Wys tans plasings met die etiket Outsurance Gunrun. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Outsurance Gunrun. Wys alle plasings

15 Oktober 2014

Die laaste 6 weke

'n Mens wonder baie keer hoe jy dit regkry om alles wat jy wil / moet doen ingepas te kry.  Ek het die afgelope tyd tot die besef gekom dat alles in die lewe wel met 'n doel gebeur en so ook op die regte tyd, jy moet niks forseer nie.  Hierdie blog gaan 'n "fly-over" wees van die vorige 6 weke se gebeure.

30 Augustus 2014 - Asics Dirty Double

Meeste van julle weet reeds dat Hildegarde 'n baie bekwame atleet is.  Sy is glad nie 'n persoon wat te lank dieselfde oefening wil doen nie en toe die Asics Dirty Double op die horison verskyn het sy dadelik gesê dat sy dit wou doen.  Ek het tot die dag voor die wedren nog gewonder of ek nie dalk moet deelneem nie, maar het 'n belofte aan myself gehou en die spesifieke dag as haar en Lood se ondersteuning span saam met JJ en Hilge opgetree.


Die wedren het bestaan uit 'n uitmergelende 10 km "trailrun" met oor die 300 m klim, en dit alles op een bult tot op rondom 5 km en 'n bergfietsrit van net so oor die 20 km in Wellington se bekende Welvanpas.  Hildegarde het die 10 km in 50 min klaargemaak in die 7de plek en kon op die bergfiets tot in die 3de posisie vorder waar sy naby aan die einde ketting probleme opgetel het wat haar algeheel 7de laat eindig het.  Baie lekker gesellige dag en beslis iets vir ieder en elk om in die toekoms te doen. Dankie aan Pieter van Wyk, Marc Kerr en die res van die span vir die ongelooflike dag.


TipTrans Citrusdal Xtreme - 6 September 2014

Die idee vir my deelname aan hierdie wedren was om te sien presies waar my vorm is na die winter en min lang ure in die saal.  Op werksfront was dit 'n baie besige graanseisoen en alhoewel ek steeds gereeld gery het, was dit beslis met 'n ander fokus.  Meer instandhouding as voorbereiding.  Ek wou in die eerste plek net die 115 km klaarmaak om sodoende myself gerus te stel vir die Karoo2Coast wat 14 dae later sou plaasvind.

Ons was 'n redelike klompie van Malmesbury wat daar was en dit was gerustellend om te weet daar is soveel ondersteuning.  Ons het soos die vorige jaar agter die TipTrans vragmotor in die neutrale sone gery.  Die enigste verskil was dat die trok teen amper 60 km/h gery het en die groep sommer op die teerpad in 2 gedeel was.  Ek was van die voorstes in die 2de groep.  Ek wou net daar bly hang en ander ouens die werk laat doen sodat ek darem die eindstreep kon sien.

Meeste dinge in die lewe werk nie uit soos jy dit beplan nie, sommiges slegter en sommiges baie beter.  My geaardheid wat, nie eintlik geduld insluit nie, het sommer op die eerste klim die oorhand gekry.  Ek het voor gaan sit en bietjie die spoed opgedruk.  Ons was 'n groot groep van seker 30 ryers op daardie stadium.  Ons het die groot klim van die dag bereik en ek het gedink ek mag dalk begin betaal vir my harde pogings van vroeër.  Ek het egter goed gevoel en redelik gemaklik daaroor gegaan.  Vandaar was dit redelik plat en afdraend vir die volgende 30 - 40 km en ons kon 'n redelike hoë spoed handhaaf.  Ons groep het op die klim verklein na so 12.  Daar was 'n redelike lelike val en ons was net 7 in ons groep oor.  Van die aanvanklike groep het by die beseerde persoon agtergebly en ons het gery na die naaste waterpunt om die ongeluk aan te meld aangesien daar nie selfoon opvangs was nie.  Ek was op daardie stadium die persoon in die groep wat die meeste van die werk gedoen het en het die groep gevra of ons net vinnig by die volgende waterpunt kon stop om die ongeluk aan te meld.  Net 3 van ons het gestop...

