Dit sal geensins help om eers te probeer verduidelik waarom daar niks op hierdie blog aangegaan het die afgelope paar maande nie, maar nou ja, ons is nou hier, 2 dae voor Comrades 2016 en dis waaroor ek gaan verslag doen. Ek gaan vlugtig, al is dit net vir my eie dagboek doeleindes, neerpen wat alles in die Geldenhuyse se lewens aangegaan het die laaste paar maande.
Na verlede winter se skrywe het ons steeds elkeen aangegaan met ons oefening soos altyd, doelwitte het net baie verander met baie van die "bucket list" items wat voltooi is. Dinge wat vir my voorgelê het was steeds Wines2Whales, Double Century en Attakwas. Hildegarde en Lood aan die ander kant het na haar en Marisa se African X besluit dat Comrades hul volgende doelpaal is. Deur die winter is daar geoefen om September by die Cape Town Marathon te probeer kwalifiseer vir Comrades. Die volle ondersteuning span was daar om hulle 2 aan te moedig.
Die Cape Town Marathon was natuurlik die dag nadat Suid Afrika teen Japan in die Wereldbeker verloor het en Pietman kon nie die foto oomblik met 'n Japanese atleet laat verbyglip nie. Beide Hildegarde en Lood het kwalifiseer en ons het geweet Comrades gaan ons in 2016 sien.
In my vorige blog het ek verwys na Blesfontein waar ons elke jaar gedurende die winter gaan kuier. Daai wereld het ons en die Fouche's se harte gesteel, maar wat ons nie geweet het nie, is dat die ander twee Geldenhuyse (Pietman en Woel) net so versot is op die Tankwa Karoo. Die aand na ons winterbesoek van 2015 aan Sutherland het ek spottenderwys vir Saretha gevra of ons dalk saam moet kyk na 'n strandhuis of 'n plekkie in die Tankwa en haar antwoord was beslis Tankwa, want ons kan altyd kamp by die see! Die Dinsdag stuur sy aan my 'n advertensie wat op Gumtree is. Ek het kontak gemaak met die eienaar en om 'n lang storie kort te maak, nadat Saretha en Pietman-hulle ook gepraat het is die Mooibergplaas (Edms) BPK maatskappy gestig en ons het ons eie stukkie hemel gekry.
Ons gesin is "gegear" vir 'n man en 'n vrou wat oefen, die gym, my werk, kinders op skool, vergaderings in die aande, maar Comrades oefening het alles kom verander! Tussendeur moes Hildegarde ook Double Century en Wines2Whales ry waarvoor sy fietlik niks op die fiets was nie. Haar gym, draf en die uur of 2 per week het haar egter deur beide gekry en die fokus kon 100% na die Comrades verskuif vanaf Desember 2015. Dit was presies 6 maande voor Comrades en Hildegarde het genoeg tyd gehad met die gym wat toe is om baie "base" myle in te kry voordat die hoer intensiteit oefening begin. Drawwers hardloop maar altyd met die een of ander besering en in Hildegarde se geval was daar geen uitsondering nie. Sy het egter maar altyd deur die pyn gedruk (want sy is hardegat) maar dit het sy tol begin eis toe sy nie haar doelwitte op haar program kon behaal nie. ITB is pynlik en jy moet dit rus en behandel. Rus is nogal 'n moeilike woord vir my bruid om te verstaan, maar sy het besef Comrades is die doelwit en ons het 10 weke gehad om dit reg te kry. Intensiteit is afgebring en rehabilitasie is aan die gang gekry. Lood het op sy beurt voortgegaan met sy program en die kilometers kaf gedraf en die kilogramme het weggesmelt van sy liggaam. Hy het 'n doelwit vir 'n gewig vir Comrades gehad en was baie vinnig oppad daarheen.
