25 Junie 2013

Die Klipkop

Kaart van Klipkop
In Malmesbury is daar nie so baie berge en koppies om te ry soos wat die manne rondom Wellington, Durbanville Hills, Jonkershoek en Devonvallei het nie.  Die wat wel daar is, is nie baie toeganklik vir bergfietse nie, maar ons is besig om dit te verander.  Ons het egter die Klipkop!

Die Klipkop
Jean du Plessis en Jaen Fouche het 'n groot behoefte gesien vir 'n bietjie meer tegniese "speelplek" in die Malmesbury omgewing.  Swartland Munisipaliteit het die projek goedgekeur en Jean-hulle het vir ons 'n roete gebou van ongeveer 13 km met so 350m klim.  'n Lekker tempo rit wat vir die vinnige manne rondom 40 min vat en die stadiger manne so 'n uur.  

Steil opdraend na 6 km
Na ongeveer 2.5 km
Die roete bestaan uit ongeveer 40% "jeep track", 30% distrikspaaie en 30% "singletrack".  Dit begin met 'n plat klim van ongeveer 800 m, dan 'n afdraend van 800 m, klim weer 600 m en weer af vir 600 m.  Glo my, hierdie stukkie laat jou blaas as jy koud is (Wenk:  Warm op voor jy begin met roete!).  Daarna is daar 'n lang plat opdraend van so 2.8 km met 'n baie steil opdraend vir so 400 m.  Daar is redelik erosie slote wat dit nog meer tegnies maak, so mens moet oral baie versigtig wees.  Dit word gevolg met "jeep track" van so 800 m afdraend en skerp links teen bult op met tegniese stukke oor rotse van so 300 m.


"Downhill jeep track"
Tegniese deel oor rotse
Vandaar loop die tweespoor pad redelik gemaklik vir so 600 m vanwaar die klim teen die bult op weer begin.  Na 500 m draai jy links in na die "nuwe" deel wat onlangs bygevoeg is.  By meeste dele van die roete het jy 'n volledige uitsig oor Malmesbury.


Eerste bult - "nuwe" deel
Houtbrug
Die "nuwe" deel is baie tegnies en moet met groot sorg aangepak word, veral as jy nie 'n ervare ryer is nie.  Na die eerste bult sak jy af na die houtbrug op regterkant en teen die bult af.  Wees gewaarsku, sodra jy teen bult af is, moet jy onmiddelik weer regs teen bult op en net goeie momentum sal jou bo kry.  Die "singletrack" loop heeltyd op die randjie van 'n baie hoë afgrond met 'n pragtige uitsig oor die distrik - jy sal dit egter nie kan sien, want as jy jou oë van die pad afhaal is jy teen die krans af!  Stop maar eerder om te kyk! 



Daar is baie skerp draaie en konsentrasie moet die heeltyd gehou word.  Daar is nie plek vir omdraai nie.  Baie mense sal hierdie gedeelte loop aangesien die afgrond baie naby is en daar niks is wat jou keer om daar af te foeter nie.  Die gedeelte sal mettertyd ook beter hanteer aangesien dit nou nog baie los en vars is.

Die enkelspoor kom tot 'n einde vanwaar jy weer regs draai in die rigting van die boonste Bloekombos.  Daar is 'n pragtige "singletrack" deur die hele bos - lekker tegnies, maar nie onrybaar.  Na afloop van dit kom jy uit die bos en ry ook met enkelspoor terug na die begin.  Totale km's sal so rondom 13 km wees, maar 'n uitstekende "workout"!

Die bergfiets gemeenskap in Malmesbury het die afgelope jaar baie gegroei en word steeds groter.  Ons het Woensdag aande om 17h30 van SAP 'n nagrit van ongeveer 2 ure en dit word uitstekend bygewoon.  Die Klipkop roete is ook vir almal toeganklik en word baie gery!  Baie dankie vir almal wat gehelp het met die ontwikkeling daarvan, dit word baie waardeer.  Ons geniet dit baie.

Nou ja, dit is steeds winter en dit reën baie in die Wes-Kaap, so oefentyd is maar min.  Die sessies wat gedoen word is gewoonlik maar in die koue en nat.  My program loop so tussen 7 en 10 ure per week op die fiets op die stadium.  Die volgende resies waarna ons opbou is Die Burger Bergfietsuitdaging in Stellenbosch.

Vasbyt,
Jaco G

12 Junie 2013

Gesinsvermaak

Ons vra onsself baie die vraag, wie oefen wanneer en wie gaan na die kinders kyk? Ons is 'n baie hegte gesin en geniet mekaar verskriklik baie. Dit is dan ook nie vir ons 'n straf om net saam te wees nie. Die kinders word groot met ma en pa wat aktief is. Hulle sien die voorbeeld wat ons probeer stel. Eet gesond, wees aktief en probeer soveel as moontlik buite doen.  JJ het 19 Mei verjaar en ons het gevoel dat in ons Epic jaar dit goed sal wees om vir elke kind ook 'n nuwe fiets te gee vir hul onderskeie verjaarsdae. Dit was JJ se eerste fiets en hy was baie opgewonde. Om dit regverdig te maak (so hoop ons!) het ons Hilge se fiets saam met JJ s'n op sy verjaarsdag gegee sodat hulle darem saam kan ry. Adventure Cycles was weer byderhand en het met goeie diens aan al ons behoeftes voorsien - dankie Niel en Annemarie!

