30 Mei 2014

Amarider 100 Miler

Verandering van seisoene, 'n baie lae immuniteit en kinders wat met nat neuse huistoe kom is glad nie die perfekte voorbereiding vir 'n wedren soos die Amarider 100 Miler nie.  Hildegarde staan sterk deur alles, maar ek is maar 'n "softie".  As daar 'n virus in die lug is, sal ek hom kry.  Dit was dan ook die geval van so 10 dae voor die 100 Miler af.  Ek was nie bedlêend nie, maar beslis nie gesond.  

Die Maandag (op JJ se verjaarsdag - 19 Mei 2014) het ek begin met 'n kursus antibiotika.  Ek kon elke dag in opbou na die 100 Miler voel ek raak beter.  JJ het 'n Spiderman partytjie gehou soos wat julle kan sien op die aangehegde foto.  Hy is regs en sy maatjie HB is links.  Beste dag van sy lewe tot dusver!

Ons sou as Team Nexus deelneem.  Hierdie keer was ons 4 ryers - ek, Hildegarde, Glenn Norrie en Charl (Tier) du Plessis.  Die reëls van die 100 Miler verskil so bietjie van die ander wedrenne as jy in span verband ry.  By die 100 Miler kan jy as 'n span ry, maar jy hoef nie saam te ry nie.  Hulle vat net die tyd van die span as die laaste persoon van die 4 se tyd en al 4 moet klaarmaak om as 'n span te kwalifiseer.  Ons het egter in die gemengde spanne deelgeneem en ons moes die dag voor die wegspring uitvind dat daar net een ander gemengde span ingeskryf is, so daar sal nie 'n gemengde kategorie wees nie.  Ons het egter steeds besluit om as span te ry en ook nie elkeen op sy eie spoed te ry nie, maar die heeltyd as "Team Nexus" bymekaar te bly.

Jaco Geldenhuys, Hildegarde Geldenhuys, Glenn Norrie en Charl (Tier) du Plessis

Die wedren begin by Swartland Wynkelder en eindig, net soos die naam sê, na 100 myl (163 km) weer by Swartland Wynkelder.  Daar is ook 'n 50 Miler wat by Delico Slaghuis op Riebeek Kasteel begin en die laaste 80 km van die 100 Miler roete is, en ook by Swartland Wynkelder eindig.  Malmesbury was uitstekend verteenwoordig in beide wedrenne en daar was ongeveer 30 van ons wat deelgeneem het!  Voorwaar uitstekend vir 1 dorp.  Ons het natuurlik ook 'n moontlike algehele wenner in die wedren vir die 100 Miler in ons midde gehad - Johann Rabie was ook op die beginstreep.  Die roete was beslis nie plat nie en ons moes buiten die ekstreme weerstoestande 2 400 m oor 163 km klim!


Ons span het ongeveer in die middel van die bondel begin en my begin kon ek nie slegter voorspel het nie.  Ek het by die mense voor my probeer verbykom en deur 'n rolletjie hakiesdraad gery wat net langs die pad gelê het.  Dit het in my "cluster" opgewen aan die speke se kant.  Ek en twee Barmhartige Samaritane het seker 5 min gesukkel om dit los te kry, gelukkig was daar geen skade en ek kon aanry.  My span het so 500 m verder vir my gewen.  Op dieselfde oomblik het die donderweer en blits begin slaan en ons het sommer lekker vroeg al natgereën.  Hierdie was die begin van 'n baie lang en moeilike dag!


Ons het weer bymekaargekom as span en dadelik met 'n paar kort klimme begin.  Vir ons ryers wat nie "race" nie, moet jy baie hard waak daarteen om nie ingetrek te word met die persone wat vinnig begin nie.  Hierdie is 'n Ultra Ultra marathon en jy moet alle energie soos goud oppas, want jy gaan dit beslis later nodig kry.  Glenn was ook die heel week effens ongemaklik met sy hartklop se reaksie as hy tempo gery het en dit was dieselfde storie op die dag van die wedren.  Hy het egter by ons gebly en probeer bepaal wat aangaan.  Die eerste ongeveer 50 km was eintelik heel aangenaam, toe draai ons in 'n Oostelike rigting.  Die wind was besig om te draai na Noordwes om die enorme kouefront in te bring en ons het die wind van voor begin kry.  Op 61 km was ons by die eerste "tagpunt".  Almal was ongedeerd en wou net graag by die halfpad merk kom.  Dit was egter baie makliker gesê as gedaan.  Die wind was nou van die Noordweste en ons moes reguit teen hom ry tot by Delico.  Hierdie gedeelte van die roete is eintlik 'n maklike deel.  Min bulte en lekker plat.  Ons kon beswaarlik 20 km / uur handhaaf.  Ons het na 4 ure by Delico aangekom en vir Riaan van Zyl wat ons en Dr. Loch Nel, wat ook 100 Miler gery het, se bystandvoertuig gery het daar gekry.  Ons kon ons eie bottels kry en warm klere kry - die kouefront was naby.




Ons het verder gery en na ongeveer 2 km het Glenn gesê hy voel glad nie goed nie.  Die dag het al hoe moeiliker geraak en ons wou beslis nie sy gesondheid in gevaar stel nie.  Hy het besluit om terug te gaan na die voertuig toe.  Dit het beteken dat ons nou net drie was wat teen die wind moet baklei en dat ons nie meer as 'n span kwalifiseer nie.  Na die tyd het ons verneem dat Delico die eindpunt van baie ryers se dag was.  Ons moes ongeveer nog 25 km teen die wind ry voor ons 'n effense blaaskans gekry het waar die wind van die kant af gewaai het.  Dit was 'n moeilike stuk.  Ons 3 het min gepraat en elkeen het in homself geworstel oor hoe aaklig dit was om op daardie spesifieke tyd daar te wees.  Ons het uiteindelik die "tagpunt" met ongeveer 45 km bereik en geweet dat ons nou twee gedeeltes gaan kry met die wind van agter.  Die weer het nog slegter geraak en dit het begin reën.  Ons was nou op die paaie wat ons gereeld oefen, dit het nie gehelp dat ons weet wat kom nie!


