16 Mei 2013

Totalsports Challenge 2013

Gedurende die hele Desember kerstydperk moes ons baie hard oefen en mooi kyk om nie die paar dae wat ons af was te veel te geniet nie, want op Saterdag 12 Januarie 2013, het die Totalsports Challenge plaasgevind.  Dit bestaan uit 2 formate - Totalsport Challenge (7 items) en Totalsports Terra Firma (4 items).  

Lees meer hier:  http://www.totalsports.co.za/events/193/totalsports_challenge


50 km Padfiets 
Ek en Hildegarde is ingeskryf vir die Terra Firma as 'n gemengde span en Peet Smit (Nexus) en Werner van der Nest (AgChem) is ingeskryf as 'n manne span.  Die dag skop om 08:00 af in Gordonsbaai vir 'n 50 km padfiets rit tot in Kleinmond.  Vandaar word oorgegee aan die drawwers vir 13 km paddraf sessie. Dit word opgevolg deur tawwe 25 km bergfietsrit en wedren word afgesluit met 9 km stranddraf.  Min het ons geweet wat vir ons wag!


13 Km Paddraf
25 Km Bergfiets
9 Km Stranddraf
Hildegarde en Peet het afgeskop met die padfietse.  'n Baie sterk Suidooster het dinge baie moeilik gemaak.  Peet het op 1:50 ingekom en Hildegarde op 1:55.  Daarna het hulle oorgegee aan myself en Werner.  Ek moes alles insit om hom te vang en kon dit eers na 12 km regkry.  Ons het feitlik gelyk in "transition" aangekom waar Hildegarde, Peet en ons "2nd" vir beide spanne vir die dag, Rudolf Liebenberg vir ons gewag het met bergfietse en klere.  Ons het vinnig aangetrek en was weer oppad op die volgende been.  Dis net hier waar dinge vir my begin skeefloop het. Ek het krampe in beide bene gekry en kon feitlik nie trap nie.  Werner het aanhou ry en ek het maar so sukkel, sukkel aangegaan en krampe probeer wegtrap.  Die roete was uiters tegnies en temperatuur was rondom 30 grade Celsius daar in die Kleinmond koppe.  Ek het ongeveer 10 min na Werner ingekom en oorgegee aan Hildegarde wat die laaste been moes voltooi.  My en Werner se dag was verby en die wedloop was in Hildegarde en Peet se hande.  Hildegarde het goed gehardloop en die 9 km stranddraf kort duskant 'n uur voltooi.  Die manne het die gemengde span met ongeveer 5 min gewen.  My en Hildegarde se totale tyd vir al 4 bene was 6 uur 10 min.

Dit was 'n fantastiese ervaring vir beide van ons gewees.  Volgende jaar sal ons dit as individue doen.  Hierdie maak groot deel van ons volgende groot mylpaal - die ABSA Cape Epic 2014!

Sonder dat ons dit geweet het, het ons begin opbou na wedlope waarvoor ons nooit in die verlede sou kans sien nie.  Wat dit in ons situasie baie lekker maak is die feit dat ons dit saam doen en mekaar se pyn en lyding meemaak!

'n Heerlike dag en baie om na uit te sien vir 2014!

Lekker bly,
Jaco G

15 Mei 2013

Agtergrond - Jaco & Hildegarde

Geldenhuys "Background Check"

Ek en Hildegarde is die afgelope 7 jaar getroud en het twee pragtige kinders, Hilge en JJ.  Ons woon op Malmesbury.  Ek is in die Landbouchemiese bedryf en sy is 'n fiksheids fanatikus en baie goeie ma vir ons 2 kinders! 


Hierdie "blog" sal dien as my en Hildegarde se dagboek van ons strewe na 'n gesonder lewe asook die kompleksie van ons daaglikse roetiene, oefen en die twee bekkies wat aandag, kos en liefde van ons vereis. Soos wat die tyd sy loop neem sal dit nog meer kompleks raak en hierdie is die reis deur ons "logistieke" nagmerrie!


Vir my het alles in Oktober 2011 begin toe ek besef het dat genoeg nou genoeg is en ek sal 'n verandering aan my lewe moet bring.  Gesondheid in vandag se tyd is 'n luukse en jy moet alles van jou kant af doen om dit te help bevorder.  Vir Hildegarde het dit nog altyd van nature gekom en sy het maar net normaal voortgegaan - drie keer per week gegym en altyd reg geëet.  Vir my was dit nie so maklik nie, ek was redelik ver op die verkeerde pad wat eetgewoontes aanbetref (ongereeld en verkeerd!) en gedink 9 gate gholf is goeie oefening (dis mos beter as niks).  Op daardie stadium het ek die skaal op 'n stewige 94 kg laat trek en die mislukke, moeë gevoel was altyd teenwoordig.

Vir die eerste 6 weke kon ek beswaarlik 20 min aaneen draf, maar ek het deurgedruk en die skaal het saamgespeel.  Maart / April 2012 het ek die km's begin langer maak van die gebruiklike 4 km na tussen 7 en 9 km's soggens.  Ek en my drafmaat (Manus Bester) het besluit dat die Outsurance KFM 94.5 Gunrun ons eerste wedren is wat ons in die oog het om te doen.  Dit is net hier waar Hildegarde ook besluit het om na die volgende rat oor te skakel en ons het toe ingeskryf.

'n Hele paar 10 km Pretlope is gedoen en in Oktober 2012 is ons na die Kaapstad Stadion vir ons eerste halfmarathon!  Sulke lang afstande is nie vir sissies nie.  My liggaam is beslis nie gebou vir sulke marteling nie.  Hildegarde het my gewen in 'n tyd van 1 uur 55 min.  Ek het ingekom op 2 uur 05 min, maar die grootste oorwinning was die feit dat ons dit kon "aftick".  Hierdie was die begin van ons avontuur, die adrenalien was daar en die lus om weer die wedren gevoel te kry was alomteenwoordig.  Intussen het ek om die draf af te wissel weer my ou bergfiets nader getrek en daai gogga het gou gebyt om weer te kan jaag!


Links: Hildegarde - Outsurance Gun Run 2012

Regs:  Jaco - Outsurance Gun Run 2012



Kom ervaar ons reis saam met ons!

Tot volgende keer...

Groete,
Jaco G