Wys tans plasings met die etiket Delico. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Delico. Wys alle plasings

30 Mei 2014

Amarider 100 Miler

Verandering van seisoene, 'n baie lae immuniteit en kinders wat met nat neuse huistoe kom is glad nie die perfekte voorbereiding vir 'n wedren soos die Amarider 100 Miler nie.  Hildegarde staan sterk deur alles, maar ek is maar 'n "softie".  As daar 'n virus in die lug is, sal ek hom kry.  Dit was dan ook die geval van so 10 dae voor die 100 Miler af.  Ek was nie bedlêend nie, maar beslis nie gesond.  

Die Maandag (op JJ se verjaarsdag - 19 Mei 2014) het ek begin met 'n kursus antibiotika.  Ek kon elke dag in opbou na die 100 Miler voel ek raak beter.  JJ het 'n Spiderman partytjie gehou soos wat julle kan sien op die aangehegde foto.  Hy is regs en sy maatjie HB is links.  Beste dag van sy lewe tot dusver!

Ons sou as Team Nexus deelneem.  Hierdie keer was ons 4 ryers - ek, Hildegarde, Glenn Norrie en Charl (Tier) du Plessis.  Die reëls van die 100 Miler verskil so bietjie van die ander wedrenne as jy in span verband ry.  By die 100 Miler kan jy as 'n span ry, maar jy hoef nie saam te ry nie.  Hulle vat net die tyd van die span as die laaste persoon van die 4 se tyd en al 4 moet klaarmaak om as 'n span te kwalifiseer.  Ons het egter in die gemengde spanne deelgeneem en ons moes die dag voor die wegspring uitvind dat daar net een ander gemengde span ingeskryf is, so daar sal nie 'n gemengde kategorie wees nie.  Ons het egter steeds besluit om as span te ry en ook nie elkeen op sy eie spoed te ry nie, maar die heeltyd as "Team Nexus" bymekaar te bly.

Jaco Geldenhuys, Hildegarde Geldenhuys, Glenn Norrie en Charl (Tier) du Plessis

Die wedren begin by Swartland Wynkelder en eindig, net soos die naam sê, na 100 myl (163 km) weer by Swartland Wynkelder.  Daar is ook 'n 50 Miler wat by Delico Slaghuis op Riebeek Kasteel begin en die laaste 80 km van die 100 Miler roete is, en ook by Swartland Wynkelder eindig.  Malmesbury was uitstekend verteenwoordig in beide wedrenne en daar was ongeveer 30 van ons wat deelgeneem het!  Voorwaar uitstekend vir 1 dorp.  Ons het natuurlik ook 'n moontlike algehele wenner in die wedren vir die 100 Miler in ons midde gehad - Johann Rabie was ook op die beginstreep.  Die roete was beslis nie plat nie en ons moes buiten die ekstreme weerstoestande 2 400 m oor 163 km klim!


Ons span het ongeveer in die middel van die bondel begin en my begin kon ek nie slegter voorspel het nie.  Ek het by die mense voor my probeer verbykom en deur 'n rolletjie hakiesdraad gery wat net langs die pad gelê het.  Dit het in my "cluster" opgewen aan die speke se kant.  Ek en twee Barmhartige Samaritane het seker 5 min gesukkel om dit los te kry, gelukkig was daar geen skade en ek kon aanry.  My span het so 500 m verder vir my gewen.  Op dieselfde oomblik het die donderweer en blits begin slaan en ons het sommer lekker vroeg al natgereën.  Hierdie was die begin van 'n baie lang en moeilike dag!


