Wys tans plasings met die etiket Blesfontein. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Blesfontein. Wys alle plasings

27 Mei 2016

Comrades - 2 Days to go!

Dit sal geensins help om eers te probeer verduidelik waarom daar niks op hierdie blog aangegaan het die afgelope paar maande nie, maar nou ja, ons is nou hier, 2 dae voor Comrades 2016 en dis waaroor ek gaan verslag doen.  Ek gaan vlugtig, al is dit net vir my eie dagboek doeleindes, neerpen wat alles in die Geldenhuyse se lewens aangegaan het die laaste paar maande.

Na verlede winter se skrywe het ons steeds elkeen aangegaan met ons oefening soos altyd, doelwitte het net baie verander met baie van die "bucket list" items wat voltooi is.  Dinge wat vir my voorgelê het was steeds Wines2Whales, Double Century en Attakwas.  Hildegarde en Lood aan die ander kant het na haar en Marisa se African X besluit dat Comrades hul volgende doelpaal is.  Deur die winter is daar geoefen om September by die Cape Town Marathon te probeer kwalifiseer vir Comrades.  Die volle ondersteuning span was daar om hulle 2 aan te moedig.



Die Cape Town Marathon was natuurlik die dag nadat Suid Afrika teen Japan in die Wereldbeker verloor het en Pietman kon nie die foto oomblik met 'n Japanese atleet laat verbyglip nie.  Beide Hildegarde en Lood het kwalifiseer en ons het geweet Comrades gaan ons in 2016 sien.

In my vorige blog het ek verwys na Blesfontein waar ons elke jaar gedurende die winter gaan kuier.  Daai wereld het ons en die Fouche's se harte gesteel, maar wat ons nie geweet het nie, is dat die ander twee Geldenhuyse (Pietman en Woel) net so versot is op die Tankwa Karoo.  Die aand na ons winterbesoek van 2015 aan Sutherland het ek spottenderwys vir Saretha gevra of ons dalk saam moet kyk na 'n strandhuis of 'n plekkie in die Tankwa en haar antwoord was beslis Tankwa, want ons kan altyd kamp by die see!  Die Dinsdag stuur sy aan my 'n advertensie wat op Gumtree is.  Ek het kontak gemaak met die eienaar en om 'n lang storie kort te maak, nadat Saretha en Pietman-hulle ook gepraat het is die Mooibergplaas (Edms) BPK maatskappy gestig en ons het ons eie stukkie hemel gekry.



Ons gesin is "gegear" vir 'n man en 'n vrou wat oefen, die gym, my werk, kinders op skool, vergaderings in die aande, maar Comrades oefening het alles kom verander!  Tussendeur moes Hildegarde ook Double Century en Wines2Whales ry waarvoor sy fietlik niks op die fiets was nie.  Haar gym, draf en die uur of 2 per week het haar egter deur beide gekry en die fokus kon 100% na die Comrades verskuif vanaf Desember 2015.  Dit was presies 6 maande voor Comrades en Hildegarde het genoeg tyd gehad met die gym wat toe is om baie "base" myle in te kry voordat die hoer intensiteit oefening begin.  Drawwers hardloop maar altyd met die een of ander besering en in Hildegarde se geval was daar geen uitsondering nie.  Sy het egter maar altyd deur die pyn gedruk (want sy is hardegat) maar dit het sy tol begin eis toe sy nie haar doelwitte op haar program kon behaal nie.  ITB is pynlik en jy moet dit rus en behandel.  Rus is nogal 'n moeilike woord vir my bruid om te verstaan, maar sy het besef Comrades is die doelwit en ons het 10 weke gehad om dit reg te kry.  Intensiteit is afgebring en rehabilitasie is aan die gang gekry.  Lood het op sy beurt voortgegaan met sy program en die kilometers kaf gedraf en die kilogramme het weggesmelt van sy liggaam.  Hy het 'n doelwit vir 'n gewig vir Comrades gehad en was baie vinnig oppad daarheen.

Intussen het ek saam met my skoolvriend Dirk Kotze, wat besig was om voor te berei vir sy derde Epic, aan die Tankwa Trek wat deelgeneem.  Ons het vir die welsynsorganisasie waarvoor hul alreeds 2 Epics voltooi het, die J9 Foundation gery.  Ons het 3 fantastiese dae gehad en sal hierdie geleentheid aan ieder en elk aanbeveel.  Dit is nie net van die beste roetes om met 'n bergfiets te ry nie, maar ook die hele atmosfeer rondom dit is 'n belewenis. Baie goeie slypwerk is gedoen deur baie van Epic 2016 se ryers!



Op 1 Maart 2016 het @Hildegarde sy nuwe Spinstudio oopgemaak.  Ons het ondervind dat daar 'n groot behoefte is vir so iets in Malmesbury.  Klasse is lekker volgeboek en dit is 'n goeie toevoeging tot die gym soos wat hy nou daaruit sien.