Intussen het ek saam met my skoolvriend Dirk Kotze, wat besig was om voor te berei vir sy derde Epic, aan die Tankwa Trek wat deelgeneem. Ons het vir die welsynsorganisasie waarvoor hul alreeds 2 Epics voltooi het, die J9 Foundation gery. Ons het 3 fantastiese dae gehad en sal hierdie geleentheid aan ieder en elk aanbeveel. Dit is nie net van die beste roetes om met 'n bergfiets te ry nie, maar ook die hele atmosfeer rondom dit is 'n belewenis. Baie goeie slypwerk is gedoen deur baie van Epic 2016 se ryers!
Op 1 Maart 2016 het @Hildegarde sy nuwe Spinstudio oopgemaak. Ons het ondervind dat daar 'n groot behoefte is vir so iets in Malmesbury. Klasse is lekker volgeboek en dit is 'n goeie toevoeging tot die gym soos wat hy nou daaruit sien.
Die ITB behandeling het baie goed verloop en Hildegarde was ingeskryf vir die Two Oceans Ultra Marathon wat deel sou uitmaak van haar voorbereiding vir Comrades 2016. Doelwitte het baie verander en tye was nie meer belangrik nie, maar wel die behoefte om te weet hoe haar vorm lyk presies 8 weke voor Comrades. Ons het die dag ingegaan, baie senuweeagtig en heeltemal onseker oor wat die been gaan doen. Die doelwit was om 30 km te hardloop en te kyk wat gebeur en indien die pyn te erg is, op te hou en met rehabilitasie voort te gaan tot so na as moontlik aan Comrades. Hildegarde hou egter nie van "DNF" agter haar naam as sy ingeskryf is vir 'n item nie en sy het in 5 uur 20 min die 56 km klaargemaak. Daar was natuurlik moeilike tye in die wedloop, maar sy het gevoel haar geluk is besig om te draai. Haar eerste Ultra met 'n effense besering, dinge kan net beter gaan, of so het ons ten minste gehoop.
Dit was skoolvakansie en die Geldenhuyse was oppad Kruger Wildtuin toe vir 4 nagte. Ek het grootgeword met feitlik elke tweede jaar in die Wildtuin gedurende die Julie-vakansie, maar met die aard van my werk is dit deesdae my besigste tyd van die jaar. Ons het die oggend na die Two Oceans gevlieg en dit was so uitgewerk dat Hildegarde die week wat ons weg van die huis was sou rus aangesien jy nie in die Wildtuin baie km's in die kampe kan afle nie. Ons het wonderlike gesinstyd spandeer en die tyd saam verskriklik geniet. Die Donderdag het Hildegarde begin kla van 'n krapperige keel en dat sy sukkel om asem te haal. Ek het gese dat dit moontlik die verandering van klimaat kan wees, asook die verskil in lugdruk. Ons het die res van ons vakansie geniet en met ons tuiskoms die Sondag het sy besluit om 'n ent te gaan hardloop. Sy sou 90 min hardloop, maar na minder as 'n uur was sy tuis. Ek het geweet daar was groot fout.
Longontsteking. Haar bors was seer, sy het baie gehoes en die uiteinde was 'n tussinribspier wat seergekry het van al die inspanning. Die volgende wedren was die Weskus Marathon te Langebaan op 23 April, 1 maand voor Comrades en Hildegarde was nie gesond nie. Sy het onttrek, die eerste keer ooit in haar lewe, maar ons fokus was by Comrades, nie by alles wat tussenin gebeur nie. Alles was gereel vir die naweek, sy het selfs registreer! Ons het saam met Lood en Saretha in 'n pragtige plek op die see gebly en dit sommer 'n naweek van ontspan gemaak, behalwe natuurlik Lood wat steeds die Weskus Marathon gehardloop het. Ons almal het ondersteun. Dit het goed met Lood gegaan en hy het geweet hy is naby aan reg vir Comrades. Ons het maar hoop en bid dat alles met Hildegarde sal reg uitwerk om oor 'n maand in top kondisie te wees.