Ons het tussen WP2 en WP3 alleen gery en 'n groot groep het ons daar gekry vanwaar ons enduit saam gery het.  Ek was na 100 km redelik gaar en het effens begin kramp, maar vinnig weer herstel van dit.  Ek het klaargemaak in 4h30 min en was vol moed vir die Karoo2Coast oor 2 weke.



Botrivier naweek - 13 -14 September 2014

Lood en Saretha het ons 'n geruime tyd terug genooi vir 'n wegbreek naweek na Botrivier Hotel saam met ou skoolpêlle van hom.  Ons het dadelik ja gesê om bietjie afwisseling te bring met al die aktiwiteite.  Hier sou die hele gesin dan vir die naweek saam wees.  Daar is natuurlik 'n bergfiets sessie gereël onder die manne, maar dit was iets heeltemal anders as wat ek al voorheen gedoen het.

Die roete was van Botrivier, verby Dassiesfontein Padstal na die "singletrack" teen die berg (ken nie al die roetes se name).  Dit was ongeveer 30 km tot by die halfpad merk.  Pragtige roetes is daar gebou en was beslis 'n belewenis om daar te kon ry.  Halfpad is waar dinge vir my nuut was.  Ons het by een van die manne se huise gestop en daar is weggelê aan verversings wat bietjie sterker as jou normale energiedrankie is!  Wat my die mense verbaas het, is dat die manne nog op hul fietse die roete terug ook gery het.  Baie sosiale sport!  Ons het die res van die middag as groep saamgekuier by die hotel, waar meeste van die ryers en hul gesinne ook oorgebly het.  

Die Sondag is ons vir 'n kort, maar lekker rit op 'n ander roete wat net weer die prag van hierdie gedeelte van die Wes-Kaap uitgewys het.  Daar was 'n effense koeligheid in die lug en jy kon die verandering van die seisoene op die grane waarneem.  Ons sal beslis terugkom na hierdie pragtige plek.



Karoo2Coast - 21 September 2014

Ons was nie aanvanklik ingeskryf vir 2014 se Karoo2Coast nie.  Die logistieke nagmerrie van die wedren het dit na die vorige jaar vir ons meer na 'n berg voor ons as 'n uitdaging laat voel.  By dit sit jy met oor die 4 000 mense wat deelneem en indien jy enigsins 'n goeie tyd wil ry, moet jy sorg dat jy van die begin af in 'n posisie is waar ander jou nie gaan ophou nie.  Hierdie tipe wedrenne met sulke groot getalle is gewoonlik frustrerend vir die persoon wat sy eie doelwitte najaag omdat so baie dinge gebeur wat buite jou beheer is.  Ek sal later meer hieroor noem.

Twee van ons klublede het besluit om nie meer te gaan ry nie en ek en Hildegarde het besluit om hulle inskrywings oor te neem, asook die verblyf in die Kerksaal op Uniondale.  Ons het in opbou na die Sondag van Karoo2Coast steeds getwyfel of ons al die pad van Malmesbury na Uniondale wou reis, maar toe ons twee ander passasiers bykry was die planne in plek.  Ons sou almal saamry, ons kar het 'n geleentheid na Knysna en ons sou die Sondag direk na die wedren terugkom.

Saterdag net na 11:00 is ons op Malmesbury weg en het heerlik gery en was net na 17:00 in Uniondale.  Ons het by die Kerksaal omgery voor ons die ander 2 by die koshuis sou aflaai, net om seker te maak waar dit is.  Met ons aankoms by die koshuis het Elfriede verneem sy het 'n 4-bed slaapkamer.  Ek deel toe die aand 'n koshuiskamer met 3 ander dames!  Beslis 'n eerste vir my, maar baie beter as die vorige jaar se rooi tente.