Die laaste klimme was uitmergelend na die harde dag.  Emosies was hoog en die dag kon gerus klaarkry.  Ons het op een van die drie laaste bulte reguit teen die wind ingedraai.  Dit het gereën en jy moes letterlik teen die afdraend trap om nie stil te staan nie.  Ons is daar deur en op die laaste 7 km het ons die wind van agter gehad.  Wat 'n verligting.  Ons het klaargemaak in 8 uur 11 min.  Dit was in alle waarskynlikheid my hardste dag op 'n fiets nog, my span het my beslis deurgedra.  Dankie Charl, Glenn en Hildegarde.  Ons het ook uitgevind dat Hildegarde die 3de vrou in die Sub-vets was!
Hildegarde op podium (Foto: Saretha Fouche)
Johann Rabie, Malmesbury se eie professionele fietsryer, het die 100 Miler gewen met ongeveer 8 min.  Hy het dit in 1 minuut vinniger gery as 2013 se wentyd (waar hy net-net 2de was) ten spyte van die haglike weersomstandighede in 5 uur 58 min.  Almal het na die tyd gesê ons gewone ouens kan 10% aftrek by ons tyd - hoeveel moes Johann dan aftrek?!  

Johann Rabie - Wenner Amarider 100 Miler (Foto: Johann Notnagel)
Johann het ook onlangs as deel van EAI Cycling saam met Gawie Combrinck die Joberg2C gewen en 2de plek behaal in die Sani2C.  Malmesbury is baie trots op jou!  Ons is ook uiters bevoorreg om hom as deel van Malmesbury Fietsryklub te kan hê en in sy geselskap op Woensdae ons klub se sosiale ritte te kan byhê.  Malmesbury het in 2013 geen fietswinkels gehad nie.  In Januarie 2014 het Johann sy winkel, Bike Addict oopgemaak en kort daarna het Crispin en Juan vir Kroff oopgemaak.  Ons is meer as 60 lede in die klub en die sport groei van krag tot krag in ons omgewing.  Kom besoek hierdie manne se winkels vir professionele hulp en advies.

Vir nou is dit winter en dit raak al hoe moeiliker om aan die oefen te bly!  Trek dik aan en laat daai wiele rol.

Tot later,
JG

30 April 2014

Transkaroo 2014

Die afgelope Saterdag, 26 April 2014 het 'n groot groep van Malmesbury die Transkaroo van Ceres na Sutherland aangepak.  Ek gaan begin by die opbou na die rit, maar eers van 'n ander klein resies vertel wat ek gedoen het vroeër in die maand.

Ek en Hildegarde het besluit om op Saterdag 12 April 2014 'n lekker lang ent te gaan fietsry om haar knie te toets na Epic.  Die fisio het haar egter die Vrydagmiddag meegedeel dat indien sy die Transkaroo wil ry, sy nog eers rustig moet wees.  Ek besluit toe laat die aand om die volgende dag die Fine Breed MTB net buite Worcester te gaan doen.  Dit was 'n 46 km wedren.  Die hele Epic het ons gery aan gemiddeld 100 km per dag.  Nou skielik moes ek 'n baie kort afstand jaag.  Ek het glad nie geweet hoe ek sou voel om van die geweerskoot af reg te wees om hard te ry nie en was stilweg ongemaklik met die onbekende.  Ons het eers 08h30 weggespring en dit was reeds warm.  Ek het in groep C begin en was dadelik voor in my groep, maar kon voel die bene is nie gewoond aan die vinnige wegspring nie.  Na ongeveer 'n halfuur was ek lekker opgewarm en kon die pas opstoot.  Ons het van die A en B groepe se ryers begin verbygaan en ek was baie tevrede met hoe ek gevoel het.  Ek het klaargemaak in die 23ste posisie algeheel in 'n tyd van 2 uur 22 min.  Johann Rabie (my chaffeur vir die dag) het gewen in 'n tyd van 1 uur 54 min.  Sy prys was wyn tot dieselfde gewig as wat hy is.  Ons is daar weg met 13 x 6 bokse!  Geluk Johann...

Om terug te kom na die Transkaroo, ek en Lood het dit verlede jaar saam voltooi.  Hierdie jaar was daar 9 ander ryers van Malmesbury teenwoordig.  Wat 'n lekker uistappie om na uit te sien.  My voorbereiding die week voor die wedren was weglaatbaar min.  Ek het die vakansiedag (Maadag van Paasnaweek) met Hildegarde 2 ure gery en gevoel my keel voel nie lekker.  Van daar was dit al die tyd afdraend met my gesondheid.  Woensdag dokter toe, Vrydag weer en antibiotika moes my deurtrek.  Ek het myself tot 100 km in die wedren gegee om te besluit wat ek sou doen.



Hierdie is nie 'n wedren waaraan jy deelneem vir 'n tyd nie.  Jy neem deel om onder die afsnytyd van 17 ure klaar te maak.  Dis glad nie tegnies nie, maar baie lank en jy klim oor die 3 000 m op die rit van 240 km.  Die ergste van alles is dat jy die pragtige Oubergpas op 190 km bereik.  Teen daardie tyd is jy redelik siek en sat van jou fiets se saal en dan wag hierdie monster voor jou!


Ons het om 07h00 op 'n pragtige oggend weggespring by Eselfontein in Ceres.  Die roete sou ons oor die Bo-Swaarmoed pas neem, deur die Karoo Poort oor die Oubergpas na Sutherland.  Gemoedere was goed en almal was gereed vir die groot uitdaging.




Ek en Hildegarde het besluit ons gaan weer net ry met 'n tempo waar ons gemaklik is.  My keel het nog gekrap en ek het besluit om net op mart hartklop te konsentreer.  Die oomblik wat hy oor 160 bpm gaan het ek die voet van die pedaal gehaal.  Op 38 km het Saretha, Makkie en die kinders gewag en almal was baie behulpsaam om ons warm klere ens. aan te vat wat ons uitgetrek het, asook broodjies aangee.  Hulle is ook verantwoordelik vir paar van die foto's in die blog.  Die ander foto's is die werk van www.oakpics.com.  Na hierdie dienspunt was ek en Hildegarde alleen vir ongeveer 30 km vanwaar ons by 'n bondel aangesluit het tot by die volgende "checkpoint" op 90 km.  Hier het ek beter begin voel en besluit dat ek en Hildegarde as "Team Nexus" dalk 'n kans het vir die podium van die gemengde pare.  Dit was 'n sieldodende stuk pad vir die volgende 90 km.  Daar was darem 'n liggie in die tonnel met die kinders wat weer vir ons op 145 km sou inwag!  Ons het die wind van voor gekry vir groot gedeeltes van roete met die middel klimme van die dag op 120 km.  Ons kon vinnig stop op 145 km en die kinders was baie bly om ons te sien.  Warm klere, ligte en kos en ons was binne 5 minute weer op die pad.  Hierdie items sou later die aand eers nodig wees, maar ons moes dit nou al in ontvangs neem aangesien daar nie weer 'n dienspunt met ons eie "crew" was nie.  Daar was 40 km teen die wind op die warmste deel van die dag wat voor ons uitgestrek gelê het tot die voet van Oubergpas.  Die Tankwa karoo was pragtig en omdat die roete glad nie tegnies was nie, kon ons die omgewing regtig waardeer.  Indien ons weer sal terugkom om hierdie wedren te ry, sal die skoonheid en SKOON-HEID (daar lê niks rommel en lug is skoon) die hoofredes wees.




