunt 1 kom waar die "Techzone" was sodat hulle na my wiel kan kyk.  Dit was nog 9 km.  Hildegarde het so 'n klein valletjie die oggend gehad en ons het hier tot 'n skop agtergekom dat haar "handlebar" gebreek is, presies waar sy dit vashou.  Na die volgende 8 km het my wiel "gecease".  Hy wou glad nie meer draai.  Ek het die laaste km tot by die waterpunt gehardloop en my fiets gedra en gesien hoe ons grootste kompetisie verby ons gaan....

Die stukkende wiel...
Hildegarde se hart was gebroke.  Ek het om hulp gesmeek by die "Techzone".  Hulle het my meegedeel dat ek redelik ernstige skade veroorsaak het en hulle niks vir my kan doen nie.  Ons het toe besluit om nuwe wiele te koop, asook 'n 10-spoed cazette.  Dit op my fiets te bou en te hoop dat ons sou kon aanry.  Dit het so 35 min geduur.  Ons het besef dat daar nog ekstra "spasers" kort en hulle moes "race village" toe bel en die persoon moes dit met 'n motorfiets na ons bring.  Na 1 uur 5 min was ons weer op die pad.  Hildegarde het in die tyd wat ons gewag het op 'n stadium gewonder of sy nie maar alleen moet aanry nie.  Die Epic is egter baie streng wat dit aanbetref.  Indien jy en jou rymaat enige tyd verder as 2 min uitmekaar is, sal jy met 'n uur gepenaliseer word.
  
Met ons aankoms by die waterpunt was ons ongeveer 250 ste, met ons vertrek het die aankonidger gesê dat daar nou 1 100 ryers duur die waterpunt was.  Dit het beteken dat ons ongeveer 550ste was!  Ons moes deur die hele veld terugry en daar was bitter baie "singletrack" op hierdie dag.  My nuwe wiele was egter nie "tubeless" en op 58 km het ek 'n pap wiel gehad.  Hildegarde het nie besef ek het probleme en sy het aangery.  Ek moes wiel regmaak en nadat die nuwe binneband in was wou hy ook nie styf!  Ek het die klim uitgehardloop en hopelik kon ek vir Hildegarde sien.  Sy was nêrens in sig en het al die ander "tools" gehad.  Ek het aanhou hardloop met my fiets tot iemand my uiteindelik gehelp het met 'n ander binneband.  Met die laaste pomp het Hildegarde van voor gekom en ons kon net lag vir wat nou nog kon verkeerd gaan.  Ons het besluit om net te probeer klaarmaak.  Ons het ongeveer 1 uur 45 min verloor op hierdie dag, so ons was glad nie meer optimisties oor posisies nie.  Die nuwe mikpunt was om die Epic te voltooi!  Ons het uiteindelik klaargemaak in die 53ste posisie van die "Mixed Teams" en 529ste vir die dag.  Ons was baie verbaas om te sien dat ons algeheel steeds 20ste van die gemengde spanne was en afgeskuif het na 321ste vir ons totale tyd.  Daar was steeds lig aan die einde van die tonnel!  Ons fietse is ingegee vir 'n deeglike / duur diens en ons was die laaste span wat op hierdie dag masseer sou word.  Lang, deurmekaar dag.

Begin van die nagmerrie - Die "smiles het egter nooit verdwyn!
Stage 5 - Greyton tot Elgin (115 km met 2 950 m klim)

Hierdie was die monster stage.  Baie spanne het hulself deur die hele Epic gespaar vir hierdie dag.  Ons het egter elke dag gery soos wat ons op daardie spesifieke dag gevoel het.  Die nagmerrie van die vorige dag het ons ook weereens laat besef hoe bevoorreg ons is om steeds deel van die Epic te wees en dat daar dalk geen môre is nie.  Jy moet elke dag alles tot die beste van jou vermoë doen.  Die Epic is voorwaar baie soos die lewe (sal later in my opsomming weer hierna verwys).  Ons het sommer van die staanspoor saam met lekker groepe gery en geweet dat indien ons die eindstreep gaan haal, die kinders saam met Lood en Saretha daar vir ons gaan wag.  Ons hou van klim, maar selfs ons was redelik moeg van al die klimme op hierdie dag.  Dit was bitter warm op die bo-punt van "Rusty Gate", die langste klim van die dag, maar ons het 'n paar gemengde spanne in die oog gehad wat ons moes verbygaan en ons het ons alles gegee.  Uiteindelik was Oak Valley in sig.  Ons het geëindig in 7 uur 35 min - 14de van die "Mixed Teams" en 242ste algeheel vir die dag.  Ons het opgeskuif na algheel 16de van die gemengde pare en 297ste met ons totale tyd.  Ons was besig om onsself terug te werk...