Die ITB behandeling het baie goed verloop en Hildegarde was ingeskryf vir die Two Oceans Ultra Marathon wat deel sou uitmaak van haar voorbereiding vir Comrades 2016.  Doelwitte het baie verander en tye was nie meer belangrik nie, maar wel die behoefte om te weet hoe haar vorm lyk presies 8 weke voor Comrades.  Ons het die dag ingegaan, baie senuweeagtig en heeltemal onseker oor wat die been gaan doen.  Die doelwit was om 30 km te hardloop en te kyk wat gebeur en indien die pyn te erg is, op te hou en met rehabilitasie voort te gaan tot so na as moontlik aan Comrades.  Hildegarde hou egter nie van "DNF" agter haar naam as sy ingeskryf is vir 'n item nie en sy het in 5 uur 20 min die 56 km klaargemaak.  Daar was natuurlik moeilike tye in die wedloop, maar sy  het gevoel haar geluk is besig om te draai.  Haar eerste Ultra met 'n effense besering, dinge kan net beter gaan, of so het ons ten minste gehoop.



Dit was skoolvakansie en die Geldenhuyse was oppad Kruger Wildtuin toe vir 4 nagte.  Ek het grootgeword met feitlik elke tweede jaar in die Wildtuin gedurende die Julie-vakansie, maar met die aard van my werk is dit deesdae my besigste tyd van die jaar.  Ons het die oggend na die Two Oceans gevlieg en dit was so uitgewerk dat Hildegarde die week wat ons weg van die huis was sou rus aangesien jy nie in die Wildtuin baie km's in die kampe kan afle nie.  Ons het wonderlike gesinstyd spandeer en die tyd saam verskriklik geniet.  Die Donderdag het Hildegarde begin kla van 'n krapperige keel en dat sy sukkel om asem te haal.  Ek het gese dat dit moontlik die verandering van klimaat kan wees, asook die verskil in lugdruk.  Ons het die res van ons vakansie geniet en met ons tuiskoms die Sondag het sy besluit om 'n ent te gaan hardloop.  Sy sou 90 min hardloop, maar na minder as 'n uur was sy tuis.  Ek het geweet daar was groot fout.

Longontsteking.  Haar bors was seer, sy het baie gehoes en die uiteinde was 'n tussinribspier wat seergekry het van al die inspanning.  Die volgende wedren was die Weskus Marathon te Langebaan op 23 April, 1 maand voor Comrades en Hildegarde was nie gesond nie.  Sy het onttrek, die eerste keer ooit in haar lewe, maar ons fokus was by Comrades, nie by alles wat tussenin gebeur nie.  Alles was gereel vir die naweek, sy het selfs registreer!  Ons het saam met Lood en Saretha in 'n pragtige plek op die see gebly en dit sommer 'n naweek van ontspan gemaak, behalwe natuurlik Lood wat steeds die Weskus Marathon gehardloop het. Ons almal het ondersteun.  Dit het goed met Lood gegaan en hy het geweet hy is naby aan reg vir Comrades.  Ons het maar hoop en bid dat alles met Hildegarde sal reg uitwerk om oor 'n maand in top kondisie te wees.



Dinge het stadig beter begin gaan en op 2 Mei het hulle die Safari Halfmarathon in Wellington gehardloop.  Lood het sy PB (persoonlike beste) van 1 uur 42 min gehardloop en Hildegarde het sonder enige pyne klaargemaak, alles was weer "on track".  Daar was nog 2 weke van harde voorbereiding oor en dit het ook sonder beserings, pyne of dramas plaasgevind.  Die laaste week, die een waarin ons nou is, is vir sekerlik enigeen wat so 'n ultra wedloop seker die moeilikste, aangesien jy feitlik niks "mag" doen nie.  Rus is die heel belangrikste van hierdie week.  Dit maak natuurlik dat jy baie meer energie het, asook baie meer tyd om senuweeagtig te wees oor die groot taak op hande.

Ons glo alles sal Sondag, 29 Mei 2016 goed gaan en dat alles gelyk sal "click".  HIerdie jaar is die "downrun" soos die mense praat, dus harldloop hul van Pietermaritzburg "af" na Durban waar hul by Kingsmead Krieketstadion klaarmaak.89,1 km is nie maklik nie, maar ons glo die atlete se koppe is reg.  Baie opofferings is deur baie mense gemaak om hierdie wonderlike ervaring vir ons moontlik te maak en ons wil van hierdie geleentheid gebruik maak om julle opreg te bedank vir al die ondersteuning.  JJ en Hilge bly by Ouma Fanie en Oupa Kola en ons hoop hulle kuier lekker.  Die wegspring is Sondag 05:30 en word gebeeldsend op SABC 2.  Jy gaan waarskynlik nie vir Hildegarde of Lood sien nie, maar dit bly 'n insperasie om na die gebeurtenis te kyk.  Vir updates oor die twee, volg my op Twitter by @Jaco_Geldenhuys.  Sterkte ook aan almal wat deelneem, veral die Malmesbury span - Hercu Hofmeyer, Riaan van Zyl, Jenita du Plessis.  

Nou ja, kom ons hoop Mango vat ons veilig tot in Durban.  Volgende week gee ek terugvoering oor hoe dit gegaan het!