Ons het aan die voet van Oubergpas besef dat ons dalk die sonsondergang van daar bo gaan kan beskou.  Ons het ook vir Saretha by die vorige waterpunt ingelig dat ons vir 12 ure mik, wat sou beteken dat ons 19h00 in Sutherland behoort te wees.  Oubergpas is moeilik, maar beslis nie die einde van die wêreld.  Ons was rustig daarop, maar het nie piekniek gehou nie.  17h00 was ons bo.  198 km was agter die rug en die einde was in sig.  Vinnig bottels volmaak, ietsie eet, warm klere aantrek en ons was weer op die pad.  Ek weet nie of ek die woord op so 'n openbare platvorm mag gebruik nie, maar hier kon ek agterkom dat Hildegarde begin GATVOL raak.  Ons was so net oor die 10 ure op die pad en wou net klaarkry.  Daar was nog een of twee klimme oor en die beentjies kon dit begin voel.  Ons het die laaste 40 min ons ligte nodig gehad en het om 19h17 Sutherland bereik.  Ons totale tyd vir die Transkaroo was 12 uur 17 min.  Die organiseerders het ons ingelig dat ons die eerste gemengde span was en die volgende oggend by die prysuitdeling moet teenwoordig wees.  Saretha, Makkie en die kinders was daar en ons was baie verlig en trots!



Die pragtige Oubergpas
Ons het al die ander Malmebury ryers ingewag.  Sutherland was koud en daar het baie vure gebrand.  Ons is bederf met lekker lamspot.  Die ander ryers het in groepe van 2 begin klaarmaak.  Hulle was Johann Loubser en Elischia Drotschie 14 uur 20 min, Kobus Drotschie en Jaen Fouche 14 uur 26 min, Lood Fouche en Manus Bester 15 uur 8 min en Madeleen Kotze 15 uur 27 min.  Die "spangees" onder mekaar was fantasties en ons was trots om die ervaring met hierdie mense te kon deel.  Ek, Hildegarde, Lood, Saretha en die kinders moes nog terug na ons verblyf wat ongeveer 30 km buite Sutherland op ons geliefde Blesfontein was.  'n Baie lang dag met 'n baie mooi einde....


Heerlike ontbyt is bedien by Jupiter Lounge waar die eindstreep en die prysuitdeling sou plaasvind.  Toesprake is gemaak en die aankondiger het al die kategorie wenners gevra om na die tyd 'n onderhoud vir die TV te doen.  Ons is op die verhoog geroep onder groot toejuiging van ons mede Swartlanders.  Dit het dit baie spesiaal gemaak en ons het dit verskriklik waardeer dat almal die oggend daar was.  Aan die regterkant van hierdie paragraaf is die foto van die trofee wat elkeen ontvang het.  1ste prys was 'n volledige fiets, terwyl 2de en 3de elk net 'n voorwiel gekry het, baie oorspronklik!  Ons moet ook bieg, die een bottel vonkelwyn is reeds iets van die verlede.

 Die prysuitdeling is gevolg deur die onderhoude.  Vrae het meestal gehandel oor die afstand en lengte van die resies, asook die pragtige natuur ens.



Ons is na afloop van die oggend se verrigtinge weer terug na Blesfontein waar almal 'n redelike lang siesta gehad het en die aand afgesluit met 'n heerlike Noord-Kaap braai en sonsondergang.


 'n Onvergeetlike naweek en goeie lafenis vir die siel.  Blesfontein is vir ons 'n moet elke jaar en ons sal met hierdie tradisie (om daar te gaan kuier, nie noodwendig Transkaroo ry) voortgaan so lank as moontlik.

Ons hou onsself maar steeds besig met oefen, daar is lekker paar wedrenne in ons area in Mei maand waaraan ons sal deelneem.

Cheers vir nou,
JG

08 April 2014

ABSA Cape Epic 2014

Ek sit en skryf nou hier, presies 'n week na die ABSA Cape Epic van 2014.  Ons het ongelooflik baie tyd en energie in dit ingesit en dit voel asof iemand die ligte afgeskakel het.  Dis oor en verby en 'n mens wonder of jy as amateur weer in jou lewe so hard sal werk om 'n doelwit te bereik.  Ek is baie gevra oor hoogtepunte en laagtepunte van die week.  Ek gaan so bes moontlik 'n opsomming van die hele wedren gee en so bietjie wat agter die skerms by ons gebeur het.

Prologue - Meerendal (23 km met 700 m klim)

Alles is reg, die fietse is gediens, ons voel goed en het vir 9 maande voorberei aan hierdie geleentheid wat hom nou uiteindelik kom voordoen het.  Daar is baie emosies wat deur ons gaan.  Opgewondenheid, senuwees en dan natuurlik al die adrenalien.  Die belangrikste op hierdie dag is om in een stuk klaar te maak.  Nie te haastig te begin en onnodige foute maak wat op die einde die einde van jou hele droom kan beteken nie.  Familie en vriende was in groot getalle daar om ons te ondersteun en jy het tussen jou eie mense soos 'n "celebrity" gevoel!  Ons het in ons "limited edition" hemde gery ten bate van bewusmaking van Sistiese Fibrose.  Ons grootste vrees was om by die trappe van die Manor House af te ry.  Die oggend toe ons daar aankom, sien ons daar is nog 'n kinkel in die kabel.  Daar het plastieksakke vol druiwe gelê op die stuk gras net na die trappe.  Ons moes van die trappe bo-oor die druiwe ry.  Hulle maak dan 'n spesiale wyn van die druiwe waaroor ons gery het.  Teen die tyd wat ons moes wegspring (08h48) was ons redelik kalm en baie lus om te begin.  Ons het goed begin, deur die huis, trappe af, oor die druiwe en toe veilig op die pad sonder probleme.  Dankie tog, die ergste deel van die roete was verby.  Ons het baie verkeer op die pad gekry, maar steeds klaargemaak in 1 uur 33 min.  Ons mikpunt was 1 uur 30 min, maar ons was tevrede.  Hierdie was dan ook die grondslag vir ons week, want ons het gesien ons is die 20ste "Mixed Team" en het besef dat ons dalk in die top 20 van die gemengde pare kan eindig as ons konstant is.