Dinge het stadig beter begin gaan en op 2 Mei het hulle die Safari Halfmarathon in Wellington gehardloop. Lood het sy PB (persoonlike beste) van 1 uur 42 min gehardloop en Hildegarde het sonder enige pyne klaargemaak, alles was weer "on track". Daar was nog 2 weke van harde voorbereiding oor en dit het ook sonder beserings, pyne of dramas plaasgevind. Die laaste week, die een waarin ons nou is, is vir sekerlik enigeen wat so 'n ultra wedloop seker die moeilikste, aangesien jy feitlik niks "mag" doen nie. Rus is die heel belangrikste van hierdie week. Dit maak natuurlik dat jy baie meer energie het, asook baie meer tyd om senuweeagtig te wees oor die groot taak op hande.
Ons glo alles sal Sondag, 29 Mei 2016 goed gaan en dat alles gelyk sal "click". HIerdie jaar is die "downrun" soos die mense praat, dus harldloop hul van Pietermaritzburg "af" na Durban waar hul by Kingsmead Krieketstadion klaarmaak.89,1 km is nie maklik nie, maar ons glo die atlete se koppe is reg. Baie opofferings is deur baie mense gemaak om hierdie wonderlike ervaring vir ons moontlik te maak en ons wil van hierdie geleentheid gebruik maak om julle opreg te bedank vir al die ondersteuning. JJ en Hilge bly by Ouma Fanie en Oupa Kola en ons hoop hulle kuier lekker. Die wegspring is Sondag 05:30 en word gebeeldsend op SABC 2. Jy gaan waarskynlik nie vir Hildegarde of Lood sien nie, maar dit bly 'n insperasie om na die gebeurtenis te kyk. Vir updates oor die twee, volg my op Twitter by @Jaco_Geldenhuys. Sterkte ook aan almal wat deelneem, veral die Malmesbury span - Hercu Hofmeyer, Riaan van Zyl, Jenita du Plessis.
Nou ja, kom ons hoop Mango vat ons veilig tot in Durban. Volgende week gee ek terugvoering oor hoe dit gegaan het!
Cheers,
JG
Wys tans plasings met die etiket Attakwas. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Attakwas. Wys alle plasings
27 Mei 2016
12 Februarie 2015
@Hildegarde
Baie mense vra my wanneer ek weer 'n slag ietsie skryf, ek wil nie verskonings maak nie, maar ons blog het effens aan die agterspeen gesuig die laaste paar weke. Ons het middel Desember 2014 gehoor dat ons een van die bestaande gimnasiums op Malmesbury vanaf Januarie 2015 kan oorneem. Hildegarde gee reeds vanaf Junie 2014 oefenklasse in Malmesbury, maar ons plekkie het bietjie klein begin raak en hierdie was net die regte deur wat vir ons oopgegaan het om van 'n passie 'n beroep te maak.
Op 5 Januarie 2015 het @Hildegarde dus sy deure vir die publiek in Piet Retiefstraat 6, Malmesbury oopgemaak. Ek sien altyd die bobbejaan baie vêr agter die bult en ek kon sien dat daar groot aanpassings vir ons as gesin wag om van hierdie nuwe uitdaging 'n sukses te maak. Die passie en die wil was daar, maar die logistiek met die kinders en stabiliteit (roetine) vir hulle was vir my die groot uitdagings. Hildegarde sluit self 05:30 soggens oop en sy sluit self in die aand na die laaste klas - 19:00. Dit beteken dus sy is weg as hulle opstaan en sy kom tuis as hul klaar gebad is. Gelukkig sien hulle haar baie deur die dag en sy doen steeds die normale rywerk ens. Ons huishulp werk egter tot 16:00 en die periode tussen 16:00 en 19:00 (wanneer ek klaar geoefen is) was vir ons in die eerste paar weke 'n kopseer. In hierdie tyd het die swaard van die naderende Attawas ook oor ons gehang, beide ek en Hildegarde gaan ry en om te kan oefen ens. was 'n groot uitdaging. Hildegarde se oefenprogram waarmee sy vanaf begin Desember 2014 besig was, verg ook naweke lang ure en ons moes baie goed beplan om alles te laat uitwerk. Ouma en Oupa was ook nog by die see, so hulp het van vriende van oral ingestroom om te help en hulle het natuurlik baie tyd by @Hildegarde spandeer!