Cheers,
JG

05 Augustus 2015

Tyd Vlieg

In my vorige blog het ek nog beloof van hoe ek julle gaan vertel van African X.  Nou ja, sonder dat ons dit besef het ons reeds die maand Augustus van 2015 bereik.  Ek dink dit is 'n bietjie vergesog om te sê dat die tyd vlieg, want ek dink vlieg is nie heeltemal die korrekte woord nie.  Wat is vinniger as vlieg?  Blitsvinnig vlieg?  Ek weet nie, maar al wat ek weet is dat in die huidige wêreld waar ons onsself bevind niks teen gewone tempo gebeur nie.

Elkeen het sy eie lysie wat hy moet afmerk en dit hang net af van jou betrokkenheid in besigheid, sosiaal en liefdadigheid op iemand anders se lysie om jou program te bepaal.  Julle sal duidelik sien ek los kinders uit die gesprek uit.  Dit is vir my en Hildegarde 'n nuwe wereld wat laerskool aanbetref en ons besef ons het nog eintlik niks gesien nie.  Kinders is beslis nie meer kinders nie, maar klein volwassenes.  Die druk is enorm op hulle en enigiets wat jy vir jouself as ouer beplan het sal aan die agterspeen suig.  Ons doelwitte was om dit wat ons graag wou saam doen soos bv. Epic klaar te doen voor kinders skooltoe is.  Dankie tog die tydsberekening het so uitgewerk.  Ek is tevrede met waar ek staan met my sport, Hildegarde oefen hard, want dis deels haar werk en sy het nog doelwitte wat sy vir haarself wil bereik.  Ek is egter ver agter met terugvoering en net voordat julle begin dink dat ons dalk glad meer aktief is nie, is hier 'n kort opsomming van die afgelope paar maande in die Geldenhuys se lewens.

ProNutro African X

Verskoon asb. die manier van verslag gee, maar ek is in die eerste plek nie 'n joernalis nie en in die tweede plek skryf ek soos ek praat en as ek nie self deelgeneem het nie, skryf ek soos ek dit sien afspeel het.

Die twee dames, Hildegarde en Marisa het met geen groot hoop na die African X gegaan.  Deels omdat dit vir beide van hulle vreemde gebied was en deels omdat hul nog nooit hul liggame tot die uiterste in hierdie sport beproef het nie.  Baie dinge kan oor 3 dae skeefloop en wat dit nog meer ingewikkeld maak is die feit dat jy alles saam met jou spanmaat moet deurgaan.  Jy kan nie sommer net op 'n oggend wakker word en besluit jy gaan nie hardloop of jy gaan vandag vinnig of stadig hardloop nie.  Dit gaan nie oor jou nie, maar oor wat die beste vir jou span is.  Die dames het egter vir hulself gesê dat indien hulle in die top 10 dames spanne kan eindig hul baie tevrede sal wees.

Dag 1 was 'n afstand van 34 km met 800 m klim.  Ek en Bouwer het rondgeskuif tussen die verskillende toeskouer punte en kon voortdurende die dames se gemoedstoestand sien.  Dag 1 was hulle sterk en het na die einde toe effens stadiger gegaan om hulself vir 'n harde dag 2 te spaar.  Hulle eindig op Dag 1 as die 5de vroue span en verbaas hulself in die proses.  Daar is egter baie onsekerheid oor hoe hul lywe gaan voel vir die volgende harde dag, so die besluit word reeds geneem om dag 2 stadiger van die begin af te vat om die einde in een stuk te kan haal.  Dag 2 was 'n riller van 'n roete met 1 100 m klim oor die 34 km.  Die dag is toe ook die warmste dag van 2015 se African X met temperature van bo 30 grade Celsius.  Hulle het hulself goed opgepas en eindig as die 8ste vroue span.  Teen hierdie tyd het hulle geweet hulle sal reg wees die volgende dag en die plan was om die laaste dag alles te gee.  So gese en so gedaan.  Die laaste dag was 22 km met 600 m klim.  Hulle het alles gegee en op die ou end 7de van die vroue spanne geeindig.  Hul het hul eie wildste drome oortref en ek is seker beid van hulle sal in 2016 terug wees vir hierdie onvergeetlike ervaring!  Well done Team Nexus!


@Hildegarde

Die gym groei van krag tot krag en Hildegarde kan regtig haar passie uitleef.  Daar is al baie veranderinge van hoe dit was op 5 Januarie 2015 tot nou en ledegetalle groei steeds soos wat ons probeer om vir elke individu se behoeftes voorsiening te maak.  Die nuutste toevoeging is die spinfietse waarvoor ek baie lank al vra.  Uiteindelik kon ons gedurende die winterskoolvakansie hulle aanskaf.  Daar word 'n wye reeks van klasse aangebied elke dag van die week so gaan kyk gerus by https://www.facebook.com/groups/404833636391635/
vir meer inligting rondom tye.


Blesfontein

Julle sal sien dat daar sekere mense en plekke is wat gereeld hul verskyning op die blog maak.  Dit is maar die plekke en mense waarmee ons onsself omring.  Blesfontein is een daarvan en ons probeer om eenkeer per jaar daar te draai.  Hierdie jaar sal ons 'n tweede keer moet gaan, want Lood het my rooster in hul huisie vergeet!  Ons was die laaste naweek van die skoolvakansie daar om te herlaai.  Daar is geen selfoon ontvangs nie, dus kan jy vir die 48 uur wat jy daar is werklik afskakel en kwaliteit saam met die mense naby aan jou spandeer.  Ons het die vanjaar amper reggekry om sneeu te kry, maar dit wou net nie koud genoeg raak nie.  Dit het verskriklik gereen, maar die sneeu het ontwykende gebly.  Ons sal weer teruggaan om dit eendag nog raak te slaan.