Foto's van Prologue in Sistiese Fibrose klere

Stage 1 - Robertson tot Robertson (113 km met 2 950 m klim)

Ons eerste "race village" was by Arabella Wines in Robertson.  Ons het nie in die "race village" geslaap nie, maar meeste van die goed daar gedoen.  Ons het soggens voor wegspring daar ontbyt genuttig en een of twee aande daar gaan eet.  Jou wegspring tyd word bepaal op jou GC (General Classification).  Hoe beter jou klassifikasie is, hoe vroeër is jou wegspring die volgende oggend.  Die eerste ryers spring 07:00 weg en vandaar volg die res in groepe 10 min uit mekaar uit.  Stage 1 was 'n harde dag (soos op elke Epic!).  Die organiseerders WIL jou seermaak en kyk of jy mans genoeg is om Stage 2 weer by die wegspring te wees.  Die oggend was effens mistig en koel, maar eintlik baie aangename weer vir fietsry.  Ons was lekker vars en reg vir die aksie.  Die klimme het gewag en ons voorbereiding moes ons nou deurtrek.  Die eerste 30 km was relatief plat en vinnig.  Ons is deur wingerde met baie volstruisdorings en die wiele het baie gespuit (seëlmiddel wat die gatjies moet toemaak).  Ons het die eerste klimme bereik sonder probleme.  Van hier het ons die grootste deel van die dag in die koppe by Robertson gery.  Die mis was dik daar hoog bo en daar was baie gevaarlike en vinnige afdraendes.  Hildegarde het almal gery en hoef nêrens af te geklim het nie.  Afdraendes was haar grootste vrees voor die Epic en ek kan met trots sê dat sy haar vrese oorkom het.  Sy het dit soos 'n professionele ryer hanteer.  Dit was 'n harde dag, maar ons het dit suksesvol klaargemaak in 6 uur 46 min.  Ons was die 15de "Mixed Team" vir die dag en die 218de span vir die dag.  Ons baie klim oefening het beslis ingeskop!  Dit het ons testaan gebring op 15de van die gemengde spanne en 234ste vir die wedren se totale tyd....Skielik het ons geweet dat ons nie meer hier was om net klaar te maak nie, ons kan hier dalk iets bereik as alles hou!

Stage 2 - Robertson tot Robertson (103 km met 1 550 m klim)

Ons het reeds deur die nag gehoor daar kom moeilikheid.  Dit het katte en honde gereën.  Ons is nie bang om nat te word nie, maar modder en fietse gaan beslis nie saam nie.  Ons is begroet met 'n modder massa by die wegspring en geweet vandag gaan 'n lang dag wees.  Dit was veronderstel om 'n "rusdag" te wees in Epic terme, maar die natuur het anders besluit.  Ons het versigtig gery op die gladde paaie en die fietse so goed moontlik probeer oppas.  My ouers sou met die kinders by waterpunt 2 in McGregor vir ons inwag.  Ongeveer 10 km voor McGregor het ons deur taai modder / klei gery en die fietse se "drivetrains" was heeltemal toegepak.  'n Rivier moes eers gebruik word om alles af te was voor ons verder kon ry.  Ons is deur McGregor en kon ons ondersteuners sien!  Dit het ons nuwe energie gegee om die eindstreep te haal.  Ons was deurtrek met die modder.  Dit was op plekke waar ons nie eens geweet het modder kan in nie, maar ons het klaargemaak in 6 uur 18 min.  Ons was die 14de "Mixed Team" vir die dag en 229ste algeheel.  Dit het ons gehou by totale posisie van 15de in die gemengde afdeling en laat afskuif na 226ste vir die totale wedren.  Gelukkig was my ouers daar om te help met die klere was.  Dit was 'n enorme gemors en ons moes hard spook om dit alles skoon te kry.  Nuwe briekblokke moes installeer word na hierdie rowwe dag.

Die modderdag - Stage 2
Stage 3 - Robertson tot Greyton (134 km met 1 900 m klim)

Ons het ons laaste aand in Robertson deurgebring en was vandag oppad na The Oaks Estate in Greyton.  Die langste dag van Epic 2014.  Ons het geweet Stage 3 gaan moeilik wees.  Jou liggaam is nog nie gewoond aan die roetine van 'n Ultra Marathon elke dag nie.  Jou bene en lyf is moeg en jy voel pap.  Ons het geweet ons moes net deurdruk, Stage 4 sal makliker gaan as die liggaam se nuwe roetiene inskop.  Stage 3 was baie plat stukke distrikspaaie.  Groot gedeeltes is soos 'n padwedren hanteer waar jy in bondels ry.  Die eerste 20 km kon Hildegarde eenvoudig net nie by een bondel bly nie.  Sy het die heeltyd vir my gesê sy trap swaar.  Ons het toe besluit om te stop en kyk wat fout is.  Haar nuwe remblokkies het teen die "rotor" geskaaf wat haar weerstand gebied het.  Ek het dit reggemaak en dit het beslis baie makliker gegaan vandaar.  Dit was 'n uiters lang en sieldodende dag met meeste van die gedeeltes die wind van voor.  Ons was baie verbaas om by die laaste waterpunt weer my ouers en die kinders te sien.  Hulle het besluit om weer vir ons te kyk en weereens het dit veroorsaak dat ons 'n ekstra bietjie energie kry om die eindstreep te haal.  'n Lang dag het in Greyton tot 'n einde gekom na 7 uur 39 min.  Ons het gedink ons gaan redelik plekke verloor aangesien ons heeldag nie so sterk gevoel het soos die vorige paar dae nie.  Tot ons verbasing het ons 19de van die "Mixed Teams" en 333ste algeheel vir die dag geëindig.  Dit het ons totale posisie soos volg laat lyk - steeds 15de gemengde span en 262ste algeheel.  Ons kon die kinders lekker druk en aangaan met ons Epic roetine.  
Ons was 3 spanne wat vir Eddie du Toit van RE-CON gebruik het vir ons masserings.  Hy het hulp gehad van Pallo Manuel om ons so spoedig op die regte plekke te kry.  Na afloop van 'n dag sal Eddie die eerste groep dadelik huistoe neem en so gou moontlik begin met die masserings.  Gewoonlik teen die tyd wat hy met die eerste span klaar is, was die ander span reg vir hulle sessie.  Dit het baie goed gewerk en het vir ons as deelnemers die lewe baie makliker gemaak.
Ons aankoms in Greyton na Stage 3
Stage 4 - Greyton tot Greyton (88 km met 1 850 m klim)