JJ op fiets
Hilge op fiets
Ons het die afgelope Sondag die kinders se fietse op die bakkie gelaai en hulle na 'n gelyk stuk teer geneem om bietjie te ry - ons straat waar ons woon is baie skuins, so kan nie kanse daar vat nie! Hulle het dit verskriklik geniet om net sorgeloos te kon jaag. Hilge kom baie mooi reg met haar "backpedal" en JJ is 'n waaghals wat nog sy ma se hart gaan laat staan met die kanse wat hy vat. Die namiddag kon ek en Hildegarde ook 'n lekker 2 uur sessie inpas en fantastiese sonskyn weer na al die reën - blou lug, sneeu op die berge en groen koringlande. Waar wil jy anders wees?  Ons het 'n baie goeie ondersteuningspan wat in sulke tye as ons saam wil oefen na die kinders kan kyk - dankie almal!

Epic Partners
Hildegarde
Iets waaroor ons baie opgewonde is, is ons "race kit". Ons het die ontwerpe gekry en ons is baie tevrede. Hopelik is ons borge net so tevrede! Ek dink dit beeld presies uit waarvoor ons 'n liefde het - die aarde se kleure, die natuur. Die bruin is die grond wat ons moet bewerk en die groen die gewas (voedsel vir die mensdom) wat daarop groei. My werk verseker dat ek oplossings vir my kliente rondom peste en plae kan gee wat op die ou end groter oeste teweeg bring en sodoende meer voedsel vir die wereld. 'n Baie lekker werk en 'n enorme voorreg!


Kyk bietjie na die voorbeeld van ons hemde en gee opinie!  Dit was nogal 'n groot uitdaging om al die borge wie deel was van die  borg van die klere se name en logo's op die regte plekke te laat verskyn. Ons dink dit het baie goed uitgekom.  Hopelik sal ons oor 4 - 5 weke die besending kry en vandaar sal ons met dit kan deelneem, baie opgewonde.

Vir nou eers is dit werk, oefen en al die normale dinge van die lewe.  Hier kom weer bietjie reën, so byt vas en kom weer buite as dit oor is.

Groete tot later,
Jaco G

08 Junie 2013

Gesonde leefstyl

Om te verduidelik hoe ons leefstyl nou is, sal nie regverdig wees as ek nie by die begin kan begin nie.  In die eerste blog het ek julle vertel van hoeveel ek geweeg het (94 kg) en dat die aanvanklike plan was om 'n gesonde leefstyl (soos Hildegarde s'n) te kan handhaaf om 'n voorbeeld vir die twee kinders te wees.

Ek en Hildegarde het net na ons troue in 2006 vir ons bergfietse gekoop en in hele paar wedrenne deelgeneem vir die volgende 18 maande.  Glad nie op dieselfde vlak as nou nie, maar steeds aktief gewees en lekker geoefen.  Ons was kinderloos en ons tyd het aan onsself behoort.  Hildegarde het swanger geraak met Hilge en dit was die einde van fietsry, dus die einde van my hele oefenprogram!  Sy het steeds gegym en aktief gebly, maar ek glad nie.  JJ is gebore in Mei 2010.  Hildegarde het vinnig weer aan die gang gekom met oefen daarna en gou weer die kilogramme begin afgooi.  Ek was steeds vasgevang in my swak gewoontes.  Kitskos, ongereeld eet en glad nie oefen.  Hildegarde het ongeveer 'n jaar na JJ se geboorte begin kla dat sy 'n "plafon" bereik het met haar gewig, daai "barrier" waardeur se net nie kon breek nie.  Hier het ek ook begin agterkom dat ek heeltemal op die verkeerde pad was.


Ek het geweet dat ek veranderinge aan my leefstyl wil maak en wou gesonder en minder opgeblaas voel.  Gewig verloor of hoe ek lyk was nooit die hoofdoel nie.  Ek het vir my twee applikasies op my selfoon afgelaai - Runtastic en MyFitnessPal.  Hierdie 2 "apps" het ek gebruik om al my oefeninge en eetgewoontes te monitor.  Hildegarde het ook MyFitnessPal afgelaai en begin gebruik.