EasySkips Swartland

Hopelik het baie van julle al die rooi skips / bins in Malmesbury en omgewing gesien.  In Maart 2015 het ek my garage skoongemaak en een van hierdie skips gehuur.  Dit was so gerieflik om hom by die huis te he en net alles wat ek wou weggooi daarin te kon gooi en iemand anders gaan maak hom leeg, dat ek vir die vorige eienaar gevra het om my en my pa te kontak as hy eendag van die besigheid ontslae wil raak.  6 Weke later was onderhandelinge aan die gang en vandag kan ons trots se dat EasySkips Swartland aan ons behoort.  My pa is die kontakpersoon en ons sal met graagte vir jou een by jou huis kom neersit om van enige ongewenste bourommel, sand of vullis ontslae te raak.  



Hilge se eerste hokkie wedstryd

Ek was self nog altyd bitter bang vir hokkie. Die lyk gevaarlik. Hige is egter baie lief daarvoor en die afgelope naweek het sy die geleentheid gehad om deel te neem aan haar eerste wedstryd. Dit was ysig Saterdag oggend, maar hul opgewondenheid was aansteeklik en die hele familie, selfs oom Stephan, was langs die veld vir die groot wedstryd.  Al die opwinding was nie verniet nie en Hilge kon 3 doele skiet.  Ons het dit almal verskriklik geniet en is baie trots op haar.  Mens se kinders is die spil waarom alles draai en ons begin nou vinnig agterkom waarheen al ons tyd gaan, en dis baie lekker!


Die Burger Bergfietsuitdaging - 75 km

Wanneer jy gefokus is op 'n doelwit en jy werk hard daarvoor kom daar baie keer ander voordele op die pad na die einde van jou doelwit oor jou pad.  So is dit ook met Die Burger Bergfietsuitdaging se 75 km.  Persone wat hulself in ander wedrenne bewys het word na hierdie een genooi.  Daar is slegs 200 uitnodigings, dus voel mens so half verplig om in te skryf wanneer jy die "golden ticket" kry.  Wat mens net ook moet besef is dat hierdie uitnodigings gebasseer is op historiese data en dat jy nie noodwendig in dieselfde "shape" is as waarop jy uitgenooi is nie!  Ek het egter baie nederig in die wedren gegaan aangesien ek geweet het ek kom uit 'n winter van baie minder oefen.  Ek en Dirk het vooraf reeds besluit dat ons sou saamry.  Ons het teen 'n baie gemaklike spoed begin en glad nie gejaag nie.  Ek het goed gevoel na so 'n uur en 'n half en begin dink dat ek lekker op ou spiere staatmaak.  Die weer was perfek al het ons op 2 grade Celsius begin ry het die temperatuur vinning opgegaan.  Na so 2 en 'n half ure het my gemoed effens begin verander en ek kon die tekort aan oefening vinning begin voel.  Dirk aan die ander kant het al hoe sterker geraak en was sommer lekker haastig na die einde toe.  Ons het klaargemaak in 4 uur 28 min.  Ek is baie bly dat ek deurgedruk het.  Hierdie was beslis wat ek nodig gehad het om my fokus terug te bring.  'n Baie lekker wedren wat baie goed gereël was.  Volgende jaar gaan ek weer!

Gaan my bes doen om meer gereeld julle in te lig oor al ons aktiwiteite, belowe!

Groete,
JG

30 April 2014

Transkaroo 2014

Die afgelope Saterdag, 26 April 2014 het 'n groot groep van Malmesbury die Transkaroo van Ceres na Sutherland aangepak.  Ek gaan begin by die opbou na die rit, maar eers van 'n ander klein resies vertel wat ek gedoen het vroeër in die maand.

Ek en Hildegarde het besluit om op Saterdag 12 April 2014 'n lekker lang ent te gaan fietsry om haar knie te toets na Epic.  Die fisio het haar egter die Vrydagmiddag meegedeel dat indien sy die Transkaroo wil ry, sy nog eers rustig moet wees.  Ek besluit toe laat die aand om die volgende dag die Fine Breed MTB net buite Worcester te gaan doen.  Dit was 'n 46 km wedren.  Die hele Epic het ons gery aan gemiddeld 100 km per dag.  Nou skielik moes ek 'n baie kort afstand jaag.  Ek het glad nie geweet hoe ek sou voel om van die geweerskoot af reg te wees om hard te ry nie en was stilweg ongemaklik met die onbekende.  Ons het eers 08h30 weggespring en dit was reeds warm.  Ek het in groep C begin en was dadelik voor in my groep, maar kon voel die bene is nie gewoond aan die vinnige wegspring nie.  Na ongeveer 'n halfuur was ek lekker opgewarm en kon die pas opstoot.  Ons het van die A en B groepe se ryers begin verbygaan en ek was baie tevrede met hoe ek gevoel het.  Ek het klaargemaak in die 23ste posisie algeheel in 'n tyd van 2 uur 22 min.  Johann Rabie (my chaffeur vir die dag) het gewen in 'n tyd van 1 uur 54 min.  Sy prys was wyn tot dieselfde gewig as wat hy is.  Ons is daar weg met 13 x 6 bokse!  Geluk Johann...