Weereens 'n lekker mistige oggend, maar perfekte bergfietsry toestande.  Ons het 'n goeie nagrus gehad en het baie goed gevoel.  Dit het reflekteer in die fietsry met die wegspring.  Ons was sterk vandag en ons het 'n punt gehad om aan onsself te bewys.  Daar was een of twee van die ander gemengde spanne wat ons vandag wou wen.  Ons het lekker gery en redelik tyd opgemaak, maar na sowat 15 km het my fiets snaakse geluide begin maak.  Iets was ernstig fout.  Op ongeveer 20 km kon ek nie meer die geraas verduur nie en het gestop, my agterwiel gewikkel en besef my "bearings" het opgepak.  Ek kon deur nou te begin stap ernstige skade en kostes vermy, maar dit sou baie langer vat.  Ek moes by waterpunt 1 kom waar die "Techzone" was sodat hulle na my wiel kan kyk.  Dit was nog 9 km.  Hildegarde het so 'n klein valletjie die oggend gehad en ons het hier tot 'n skop agtergekom dat haar "handlebar" gebreek is, presies waar sy dit vashou.  Na die volgende 8 km het my wiel "gecease".  Hy wou glad nie meer draai.  Ek het die laaste km tot by die waterpunt gehardloop en my fiets gedra en gesien hoe ons grootste kompetisie verby ons gaan....

Die stukkende wiel...
Hildegarde se hart was gebroke.  Ek het om hulp gesmeek by die "Techzone".  Hulle het my meegedeel dat ek redelik ernstige skade veroorsaak het en hulle niks vir my kan doen nie.  Ons het toe besluit om nuwe wiele te koop, asook 'n 10-spoed cazette.  Dit op my fiets te bou en te hoop dat ons sou kon aanry.  Dit het so 35 min geduur.  Ons het besef dat daar nog ekstra "spasers" kort en hulle moes "race village" toe bel en die persoon moes dit met 'n motorfiets na ons bring.  Na 1 uur 5 min was ons weer op die pad.  Hildegarde het in die tyd wat ons gewag het op 'n stadium gewonder of sy nie maar alleen moet aanry nie.  Die Epic is egter baie streng wat dit aanbetref.  Indien jy en jou rymaat enige tyd verder as 2 min uitmekaar is, sal jy met 'n uur gepenaliseer word.
  
Met ons aankoms by die waterpunt was ons ongeveer 250 ste, met ons vertrek het die aankonidger gesê dat daar nou 1 100 ryers duur die waterpunt was.  Dit het beteken dat ons ongeveer 550ste was!  Ons moes deur die hele veld terugry en daar was bitter baie "singletrack" op hierdie dag.  My nuwe wiele was egter nie "tubeless" en op 58 km het ek 'n pap wiel gehad.  Hildegarde het nie besef ek het probleme en sy het aangery.  Ek moes wiel regmaak en nadat die nuwe binneband in was wou hy ook nie styf!  Ek het die klim uitgehardloop en hopelik kon ek vir Hildegarde sien.  Sy was nêrens in sig en het al die ander "tools" gehad.  Ek het aanhou hardloop met my fiets tot iemand my uiteindelik gehelp het met 'n ander binneband.  Met die laaste pomp het Hildegarde van voor gekom en ons kon net lag vir wat nou nog kon verkeerd gaan.  Ons het besluit om net te probeer klaarmaak.  Ons het ongeveer 1 uur 45 min verloor op hierdie dag, so ons was glad nie meer optimisties oor posisies nie.  Die nuwe mikpunt was om die Epic te voltooi!  Ons het uiteindelik klaargemaak in die 53ste posisie van die "Mixed Teams" en 529ste vir die dag.  Ons was baie verbaas om te sien dat ons algeheel steeds 20ste van die gemengde spanne was en afgeskuif het na 321ste vir ons totale tyd.  Daar was steeds lig aan die einde van die tonnel!  Ons fietse is ingegee vir 'n deeglike / duur diens en ons was die laaste span wat op hierdie dag masseer sou word.  Lang, deurmekaar dag.

Begin van die nagmerrie - Die "smiles het egter nooit verdwyn!
Stage 5 - Greyton tot Elgin (115 km met 2 950 m klim)

Hierdie was die monster stage.  Baie spanne het hulself deur die hele Epic gespaar vir hierdie dag.  Ons het egter elke dag gery soos wat ons op daardie spesifieke dag gevoel het.  Die nagmerrie van die vorige dag het ons ook weereens laat besef hoe bevoorreg ons is om steeds deel van die Epic te wees en dat daar dalk geen môre is nie.  Jy moet elke dag alles tot die beste van jou vermoë doen.  Die Epic is voorwaar baie soos die lewe (sal later in my opsomming weer hierna verwys).  Ons het sommer van die staanspoor saam met lekker groepe gery en geweet dat indien ons die eindstreep gaan haal, die kinders saam met Lood en Saretha daar vir ons gaan wag.  Ons hou van klim, maar selfs ons was redelik moeg van al die klimme op hierdie dag.  Dit was bitter warm op die bo-punt van "Rusty Gate", die langste klim van die dag, maar ons het 'n paar gemengde spanne in die oog gehad wat ons moes verbygaan en ons het ons alles gegee.  Uiteindelik was Oak Valley in sig.  Ons het geëindig in 7 uur 35 min - 14de van die "Mixed Teams" en 242ste algeheel vir die dag.  Ons het opgeskuif na algheel 16de van die gemengde pare en 297ste met ons totale tyd.  Ons was besig om onsself terug te werk...