Ek het in die A-groep weggespring en na my TipTrans wou ek bitter graag 'n sub 4 uur Karoo2Coast ry.  Hildegarde was in die B-groep en sy het haar eie doelwitte gehad.  Ons het weggespring en die eerste deel was 'n neutrale sone.  Daar was egter by senuwees en sommer op die eerste afdraend het twee fietse mekaar getref en 'n redelike botsing veroorsaak.  Ek het hier gesien dat ek om by my doelwit uit te kom redelik op my eie gaan moet werk.  Dinge in die bondel, was net te deurmekaar so vroeg in die resies.  Ons het die eerste tweespoor pad gekry wat ook die eerste klim was.  Dis hier waarna ek vroeër verwys het.  Selfs in ons A-groep is hier opeenhopings en dis waar baie mense baie van hul tyd verloor omdat hy wel die bult kan ry, maar in 'n ander persoon se hande is wat dalk voor hom loop.  Niks gaan hier help behalwe geduld nie.  Niks wat jy gaan sê, gil of doen gaan die situasie verbeter nie, want voor die persoon wat jou ophou is daar net weer een wat hom ophou.  Dit het niks te doen met hoe sterk of tegnies goed jy is nie, maar wel met die groot hoeveelhede mense wat deelneem.  Beste raad, "chill", jy gaan later hard ry met die energie wat jy nou spaar.

Om terug te kom na die eerste klim:  Ek was gelukkig, was redelik voor en kon die hele klim ry met 'n gemaklike hartklop.  Dit was goed vir my, want dit het my energie laat spaar wat ek dalk later kon nodig kry en as ek teen my eie spoed daar sou uitgaan sou dit my later ingehaal het.  Ek het lekker in my eie ritme gekom van sterk klim en bietjie stadiger as die gewone ou op die afdraende (ek is immers 'n verantwoordelike man en pa van 2).  In die middel van die resies het ek sterk gevoel en besef dat ek in my groep die leiding sal moet neem om my eie doelwit te behaal.  Ek het uitgewerk dat ek teen die einde 'n gemiddelde spoed van 24 km/h of meer moes ry om 4 ure te breek.  Al die klim in die eerste 60 km het gemaak dat my gemiddelde spoed op 'n stadium onder die 20 km/h was.  Vir die volgende 20 km het ek alles gegee om die gemiddelde spoed op te kry en het na 80 km begin voel ek sal bietjie rustiger moet gaan aangesien daar nog die laaste klim op na Simola is. Ek het vir 5 km rustiger gery en toe die klim kom al my laaste krag gebruik.  Ek het 4 mense verbygegaan op die laaste klim en toe ek die teerpad afvat Knysna toe, het ek geweet ek is binne bereik van my doelwit, my tyd het gesê 3 uur 48 min.  Ek het nie ontspan nie, voluit gegaan teen die wind tot ek oor die blou matte was en klaargemaak in 3 uur 56 min - "Mission accomplished".

Hildegarde het haar eie drama gehad.  Haar voorste "shifter" kon nie die ketting van klein na groot kry nie.  Sy het noodgedwonge die hele Karoo2Coast in haar klein voor-"blade" gery. Op die klimme was dit heel aanvaarbaar, maar op al die plat stukke het die groepe haar agtergelaat.  Sy het steeds klaargemaak in 'n baie goeie tyd van 4 uur 26 min.  Na alles is ons baie bly ons het gaan deelneem.  Dit was 'n vinnige, maar baie leer "trippie".  Ons sal seker maar weer gaan....


Malmesbury Fietsryklub Gesinsdag - 4 Oktober 2014

Die fietsryklub het sy jaarlikse Gesinsdag op 4 Oktober 2014 by Malmesbury Skougronde gehou.  Die oogmerk van die dag is om die hele gesin by die sport te betrek.  Die dag skop af met 'n pretrit vir die hele gesin.  Elke kind word deur sy ouer vergesel op die 2.5 km roete deur die wingerde.  Elke kind kry dan na afloop van roete 'n pragtige medalje vir sy of haar deelname.  Vanjaar se roete is deur amper 60 kinders gery en was 'n reuse sukses.  Hierdie pretrit is opgevolg deur 'n aflos vir die groter kinders en volwassenes wat in spanne van 2 aan 'n wedren deelneem wat 2 ure aanhou.  Die span met die meeste rondtes in die 2 ure word as die wenners gekroon.  Hierdie dag gaan egter nie oor wen of verloor nie, maar oor die lekker saamkuier.  Die dag word afgesluit met baie gelukkige trekkings met pryse van borge.  Almal was dit eens dat dit 'n dag op die kalender is wat nie misgeloop mag word nie.  Die klub het ook een lot (2 bottels rooiwyn en 'n skaapboud) opgeveil vir CANSA (kinderkanker).  Die veiling en die ekstra donasies wat die dag gemaak is het 'n bedrag van R3 350 vir 'n baie goeie doel ingesamel.  Dankie vir almal se wonderlike bydraes en teenwoordigheid die dag, veral aan Die Courant en Malmesbury Superspar!