Om terug te kom na die Transkaroo, ek en Lood het dit verlede jaar saam voltooi.  Hierdie jaar was daar 9 ander ryers van Malmesbury teenwoordig.  Wat 'n lekker uistappie om na uit te sien.  My voorbereiding die week voor die wedren was weglaatbaar min.  Ek het die vakansiedag (Maadag van Paasnaweek) met Hildegarde 2 ure gery en gevoel my keel voel nie lekker.  Van daar was dit al die tyd afdraend met my gesondheid.  Woensdag dokter toe, Vrydag weer en antibiotika moes my deurtrek.  Ek het myself tot 100 km in die wedren gegee om te besluit wat ek sou doen.



Hierdie is nie 'n wedren waaraan jy deelneem vir 'n tyd nie.  Jy neem deel om onder die afsnytyd van 17 ure klaar te maak.  Dis glad nie tegnies nie, maar baie lank en jy klim oor die 3 000 m op die rit van 240 km.  Die ergste van alles is dat jy die pragtige Oubergpas op 190 km bereik.  Teen daardie tyd is jy redelik siek en sat van jou fiets se saal en dan wag hierdie monster voor jou!


Ons het om 07h00 op 'n pragtige oggend weggespring by Eselfontein in Ceres.  Die roete sou ons oor die Bo-Swaarmoed pas neem, deur die Karoo Poort oor die Oubergpas na Sutherland.  Gemoedere was goed en almal was gereed vir die groot uitdaging.




Ek en Hildegarde het besluit ons gaan weer net ry met 'n tempo waar ons gemaklik is.  My keel het nog gekrap en ek het besluit om net op mart hartklop te konsentreer.  Die oomblik wat hy oor 160 bpm gaan het ek die voet van die pedaal gehaal.  Op 38 km het Saretha, Makkie en die kinders gewag en almal was baie behulpsaam om ons warm klere ens. aan te vat wat ons uitgetrek het, asook broodjies aangee.  Hulle is ook verantwoordelik vir paar van die foto's in die blog.  Die ander foto's is die werk van www.oakpics.com.  Na hierdie dienspunt was ek en Hildegarde alleen vir ongeveer 30 km vanwaar ons by 'n bondel aangesluit het tot by die volgende "checkpoint" op 90 km.  Hier het ek beter begin voel en besluit dat ek en Hildegarde as "Team Nexus" dalk 'n kans het vir die podium van die gemengde pare.  Dit was 'n sieldodende stuk pad vir die volgende 90 km.  Daar was darem 'n liggie in die tonnel met die kinders wat weer vir ons op 145 km sou inwag!  Ons het die wind van voor gekry vir groot gedeeltes van roete met die middel klimme van die dag op 120 km.  Ons kon vinnig stop op 145 km en die kinders was baie bly om ons te sien.  Warm klere, ligte en kos en ons was binne 5 minute weer op die pad.  Hierdie items sou later die aand eers nodig wees, maar ons moes dit nou al in ontvangs neem aangesien daar nie weer 'n dienspunt met ons eie "crew" was nie.  Daar was 40 km teen die wind op die warmste deel van die dag wat voor ons uitgestrek gelê het tot die voet van Oubergpas.  Die Tankwa karoo was pragtig en omdat die roete glad nie tegnies was nie, kon ons die omgewing regtig waardeer.  Indien ons weer sal terugkom om hierdie wedren te ry, sal die skoonheid en SKOON-HEID (daar lê niks rommel en lug is skoon) die hoofredes wees.




Ons het aan die voet van Oubergpas besef dat ons dalk die sonsondergang van daar bo gaan kan beskou.  Ons het ook vir Saretha by die vorige waterpunt ingelig dat ons vir 12 ure mik, wat sou beteken dat ons 19h00 in Sutherland behoort te wees.  Oubergpas is moeilik, maar beslis nie die einde van die wêreld.  Ons was rustig daarop, maar het nie piekniek gehou nie.  17h00 was ons bo.  198 km was agter die rug en die einde was in sig.  Vinnig bottels volmaak, ietsie eet, warm klere aantrek en ons was weer op die pad.  Ek weet nie of ek die woord op so 'n openbare platvorm mag gebruik nie, maar hier kon ek agterkom dat Hildegarde begin GATVOL raak.  Ons was so net oor die 10 ure op die pad en wou net klaarkry.  Daar was nog een of twee klimme oor en die beentjies kon dit begin voel.  Ons het die laaste 40 min ons ligte nodig gehad en het om 19h17 Sutherland bereik.  Ons totale tyd vir die Transkaroo was 12 uur 17 min.  Die organiseerders het ons ingelig dat ons die eerste gemengde span was en die volgende oggend by die prysuitdeling moet teenwoordig wees.  Saretha, Makkie en die kinders was daar en ons was baie verlig en trots!