Hildegarde het letterlik een keer fiets gery vanaf die Coronation Double Century en dit was die Woensdag voor Attakwas 2015. Sy is in baie goeie vorm van al die hardloop, maar ons was baie senuweeagtig oor hoe sy op die fiets gaan hou by die moordende Attakwas. Gaan lees meer oor Attakwas by http://jaco-hildegarde.blogspot.com/2014/01/attakwas-2014.html. Ons is die Vrydag laat oggend af Oudtshoorn toe waar ons weer by Kleinplasie oornag het saam met Lood en Saretha. Die Saterdag oggend was ons rondom 06:00 by die wegspring. Ek het in groep A weggespring en Lood en Hildegarde in groep B. Saretha sou die kinders en die voertuig in Groot Brak besorg. Dit was 'n lieflike oggend, effens koel en daar was 'n gevoel van senuwees en opgewondenheid in die lug. Daar was groot name op die wegspring en almal het geweet dis 'n moeilike dag wat voorlê. Die Attakwas pak jy nie sonder die nodige respek aan nie.
![]() |
| @Hildegarde Logo - Kyk uit vir hom! |
![]() |
| @Hildegarde op 12 Februarie 2015 |
Elkeen gaan in elke wedren met sy eie doelwitte in. Myne vir die Attakwas was om 7 ure te probeer breek. Lood wou sy tyd op verlede jaar verbeter en Hildegarde wou dit klaarmaak sonder baie voorbereiding op die fiets. Ek het goed gevoel by die wegspring en heeltyd my eie spoed gery. Alles het baie goed gegaan tot by die Spur waterpunt - ongeveer 65 km. Daar het ek die tekort aan voorbereiding begin voel. My langste rit vir Desember en Januarie was 4 uur 30 min op die padfiets en ek het gevoel ek kort "endurance". Ek het deur die volgende 25 km geworstel, maar vasgebyt. By die volgende waterpunt het ek lekker herstel en ek kon die laaste 30 km huistoe aanvat. Ek het ernstig begin kramp in die laaste 5 km, maar het deurgedruk en klaargemaak in 6 uur 38 min. Baie tevrede, maar weet ook dat daar 20 min van my êrens op die roete lê wat ek in 'n volgende jaar sal moet gaan haal!
Lood het toe sy tyd verbeter en Hildegarde het toe klaargemaak en haar vorige jaar se tyd ook verbeter. Baie tevrede met hierdie mikpunte. Ons het lekker saamgekuier met die manne van J9 - Dirk en Brendan en het die aand by Hartenbos ATKV oornag. Wat 'n heerlike vinnige wegbreek! Ons sal weer teruggaan....
![]() |
| Lood en Hildegarde net voor Attakwas 2015 - Ek was reeds by wegspring! |
Na die eerste maand wat @Hildegarde oop is, kan ons net dankbaar wees. Alles verloop baie goed. Daar is 'n verskeidenheid van aktiwiteite wat aangebied word soos Zumba, Circuit Training, Twenty Four, Body Conditioning. As jy meer oor hierdie dinge wil weet, praat maar met Hildegarde self.
@Hildegarde het ook die afgelope maand begin om op Vrydae tussen 15:00 en 15:30 vir kinders Zumba aan te bied. Dit lyk of dit baie gewild kan word onder die Laerskool kinders.
Intussen oefen Hildegarde en Marisa kliphard aan die oefen vir die Pronutro AfricanX Trailrun wat van 13 - 15 Maart 2015 te Houw Hoek Inn aangebied word. Dit behels om "offroad" afstande van tussen 22 en 35 km daagliks te hardloop. Hildegarde en Marisa neem as 'n span hieraan deel en hardloop as "Team Nexus". In die volgende blog sal ek meer inligting hieroor verskaf - roete profiel, afstande ens.
