Wys tans plasings met die etiket Col'Cacchio. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Col'Cacchio. Wys alle plasings

31 Mei 2016

Comrades 2016 - Done & Dusted

Nou ja, daar is alles skielik verby.  Hoe voel ‘n mens?  Ek het ‘n onderhoud met ons twee atlete gevoer na afloop van hul eerste Comrades.  Die algemene gevoel is verlig en dankbaar dis verby.  Die merkie is gemaak en hul kan dit afhaal van hul “bucket list”.  Wat wel erg is, is daai klomp – rofweg 3000 – mense wat nie die eindstreep binne 12 ure kon haal nie.  Hulle sal voel hul moet terugkom en aan hulself bewys jy kan klaarmaak.  Moenie my verkeerd verstaan nie, dis ‘n ongelooflike gevoel om op die eindstreep te staan en te sien wat dit vir ieder en elk beteken om klaar te maak.  Ek dink by ons twee atlete sal die gevoel van genoegdoening eers oor die volgende paar dae inskop, nadat die fisiese pyn verdwyn het.  Kom ek vertel jul bietjie van die Comrades naweek.

Vrydag nadat ons geland het, het ons ingeboek by ‘n baie mooi gastehuis in Umlanga, Burnham House, vanwaar ons die see kon bewonder van ons balkon.  Die weer was perfek in Kwazulu Natal vir die hele naweek.  Ons het besluit om sommer Vrydag middag die besige expo waar registrasie sou plaasvind agter die rug te kry.  Ons is na die Durban ICC waar ons die nommers gekry het asook so bietjie van die atmosfeer van Comrades 2016 begin ervaar het.  Daar was letterlik van elke tipe handelsnaam wat sporttoerusting aanbetref teenwoordig by die expo.  


Ons het ‘n heerlike ete by Col’Cacchio gehad by die Gateway Winkelsentrum.  Die atlete wou vroeg inkruip om soveel moontlik te rus voor Sondag.  In die middel van die nag was daar by my en Hildegarde se bure redelik baie opwinding.  Dit het kompleet geklink of iemand omstreek 01:50 die gastehuis probeer oorneem.  Ons het na so 30 min agtergekom dit is maar net ‘n oordosis van voggies wat ons bure so rumoerig gemaak het.  Natuurlik is ons van die platteland nie gewoond aan hierdie tipe dinge nie, so ons was maar redelik bang!  Die einaardigste dinge maal deur jou kop as jy vasgevang is in jou kamer en mense begin ruk aan jou skuifdeur omdat hulle dink hul is nou skielik “untouchable”.  Hildegarde was natuurlik braaf genoeg om nog te wil loer wat aangaan, ek aan die anderkant kon die toneel voor my sien afspeel hoe iemand my op ons balkon met ‘n wapen inwag.  Sy sien toe egter deur die skrefie in die gordyn dat die mannetjie kaalgat op ons balkon staan!  Dit het ons laat besef hierdie geraasmakers is nie boewe nie.  Dinge het darem van so 03:00 af kalmeer.

Saterdagoggend het ons ‘n lekker losmakertjie gaan hardloop langs Umlanga Prominade.  Ek het saam met die twee gehol en dit terdeë geniet om so bietjie oefening in te kry.  Hulle was reg vir Sondag.  



Ontbyt by die gastehuis en toe vertrek ons na ons nuwe blyplek wat so 51 km van Pietermaritzburg geleë was.  Dis ‘n pragtige deel van ons land en ons “roadtrip” het ons ‘n paar plekke gewys waar ons nog nooit was nie.  Ons het die roete gery nes hulle die volgende dag sou hardloop en ons strategie reggekry oor waar ons teen die pad sal wees ens.  Ons is deur Pietermaritzburg om te kyk waar die stadsaal is waar hulle sou wegspring.  Tyd is geneem van hoe lank dit sou neem vanaf ons verblyf tot in Pietermaritzburg.  Alles was besig om in plek te val vir die volgende dag.
 