Die pragtige Oubergpas
Ons het al die ander Malmebury ryers ingewag.  Sutherland was koud en daar het baie vure gebrand.  Ons is bederf met lekker lamspot.  Die ander ryers het in groepe van 2 begin klaarmaak.  Hulle was Johann Loubser en Elischia Drotschie 14 uur 20 min, Kobus Drotschie en Jaen Fouche 14 uur 26 min, Lood Fouche en Manus Bester 15 uur 8 min en Madeleen Kotze 15 uur 27 min.  Die "spangees" onder mekaar was fantasties en ons was trots om die ervaring met hierdie mense te kon deel.  Ek, Hildegarde, Lood, Saretha en die kinders moes nog terug na ons verblyf wat ongeveer 30 km buite Sutherland op ons geliefde Blesfontein was.  'n Baie lang dag met 'n baie mooi einde....


Heerlike ontbyt is bedien by Jupiter Lounge waar die eindstreep en die prysuitdeling sou plaasvind.  Toesprake is gemaak en die aankondiger het al die kategorie wenners gevra om na die tyd 'n onderhoud vir die TV te doen.  Ons is op die verhoog geroep onder groot toejuiging van ons mede Swartlanders.  Dit het dit baie spesiaal gemaak en ons het dit verskriklik waardeer dat almal die oggend daar was.  Aan die regterkant van hierdie paragraaf is die foto van die trofee wat elkeen ontvang het.  1ste prys was 'n volledige fiets, terwyl 2de en 3de elk net 'n voorwiel gekry het, baie oorspronklik!  Ons moet ook bieg, die een bottel vonkelwyn is reeds iets van die verlede.

 Die prysuitdeling is gevolg deur die onderhoude.  Vrae het meestal gehandel oor die afstand en lengte van die resies, asook die pragtige natuur ens.



Ons is na afloop van die oggend se verrigtinge weer terug na Blesfontein waar almal 'n redelike lang siesta gehad het en die aand afgesluit met 'n heerlike Noord-Kaap braai en sonsondergang.


 'n Onvergeetlike naweek en goeie lafenis vir die siel.  Blesfontein is vir ons 'n moet elke jaar en ons sal met hierdie tradisie (om daar te gaan kuier, nie noodwendig Transkaroo ry) voortgaan so lank as moontlik.

Ons hou onsself maar steeds besig met oefen, daar is lekker paar wedrenne in ons area in Mei maand waaraan ons sal deelneem.

Cheers vir nou,
JG

25 Julie 2013

Julie eskapades

Almal wonder seker nou al wat aangaan dat die blog so stil is.  Die feit van die saak is, dis koud en nat in die Wes-Kaap, my seisoen by die werk is aan die gang, dit was skoolvakansie wat dit 'n bietjie meer rustig gemaak het en daar was geen "races" op ons kalender gewees nie.  Dit is besig om vinnig te verander.  Ons volgende "race" is Die Burger Bergfietswedren op 3 Augustus 2013 te Stellenbosch.

Wat het die afgelope 3 weke in ons lewens gebeur?  Ek en Hildegarde is besig om fiksheidsvlakke in stand te hou.  Elkeen is steeds besig met sy eie oefenprogram.  Myne is so 7 - 9 uur per week op fiets.  Ek het ook weer begin draf - wat 'n marteling vir my, maar voel dis goed vir die longkapasiteit.  Hildegarde is besiger as ooit.  Klas gee, draf, bergfiets, padfiets en gym is heeltyd op haar program.  Ek dink die bergfiets gogga het haar nou lekker gebyt.  Sy is in konstante gesprekke met mense wat reeds die Epic voltooi het en weet nou al baie meer oor wat om te verwag.  Sy het ook begin om 'n biokinetikus te sien wat haar gaan help om die regte spiere te oefen en sterker te kry - sy sal maar vir my moet help!

Ons gesin - Oubergpas
Lekker om die vuur
Oubergpas van bo
Ons was die laaste naweek van die skoolvakansie vir 'n wegbreek na Blesfontein in Sutherland waar ons glad nie geoefen het nie - dit was baie nodig.  Lood en Saretha het saam met ons gegaan en ons het lekker gerus en gekuier.  Ons het ook met die terugkom slag dieselfde roete gery as wat ek en Lood met die fietse in April gedoen het, wat 'n belewenis!


Kerk in Sutherland
Die pragtige natuur daar is baie goed vir die siel en ons het vol energie teruggekom.  Die kinders kon darem ook so 'n bietjie van die vakansie gevoel kry en het die heeltyd gevra wanneer dit gaan sneeu!  Pa se antwoord - nooit die naweek nie!.


Skerp draai op Oubergpas
Ek en Lood kon elke knikkie in die pad onthou en het vir onsself gesê dat as ons voor die fietsrit geweet het hoe die pad is, ons dit waarskynlik nooit sou aanpak nie.


Lood se foto
Ons terugkoms het ook die nuwe skoolkwartaal se aankoms aangekondig en dinge is weer vinnig terug na normaal.  Week 1 na die skoolvakansie het vir my drie aandvergaderings beteken en weereens moes ek my dinge fyn sny om te kon oefen.  Een baie lekker van die nuwe kwartaal was ons nuwe "racekit" wat deur die pos gekom het.  Ek het lank daaraan beplan en is baie tevrede met die eindresultaat.  Dit voel fantasties en ek hoop dit vang die oog soos wat die bedoeling was!
Hildegarde - Fitting

In Malmesbury het ons die afgelope week ook die Malmesbury Fietsryklub "herstig".  Die sport groei baie goed in ons area en ons wil dit meer formeel aan die gemeenskap bemark.  Ons sal voorsiening maak vir pad- en bergfietsryers.  Gaan volg asb malmesburyfietsryklub.blogspot.com.  Daar sal inligting oor opkomende wedrenne, oefenritte en ander kommunikasie voordurend deurgegee word.