Ek probeer steeds so rondom 10 ure per week fietsry, maar het geen wedrenne voor Cape Town Cycle Tour nie. Alle tyd gaan nou in Hildegarde se voorbereiding vir AfricanX. Ek gaan haar en Marisa ondersteun by Houw Hoek en dan bly ek daar agter om paar spanne te help by Epic. Baie opgewonde om vanjaar bietjie agter die skerms te werk aangesien ek reeds die voorkant ervaar het!
Die tyd vlieg en ons is alweer by middel Februarie van 2015. Die seisoene gaan een van die dae begin draai wat vroeg opstaan vir oefen bietjie moeiliker maak. Ek het gevind al hoe ek gemotiveer kan bly om hard te oefen, is om dit saam met iemand te doen. @Hildegarde is van Maandag tot Donderdag van 05:30 tot 19:00 oop, Vrydae van 05:30 tot 18:00 en Saterdae van 08:00 tot 11:00. Hier sal altyd iemand wees om saam te oefen. Kontak hildegarde_g@vodamail.co.za direk vir meer inligting rondom klasse ens. Bly aktief en kry daai balans in jou lewe wat ons almal so broodnodig het. Hier is beslis iets vir elkeen om te doen, van baie jong tot baie meer ervare in jare! Al het jy 20 jaar laas geoefen, hier sal beslis 'n manier wees om 'n bietjie sweet te laat spat.
Ons praat gou weer,
JG
@Hildegarde het ook die afgelope maand begin om op Vrydae tussen 15:00 en 15:30 vir kinders Zumba aan te bied. Dit lyk of dit baie gewild kan word onder die Laerskool kinders.
![]() |
| Kinder Zumba klas! |
Ek probeer steeds so rondom 10 ure per week fietsry, maar het geen wedrenne voor Cape Town Cycle Tour nie. Alle tyd gaan nou in Hildegarde se voorbereiding vir AfricanX. Ek gaan haar en Marisa ondersteun by Houw Hoek en dan bly ek daar agter om paar spanne te help by Epic. Baie opgewonde om vanjaar bietjie agter die skerms te werk aangesien ek reeds die voorkant ervaar het!
Die tyd vlieg en ons is alweer by middel Februarie van 2015. Die seisoene gaan een van die dae begin draai wat vroeg opstaan vir oefen bietjie moeiliker maak. Ek het gevind al hoe ek gemotiveer kan bly om hard te oefen, is om dit saam met iemand te doen. @Hildegarde is van Maandag tot Donderdag van 05:30 tot 19:00 oop, Vrydae van 05:30 tot 18:00 en Saterdae van 08:00 tot 11:00. Hier sal altyd iemand wees om saam te oefen. Kontak hildegarde_g@vodamail.co.za direk vir meer inligting rondom klasse ens. Bly aktief en kry daai balans in jou lewe wat ons almal so broodnodig het. Hier is beslis iets vir elkeen om te doen, van baie jong tot baie meer ervare in jare! Al het jy 20 jaar laas geoefen, hier sal beslis 'n manier wees om 'n bietjie sweet te laat spat.
Ons praat gou weer,
JG
21 Januarie 2014
Attakwas 2014
Dit word beskou as die moeilikste eendag bergfiets wedren in Suid-Afrika. Dit word aanbeveel deur ieder en elk om te doen in die jaar wat jy aan die Epic deelneem, want dan kry jy 'n voorsmakie van wat jy vir 8 dae gaan deurmaak. Dis die Attakwas van Oudtshoorn na Groot Brak waarvan ek praat. Die wedren bestaan uit 'n 121 km, baie tegniese, amper onrybare roete wat 2 900 m se vertikale klim in het. Die eerste 70 km is so tegnies dat 90%, self meeste van die professionele ryers party dele eerder loop. Die laaste 50 km het weer die klimme waarvoor jy glad nie lus is na die vorige 70 km se "full body workout" nie.