Ons verblyf was by Curry’s Post Lodge net anderkant Howick.  ‘n Pragtige plaas met gastekamers.  Baie rustige atmosfeer en net die regte plek om te rus voor die groot dag.  Daar is so min as moontlik fisies gedoen.  Ons het kos gekoop teen die pad wat die atlete ken.  Pastaslaai, groente sonder roomerige sous, frikkadelle.  20:30 was almal in die bed en reg vir die wekkers wat vanaf 02:30 sou afgaan.



Sondag, 29 Mei 2016 – Hierdie dag sal my vir altyd bybly.  Ek en Saretha het alles in ons vermoë probeer om dit vir ons twee atlete so gemaklik moontlik te maak op die dag.  Ons wou hê alles moes perfek wees vir hulle en dat hul net hoef te fokus op die enorme taak op hande.  Ons het ons verblyf 04:07 verlaat en het Pietermaritzburg 04:45 binnegery.  Die senuwees / opgewondenheid was duidelik sigbaar by al die atlete.  Hierdie is ‘n verskriklike groot gebeurtenis en ek het lanklaas soveel mense bymekaar gesien.  Ons het 05:00 vir Hildegarde en Lood gegroet waar hulle by die wegspring in hul onderskeie “shoots” moes ingaan.  Hildegarde sou in groep C wegspring en Lood in groep G.  Dit word bepaal deur jou kwalifiseringsmarathon tyd wat jy opgegee het voor begin Mei.  Lood se beste marathon tyd was beter as sy kwalifisering, maar hy het nooit sy tyd ingegee nie.  Ek en Saretha het ons gehaas na die McDonalds en die wegspring op die TV gekyk.  Ek was toe reeds op my derde koffie!  Dit neem amper 10 min vir die laaste atleet om oor die wegspring matte te kom.  



Ons eerste stop was so 12 km die wedloop in by Ashburton.  Dit was net na Polly Shorts.  Beide Lood en Hildegarde het met langmouklere begin, dit was 6 grade Celsius met die wegspring en ons wou hul warmgoed by hul kry.  Hulle het verby ons gevlieg soos jul sal kan sien uit die swak foto wat ek van Lood geneem het, ek moes self hardloop om die foto te kry.  Dit was steeds koud en hulle het niks uitgetrek nie.  



Ons volgende stop was 25 km die wedloop in by Camperdown.  Hier het ons vir Pieter Hanekom, Riaan van Zyl, Hildegarde, Jenita du Plessis en Lood gesien.  Almal van hulle het nou wel nie vir ons gesien nie!  Hildegarde het haar warmklere vir my gegee en Lood het 2 broodjies en bietjie Lucozade geneem.  Hulle het great gelyk.  Ek het op ‘n bultjie gestaan en die foto van al die atlete geneem.  Dit is ‘n enorme wedloop!



Ons derde stop was op 45 km by Drummond.  Hier moes ek en Saretha ons eie klein Comrades doen.  Ons het ongeveer 2 km van die besigtigingspunt parkeer wat geen probleem is nie, maar dit was heel onder teen ‘n baie steil bult.  Saretha het almal vertel dat die bult 90 grade is en 5 km lank was!  Hildegarde het ons meegedeel dat sy liggies kramp en bietjie Lucozade en Rehidrate by ons geneem.  Lood en Emile (wat saam met Saretha werk) het mekaar op die pad gevind en saam gehardloop.  Hulle was vol smiles en het lekker geëet en gedrink by ons.  Ons moes toe weer die steil bult af wat natuurlik baie makliker was.  Ons was baie in ons skik dat ons so ver weg parkeer het, aangesien dit die vertrek net soveel makliker gemaak het.  Die mense wat nader aan bo parkeer het staan waarskynlik nou nog daar.  Ek dink elke atleet het drie ondersteuners en twee voertuie, want daar was ‘n ontelbare hoeveelheid mense en voertuie by elke punt.  