Hoe kan die "apps" jou help?  In die eerste plek moet ek sê dat enige van hierdie hulpmiddels slegs so goed is as wat jy dit gaan maak.  Jy moet die werk doen en die boekhouding van alles.  MyFitnessPal is 'n applikasie waar jy jou daaglikse voedsel inname byhou.  Daar is baie ander op die mark, ek was net gemaklik met hierdie een.  Jy voer al jou data in - huidige gewig, lengte, doelwit gewig en in watter tydperk jy die hoeveelheid gewig wil verloor.  Die program sê dan vir jou dat jy in my geval 2 050 kcal mag inneem per dag.  Elke ding wat jy in jou mond sit gedurende die dag voer jy in op die program.  'n Tipiese dag vir my sou so lyk:
Ontbyt - Koffie met 1 suiker en melk (50 kcal), Muesili + Joghurt (220 kcal)
Snack - 50 gr Biltong (120 kcal), 

Middagete - 250 gr Lasagne + Slaai (450 kcal), Coke Light
Salticrax met kaas (200 kcal), Neute (100 kcal)
Aandete - Frikadelle, skorsie, mash, slaai (500 kcal)
Nog 3 koppies koffie / tee deur dag (150 kcal)

Dit bring jou by totaal van 1775 kcal vir dag uit, maw jy is onder jou kalorieë.  Indien jy enige oefeninge doen, word dit bygetel by jou maksimum kaloriee bv. myne is 2 050.  Indien ek 40 min draf verbrand ek 650 kcal, dus tel jy dit by die 2 050 kcal wat jou 'n totaal van 2 700 kcal gee wat jy mag inneem vir die dag.  Ek het die ekstra "krediete" altyd gebruik vir my Windhoek Light, chips en Gin & Dry Lemon.

Windhoek Light 330 ml = 100 kcal
Single Gin & Dry Lemon = 180 kcal
Niknaks 50 gr = 271 kcal

Jy kan hierdeur sien dat die dinge waarmee jy jouself beloon, vinnig jou getal opjaag, dus ek het eenvoudig net harder geoefen om dit te kan verdien!  Hildegarde het MyFitnessPal gebruik om beter keuses te maak.  Jy kan voordat jy op iets besluit om te eet eers die kcal 
gaan kyk en dan die gesonder opsie kies.  Dit het ons beide op ons teiken gewig geplaas. Ek weeg nou enigiets tussen 78 en 80 kg.  Ons oefenlading is ook nou van so 'n aard dat ons baie moet eet om genoeg "brandstof" vir ons liggame te gee, so dit is beslis nie nou meer 'n program om gewig te verloor nie, maar wel om genoeg energie te kan he.






Runtastic neem elke oefen geleentheid se tyd, profiel asook kaart.  Sien prente aangeheg.  Dit is die tipe dinge wat my gemotiveerd hou - om myself te meet.  Dit maak dat jy volgende keer presies dieselfde roete kan ry en jouself verbeter.
Sien kort opsomming van afgelope week se oefenprogramme:

Hildegarde oefen

Maandag oggend - gee klas 1 uur - 420 kcal
Maandag aand - Draf treadmill 45 min - 418 kcal
Dinsdag oggend - Dance to fitness 1 uur - 285 kcal
Dinsdagaand -  Spin 40 min - 420 kcal
Woensdag oggend - draf 9 km 45 min - 400 kcal
Woensdag oggend - gee klas 1 uur - 591 kcal
Woensdag aand - MTB nightride 1 uur 40 min - 752 kcal
Donderdag oggend - Dance to fitness 1 uur - 281 kcal
Donderdag aand - doen gewigte (arms)

Totaal - 3 567 kcal

Jaco oefen

Maandag - Spin met padfiets - 40 min - 500 kcal
Dinsdag - MTB - 1 uur 750 kcal
Woensdag aand - MTB nightride 1 uur 40 min 1100 kcal
Donderdag - tempo plus MTB - 1 uur 15 min 1050 kcal
Vrydag - Rus
Saterdag - Spin met padfiets - 1 uur - 650 kcal

Totaal - 4 050 kcal

Ons is nou in 'n baie koue en nat winter, so motivering om te oefen is maar min.  Elke sonskyndag moet jy aangryp om buite te kom.  Ons sal vanaf September intensief vir die Epic begin oefen, vir nou is dit aan die gang bly en geen vorm verloor nie.

Tot volgende keer, mooi eet en lekker oefen!

Groete,
Jaco G

03 Junie 2013

Ons Borge

www.nexusag.net
In 'n vorige blog het ek verduidelik hoe ons by die punt uitgekom het waar ons gaan deelneem aan 2014 se Epic.  Wat ons egter deeglik bewus van is, is die astronomiese koste van so 'n projek.  Dit maak nie saak hoe goedkoop jy dit gaan probeer doen nie, dit gaan nogsteeds 'n kleinhuisie vol geld kos.