Stage 6 - Elgin tot Elgin (85 km met 1 800 m klim)

Ons nuwe "Race Village was by Oak Valley.  Ek en Lood het verlede jaar saam W2W gery en ken die plek goed.  Hierdie is beskou as die speeldag van die Epic.  'n Beloning vir die vorige dag se harde werk.  Vir Hildegarde was dit 'n dag waarna sy glad nie uitgesien het nie.  Enkelspoor paadjies is nou nie iets wat sy as lekker beskou nie, maar ek dink sy het tot haarself hierdie dag verbaas.  Sy het voluit in dit ingegaan en haar uitstekend van haar taak gekwyt.  Dit was 'n heerlike sonnige dag en ons het goed gery.  Hildegarde se knie was besig om redelik ernstig inflamasie te kry en Eddie moes dit reeds die vorige dag "strap".  Die pyn was besig om al erger te raak en ons wou so gou moontlik klaarmaak.  3 km voor die einde het Hildegarde 'n harde val gehad en dit nog op die knie ook!  Ons het klaargemaak in 5 uur 33 min - 13de van die "Mixed" en 255ste vir die dag.  Ons algehele posisie was nou weer 15de van die gemengde spanne en 287ste algeheel.  Ons moes die laaste dag net konstant ry om ons posisie te verdedig.  Ons was reeds baie tevrede met wat ons bereik het en kon dit eintlik steeds nie glo nie.  Vriende van ons Pierre en Caroll Rossouw het ons kom ontvang by die eindstreep en 'n luilekker middag saam met ons spandeer.


Stage 7 - Elgin tot Lourensford (67 km met 1 800 m klim)

Iets ernstigs moet gebeur wat sal veroorsaak dat die posisies vreeslik verander.  Die Epic is egter nie verby totdat jy oor die finale eindstreep is nie.  'n Harde oggend het vir ons voorgelê en toe dit met die wegspring reën was dit net nog harder.  Ons moes die meeste van die klimwerk oor die eerste 35 km doen.  Bene is koud, moeg en vol melksuur.  Dit voel asof jy die eerste halfuur van die dag sonder jou bene ry.  Hulle voel swaar, maar na die uitgerekte opwarming gaan dit darem beter.  Ons wou klaarkry en het weereens nie op ons laat wag nie.  Die spanne wat voor ons op die algehele klassifikasie was, was feitlik onmoontlik om verby te gaan, maar ons kon hulle ten minste op die dag probeer wen.  Ons het alles gegee op die klimme en toe ons twee van die top gemengde spanne teen die pad verbygaan (hulle meganiese probleme) het ons begin droom van 'n plek in die top 10 vir gemengde pare vir die dag.  Hildegarde se knie was swaar verbind en toe ons die ou wapad bereik wat 'n verpligte loop deel van ongeveer 1.2 km was, het Hildegarde regtig gesukkel.  Die rowwe terrein, gladde klippe en afdraend het haar knie glad nie goed gedoen nie.  Die son het egter uitgekom en die einde was in sig.  Ons het mekaar bly motiveer oor die laaste paar km's en die pylvlak binne gery en die atmosfeer beleef.  Wat 'n enorme voorreg!  Ons het geëinding in 4 uur 32 min - 11de in die "mixed" en 221ste vir die dag.  Ons was algeheel die 15de gemengde span en 275ste uit 620 spanne in 2014 se Epic.  Ons was ook die 1ste getroude paartjie oor die eindstreep.  Die Epic waarvoor ons so hard gewerk het, was in die sakkie!
Die Grand Finale te Lourensford
Die Epic was vir ons 'n onvergeetlike ervaring.  Dit het 'n totaal van 47 uur 30 min oor 8 dae vir ons geneem om te voltooi.  Dit het bestaan uit 718 km en 15 000 m se klim.  Ons sou nooit in ons lewens kon droom dat ons 15de uit 73 gemengde spanne sou eindig nie.  Ons kon al ons doelwitte bereik waarvoor ons so hard gewerk het.  Hierdie reis is nie moontlik sonder baie goeie ondersteuning en mense wat in jou glo nie.  Daarvan het ons te veel gehad om op te noem.  Wat egter baie belangrik is met so iets, is die geloof in jouself en jou spanmaat.  Sonder mekaar is daar niks.  Ek was baie bevoorreg om hierdie projek saam met my "bruid" te kon aanpak.  Ek het 'n nuutgevonde respek vir haar en haar innerlike krag.  Ek loop oor van trots vir wat sy bereik het in die laaste jaar.  Ek het vroeër verwys na die Epic as 'n simbool van die lewe.  Net soos die Epic baie hoogtepunte en laagtepunte het, is die lewe ook.  Die manier om dit te hanteer is wat jou 'n beter mens maak.  Ek het met die Epic meer bereik as net nog iets wat om my "bucketlist" was wat ek kon afmerk.  Ek het as mens gegroei in my benadering tot moeilike situasies.  Ons (Team Nexus) is almal ewig dankbaar vir alles wat julle vir ons gedoen het die afgelope klomp maande.  Ons borge wat in ons geglo het en ons heelpad ondersteun het, baie dankie.

Dit is beslis nie die einde van die pad vir my en Hildegarde nie.  Ons volgende wedren is die Transkaroo op 26 April 2014 van Ceres na Sutherland waar ons ook as 'n gemengde span (Team Nexus) sal deelneem.  Ons hou julle op hoogte!

Groete tot later,
JG

19 Maart 2014

Cape Argus Pick 'n Pay Momentum Cycle Tour 2014

Ons laaste groot dinge voor die ABSA Cape Epic 2014 is iets van die verlede.  Ek was bietjie stiller die afgelope paar weke, daar was maar baie dinge om aan aandag te gee.  Ons het vir een van ons getroue borge - Bartholomeusklip Gastehuis 'n fotosessie gedoen vir hul webwerf, asook die Cape Argus Pick 'n Pay Momentum Cycle Tour 2014 gedoen.

Op 'n pragtige Saterdagoggend het ek en Hildegarde met blink fietse na Bartholomeusklip vertrek.  Mike en Mariëtte het ons ingewag en ons het dadelik vertrek na die spesifieke plek wat sy vir ons sessie uitgesoek het terwyl die lig nog reg was.  Hulle het ons deur die Elandsberg Natuur Reservaat geneem na die perfekte plek.  Ons het verskeie foto's van ons op ons fietse met die pragtige natuurskoon in die agtergrond geneem.  Dit was 'n heerlike ondervinding en iets heel anders as ons normale Saterdag oefensessie!  Sien onderstaande 'n paar foto's van die oggend.