Ons volgende punt was net voor Pinetown op 68 km.  Dit sou wees aan die einde van die lang afdraend en hier is waar die atlete baie pyn ervaar.  Mens sou dink afdraend hardloop is maklik, maar wanneer jy kramp en jy moet jou liggaam regop hou teen ‘n afdraend af kan baie dinge skeefloop.  Dit was natuurlik toe die geval met Hildegarde.  Sy was baie seer en kon nie eers haar oe knip nie dank ramp sy.  Daar was 21 km oor van waar hulle ons gekry het en dit was beslis nie ‘n maklike 21 km nie.  Intussen was Riaan van Zyl besig om die wedloop van sy lewe te hardloop.  Op die tracker kon ons sien dat hy sou klaar wees voordat Lood by ons op 68 km was.  Dit was Riaan se 10de Comrades en hy het sy eerste silwer medalje verdien met ‘n tyd van 7 uur 22 min.  Well done Riaan!  Lood en Emile het weer by ons gestop en was baie bly om ons te sien.  Hulle was onder die indruk ons sou na die 45 km merk direk eindstreep toe gaan.  Die manne was reg vir die laaste 21 km.



Ek en Saretha het gejaag eindstreep toe.  Ons het geweet dit sou baie deurmekaar wees om parkering te kry, die stadion binne te gaan en ‘n goeie staanplek te kry om ons mense te sien inkom.  Dit was dan ook die geval.  Ons “timing” was gelukkig goed en kon staanplek agter die kameraman kry net waar die atlete die stadion binnekom.  Nou net om vir julle ‘n bietjie van ‘n idee te gee oor wat ek en sy die heeltyd doen terwyl ons vir die atlete wag, want baie mense het my gevra wat ek gaan doen as ek saam Comrades toe gaan.  Punt 1, en dis my opinie, jy hoort by jou man / vrou as jy hierdie ding aanpak.  Hierdie atlete het hulself voorberei vir die laaste 6 maande.  Huishoudings is omvergegooi.  Almal het saam voorberei vir hierdie gebeurtenis.  Klein dingetjies wat hul dag makliker maak word deur die ondersteuner hanteer.  Punt 2, almal by die huis wil weet wat aangaan.  Ja, ek weet jy kan die atleet op die tracker volg, maar die persoonlike kontak wat jy as ondersteuner met die atleet maak is die boodskap wat die mense by die huis wil hoor.  Ek en Saretha was heeldag op ons telephone.  Ons moes mense by die huis op hoogte hou en dit alleen is ‘n enorme taak, veral as jy sit met bagasie (eetgoed, drinkgoed, smeergoed) by jou en dis dan ook om hierdie rede wat die enigste insident van die dag gebeur het.  Ons is tussen die hordes mense die stadion binne, ons was heeldag versigtig met alles wat ons moes oppas.  Ons het ons plekkie gekry waar ons die atlete sou inwag en erens moes iemand sy hande in Saretha se handsak gekry het en Lood se selfoon is gegaps.  Dit het ‘n demper op alles geplaas aangesien ons dit op die oomblik uitgevind het wat Hildegarde die stadion binnegekom het.  Ek kon nie my foto van haar neem wat ek so graag wou he nie, maar gelukkig het SABC 2 haar afgeneem!  Sien video.



Op dieselfde oomblik wat Hildegarde klaargemaak het, het Pietman en Woel ook hul voertuig parkeer.  Hul sou vir Lood sien klaarmaak saam met ons.  Hildegarde was baie seer.  Elke tree was ‘n berg waaroor sy moes klim.  Ewe skielik het haar oe dieper in haar kop gegaan, haar lippe het wit geraak.  Ek en Pietman het haar opgetel en na die mediese beamptes geneem.  Sy was fine, dit was net die stilword na die heeldag se inspanning en haar liggaam wou afskakel.  Sy was na ‘n blikkie Fanta weer piekfyn en kon saam met ons vir Lood en Emile sien klaarmaak.  My foon was pap en Pietman het ‘n video geneem van Lood-hulle.  Nou net om te verduidelik, ons weet min of meer waar die atlete is met die tracker, maar jy moet steeds baie mooi kyk om seker te wees jy mis hulle nie tussen al die mense nie.  Pietman was dus slaggereed met die video toe Lood-hulle rofweg die laaste km betree en het vir veiligheid solank begin opneem.  Hildegarde het ons heeltyd vertel hoe lank die laaste km neem en dit vir haar gevoel het of dit net nie klaarkom nie.  Pietman het 10 min reeds afgeneem toe Lood-hulle hul verskyning maak.  Gelukkig het ons dit, sien video.  