Ons het weer bymekaargekom as span en dadelik met 'n paar kort klimme begin.  Vir ons ryers wat nie "race" nie, moet jy baie hard waak daarteen om nie ingetrek te word met die persone wat vinnig begin nie.  Hierdie is 'n Ultra Ultra marathon en jy moet alle energie soos goud oppas, want jy gaan dit beslis later nodig kry.  Glenn was ook die heel week effens ongemaklik met sy hartklop se reaksie as hy tempo gery het en dit was dieselfde storie op die dag van die wedren.  Hy het egter by ons gebly en probeer bepaal wat aangaan.  Die eerste ongeveer 50 km was eintelik heel aangenaam, toe draai ons in 'n Oostelike rigting.  Die wind was besig om te draai na Noordwes om die enorme kouefront in te bring en ons het die wind van voor begin kry.  Op 61 km was ons by die eerste "tagpunt".  Almal was ongedeerd en wou net graag by die halfpad merk kom.  Dit was egter baie makliker gesê as gedaan.  Die wind was nou van die Noordweste en ons moes reguit teen hom ry tot by Delico.  Hierdie gedeelte van die roete is eintlik 'n maklike deel.  Min bulte en lekker plat.  Ons kon beswaarlik 20 km / uur handhaaf.  Ons het na 4 ure by Delico aangekom en vir Riaan van Zyl wat ons en Dr. Loch Nel, wat ook 100 Miler gery het, se bystandvoertuig gery het daar gekry.  Ons kon ons eie bottels kry en warm klere kry - die kouefront was naby.




Ons het verder gery en na ongeveer 2 km het Glenn gesê hy voel glad nie goed nie.  Die dag het al hoe moeiliker geraak en ons wou beslis nie sy gesondheid in gevaar stel nie.  Hy het besluit om terug te gaan na die voertuig toe.  Dit het beteken dat ons nou net drie was wat teen die wind moet baklei en dat ons nie meer as 'n span kwalifiseer nie.  Na die tyd het ons verneem dat Delico die eindpunt van baie ryers se dag was.  Ons moes ongeveer nog 25 km teen die wind ry voor ons 'n effense blaaskans gekry het waar die wind van die kant af gewaai het.  Dit was 'n moeilike stuk.  Ons 3 het min gepraat en elkeen het in homself geworstel oor hoe aaklig dit was om op daardie spesifieke tyd daar te wees.  Ons het uiteindelik die "tagpunt" met ongeveer 45 km bereik en geweet dat ons nou twee gedeeltes gaan kry met die wind van agter.  Die weer het nog slegter geraak en dit het begin reën.  Ons was nou op die paaie wat ons gereeld oefen, dit het nie gehelp dat ons weet wat kom nie!


Die laaste klimme was uitmergelend na die harde dag.  Emosies was hoog en die dag kon gerus klaarkry.  Ons het op een van die drie laaste bulte reguit teen die wind ingedraai.  Dit het gereën en jy moes letterlik teen die afdraend trap om nie stil te staan nie.  Ons is daar deur en op die laaste 7 km het ons die wind van agter gehad.  Wat 'n verligting.  Ons het klaargemaak in 8 uur 11 min.  Dit was in alle waarskynlikheid my hardste dag op 'n fiets nog, my span het my beslis deurgedra.  Dankie Charl, Glenn en Hildegarde.  Ons het ook uitgevind dat Hildegarde die 3de vrou in die Sub-vets was!
Hildegarde op podium (Foto: Saretha Fouche)
Johann Rabie, Malmesbury se eie professionele fietsryer, het die 100 Miler gewen met ongeveer 8 min.  Hy het dit in 1 minuut vinniger gery as 2013 se wentyd (waar hy net-net 2de was) ten spyte van die haglike weersomstandighede in 5 uur 58 min.  Almal het na die tyd gesê ons gewone ouens kan 10% aftrek by ons tyd - hoeveel moes Johann dan aftrek?!  

Johann Rabie - Wenner Amarider 100 Miler (Foto: Johann Notnagel)
Johann het ook onlangs as deel van EAI Cycling saam met Gawie Combrinck die Joberg2C gewen en 2de plek behaal in die Sani2C.  Malmesbury is baie trots op jou!  Ons is ook uiters bevoorreg om hom as deel van Malmesbury Fietsryklub te kan hê en in sy geselskap op Woensdae ons klub se sosiale ritte te kan byhê.  Malmesbury het in 2013 geen fietswinkels gehad nie.  In Januarie 2014 het Johann sy winkel, Bike Addict oopgemaak en kort daarna het Crispin en Juan vir Kroff oopgemaak.  Ons is meer as 60 lede in die klub en die sport groei van krag tot krag in ons omgewing.  Kom besoek hierdie manne se winkels vir professionele hulp en advies.