www.agchem.co.za
Ek en Hildegarde het onmiddellik nadat ons die inskrywing gekry het begin om idees rond te gooi oor hoe ons ekstra fondse kan insamel om ons droom 'n werklikheid te maak.  Daar is verskillende finansiële en logistieke beplannings wat gedoen moet word vir so iets.  Die groot kostes is nie net die inskrywing van die Epic nie, maar al die voorbereidings wedrenne, toerusting, dienste, brandstof, ens. wat deel van die hele prentjie vorm.  Die idees wat ons op die tafel geplaas het en ook nou reeds redelik ver uitgerol het is die volgende:

www.cosmocel.co.za
My "regte" werk / beroep is 'n landbouchemiese verteenwoordiger.  Ons verkoop produkte aan produsente wat hul onkruid, swam en insek probleme aanspreek.  Ek tree dus as 'n konsultant vir die produsent op en hy koop die landbouchemiese produkte by ons besigheid.  Ek is 'n vennoot in ons besigheid saam met my twee baie betroubare kollegas Eric Venter en Stephan Venter.  Hulle is uiters ondersteunend in alles wat ek en Hildegarde aanpak.  Ons drie is elkeen verantwoordelik vir verskillende funksies in die besigheid en werk baie lekker as 'n span saam.  Weens die feit dat ons produkte aankoop van verskillende maatskappye, gee dit ons 'n lekker netwerk van maatskappye van wie ons dan kliënte is.  Hierdie is dan ook die maatskappye wie ek genader het toe befondsing benodig is.  Ek wil baie dankie sê vir Nexus, AgChem, Cosmocel, Insect Science SA, Oro Agri, Sun Lab en Dow AgroSciences.  Hierdie maatskappye het uit die staanspoor onmiddellik ja gesê toe ons aan hul deur gaan klop.

www.insectscience.co.za
Wat kan ek my borge bied in ruil vir hul ondersteuning?  Ons gaan beslis nie 'n podium posisie beklee nie, maar kan steeds uitstekende ambassadeurs van die maatskappye en hul produkte wees, en wie is daar beter om oor hul produk te praat as een van hul verkoopspersone in die veld?  Die lojaliteit wat hulle teenoor ons betoon gaan ons beslis dubbeld aan hulle terug betoon - visueel en in die praktyk.  Nogmaals baie dankie aan julle!  Gaan besoek hulle webwerwe en kyk wat hulle doen.

Nog 'n idee wat ons gehad het om paar ekstra rande in te kry is om aan al ons vriende, kollegas, ondersteuners en kliënte lootjies te verkoop.  Die pryse wat jy met die lootjie kan wen was aanvanklik 'n kopkrap, maar met kliënte wat bereid is om vir ons 'n paar lammers te borg, is daardie probleem ook nou kleiner.  Vir jou lootjie sal jy in die trekking wees wat einde November 2013 plaasvind.  Die pryse is as volg:


www.dowagro.com
  1. R2 500 se waarde prys
  2. Heel lam (verwerk en netjies verpak)
  3. 60% van lam (verwerk en netjies verpak)
  4. 40% van lam (verwerk en netjies verpak)
  5. Biltong en wyn geskenkpak
www.oroagri.com
Hierdie idees sal ons hopelik bietjie nader aan ons droom plaas.  Die idee van die blog het ook voortgespruit uit een van ons borge wat gevra het hoe hulle ons doen en late kan volg.  Ek moet sê ek self kry baie bevrediging uit dit uit om so 'n tipe "dagboek" te hou van alles en dit sal vir ons oor 10 jaar nogsteeds van waarde wees om te kan terugblaai en te sien wat ons gedoen het.

Gedurende die maande van Junie, Julie en Augustus is dit bitter moeilik om gefokus te bly wat mens se oefenprogram aanbetref in die Wes-Kaap aangesien dit baie koud en nat is.  Dit is die tye wanneer mens dalk ekstra skeppie warm kos of ekstra glasie wyn drink.  Ek en Hildegarde sal in die volgende blog paar idees gee van hoe jy die ekstra kilogramme kan probeer verhoed - dinge wat vir ons werk.

Mooi bly en pas julle op,
Jaco Geldenhuys

27 Mei 2013

Amarider 50 Miler

Die 25 ste Mei 2013 het aangebreek waarop die Amarider 100 en 50 Miler plaasvind.  Ek was plat in die bed met griep van die Woensdag af, so daar was geen kans dat ek kon deelneem nie.  Hildegarde was die week vantevore saam met Hilge en JJ siek, so die Geldenhuyse was maar broos!  Hildegarde het egter die heel week geoefen voor die 50 Miler, alhoewel dit nie fietsry was nie.  Sy het die Donderdag voor die resies 'n 20 km gaan ry en het gese sy voel goed vir die Saterdag.

Ek kon die Saterdag uit die bed kom en het opgetree as Hildegarde se tegniese / ondersteuning span.  Ons het die kinders by ouma Fanie en oupa Kola gelos vir die dag en ons is deur na Delico waar die wegspring van die 50 Miler was.  Dit was 'n ysige windjie wat gewaai het en die mis het laag gehang wat dinge nie makliker gemaak het nie.  In dieselfde resies was 'n hele klompie Malmesbury gesigte wat ook deelgeneem het - Carl Malherbe, Helena en Alex Bester, Johan du Plessis, Jean Fouche, Frederich Claasen en Altus Spannenberg om maar 'n paar te noem.  Dit was lekker om so 'n resies in ons eie kontrei te hê, ek was hartseer dat ek nie kon deelneem, maar was beslis nie in staat nie.