Ek en Hildegarde het solank begin kar toe stap, want sy kon beswaarlik loop en ons het geweet dit gaan baie lank vat.  Lood was opgeruimd, moeg, maar baie tevrede.  Ons het vandat ons die logistiek vir die Comrades beplan het ooreengekom dat “come hell or high water” ons die aand gaan uiteet en elkeen gaan ‘n shooter drink om hierdie groot gebeurtenis te vier.  Ons tafel was vir 19:00 geboek by die Oyster Box restaurant.  Kerrie (Bunny Chow) is deur die meerderheid van ons geselskap geëet, maar die vlammetjies het maar flou gebrand vir almal.  Dit was ‘n baie lang dag.


Ons het by dieselfde gastehuis gebly as die Vrydag en hierdie keer was daar geen geraas nie.  Vanoggend ontbyt geëet en toe lughawe toe.  Die atlete stap baie swaar.  Die hele lughawe is vol mense wat gister gehardloop het en almal lyk baie ongemaklik.  Ek sit en skryf hierdie blog in die vliegtuig, maar sal hom eers publiseer sodra ons ekstra foto’s het.
Ons wil graag almal bedank vir al die boodskappe.  Mens besef eers hoe ‘n groot gebeurtenis dit vir ons Suid-Afrikaners is wanneer jy boodskappe begin ontvang van mense wat jy nooit sou dink die wedren volg nie.  Die 91ste Comrades van Pietermaritzburg na Durban was ‘n fantastiese ervaring en ek hoop met hierdie skrywe kon ek my opgewondenheid en ervaring wat ons die afgelope naweek gehad het met jul deel.  Indien jy ooit die geleentheid het om deel te neem of te kom ondersteun, gryp dit aan, dis awesome!

Laaste woordjie van die atlete, my vraag, sal julle dit weer doen?  Beide kyk my net skaapagtig aan, wie weet wat binne hulle broei.  Vir nou is daar te veel emosies om daardie vraag te antwoord.

Ons praat weer gou, sal net iets vir die bucket list moet kry!

Groete,
JG

29 Julie 2013

Gauteng toe

Scott Scale 900 RC
Laat ek begin deur jul te vertel hoe die afgelope naweek afgespeel het.  Daar het so baie dinge gebeur, dit voel amper asof dit langer as 'n naweek moes wees.  Ek is Vrydag rondom middagete op na Gauteng om my nuwe "Scott Scale 900 RC" te gaan haal.  Ek het verlede Maandag die advertensie op www.thehub.co.za gesien en dadelik geweet die fiets is vir my bedoel.  Ek was nie eerste in lyn vir hom nie, daar was reeds ander belangstelling, maar die aand het Iwan Roux (vorige eienaar) my laat weet die fiets is myne as ek hom wil he.  My antwoord was 'n besliste JA!


Welkom by Lanseria
Ek het reëlings begin tref om Vrydag op te vlieg, die fiets op te tel, by my broer te kuier en weer Saterdagaand terug te vlieg - regte Stralerjakker!  Ek is toe Vrydagoggend by Adventure Cycles om waar ek 'n boks gehuur het vir die naweek - ek kan dit aanbeveel indien jy ooit met 'n fiets moet reis.  Gaan kyk by www.bikesafe.co.za hoe die bokse lyk en werk.  Jou fiets is veilig en die boks sluit, so niks kan verdwyn nie.  Ek is na die lughawe en is toe om 11:20 in die lug oppad na Lanseria.  Ek sal nie sommer weer OR Thambo toe vlieg nie - Lanseria is lekker rustig en dinge gaan net baie makliker, ook goedkoper.


