Wys tans plasings met die etiket Merida. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Merida. Wys alle plasings

12 Februarie 2015

@Hildegarde

Baie mense vra my wanneer ek weer 'n slag ietsie skryf, ek wil nie verskonings maak nie, maar ons blog het effens aan die agterspeen gesuig die laaste paar weke.  Ons het middel Desember 2014 gehoor dat ons een van die bestaande gimnasiums op Malmesbury vanaf Januarie 2015 kan oorneem.  Hildegarde gee reeds vanaf Junie 2014 oefenklasse in Malmesbury, maar ons plekkie het bietjie klein begin raak en hierdie was net die regte deur wat vir ons oopgegaan het om van 'n passie 'n beroep te maak.

Op 5 Januarie 2015 het @Hildegarde dus sy deure vir die publiek in Piet Retiefstraat 6, Malmesbury oopgemaak.  Ek sien altyd die bobbejaan baie vêr agter die bult en ek kon sien dat daar groot aanpassings vir ons as gesin wag om van hierdie nuwe uitdaging 'n sukses te maak.  Die passie en die wil was daar, maar die logistiek met die kinders en stabiliteit (roetine) vir hulle was vir my die groot uitdagings.  Hildegarde sluit self 05:30 soggens oop en sy sluit self in die aand na die laaste klas - 19:00.  Dit beteken dus sy is weg as hulle opstaan en sy kom tuis as hul klaar gebad is.  Gelukkig sien hulle haar baie deur die dag en sy doen steeds die normale rywerk ens.  Ons huishulp werk egter tot 16:00 en die periode tussen 16:00 en 19:00 (wanneer ek klaar geoefen is) was vir ons in die eerste paar weke 'n kopseer.  In hierdie tyd het die swaard van die naderende Attawas ook oor ons gehang, beide ek en Hildegarde gaan ry en om te kan oefen ens. was 'n groot uitdaging.  Hildegarde se oefenprogram waarmee sy vanaf begin Desember 2014 besig was, verg ook naweke lang ure en ons moes baie goed beplan om alles te laat uitwerk.  Ouma en Oupa was ook nog by die see, so hulp het van vriende van oral ingestroom om te help en hulle het natuurlik baie tyd by @Hildegarde spandeer!


@Hildegarde Logo - Kyk uit vir hom!
@Hildegarde op 12 Februarie 2015
Hildegarde het letterlik een keer fiets gery vanaf die Coronation Double Century en dit was die Woensdag voor Attakwas 2015.  Sy is in baie goeie vorm van al die hardloop, maar ons was baie senuweeagtig oor hoe sy op die fiets gaan hou by die moordende Attakwas.  Gaan lees meer oor Attakwas by http://jaco-hildegarde.blogspot.com/2014/01/attakwas-2014.html.  Ons is die Vrydag laat oggend af Oudtshoorn toe waar ons weer by Kleinplasie oornag het saam met Lood en Saretha.  Die Saterdag oggend was ons rondom 06:00 by die wegspring.  Ek het in groep A weggespring en Lood en Hildegarde in groep B.  Saretha sou die kinders en die voertuig in Groot Brak besorg.  Dit was 'n lieflike oggend, effens koel en daar was 'n gevoel van senuwees en opgewondenheid in die lug.  Daar was groot name op die wegspring en almal het geweet dis 'n moeilike dag wat voorlê.  Die Attakwas pak jy nie sonder die nodige respek aan nie.

Elkeen gaan in elke wedren met sy eie doelwitte in.  Myne vir die Attakwas was om 7 ure te probeer breek.  Lood wou sy tyd op verlede jaar verbeter en Hildegarde wou dit klaarmaak sonder baie voorbereiding op die fiets.  Ek het goed gevoel by die wegspring en heeltyd my eie spoed gery.  Alles het baie goed gegaan tot by die Spur waterpunt - ongeveer 65 km.  Daar het ek die tekort aan voorbereiding begin voel.  My langste rit vir Desember en Januarie was 4 uur 30 min op die padfiets en ek het gevoel ek kort "endurance".  Ek het deur die volgende 25 km geworstel, maar vasgebyt.  By die volgende waterpunt het ek lekker herstel en ek kon die laaste 30 km huistoe aanvat.  Ek het ernstig begin kramp in die laaste 5 km, maar het deurgedruk en klaargemaak in 6 uur 38 min.  Baie tevrede, maar weet ook dat daar 20 min van my êrens op die roete lê wat ek in 'n volgende jaar sal moet gaan haal!
Lood en Hildegarde net voor Attakwas 2015 - Ek was reeds by wegspring!
Lood het toe sy tyd verbeter en Hildegarde het toe klaargemaak en haar vorige jaar se tyd ook verbeter.  Baie tevrede met hierdie mikpunte.  Ons het lekker saamgekuier met die manne van J9 - Dirk en Brendan en het die aand by Hartenbos ATKV oornag.  Wat 'n heerlike vinnige wegbreek!  Ons sal weer teruggaan....

Na die eerste maand wat @Hildegarde oop is, kan ons net dankbaar wees.  Alles verloop baie goed.  Daar is 'n verskeidenheid van aktiwiteite wat aangebied word soos Zumba, Circuit Training, Twenty Four, Body Conditioning.  As jy meer oor hierdie dinge wil weet, praat maar met Hildegarde self.
  