50 Miler - Wegspring
Hildegarde na 37 km
Om 09h00 stiptelik het hulle begin.  Ons het geweet dat die resies nie baie tegnies gaan wees nie en dat die spoed redelik hoog sal wees.  Ek het gesorg dat ek vanaf 10h00 by die eerste toeskouer punt was.  Dit was 37 km van die begin af.  Die voorloper van die resies het om 10h15 verbygekom.  Ek het nog so rondgestaan toe Carl en Jean verbykom en 'n minuut of wat na hulle het Hildegarde en Frederich verbygekom om 10h24.  Hildegarde was amptelik die 4de vrou op daardie stadium.  Hulle was lekker haastig en Hildegarde het goed gelyk.  Helena is so 5 min later daar verby en ek het besef ek sal moet stukke insit om by die volgende toeskouer punt uit te kom.

Helena Bester - 60 km
Kobus en Alex - 60 km
Die voorloper is om op die kop 11h00 verby ons by die 2de toeskouerpunt.  Dit beteken hy het 'n gemiddelde spoed van 30 km / h gehandhaaf - 60 km was nou verby.  Carl was weer die eerste van ons groep deur die punt met Jean 2de.  Hildegarde het deurgekom saam met Frederich en steeds goed gelyk.  Helena was volgende.  Ek het gery om by die eindstreep te kom en so 'n halfuur nadat ek weg is by die toeskouerspunt die oproep van Hildegarde wat gesê het sy het 'n sny in haar agterband, die "bom" kon hom nie styf hou, want die sny is te groot om te seël en hulle sal 'n binneband moet insit.  Ons ry met "tubeless" bande, so om 'n binneband te gebruik is altyd die laaste opsie!  Jean Fouche het vir Hildegarde hier deur dik en dun gehelp om haar weer op die pad te kry - baie dankie Jean, ons waardeer dit.  Sy het egter ongeveer 20 min verloor met die proses, sy was 3de toe die noodlot haar tref.  Sy het klaargemaak in 3 uur 59 min en was baie teleurgesteld.  Ons het steeds meer uit die dag gekry as was ons verwag het.  Baie goed gery vir die hoeveelheid voorbereiding en nou weet ons waartoe sy in staat is.  Helena was die 5de vrou en Carl was die eerste Malmesbury man.  Baie geluk aan almal wat gery het.

Die 100 Miler se wenners het die 160 km in 6 ure kafgedraf met Johann Rabie, ook van Malmesbury in die 2de plek.  Ons resies kalender is nou stiller vir 'n maand of wat, maar bly ingeskakel vir al die lekker oefen stories!

Groete tot volgende keer,
Jaco G

SAD, Welvanpas en MTN Gravel Travel

Ek het reeds in een van die vorige blogs gesê dat die langer afstande draf nie vir sissies is nie. My lyf is beslis nie gebou vir dit nie, Hildegarde s'n is wel. So het ek dan myself weer daarin gekry om 'n halfmarathon saam met My Bruid te doen, die SAD Halfmarathon op 1 Mei 2013. Nou moet ek julle ook darem se, my fokus was in aanloop tot dit glad nie gerig op draf nie. Ek het elke moontlike kans wat ek kon kry die bergfiets gegryp en die pad gevat. Ek het een maal per week, maksimum 2 maal so 7 km gedraf, maar die algemene fiksheid was daar en ek was nie bang vir die 21.1 km nie - ek het wel nie baie uitgesien daarna nie! Hildegarde in teendeel, draf ten minste 4 dae van die week tussen 7 en 12 km, haar fiksheidsvlakke is baie hoog en ek het geweet ek sou weer die onderspit delf.


Jaco - SAD
Hildegarde - SAD
Ek het gemik om 2 uur te breek en sy het gemik om 1 uur 45 min te breek. Dit was 'n lieflike oggend in Wellington en perfekte weer vir hardloop. Een ding waarvoor ons nie reg was nie, was die derduisende mense. Ons moes omtrent bontstaan om net te kon wegspring en toe die 
skoot klap het ons 
geweet dat die nie 'n 
goeie dag is om jou persoonlike beste tyd te hardloop nie. Ons moes die eerste bult na die wegspring opstap, almal het, daar was net te veel mense. Die eerste 2 km het ons 15 min geneem. Ek het vir Hildegarde gese sy moet hol en nie oor my worry nie. Dit was 'n baie mooi roete en ek het dit verskriklik geniet, tot op so 13 km. Ek kon voel hoe alles begin pyn en styf raak, maar ek het deurgedruk en klaargemaak en net-net 2 ure gemis. Hildegarde het baie goed gehardloop en klaargemaak in 1 uur 43 min. Ek kon vir 3 dae nie normaal loop nie! Draf is nie my beste pel nie! Om te dink die oggend na die Transkaroo 240 km kon ek weer fietsry, maar na 21.1 km draf kan ek vir 3 dae amper nie beweeg nie.