Stage 6 - Elgin tot Elgin (85 km met 1 800 m klim)

Ons nuwe "Race Village was by Oak Valley.  Ek en Lood het verlede jaar saam W2W gery en ken die plek goed.  Hierdie is beskou as die speeldag van die Epic.  'n Beloning vir die vorige dag se harde werk.  Vir Hildegarde was dit 'n dag waarna sy glad nie uitgesien het nie.  Enkelspoor paadjies is nou nie iets wat sy as lekker beskou nie, maar ek dink sy het tot haarself hierdie dag verbaas.  Sy het voluit in dit ingegaan en haar uitstekend van haar taak gekwyt.  Dit was 'n heerlike sonnige dag en ons het goed gery.  Hildegarde se knie was besig om redelik ernstig inflamasie te kry en Eddie moes dit reeds die vorige dag "strap".  Die pyn was besig om al erger te raak en ons wou so gou moontlik klaarmaak.  3 km voor die einde het Hildegarde 'n harde val gehad en dit nog op die knie ook!  Ons het klaargemaak in 5 uur 33 min - 13de van die "Mixed" en 255ste vir die dag.  Ons algehele posisie was nou weer 15de van die gemengde spanne en 287ste algeheel.  Ons moes die laaste dag net konstant ry om ons posisie te verdedig.  Ons was reeds baie tevrede met wat ons bereik het en kon dit eintlik steeds nie glo nie.  Vriende van ons Pierre en Caroll Rossouw het ons kom ontvang by die eindstreep en 'n luilekker middag saam met ons spandeer.


Stage 7 - Elgin tot Lourensford (67 km met 1 800 m klim)

Iets ernstigs moet gebeur wat sal veroorsaak dat die posisies vreeslik verander.  Die Epic is egter nie verby totdat jy oor die finale eindstreep is nie.  'n Harde oggend het vir ons voorgelê en toe dit met die wegspring reën was dit net nog harder.  Ons moes die meeste van die klimwerk oor die eerste 35 km doen.  Bene is koud, moeg en vol melksuur.  Dit voel asof jy die eerste halfuur van die dag sonder jou bene ry.  Hulle voel swaar, maar na die uitgerekte opwarming gaan dit darem beter.  Ons wou klaarkry en het weereens nie op ons laat wag nie.  Die spanne wat voor ons op die algehele klassifikasie was, was feitlik onmoontlik om verby te gaan, maar ons kon hulle ten minste op die dag probeer wen.  Ons het alles gegee op die klimme en toe ons twee van die top gemengde spanne teen die pad verbygaan (hulle meganiese probleme) het ons begin droom van 'n plek in die top 10 vir gemengde pare vir die dag.  Hildegarde se knie was swaar verbind en toe ons die ou wapad bereik wat 'n verpligte loop deel van ongeveer 1.2 km was, het Hildegarde regtig gesukkel.  Die rowwe terrein, gladde klippe en afdraend het haar knie glad nie goed gedoen nie.  Die son het egter uitgekom en die einde was in sig.  Ons het mekaar bly motiveer oor die laaste paar km's en die pylvlak binne gery en die atmosfeer beleef.  Wat 'n enorme voorreg!  Ons het geëinding in 4 uur 32 min - 11de in die "mixed" en 221ste vir die dag.  Ons was algeheel die 15de gemengde span en 275ste uit 620 spanne in 2014 se Epic.  Ons was ook die 1ste getroude paartjie oor die eindstreep.  Die Epic waarvoor ons so hard gewerk het, was in die sakkie!
Die Grand Finale te Lourensford
Die Epic was vir ons 'n onvergeetlike ervaring.  Dit het 'n totaal van 47 uur 30 min oor 8 dae vir ons geneem om te voltooi.  Dit het bestaan uit 718 km en 15 000 m se klim.  Ons sou nooit in ons lewens kon droom dat ons 15de uit 73 gemengde spanne sou eindig nie.  Ons kon al ons doelwitte bereik waarvoor ons so hard gewerk het.  Hierdie reis is nie moontlik sonder baie goeie ondersteuning en mense wat in jou glo nie.  Daarvan het ons te veel gehad om op te noem.  Wat egter baie belangrik is met so iets, is die geloof in jouself en jou spanmaat.  Sonder mekaar is daar niks.  Ek was baie bevoorreg om hierdie projek saam met my "bruid" te kon aanpak.  Ek het 'n nuutgevonde respek vir haar en haar innerlike krag.  Ek loop oor van trots vir wat sy bereik het in die laaste jaar.  Ek het vroeër verwys na die Epic as 'n simbool van die lewe.  Net soos die Epic baie hoogtepunte en laagtepunte het, is die lewe ook.  Die manier om dit te hanteer is wat jou 'n beter mens maak.  Ek het met die Epic meer bereik as net nog iets wat om my "bucketlist" was wat ek kon afmerk.  Ek het as mens gegroei in my benadering tot moeilike situasies.  Ons (Team Nexus) is almal ewig dankbaar vir alles wat julle vir ons gedoen het die afgelope klomp maande.  Ons borge wat in ons geglo het en ons heelpad ondersteun het, baie dankie.

Dit is beslis nie die einde van die pad vir my en Hildegarde nie.  Ons volgende wedren is die Transkaroo op 26 April 2014 van Ceres na Sutherland waar ons ook as 'n gemengde span (Team Nexus) sal deelneem.  Ons hou julle op hoogte!

Groete tot later,
JG