Outsurance Gun Run 2014 - 12 Oktober 2014

My belofte aan Hildegarde is om ten minste een halfmarathon per jaar saam met haar te doen.  Die afgelope Sondag was dit weer die beurt van die Gun Run.  Soos ek nou hier sit is ek steeds in pyn.  Maak nie saak hoe fiks jy is nie, draf is 'n ander ding.  Jy moet hom oefen en jou liggaam moet gewoond raak aan die afstand.  My mikpunt was om 2 ure te breek en Hildegarde wou onder 1 uur 40 min hardloop.  Sy draf deesdae baie min met die gym wat haar feitlik voltyds besig hou.

Ons het by haar ouers oorgebly Saterdag aand en die kinders was by ouma en oupa terwyl ons gehardloop het.  Ek het Hildegarde by die wegspring afgelaai sodat sy 'n beter wegspringplek kan hê terwyl ek parkeerplek gesoek het.  Ek het feitlik heel agter weggespring, maar was vol vertroue dat ek my doelwit sal bereik.  Dit was my 3de Gun Run en ek het presies geweet waar dinge vir my die vorige 2 keer verkeerd gegaan het.  Ek het baie lekker gehardloop en het die eerste 10 km in onder 50 min gehardloop.  Daarna het die vasbyt begin.  Die lyf het begin seer raak en ek moes my kop reg hou.  Die onderstaande foto is ongeveer 3 km van die einde en jy kan sien dis laat in die dag!  Ek het net aangehou hardloop en sommer die laaste km my laaste energie gebruik.  Ek het klaargemaak in 1 uur 48 min,  12 minute vinniger as my vorige beste!  Hildegarde het klaargemaak in 1 uur 37 min en ons het altwee baie tevrede teruggekeer huistoe.



Eerskomende Sondag is dit die beurt van die Impi Challenge.  Ek belowe ek sal nie weer so lank vat om julle in te lig nie.  Hierdie was baie "catch-up" werk vir my!

Groetnis,
JG

18 Oktober 2013

Hoërskool Swartland MTB & Gun Run 2013

Ek het 'n punt bereik waar ek voel daar is niks meer krag nie.  Dieselfde roetes wat ek ry, neem my langer.  Ek is energieloos en pap.  Dit klink of ek kla, maar die realiteit is dat my besige skedule en harde oefen program sy tol begin eis het.  Dit was verlede Dinsdag.  Ek het almal se raad gevolg en besluit om van die fiets af te bly vir ten minste 3 dae aaneen.  Die Hoërskool Swartland se bergfietswedren en die Outsurance Gun Run was die naweek en ek wou graag ten minste kon deelneem.  Ek het ook vir die Vitamien B Kompleks inspuitings gegaan om my 'n "boost" te gee.  Saam met die rus en "ontspan" het dit 'n baie positiewe reaksie gehad.  Ek kon die Saterdag deelneem aan die MTB van die skool.  Hildegarde is op 'n heel ander oefenprogram as ek - dit begin al hoe meer lyk of hare beter is!  Sy doen baie kragwerk, draf en fietsry.  Sy was dus reg vir die naweek se uitdagings!
Hildegarde besig met kragoefeninge - Foto Crosstrain Somerset Wes
Saterdag het aangebreek en die reën het op ons neergedaal.  Daar was enkele oomblikke waar dit nie gereën het nie en ons het besluit om af te ry na die Hoërskool Swartland waar die wegspring vir die 40 km wedren sou wees.  Ons was skaars op ons fietse of die reën het weer begin val.  Ons was nat voor die wedren!  Ek en Hildegarde het besluit om nie te hard te ry nie, aangesien ons bietjie kragte wou spaar vir die Gun Run.  Ek het ook geen idee gehad van hoe ek sou voel na die paar dae af nie.  Ek sou oudergewoonte saam met haar ry.