Hildegarde - Welvanpas
Tier - Welvanpas
Die Saterdag na die SAD het ek, Charl du 
Plessis (Tier), Hildegarde en Lood by 
Welvanpas - ook in Wellington gaan bergfietsry. Hierdie was die ideale voorbereiding vir die volgende naweek se MTN Gravel Travel. Dit was ook baie goeie oefening vir Hildegarde wat die "downhills" aanbetref, baie tegnies! Sy het met vlieënde vaandels daar deurgekom. Dit is die pragtigste roetes daar bo in die berg en Pieter van Wyk en sy span doen uitstekende werk daar. Tier het ons van die roetes laat ry wat hy weet deel van die Gravel Travel roete is. Dit was 'n fantastiese middag en ons het die ondervinding terdeë geniet.  Goeie geselskap en pragtige natuurskoon.  'n Moet vir elke bergfiets ryer.

Die volgende Saterdag, 11 Mei 2013, is ek en Lood deur om die MTN Gravel Travel 75 km te gaan ry. Die wegspring was by Diemersfontein en ons kon die Elite ryers sien wegspring. Lood en ek was in verskillende wegspring groepe en ons het besluit om die dag maar individueel aan te pak. 'n Baie moeilike roete het vir ons voorgele. 75 km waarvan 60% enkelspoor was en
Geelslang se pik!
MTN Gravel Travel - Wegspring
2 200 m vertikale klim! Die eerste gedeelte om uit Diemersfontein te kom was 'n geplaveide bult. Ek was styf, bene moeg en boude het gepyn. Ek het gedink daar is groot fout. Die fout was dat ek yskoud was en glad nie opgewarm nie. Die bene het begin warm word en ek het sterk begin voel, maar aan die gemiddelde spoed gesien dit gaan 'n lang dag wees. Ons wat in en om Malmesbury bergfiets ry het wonderlike oop plaaspaaie, maar baie min enkelspoor, so ons geniet dit nog meer as die ander ouens. Dit was 'n ontsettende lekker roete. Daar was die "Cheese Grader", "Rollercoaster", Groen Mamba, "Lord of te Rings en dan die Geelslang - wat my gepik het! Ek is by die Geelslang by die afdraend af, my wiel steek vas en ek duik vir die naaste Bloekomboom, my pedaal slaan terug en slaan my op die knie! My arm sal ook blou wees soos ek die boom getackle het. Ek het lekker gery en klaargemaak in 4 uur 56 min. Lood was net agter my in net so oor die 5 ure. 'n Lang dag maar verskriklik lekker!


Ons volgende resies is die Amarider 100 en 50 Miler. Ek en Lood sou 100 Miler ry en Hildegarde die 50 Miler. Ek moes onttrek weens ernstige griep, so ek sal die beste ondersteuner vir hulle wees! Dit vind plaas op Saterdag, 25 Mei 2013, so meer daaroor net na die resies. Julle sal nou agterkom ek is op datum met al die goed wat ons vanjaar al gedoen het, so van nou af sal blogs "live" wees en ek sal skryf soos wat goed gaan gebeur of sopas gebeur het.

Groete,
Jaco G

23 Mei 2013

Bergfiets mal

Die Maandag nadat Epic 2013 klaargemaak het, was ek een van die gelukkiges om 'n "early bird entry" vir 2014 in die hande te kon kry.  Daar was net 100 en dis binne 34 sekondes uitverkoop!  Op daardie stadium het ek nie gedink aan 'n "partner" nie, ek wou net eers entry vasmaak!  Ek bel toe vir Hildegarde in ekstase en vertel haar ek het entry gekry.  Sy was baie bly en bel my so 'n halfuur later terug en se sy gaan my "partner" wees!  Een van my grootste drome gaan waar word en ek is so bevoorreg om dit saam met my vrou te kan doen!

Scott Scale 910
Al negatief is dat my kostes nou sal verdubbel met alles, waar 'n buite "partner" vir sy eie kostes verantwoordelik sou wees, maar dis 'n klein prys om te betaal vir die groot voorreg.  Ons het dadelik begin planne maak oor hoe ons befondsing kan kry.  My verskaffers genader om borgskappe (sien bo regs), lootjies verkoop aan vriende, ondersteuners en familie, skape wat geskenk word deur kliënte - 'n fantastiese spanpoging, ons is baie geseënd!

Om aan die gang te kom, moes ek vir Hildegarde 'n bergfiets koop, Adventure Cycles is toe gekontak en ons kon Hildegarde se Epic fiets kry - Scott Scale 910, 'n pragtige masjien en weeg slegs 9.8 kg!


 . 
     Hildegarde oefen

    
Ek en Hildegarde
Ons het 'n paar keer saam geoefen en toe ingeskryf vir NG Kerk Philladelphia se bergfiets rit op Saterdag 27 April 2013.  Die roete was glad nie tegnies nie, net een baie rowwe klim, ook 'n gedeelte waar ons halflyf deur die rivier moes loop.  Ek het my en Hildegarde se fietse gedra en was bitter bly oor die min gewig van haar fiets.  Die "downhills" was vir haar bitter moeilik en sy het nog nie die selfvertroue gehad om dit gemaklik te ry nie - all in good time!  Bietjie oefen en sy sal daarmee gemaklik wees.
Philladelphia eindstreep

Ek, Hildegarde en Lood het heeldag saamgery en klaargemaak in 2 uur 40 min - dit was toe net 45 km.  Hierdie was
'n lekker resies vir haar om weer haar terugkeer na bergfiets te maak na 5 jaar!  Van hier kan dit 
beter raak.