Vir nou is dit winter en dit raak al hoe moeiliker om aan die oefen te bly!  Trek dik aan en laat daai wiele rol.

Tot later,
JG

27 Mei 2013

Amarider 50 Miler

Die 25 ste Mei 2013 het aangebreek waarop die Amarider 100 en 50 Miler plaasvind.  Ek was plat in die bed met griep van die Woensdag af, so daar was geen kans dat ek kon deelneem nie.  Hildegarde was die week vantevore saam met Hilge en JJ siek, so die Geldenhuyse was maar broos!  Hildegarde het egter die heel week geoefen voor die 50 Miler, alhoewel dit nie fietsry was nie.  Sy het die Donderdag voor die resies 'n 20 km gaan ry en het gese sy voel goed vir die Saterdag.

Ek kon die Saterdag uit die bed kom en het opgetree as Hildegarde se tegniese / ondersteuning span.  Ons het die kinders by ouma Fanie en oupa Kola gelos vir die dag en ons is deur na Delico waar die wegspring van die 50 Miler was.  Dit was 'n ysige windjie wat gewaai het en die mis het laag gehang wat dinge nie makliker gemaak het nie.  In dieselfde resies was 'n hele klompie Malmesbury gesigte wat ook deelgeneem het - Carl Malherbe, Helena en Alex Bester, Johan du Plessis, Jean Fouche, Frederich Claasen en Altus Spannenberg om maar 'n paar te noem.  Dit was lekker om so 'n resies in ons eie kontrei te hê, ek was hartseer dat ek nie kon deelneem, maar was beslis nie in staat nie.

50 Miler - Wegspring
Hildegarde na 37 km
Om 09h00 stiptelik het hulle begin.  Ons het geweet dat die resies nie baie tegnies gaan wees nie en dat die spoed redelik hoog sal wees.  Ek het gesorg dat ek vanaf 10h00 by die eerste toeskouer punt was.  Dit was 37 km van die begin af.  Die voorloper van die resies het om 10h15 verbygekom.  Ek het nog so rondgestaan toe Carl en Jean verbykom en 'n minuut of wat na hulle het Hildegarde en Frederich verbygekom om 10h24.  Hildegarde was amptelik die 4de vrou op daardie stadium.  Hulle was lekker haastig en Hildegarde het goed gelyk.  Helena is so 5 min later daar verby en ek het besef ek sal moet stukke insit om by die volgende toeskouer punt uit te kom.

Helena Bester - 60 km
Kobus en Alex - 60 km
Die voorloper is om op die kop 11h00 verby ons by die 2de toeskouerpunt.  Dit beteken hy het 'n gemiddelde spoed van 30 km / h gehandhaaf - 60 km was nou verby.  Carl was weer die eerste van ons groep deur die punt met Jean 2de.  Hildegarde het deurgekom saam met Frederich en steeds goed gelyk.  Helena was volgende.  Ek het gery om by die eindstreep te kom en so 'n halfuur nadat ek weg is by die toeskouerspunt die oproep van Hildegarde wat gesê het sy het 'n sny in haar agterband, die "bom" kon hom nie styf hou, want die sny is te groot om te seël en hulle sal 'n binneband moet insit.  Ons ry met "tubeless" bande, so om 'n binneband te gebruik is altyd die laaste opsie!  Jean Fouche het vir Hildegarde hier deur dik en dun gehelp om haar weer op die pad te kry - baie dankie Jean, ons waardeer dit.  Sy het egter ongeveer 20 min verloor met die proses, sy was 3de toe die noodlot haar tref.  Sy het klaargemaak in 3 uur 59 min en was baie teleurgesteld.  Ons het steeds meer uit die dag gekry as was ons verwag het.  Baie goed gery vir die hoeveelheid voorbereiding en nou weet ons waartoe sy in staat is.  Helena was die 5de vrou en Carl was die eerste Malmesbury man.  Baie geluk aan almal wat gery het.

Die 100 Miler se wenners het die 160 km in 6 ure kafgedraf met Johann Rabie, ook van Malmesbury in die 2de plek.  Ons resies kalender is nou stiller vir 'n maand of wat, maar bly ingeskakel vir al die lekker oefen stories!

Groete tot volgende keer,
Jaco G