Deelnemers aan die 40 km wedren
Ons het weggespring teen 'n lekker stywe spoed en vinnig "gesettle" teen die spoed waarteen ons die res van die pad sou ry.  Ons het lekker gery en min probleme gehad.  Die reën het ons gevang na 30 km, maar ons het deurgedruk.  Die laaste 5 km was reguit teen die Suide-wind en ons het maar agter mekaar geskuil.  Hildegarde was die 1ste vrou oor die eindstreep en ons was beide onder die eerste 10.  'n Lekker dag wat beslis die potensiaal het om te groei.  Dankie aan al die plaaslike ryers wat in groot getalle opgedaag het!  Dankie ook vir Die Gazette vir die foto van my en Hildegarde!  Waardeer jul ondersteuning.

Sondag was die Outsurance Gun Run.  Ek het Hildegarde belowe dat ek 2 halfmarathons saam met haar sal hardloop (relatiewe begrip, sê eerder ek is in dieselfde resies as sy!).  Hierdie was die 2de een vir die jaar, ook beslis my laaste vir die jaar!  Ek het laas die SAD halfmarathon gehardloop, so ek was erg senuweeagtig.  Hildegarde wou onder 1 uur 40 min hardloop.  Ek wou graag 2 ure breek.  Lood het besluit om sy eerste halfmarathon te doen.  Ek was vol raad vir hom oor die roete en hoe ons tempo moet wees, ens.  Ons was 06:00 reeds by die Kaapstad Stadion.  Die kanon het 07:00 afgegaan en ons was op die pad.  Ek het heel goed gevoel tot op so 10 km.  Die bene het begin pyn en Lood het sy hande vol gehad met my.  Soos julle op die foto's sal sien was hy beslis die sterker hardloper tussen ons.  Hy moes letterlik staan en wag vir my van 14 km af.  Ek dink Lood het 'n 42.2 km (marathon) in hom!  Ek skuld hom ten minste 10 min.  Ons het uiteindelik na baie pyn (vir my) klaargemaak in op die kop 2 ure.  Hildegarde het reeds (lank) vir ons gewag by die eindstreep.  Sy het 1 uur 33 min gehardloop!  Sy was die 14de vrou uit 2 170 deelnemers!

Julle sal waarneem dat daar 'n nuwe logo links bo verskyn op die blog.  Ons het besluit dat al die energie wat in die Epic reis ingaan vir 'n groter doel aangewend kan word.  Ons gaan baie nodige fondse insamel vir Sistiese Fibrose.  Ek sal in die volgende blog meer vertel oor hoe ons by die projek betrokke geraak het en wat ons beplan om te doen.  Ons projek sal bekend staan as "We Ride To Breathe".  Gaan klik solank op die "logo" en gaan lees meer oor die behoeftes en die siekte.  Enige van die "logo's" op ons blog is gekoppel aan daardie instansie se eie webwerf wat jou meer oor hulle werksaamhede kan vertel.

Die einde van die jaar begin vinnig nader kom.  Indien jy in Januarie 2013 nuwejaars voornemens gemaak het, sal jy moet spring om dit te verwesenlik - daar is nog tyd!  Vasbyt vir die laaste stuk.  November is 'n besige maand vir ons, so ons is besig met voorbereiding vir alles wat oppad is!