Volgende aan die beurt was die SAD halfmarathon te Wellington op 1 Mei 2013.  Meer daarvan volgende keer.

Tot later,
Jaco G

20 Mei 2013

Aspen Transkaroo (240 km)

Na afloop van die Cape Argus was alle fokus verskuif na my groot wedren van die jaar, die Aspen Transkaroo 240 km uithourit van Sutherland na Ceres.  Ek en Lood het besluit om dit as individue aan te pak, maar steeds saam te ry.  Indien jy as span ry en jou rymaat maak nie klaar, dan kry jy ook nie die "finisher" medalje nie.  Ons het glad nie geweet wat vir ons wag, hoe ons dit gaan hanteer en of ons dit ooit sal kan klaarmaak nie.

Elke naweek na die Argus was dit 4 - 5 ure per dag in die saal en elke weeksoggend aan die gang gebly met normale oefen.  Sien aangeheg grafiek van totale km's gedraf, padfiets en bergfiets.  Baie ure!

Op hierdie stadium na die besige jaar tot dusver het my gewig gestabiliseer by 79 - 80 kg en ek het geweet watter kosse werk en watter nie.  'n Week verlof voor die Transkaroo het ook gehelp om die logistieke gedeelte van die resies beter te kon beheer.  Glo my, baie logistiek met ons gesin almal in Sutherland!

Perd kosgee - Hilge
Khoivisse kosgee
Ons het die Donderdag voor die Transkaroo ingeboek by Blesfontein Gasteplaas so ongeveer 30 km vanaf Sutherland.  Wat 'n fantastiese plek!  Die stilte van daai wêreld is onbeskryflik en die nagte is pikdonker.  Die Vrydag was 'n gesinsdag op die plaas voor ons die middag moes gaan registreer in Sutherland.  Die kinders het lammers melk gegee, perd gery, Khoi visse kos gegee en net die asemrowende natuur waardeer.


Akkomodasie - Blesfontein
Blesfontein vlaktes
Ons gasheer en gasvrou vir ons
verblyf te Blesfontein was Nicol
en Marina van der Merwe.  Die
akkomodasie was fantasties.  Nicol bied self 'n "stargazing" aand aan waar jy kan luister na baie interessante feite oor die lugruim en deur die teleskoop kan kyk.  Ons sal beslis gedurende die winter weer daar draai, wanneer dit regtig koud is!  Dit raak glo tot -10 grade Celsius daar!

Die middag is ons deur Sutherland toe vir registrasie by Jupiter Lounge en vinnig kon ons agterkom dat daar spanning in die lug is vir die volgende dag se groot wedren.  Lood en Saretha het in die hotel op Sutherland gebly en ons het afgespreek om mekaar die volgende oggend by die wegspring te ontmoet waar die vroue van daar sal begin saamry om ons ondersteuning span te wees en ek en Lood natuurlik op die fiets Ceres toe.....


Wegspring - Sutherland
Natuurskoon na 25 km
Die oggend van 6 April 2013 was koud en donker op Blesfontein.  Ons moes die ongeveer 30 km inry Sutherland toe om 07:00 te kon wegspring.  Dit was ongeveer 8 grade Celsius met die wegspring.  Die eerste 45 km was redelik maklik tot by CP1 (Checkpoint).  Daar is 'n plakker op elke fiets geplak en jou tyd is neergeskryf.  Tafels was vol kos en vloeistof.  Hierdie punt was nie 'n SP (Service Point) nie, dus mag daar nie hulp / toeskouers wees nie.  Ons het die Oubergpas afgegaan en seker een van die mooiste uitsigte op hierdie aarde in die oë gestaar.  Die Oubergpas af was senutergend - 8 km bult af met jou remme!


"Plug" in band
Oubergpas uitsig
Ons het dit maar kalm gevat, want die dag was nog lank!  Aan die onderpunt van die Oubergpas het ek gevoel daar spuit vloeistof teen my been, my agterwiel het 'n klip ingehad wat in die band gesteek het en ons moes stop om 'n "plug" in te sit.  Dit was my en Lood se eerste "plug" so ons was baie opgewonde toe dit werk!  Daarvandaan het ons net gery om by CP2 wat ook SP1 was te kom op 95 km.  Ons het geweet ons sal die vrouens en kinders daar kry en dan kan ons gou weer fietse deurgaan, ietsie eet en weer ry.  Daardie punt het 'n ewigheid gevat om te kom.  Teen net voor 11:00 het ons daar aangekom en so 20 min verwyl.  Die kinders was natuurlik in ekstase om ons te sien en dit was 'n baie lekker gevoel.