Ons het op Sondag, 9 Maart 2014 as "Team Nexus" aan die Cape Argus Pick 'n Pay Momentum Cycle Tour 2014 deelgeneem.  Ons het dit beskou as ons laaste groot voorbereiding vir Epic 2014.  Die doel van die oggend was om as span saam te ry, asook om nie te val nie!  Die wind het baie sterk gewaai deur die nag en ons het geweet die dag sou nie veel makliker gaan nie.  Ek het saam met Hildegarde om 06:50 in groep M weggespring.  Ons was so net na 06:00 reeds in die "shoot".  Dit was bitter koud!  Hildegarde het 'n swartsak aangetrek om warm te bly - dit werk baie goed!  Die skoot het geklap en ons was weg.  Skielik was die wind vergete.  Ek het sterk gevoel en het meestal voor in die groep gery met Hildegarde kort op my hakke.  Die ooreenkoms was dat indien ons mekaar tussen die hordes mense sou verloor, elkeen so hard as moontlik eindstreep toe moet ry.  Die span se mikpunt was om ten minste onder 3 uur 30 min klaar te maak.  By Smitswinkel het ons mekaar teen 'n klim verloor. Hildegarde was heel regs en ek heel links.  Twee groepe het een geword en ons kon mekaar nie kry nie.  Ek was onder die indruk dat sy agter my was, sy het weer gedink ek is ver voor en het die spoed bietjie opgestoot, ek het vir haar gewag.  Later besef ek sy moet voor wees en het gejaag om haar te kry.  Net voor Chapman's Peak kry ek haar!  Ons het lekker verder gery en uiteindelik in 3 uur 26 min klaargemaak sonder enige valle - "mission accomplished".

Team Nexus

Ons gaan aan vanjaar se Cape Epic deelneem ten bate van Sistiese Fibrose.  Ons sal met hierdie hemde in die boonste foto die Proloog en laaste dag ry.  Kyk asb uit vir ons!  Jy kan 'n bydrae maak deur R1 per meter wat ons klim te help borg.  Ons gaan so amper 15 000 m klim gedurende die Epic.  Enige bydraes kan direk oorbetaal word aan die Cape Cystic Fibrosis Association.

Cape Cystic Fibrosis Association
First National Bank
Table View Bank
Branch Code:  203 809
Acc no:  600-2120-3588
Ref:  Nexus Epic

Indien jy ons vordering wil volg, stuur asb. vir ons 'n epos na jacogeldenhuys@icloud.com.  Ek sal dan jou epos adres op ons "Buddy List" plaas.  Die Epic stuur daagliks inligting oor hoe dit met ons gegaan het.  Om meer direk op hoogte te bly, volg ons op Twitter of Facebook!  Die blog sal bietjie stil wees tot ons klaar is....

Kontakbesonderhede:

Twitter:  @Jaco_Geldenhuys
Facebook:  Soek vir Hildegarde Hoctor Geldenhuys
E-pos:  jacogeldenhuys@icloud.com

Baie dankie vir almal se wonderlike ondersteuning en belangstelling die afgelope tyd, ons waardeer dit opreg.  Dit is lekker om te kan weet dat die doel van ons projek na mense deurdring en ons die verskil kan sien wat ons wedersyds in mekaar se lewens maak.

Groete tot later,
JG

10 Februarie 2014

Sistiese Fibrose Vrouedag 2014

Al wat ek kan sê is WOW!  As ons op 30 Maart 2014 die helfte van die bevrediging het wat ons na afloop van die afgelope Saterdag se Vrouedag ten bate van Sistiese Fibrose het, het ons ‘n fantastiese Epic gehad.  Verlede week was absoluut chaos met al die reëlings vir twee funksies wat ek moes reël.  Die eerste een het Woensdag aand plaasgevind en was ‘n Bayer / Nexus aand met ‘n rapsie oor die 100 produsente teenwoordig.  Ons het ‘n bietjie vorentoe gekyk na wat die jaar in die graanbedryf kan oplewer, asook ‘n uitstekende praatjie van Prof Ettienne Kok oor “mens health” gehad.  O'kasi Spyseniering met Benita Bester aan die stuur het vir die ete gesorg en die komplemente stroom steeds in.  Ek sal later in die blog weer daarna verwys, maar dit help regtig as jy met mense saamwerk wat weet wat hulle doen, dit haal ‘n enorme hoeveelheid druk van jou as organiseerder af.

Die hoogtepunt van my en Hildegarde en ek hoop ook almal wat die oggend bygewoon het, se week was egter die Vrouedag te Delsma Farm ten bate van Sistiese Fibrose.  Ek was nou wel die ou wat die dag gereël het, maar blikskottel, dit het selfs my stoutste verwagtinge oortref.  Ek het altyd geweet dit sou ‘n lekker dag wees as alles saamwerk, maar ek het nooit kon dink dat dit so geslaagd sou wees nie.  Ek is maar van nature redelik skaam teenoor die skoner geslag, so vir my was dit nogal rof om een van 5 mans tussen 200 dames te wees!  Hier wil ek dit beklemtoon aan enigeen wat ooit so ‘n tipe funksie wil reël, werk met profesionele mense en jou werk is beslis die helfte ligter.  