Lekker oefen,
JG

08 Oktober 2013

Piket-Bo-Berg MTB, Koringblok, Kokkedoor 2013

Die afgelope 10 dae was redelik besig, minder oefen en meer werk!  Op Saterdag, 28 September 2013 het 'n hele groep van ons Malmesbury Fietsryklub lede die Piket-Bo-Berg bergfietsrit gaan doen.  Dit is adverteer as 'n 57 km rit, maar is op die dag verkort na 'n 53 km vanweë die reën van die vorige paar dae.  Dit was nie 'n groot groep wat die lang roete gedoen het nie.  Die wedren is berug vir baie klim en redelik tegnies.  Ons het weggespring en sommer binne die eerste 4 km 'n enorme klim begin.  Die veld is hier redelik uitgerek en ek het myself in die 5de posisie bevind.  Ek het van hierdie punt tot op 48 km geen ander fietsryers gesien nie.  Heeltyd alleen en ek het "gesuffer".  Die roete was nat, vol modder en baie tegnies.  Ek dink ek het dalk te vinnig begin die oggend en op 48 km het ek gebid dat die einde moet nader kom.  Ek het gehoor die mense by die waterpunte se gejuig raak al hoe gouer harder nadat ek verby hulle gaan, dit het beteken die ouens agter my is op my hakke en ek het omkyk, omkyk begin ry - 'n eerste vir my!  Ek was nog nooit in die posisie om te "race" vir 'n plek nie.  Ek het die manne in my nek voel blaas en nie probeer omkyk nie, slegs vorentoe.  Ek het begin kramp en my ketting was vol modder en wou nie meer glad vorentoe nie.  Die einde was in sig, ek het alles gegee tot na die wenstreep.  Ek was vyfde in 3 uur 30 min.  Charl du Plessis (Tier) was derde in 3 uur 4 min en Nico Pfitzenmaier het gewen in 2 uur 38 min.  Die hele gesin was op die wenstreep toe ek klaarmaak.  Dit was heerlik!  Hierdie is 'n baie lekker resies en bitter baie moeite word met die dag gedoen.  Dit dien ook as fondsinsameling vir die Piket-Bo-Berg Gemeenskap.  Ons sal beslis weer terug wees volgende jaar.



Verlede Dinsdag het ons ons eerste smakie van ABSA Cape Epic 2014 ontvang.  Ons is genooi na die "Rider Evening" wat by Canal Walk gehou is.  Verskillende sprekers het ons meer vertel oor wat om te verwag en waar ons nou reeds met ons voorbereiding moet wees - ons is gelukkig redelik op die regte pad!
Baie stories is met ons gedeel, maar die belangrikste punte was dat jy moet probeer om die ervaring te onthou.  Drie dinge waarna jy van jou kant moet omsien is:
  • Altyd glimlag
  • Jou "partner"
  • Jou boude (Klink my dis amper die belangrikste!)
Dit was 'n baie lekker aand en net wat ons nodig gehad het om onsself weer gefokus te kry en na die volgende rat oor te gaan.

Nexus span - Jacobus Truter, Stephan Venter, Jaco G en Hentie Engelbrecht
Vrydag was dit die Amos Plaasbediening Gholfdag in Wellington.  Hierdie organisasie werk onder die omliggende plase en bedien Die Woord aan plaaswerkers.  Jy kan duidelik sien op watter plase hulle betrokke is met die gesindhede van die mense en hulle doen voorwaar baie goeie werk.  Ons besigheid borg elke jaar 'n vierbal.  Vanjaar het ons 7de geëindig.  Lekker afwisseling om 'n slag weer bietjie stok te kon swaai!

Saterdag was dit die beurt van een van Hermon Landbouvereniging se ander hoogtepunte van die jaar - die Koringblokkompetisie vir 2013.  Elke produsent skryf sy beste kamp koring in.  Drie beoordeelaars besoek in die week voor die Saterdag die kampe en kies die top 5.  Ons as besoekers aan die dag gaan dan die Saterdag na die top 5 en kies die wenner van die dag.  Vanjaar se top 3 is as volg:
  1. Lombard Trust - Oom Dawie en Christoffel Lombard
  2. Vlakkerug - Oom Jannie en Stephanus du Toit
  3. Elandsberg Plase - Mike Gregor
Besoekers aan die dag in die koringlande
Dit bring ons dan by die laaste geleentheid van hierdie vol naweek, aandete gemaak deur Die Kokkedoor Mynhardt by Hofstraat Kelder van Wim en Karin Smit.  Die aand het bestaan uit 'n vyfgang maaltyd wat dan bedien word met wyne van Hofstraat Kelder.  Dit was 'n enorme bederf.  Ons was 'n lekker groep wat saam daar was die aand en het die ervaring terdeë geniet.  Die top wyn vir my persoonlik was die Barbera wat lekker saam met enige van die kosse gegaan het.  Baie dankie vir 'n heerlike aand!