Eerskomende naweek gaan ek my "nuwe" fiets in Gauteng haal.  Ek gaan ook by my broer daar draai.  Hy blaas Saterdag op Ellispark, so dit sal 'n eerste vir my daar wees.  Bly asb ingeskakel op die blog, want Sondag "post" ek alles oor my trippie na die ou Transvaal!

So tot dan, lekker oefen en bly positief.  Onthou ons almal jaag verskriklik, maar eindig op dieselfde plek!

Tot dan,
JG

20 Mei 2013

Aspen Transkaroo (240 km)

Na afloop van die Cape Argus was alle fokus verskuif na my groot wedren van die jaar, die Aspen Transkaroo 240 km uithourit van Sutherland na Ceres.  Ek en Lood het besluit om dit as individue aan te pak, maar steeds saam te ry.  Indien jy as span ry en jou rymaat maak nie klaar, dan kry jy ook nie die "finisher" medalje nie.  Ons het glad nie geweet wat vir ons wag, hoe ons dit gaan hanteer en of ons dit ooit sal kan klaarmaak nie.

Elke naweek na die Argus was dit 4 - 5 ure per dag in die saal en elke weeksoggend aan die gang gebly met normale oefen.  Sien aangeheg grafiek van totale km's gedraf, padfiets en bergfiets.  Baie ure!

Op hierdie stadium na die besige jaar tot dusver het my gewig gestabiliseer by 79 - 80 kg en ek het geweet watter kosse werk en watter nie.  'n Week verlof voor die Transkaroo het ook gehelp om die logistieke gedeelte van die resies beter te kon beheer.  Glo my, baie logistiek met ons gesin almal in Sutherland!

Perd kosgee - Hilge
Khoivisse kosgee
Ons het die Donderdag voor die Transkaroo ingeboek by Blesfontein Gasteplaas so ongeveer 30 km vanaf Sutherland.  Wat 'n fantastiese plek!  Die stilte van daai wêreld is onbeskryflik en die nagte is pikdonker.  Die Vrydag was 'n gesinsdag op die plaas voor ons die middag moes gaan registreer in Sutherland.  Die kinders het lammers melk gegee, perd gery, Khoi visse kos gegee en net die asemrowende natuur waardeer.


Akkomodasie - Blesfontein
Blesfontein vlaktes
Ons gasheer en gasvrou vir ons
verblyf te Blesfontein was Nicol
en Marina van der Merwe.  Die
akkomodasie was fantasties.  Nicol bied self 'n "stargazing" aand aan waar jy kan luister na baie interessante feite oor die lugruim en deur die teleskoop kan kyk.  Ons sal beslis gedurende die winter weer daar draai, wanneer dit regtig koud is!  Dit raak glo tot -10 grade Celsius daar!

Die middag is ons deur Sutherland toe vir registrasie by Jupiter Lounge en vinnig kon ons agterkom dat daar spanning in die lug is vir die volgende dag se groot wedren.  Lood en Saretha het in die hotel op Sutherland gebly en ons het afgespreek om mekaar die volgende oggend by die wegspring te ontmoet waar die vroue van daar sal begin saamry om ons ondersteuning span te wees en ek en Lood natuurlik op die fiets Ceres toe.....


Wegspring - Sutherland
Natuurskoon na 25 km
Die oggend van 6 April 2013 was koud en donker op Blesfontein.  Ons moes die ongeveer 30 km inry Sutherland toe om 07:00 te kon wegspring.  Dit was ongeveer 8 grade Celsius met die wegspring.  Die eerste 45 km was redelik maklik tot by CP1 (Checkpoint).  Daar is 'n plakker op elke fiets geplak en jou tyd is neergeskryf.  Tafels was vol kos en vloeistof.  Hierdie punt was nie 'n SP (Service Point) nie, dus mag daar nie hulp / toeskouers wees nie.  Ons het die Oubergpas afgegaan en seker een van die mooiste uitsigte op hierdie aarde in die oë gestaar.  Die Oubergpas af was senutergend - 8 km bult af met jou remme!


"Plug" in band
Oubergpas uitsig
Ons het dit maar kalm gevat, want die dag was nog lank!  Aan die onderpunt van die Oubergpas het ek gevoel daar spuit vloeistof teen my been, my agterwiel het 'n klip ingehad wat in die band gesteek het en ons moes stop om 'n "plug" in te sit.  Dit was my en Lood se eerste "plug" so ons was baie opgewonde toe dit werk!  Daarvandaan het ons net gery om by CP2 wat ook SP1 was te kom op 95 km.  Ons het geweet ons sal die vrouens en kinders daar kry en dan kan ons gou weer fietse deurgaan, ietsie eet en weer ry.  Daardie punt het 'n ewigheid gevat om te kom.  Teen net voor 11:00 het ons daar aangekom en so 20 min verwyl.  Die kinders was natuurlik in ekstase om ons te sien en dit was 'n baie lekker gevoel.