Tankwa Padstal na 170 km
Van hier het die werklike resies begin.  Die bene het begin voel hulle het al gery en die eerste paar klimme het aangebreek.  Die wind was ook nie meer so stil nie.  Ons het geweet die volgende CP is op 145 km, waar ook ligte middagete sou wees.  Ons het maar aangehou en uitgehou teen ons spoed en die lang tyd in die saal het sy tol begin eis.  Uiteindelik na wat soos 'n ewigheid gevoel het, het ons ingedraai by CP3.  Daar is gesig gewas, bottels volgemaak en aartappels geëet.  So 15 min later is ons weer in die saal gewees, die volgende CP en ook SP2 was immers net 25 km verder op 170 km.  Nou was die wind sterk van voor.  Ek het net oë toegemaak en gese Lood moet in my "slipstream" sit, steeds wou die pad nie korter word nie.  Ons was erg negatief toe ons uiteindelik op 170 km aankom by die Tankwa Padstal.  Die vrouens en kinders was daar met skoon klere, gevriesde water en lekker broodjies.  Hulle het ons ook na die klein swembadjie geneem om met ons bene in die ysige water te sit.  Dit het beslis gehelp!  Ons was regtig nie meer lus vir ry nie en hierdie ekstra bietjie liefde en ondersteuning van ons gesinne het ons net die nodige energie gegee om verder te wil gaan, hulle sou mos weer by eindstreep wees!




Laaste CP - 210 km
Soos uit boonste foto kan sien het die resies nou eers begin!  Die grootste klim van die dag, die Skittery Pas, was 'n 14 km lange stuk pad en oor daai afstand moes ons ongeveer 800 m klim.  Enige persoon wat fietsry sal jou kan se dat dit 'n rowwe klim is, maar om dit te doen teen die wind met bene wat al 180 km gedoen het is baie EINA!  Ons het gery, geskel, gevloek, gelag en nog enige ander emosie denkbaar beleef.  Met ons aankoms wat ons gedink het die bokant was en nou moes begin afry, kom ons agter dat ons eers nog ongeveer 15 km bo-op die berg moes ry voor ons die 3 km Katbakkies Pas kon afjaag.  Klein beloning vir baie harde werk!  Dit was so in die omgewing van 18h30 en dit het begin donker word.  Die volgende CP was op 210 km en elke plek wat gelyk het of daar lig het, het vir ons na die "pitstop" gelyk.  Om 19h45 het ons by ons laaste CP aangekom.


"Finisher" T-hemp
Medalje
Die vraag wat ek daar vir die mense gevra het, het as volg gelui:  Is daar nog bulte?  Antwoord:  Nee, net "rolling hills"!  Om dit vir 'n leuk te verduidelik, ja, daar is nog bulte, want julle bene en boude is gaar en julle moet nog 30 km ry in die nag!  Ons het letterlik aangesukkel.  Alles was seer en moeg, maar die adrenalien en die fokus was dit wat ons laat aanhou het.  As ek moeg raak, was Lood sterk.  As Lood moeg raak, was ek sterk.  Uiteindelik het daar 'n bord voor ons in die pad opgekom wat gese het "finish" met 'n pyltjie.  Ons het daar ingedraai en nuwe energie gekry.  Ons het om 21h50 klaargemaak!  Daar was ligte, musiek, komberse, koffie en ek was heeltemal uitgemergel.  Ek het toe ek afskakel, my laaste bietjie energie verloor, asook my eetlus.  Lood het soos 'n riet in die wind gebewe, maar braaf ons storie aan die vrouens vertel.  Ek was te moeg en kon net luister.  Ons het as beloning 'n T-hemp, medalje en nog 'n waterbottel gekry.  "Been there, done that, got the T-shirt!"

Hildegarde het vroeër my ouers in Ceres gekry en die kinders saam met hulle huistoe gestuur.  Sy het ons veilig weer in Malmesbury gekry.  Ek was meer uitgepaas as wakker oppad terug.  Ek wil dan ook hier weer ons vrouens bedank vir hulle ondersteuning vir daai baie lang dag.  Ons waardeer dit regtig verskriklik baie en sou dit op geen ander manier wou he nie!  Julle is ons alles!


ODO lesing na Transkaroo
Die volgende dag het ek op my rekenaar gesien dat die mense van Transkaroo ons hopeloos te ver laat ry het!  Hierdie was een van die grootste toetse vir my liggaam nog, en ek het verskriklik baie van myself op hierdie dag geleer.  Ek sou dit beslis nie sonder Lood kon doen nie.  Die feit dat daar iemand was wat dieselfde doelwit voor oë gehad het asook sy deursettingsvermoë het dit vir my 'n realiteit gemaak.  Dankie Lood, jy is 'n insperasie!

Volgende jaar ry ek en Hildegarde die Epic en die Transkaroo is ongeveer 'n maand daarna.  Hopelik gaan alles goed dat ons dan die opwaartse rit kan doen van Ceres na Sutherland en weer by ons vriende op Blesfontein kan kuier.

Groete,
Jaco G