Eerskomende naweek is dit die Hoërskool Swartland se bergfietswedren en dan my tweede (en laaste) halfmarathon vir 2013, die Outsurance Gunrun.  Ek het nie baie gedraf die laaste tyd nie, so dit sal maar seer wees!  Ek sal beslis nie probeer om die landspoedrekord te verbeter nie....Hildegarde gaan my weer baie ver weghardloop!  Dit is 'n baie mooi roete en verlede jaar het ongeveer 10 000 mense aan die verskillende afstande deelgeneem.

Volgende week meer oor al hierdie kaskanades.

Groete,
JG

15 Mei 2013

Agtergrond - Jaco & Hildegarde

Geldenhuys "Background Check"

Ek en Hildegarde is die afgelope 7 jaar getroud en het twee pragtige kinders, Hilge en JJ.  Ons woon op Malmesbury.  Ek is in die Landbouchemiese bedryf en sy is 'n fiksheids fanatikus en baie goeie ma vir ons 2 kinders! 


Hierdie "blog" sal dien as my en Hildegarde se dagboek van ons strewe na 'n gesonder lewe asook die kompleksie van ons daaglikse roetiene, oefen en die twee bekkies wat aandag, kos en liefde van ons vereis. Soos wat die tyd sy loop neem sal dit nog meer kompleks raak en hierdie is die reis deur ons "logistieke" nagmerrie!


Vir my het alles in Oktober 2011 begin toe ek besef het dat genoeg nou genoeg is en ek sal 'n verandering aan my lewe moet bring.  Gesondheid in vandag se tyd is 'n luukse en jy moet alles van jou kant af doen om dit te help bevorder.  Vir Hildegarde het dit nog altyd van nature gekom en sy het maar net normaal voortgegaan - drie keer per week gegym en altyd reg geëet.  Vir my was dit nie so maklik nie, ek was redelik ver op die verkeerde pad wat eetgewoontes aanbetref (ongereeld en verkeerd!) en gedink 9 gate gholf is goeie oefening (dis mos beter as niks).  Op daardie stadium het ek die skaal op 'n stewige 94 kg laat trek en die mislukke, moeë gevoel was altyd teenwoordig.

Vir die eerste 6 weke kon ek beswaarlik 20 min aaneen draf, maar ek het deurgedruk en die skaal het saamgespeel.  Maart / April 2012 het ek die km's begin langer maak van die gebruiklike 4 km na tussen 7 en 9 km's soggens.  Ek en my drafmaat (Manus Bester) het besluit dat die Outsurance KFM 94.5 Gunrun ons eerste wedren is wat ons in die oog het om te doen.  Dit is net hier waar Hildegarde ook besluit het om na die volgende rat oor te skakel en ons het toe ingeskryf.

'n Hele paar 10 km Pretlope is gedoen en in Oktober 2012 is ons na die Kaapstad Stadion vir ons eerste halfmarathon!  Sulke lang afstande is nie vir sissies nie.  My liggaam is beslis nie gebou vir sulke marteling nie.  Hildegarde het my gewen in 'n tyd van 1 uur 55 min.  Ek het ingekom op 2 uur 05 min, maar die grootste oorwinning was die feit dat ons dit kon "aftick".  Hierdie was die begin van ons avontuur, die adrenalien was daar en die lus om weer die wedren gevoel te kry was alomteenwoordig.  Intussen het ek om die draf af te wissel weer my ou bergfiets nader getrek en daai gogga het gou gebyt om weer te kan jaag!


Links: Hildegarde - Outsurance Gun Run 2012

Regs:  Jaco - Outsurance Gun Run 2012



Kom ervaar ons reis saam met ons!

Tot volgende keer...

Groete,
Jaco G