Tankwa Padstal na 170 km
Van hier het die werklike resies begin.  Die bene het begin voel hulle het al gery en die eerste paar klimme het aangebreek.  Die wind was ook nie meer so stil nie.  Ons het geweet die volgende CP is op 145 km, waar ook ligte middagete sou wees.  Ons het maar aangehou en uitgehou teen ons spoed en die lang tyd in die saal het sy tol begin eis.  Uiteindelik na wat soos 'n ewigheid gevoel het, het ons ingedraai by CP3.  Daar is gesig gewas, bottels volgemaak en aartappels geëet.  So 15 min later is ons weer in die saal gewees, die volgende CP en ook SP2 was immers net 25 km verder op 170 km.  Nou was die wind sterk van voor.  Ek het net oë toegemaak en gese Lood moet in my "slipstream" sit, steeds wou die pad nie korter word nie.  Ons was erg negatief toe ons uiteindelik op 170 km aankom by die Tankwa Padstal.  Die vrouens en kinders was daar met skoon klere, gevriesde water en lekker broodjies.  Hulle het ons ook na die klein swembadjie geneem om met ons bene in die ysige water te sit.  Dit het beslis gehelp!  Ons was regtig nie meer lus vir ry nie en hierdie ekstra bietjie liefde en ondersteuning van ons gesinne het ons net die nodige energie gegee om verder te wil gaan, hulle sou mos weer by eindstreep wees!




Laaste CP - 210 km
Soos uit boonste foto kan sien het die resies nou eers begin!  Die grootste klim van die dag, die Skittery Pas, was 'n 14 km lange stuk pad en oor daai afstand moes ons ongeveer 800 m klim.  Enige persoon wat fietsry sal jou kan se dat dit 'n rowwe klim is, maar om dit te doen teen die wind met bene wat al 180 km gedoen het is baie EINA!  Ons het gery, geskel, gevloek, gelag en nog enige ander emosie denkbaar beleef.  Met ons aankoms wat ons gedink het die bokant was en nou moes begin afry, kom ons agter dat ons eers nog ongeveer 15 km bo-op die berg moes ry voor ons die 3 km Katbakkies Pas kon afjaag.  Klein beloning vir baie harde werk!  Dit was so in die omgewing van 18h30 en dit het begin donker word.  Die volgende CP was op 210 km en elke plek wat gelyk het of daar lig het, het vir ons na die "pitstop" gelyk.  Om 19h45 het ons by ons laaste CP aangekom.


"Finisher" T-hemp
Medalje
Die vraag wat ek daar vir die mense gevra het, het as volg gelui:  Is daar nog bulte?  Antwoord:  Nee, net "rolling hills"!  Om dit vir 'n leuk te verduidelik, ja, daar is nog bulte, want julle bene en boude is gaar en julle moet nog 30 km ry in die nag!  Ons het letterlik aangesukkel.  Alles was seer en moeg, maar die adrenalien en die fokus was dit wat ons laat aanhou het.  As ek moeg raak, was Lood sterk.  As Lood moeg raak, was ek sterk.  Uiteindelik het daar 'n bord voor ons in die pad opgekom wat gese het "finish" met 'n pyltjie.  Ons het daar ingedraai en nuwe energie gekry.  Ons het om 21h50 klaargemaak!  Daar was ligte, musiek, komberse, koffie en ek was heeltemal uitgemergel.  Ek het toe ek afskakel, my laaste bietjie energie verloor, asook my eetlus.  Lood het soos 'n riet in die wind gebewe, maar braaf ons storie aan die vrouens vertel.  Ek was te moeg en kon net luister.  Ons het as beloning 'n T-hemp, medalje en nog 'n waterbottel gekry.  "Been there, done that, got the T-shirt!"

Hildegarde het vroeër my ouers in Ceres gekry en die kinders saam met hulle huistoe gestuur.  Sy het ons veilig weer in Malmesbury gekry.  Ek was meer uitgepaas as wakker oppad terug.  Ek wil dan ook hier weer ons vrouens bedank vir hulle ondersteuning vir daai baie lang dag.  Ons waardeer dit regtig verskriklik baie en sou dit op geen ander manier wou he nie!  Julle is ons alles!


ODO lesing na Transkaroo
Die volgende dag het ek op my rekenaar gesien dat die mense van Transkaroo ons hopeloos te ver laat ry het!  Hierdie was een van die grootste toetse vir my liggaam nog, en ek het verskriklik baie van myself op hierdie dag geleer.  Ek sou dit beslis nie sonder Lood kon doen nie.  Die feit dat daar iemand was wat dieselfde doelwit voor oë gehad het asook sy deursettingsvermoë het dit vir my 'n realiteit gemaak.  Dankie Lood, jy is 'n insperasie!

Volgende jaar ry ek en Hildegarde die Epic en die Transkaroo is ongeveer 'n maand daarna.  Hopelik gaan alles goed dat ons dan die opwaartse rit kan doen van Ceres na Sutherland en weer by ons vriende op Blesfontein kan kuier.

Groete,
Jaco G