@Hildegarde het ook die afgelope maand begin om op Vrydae tussen 15:00 en 15:30 vir kinders Zumba aan te bied.  Dit lyk of dit baie gewild kan word onder die Laerskool kinders.


Kinder Zumba klas!
Intussen oefen Hildegarde en Marisa kliphard aan die oefen vir die Pronutro AfricanX Trailrun wat van 13 - 15 Maart 2015 te Houw Hoek Inn aangebied word.  Dit behels om "offroad" afstande van tussen 22 en 35 km daagliks te hardloop.  Hildegarde en Marisa neem as 'n span hieraan deel en hardloop as "Team Nexus".  In die volgende blog sal ek meer inligting hieroor verskaf - roete profiel, afstande ens.  

Ek probeer steeds so rondom 10 ure per week fietsry, maar het geen wedrenne voor Cape Town Cycle Tour nie.  Alle tyd gaan nou in Hildegarde se voorbereiding vir AfricanX.  Ek gaan haar en Marisa ondersteun by Houw Hoek en dan bly ek daar agter om paar spanne te help by Epic.  Baie opgewonde om vanjaar bietjie agter die skerms te werk aangesien ek reeds die voorkant ervaar het!


Die tyd vlieg en ons is alweer by middel Februarie van 2015.  Die seisoene gaan een van die dae begin draai wat vroeg opstaan vir oefen bietjie moeiliker maak.  Ek het gevind al hoe ek gemotiveer kan bly om hard te oefen, is om dit saam met iemand te doen.  @Hildegarde is van Maandag tot Donderdag van 05:30 tot 19:00 oop, Vrydae van 05:30 tot 18:00 en Saterdae van 08:00 tot 11:00.  Hier sal altyd iemand wees om saam te oefen.  Kontak hildegarde_g@vodamail.co.za direk vir meer inligting rondom klasse ens.  Bly aktief en kry daai balans in jou lewe wat ons almal so broodnodig het.  Hier is beslis iets vir elkeen om te doen, van baie jong tot baie meer ervare in jare!  Al het jy 20 jaar laas geoefen, hier sal beslis 'n manier wees om 'n bietjie sweet te laat spat.

Ons praat gou weer,
JG

12 Junie 2013

Gesinsvermaak

Ons vra onsself baie die vraag, wie oefen wanneer en wie gaan na die kinders kyk? Ons is 'n baie hegte gesin en geniet mekaar verskriklik baie. Dit is dan ook nie vir ons 'n straf om net saam te wees nie. Die kinders word groot met ma en pa wat aktief is. Hulle sien die voorbeeld wat ons probeer stel. Eet gesond, wees aktief en probeer soveel as moontlik buite doen.  JJ het 19 Mei verjaar en ons het gevoel dat in ons Epic jaar dit goed sal wees om vir elke kind ook 'n nuwe fiets te gee vir hul onderskeie verjaarsdae. Dit was JJ se eerste fiets en hy was baie opgewonde. Om dit regverdig te maak (so hoop ons!) het ons Hilge se fiets saam met JJ s'n op sy verjaarsdag gegee sodat hulle darem saam kan ry. Adventure Cycles was weer byderhand en het met goeie diens aan al ons behoeftes voorsien - dankie Niel en Annemarie!

JJ op fiets
Hilge op fiets
Ons het die afgelope Sondag die kinders se fietse op die bakkie gelaai en hulle na 'n gelyk stuk teer geneem om bietjie te ry - ons straat waar ons woon is baie skuins, so kan nie kanse daar vat nie! Hulle het dit verskriklik geniet om net sorgeloos te kon jaag. Hilge kom baie mooi reg met haar "backpedal" en JJ is 'n waaghals wat nog sy ma se hart gaan laat staan met die kanse wat hy vat. Die namiddag kon ek en Hildegarde ook 'n lekker 2 uur sessie inpas en fantastiese sonskyn weer na al die reën - blou lug, sneeu op die berge en groen koringlande. Waar wil jy anders wees?  Ons het 'n baie goeie ondersteuningspan wat in sulke tye as ons saam wil oefen na die kinders kan kyk - dankie almal!

Epic Partners
Hildegarde
Iets waaroor ons baie opgewonde is, is ons "race kit". Ons het die ontwerpe gekry en ons is baie tevrede. Hopelik is ons borge net so tevrede! Ek dink dit beeld presies uit waarvoor ons 'n liefde het - die aarde se kleure, die natuur. Die bruin is die grond wat ons moet bewerk en die groen die gewas (voedsel vir die mensdom) wat daarop groei. My werk verseker dat ek oplossings vir my kliente rondom peste en plae kan gee wat op die ou end groter oeste teweeg bring en sodoende meer voedsel vir die wereld. 'n Baie lekker werk en 'n enorme voorreg!


Kyk bietjie na die voorbeeld van ons hemde en gee opinie!  Dit was nogal 'n groot uitdaging om al die borge wie deel was van die  borg van die klere se name en logo's op die regte plekke te laat verskyn. Ons dink dit het baie goed uitgekom.  Hopelik sal ons oor 4 - 5 weke die besending kry en vandaar sal ons met dit kan deelneem, baie opgewonde.

Vir nou eers is dit werk, oefen en al die normale dinge van die lewe.  Hier kom weer bietjie reën, so byt vas en kom weer buite as dit oor is.

Groete tot later,
Jaco G