Ek, Hildegarde en die kinders het die Donderdag middag na Heroldsbaai vertrek, die aand by my ouers geslaap. My pa het ons die Vrydag deurgeneem Oudtshoorn toe. Die kinders het die Vrydagaand ook daar geslaap. Iets wat ek nog nie genoem het nie, was dat beide ek in Hildegarde in die week voor die Attakwas van fietse verander het, beide van ons ry nou "Dual Suspension". Dit het net meer sin gemaak om dit so te doen vir die Epic - was ons nie op die eindstreep van die Attakwas baie bly hieroor nie! Ons het by Kleinplaas oornag, dieselfde plek waar die registrasie ook plaasgevind het. Ons het kinderloos die aand heerlik saam met Lood en Saretha gaan uiteet en vroeg in die bed probeer kom voor die groot wedren. Deelnemers van Malmesbury aan die Attakwas Mini was Shane Ketel, Madeleen Kotze en Elishia Drotschie. Malmesbury Fietsryklub het 'n hele paar verteenwoordigers in die Attakwas Extreme gehad. Sien op onderstaande foto vlnr - Lood Fouche, Pieter Malherbe, Hildegarde, Johann Loubser, Jaco, Kobus Drotschie.
Ek was veronderstel om in groep B weg te spring, maar het saam met Hildegarde in groep D begin - die plan was altyd dat ons as span sou ry en kyk hoe ons as span funksioneer. Ons het met 'n lekker spoed begin en feitlik die heel dag daardie spoed gehandhaaf. Ek het meeste van die tyd voor gery om te kyk watter gevare op die horison is sodat ek vir Hildegarde betyds kan waarsku. Ons het tot by die Spur waterpunt (70 km) goed gery en was daar na so 4 uur 50 min. Hildegarde het begin kla van krampe. Ons het geëet, ergste modder afgewas en was weer op die pad. Die klimme het begin - ek en Hildegarde is altwee sterker teen die bulte uit - en ons was net dankbaar die erge tegniese dele is klaar. Na 100 km het ons beide begin krampe kry, maar deur dit gewerk. Ons het altyd 'n mikpunt van 8 uur in die oog gehad en die tyd was vinnig besig om ons in te haal. By die laaste 2 waterpunte het ek haar laat verby ry, ek het die bottels volgemaak en ander versnapperings gekry. Ek het haar weer gevang en ons het ten minste 2 minute per stop gespaar - sal beslis dit meer doen in toekoms. Sy behou haar ritme, maar kry steeds wat sy nodig het. Die laaste 5 km het verby gevlieg en ons het klaargemaak in 7 uur 56 min. Ons het ons mikpunt behaal! Saretha was met die kinders op die eindstreep wat dit nog meer spesiaal gemaak het. Voorwaar 'n belewenis. Twee van ons lede het ook by die Ratel klub aangesluit, dit beteken jy het die Attakwas al 5 keer voltooi. Hulle is Pieter Malherbe en Johann Loubser - baie geluk julle!


Ons is baie tevrede met hoe die wedren verloop het, hoe ons fietse hulle gedra het, asook waar ons fiksheidsvlakke is voor 23 Maart 2014.
Op die werksfront is daar paar projekte wat in die volgende paar weke plaasvind. Hierdie komende Saterdag is die Malmesbury Wingerd Safari te Jakkalsfontein. Dit bestaan uit gesinne wat saam op 'n roete deur die Paardeberg geneem word. Verskeie vrae word dan aan die deelnemers gestel. Meeste vrae handel oor wingerd, die omgewing en relevante gebeurtenisse. Voorwaar 'n lekker dag om saam met jou geliefdes die natuur te ervaar. Daar is ook hope pryse te wen.
Kaartjie verkope vir die CF Vroue Oggend op 8 Februarie 2014 verloop ook uitstekend. Indien jy nog nie 'n kaartjie het nie, maak asb kontak met my of Hildegarde. Dit gaan voorwaar 'n fantastiese oggend wees vir 'n baie goeie doel.
Aanhou oefen, lekker baie ure inkry en positief lewe!
Groete,
JG
Teken in op:
Plasings (Atom)

















.jpg)