Ek en Iwan
Lekker Kaapse wyn!
My broer (Stephan Geldenhuys) het my opgetel en ons is Parkhurst in Johannesburg toe.  Dit was 'n eerste vir beide van ons - dankie GPS!  Vrydagmiddag verkeer in 
Johannesburg is nie vir sissies nie.  Teen hierdie tyd was ek al net so opgewonde om my bike te sien soos wat ek was toe Hildegarde my gevra het om te "kys" destyds!  Ons het by Iwan Roux se huis gestop en voordat ek die fiets gesien het, het ek geweet die fiets sal netjies wees.  Hul huis is onberispelik en ek kon 'n trots by Iwan bespeur en het geweet die fiets sal met dieselfde trots hanteer wees.  Ek was ook nie verkeerd nie. Top kondisie en elke sent werd - dankie Iwan.  Iets wat ek nie vroeër genoem het nie was dat Iwan my gesê het ek skuld hom Kaapse wyn omdat hy so baie mense moes wegwys.  Ek het toe so gemaak (sou elk geval) - dit tel nie as omkoop nie!

Hyundai vol gelaai!
Ek en Stephan - Monte Casino
Ons moes toe die fiets in die boks in 'n Hyundai I20 kry, nie so maklik, maar beslis doenbaar - sien foto!  Ons het van Parkhurst gery na Monte Casino vir lekker aandete by een van my gunsteling restaurante - Col'Cacchio.

Gesonde Ontbyt
Ellispark
Die volgende oggend het ons 'n rustige ontbyt by Mugg & Bean gehad, vanwaar ons na Ellispark vertrek het vir Stephan se wedstryd wat hy moes blaas Goue Leeus O/19 vs Vrystaat O/19 om 13:00. Hy moes ook 15:00 lynregter wees by die O/21's.  Ek moes 17:40 op lughawe wees.  Dit beteken dat as hy 17:00 klaar is met die wedstryd ons 40 min Lanseria toe het van Ellispark af.  Enigeen wat daai paaie ken sal weet dat dit feitlik onmoontlik is, maar ons moes probeer!  Ellispark was 'n enorme voorreg.  Ek was in die kleedkamers, in die tonnel en ook op die veld.  'n Voorreg wat ek dink nie vir almal beskore is nie - dankie Boet!


Ons het daai Hyandai oop kêtels lughawe toe gejaag.  Ek het solank ander vlugte begin "Google".  Om 17:43 is ek Lanseria binne, sonder my fiets, Stephan het nog aangekom met hom.  Ek is amper bo-oor die toonbank en het gemaak asof ons in 'n ongeluk was en dit net-net lewendig tot by lughawe gemaak het.  Hulle het my gehelp en om 17:50 het ek alweer geklim!  Ek was lanklaas so verlig.  Dit het gesorg vir enorme opwinding (en stres) na 'n fantastiese dag en 'n half saam met my broer.

Met my aankoms tuis rondom 21:30 het ek sommer dadelik begin om weer die fiets inmekaar te sit net vir ingeval dit ophou reen en ek die volgende dag dalk 'n spin kan gaan vat - kon toe nie en moes maar noodgedwonge Sondag padfiets ry.

My "trippie" was op verskillende vlakke vir my uiters geslaagd.  Ek het 'n great ou in Iwan Roux ontmoet.  Ek het meer as een nuwe plek in Johannesburg omgewing gesien en ek het kwaliteit saam met een van my beste pelle (my boet) gehad.  Als in als 'n uiters suksesvolle "roadtrip" en 'n lekker verhaal om te vertel!

Volgende op die lys is my en Hildegarde se "bike setups" met professionele fietsryer Johann Rabie voor Saterdag se Die Burger Bergfietsren.  Sal 'n blog skryf net oor die "setup" aangesien daar baie mense is wat nou begin ry en dalk nie die belangrikheid van so iets besef nie.  Meer daaroor volgende keer!

Lekker jaag!
JG