Ek het vandat ons die Epic inskrywing gekry het die idee van ‘n Vrouedag gehad.  Ek het net nie op daardie stadium geweet ten bate waarvan ons dit sou doen nie.  Hildegarde was van die begin af aan boord met die gedagte.  Ek dink nie ek het al voorheen presies gesê waarom ons juis Sistiese Fibrose gekies het as ons organisasie nie.  Ek dien op Malmesbury Fietsryklub (Voorsitter), Malmesbury Wingerdstudiegroep (Sekretaris) en Hermon Landbouvereniging (Sekretaris).  In die gevalle waar ek sekretaris is, werk jy baie nou met jou voorsitter.  In Oktober 2013 moes ons totsiens se aan ons Malmesbury Wingerdstudiegroep voorsitter, wyle Bennie Lambrechts (Bennie Punte).  Dit was ‘n tragiese ondervinding vir ieder en elk, maar vir my het dit op ‘n ander vlak geraak.  Ek het besef dat ek in situasies geplaas word waar ek nou saam met mense werk, met wie ek nie noodwendig sou saamwerk as ons nie op die komitee saam gedien het nie.  Ek het in hierdie proses redelik “close” geraak met meeste van my vorige voorsitters.  Hulle het my beter leer ken en ek verseker vir hulle ook.  Dit bring my by die rede hoekom ons Sistiese Fibrose gekies het.  My huidige voorsitter by Hermon Landbouvereniging lei aan Sistiese Fibrose.  Hy het my eenmaal op ‘n gholfdag ten bate van die siekte laat saamspeel en ek het daardie tyd alreeds die nood gesien.  Die Epic en die hele reis het egter my oogklappe laat afgaan om te sien dat ons as “Team Nexus” ‘n verskil in iemand se lewe kan maak deur die positiewe energie vir ‘n goeie saak aan te wend.  Die ander hoofrede was natuurlik die feit dat 75% van diagnosisse van die siekte gedoen word op kinders onder die ouderdom van 2 jaar.  Ons kinders is onderskeidelik 3 en 5 jaar en ons kan net elke dag dankbaar wees dat hulle blakend gesond is, almal is nie so gelukkig nie.

Nou goed, lang storie om uiteindelik by die detail oor ‘n baie lekker Vrouedag uit te kom.  Die kaartjies is aan verskillende gasvroue uitgegee en elkeen moes ‘n tafel probeer volmaak.  Februarie is egter nie ‘n maklike maand wat kinders se sport ens. aanbetref nie, maar wanneer is nou eintlik deesdae ‘n goeie tyd vir iets?  Ons het reggemaak vir 220 dames.  Elkeen het ‘n “goodie bag” op sy stoel gekry met aankoms.  Die span by Delsma het absoluut uit hul pad gegaan om dit die beste Vrouedag ooit te maak.  Die kos en diens was puik.  Wicus van der Merwe was ons seremoniemeester en hy het dit met die “flair” gedoen wat slegs hy kan.  My persoonlike opinie is  dat die sukses van die dag grootliks toe te skryf was aan die manier hoe hy die dames op hul gemak geplaas en meeste van die tyd laat skater het.  Niks met Wicus is egter normaal nie en vir hom om ons funksie op Hermon, wat 30 km van sy huis, is te kon doen moes hy eers Donderdag aand in Buffelsfontein (êrens in die Noorde van die land) en Vrydag aand in George optree – waarna hy dieselfde aand terug na Malmesbury gery het (03:00 by huis gekom) en toe kraakvars vir ons funksie die volgende oggend was!  RESPEK Wicus, jy is super professioneel en ‘n plesier om mee saam te werk.  Dit was natuurlik nie sy laaste optrede van die naweek nie en hulle moes nog dieselfde aand in Robertson ook ‘n funksie doen.


Die volgende sleutelpersoon van ons oggend was ons gasspreker.  Mnr. Peter Leid is ‘n Sistiese Fibrose leier wat ‘n dubbele longoorplanting gehad het.  ‘n Merkwaardige praatjie met uitstekende foto’s wat meeste van ons presies gewys het hoe nodig bewusmaking en fondse vir hierdie siekte is.  Ons het verseker geslaag in ons doel om persone wat nog nooit van die siekte gehoor het nie, bewus te maak daarvan en ek dink vir baie van hulle, geintreseerd ook.  Die ander saak wat hy aangeraak het, en dit sal dalk deel uitmaak van ‘n volgende projek vir my en Hildegarde, is die belangrikheid van orgaan skenking.  As dit nie vir iemand anders was, wat tragies oorlede is nie, het Peter nie vandag gelewe nie.  Die spesifieke skenker het op die dag van haar afsterwing die lewens van 6 ander mense gered deur ‘n geregistreerde orgaanskenker te wees.  Peter het kans gegee vir vrae en die dames het hul antwoorde en ekstra inligting gekry.

Na Peter se praatjie wat genoeg stof tot nadenke gelaat het, moes ons die gemoedere ‘n bietjie ligter maak en Andriette Norman het op die verhoog verskyn met haar kitaarspeler Sven Blumer.  Mense, ek het geweet sy kan sing, maar ons het nooit geweet dat sy SO goed is nie!  Sy laat die gehoor spesiaal voel, sy praat met hulle asof sy hulle jare al ken, sy deel dinge van haar eie lewe en deur dit alles sien mens net hoe “nice” sy is.  Andriette, julle het gekook!  Julle vertoning was tops en al ons verwagtinge is oortref.  Andriette het uit haar eie 2 CD’s geskenk om ook opgeveil te word ten bate van Sistiese Fibrose.  Die 2 CD’s is onderskeidelik vir R540 en R1 400 verkoop!  Hoe’s daai vir ‘n advertensie vir die vrou se gehalte?  Andriette, Sven en Alice – julle is “great” mense en het ons almal se dag gemaak.


Wicus het voortdurend gelukkige trekkings gehou met sy kwinkslae tussenin.  Daar was sonbrille, geskenkbewyse, eiers, geskenkpakke en vele meer wat uitgedeel is.  Hierdie pryse, asook die pryse in die “goodie bag” is alles aan ons geskenk deur instansies in ons streek.  Die lys is aangeheg in die blog.  Hierdie organisasies het hul harte en beursies oopgemaak om die dag ‘n sukses te maak.  Ons het op die oggend ook ‘n paar lootjies verkoop.  Die prys was ‘n skaap.  Ons het ‘n verdere R3 000 met die lootjies ingesamel!  Ek het heeltyd ‘n bedrag in my kop gehad wat ek wou oorhandig aan die Cape Cystic Fibrosis Association.  In die week in opbou na die Vrouedag het ons ‘n enorme tjek laat druk met ‘n bedrag op.  Ek het geweet dat daar nog baie water in die see moet loop voor ons heeltemal by daardie bedrag sou kon uitkom, maar het geweet dinge sal uitwerk.  Die ekstra gelde wat ons met die CD’s en die lootjie ingesamel het, maak die bedrag wat op die tjek staan – R25 000 ‘n realiteit.  Hierdie gelde word aangewend om die masjiene te koop wat die Sistiese Fibrose leiers daagliks moet gebruik.  Een masjien kos in die omgewing van R2 000, so ons help met 12 en ‘n half masjiene!

Daar is geen manier wat jy so iets kan aanpak sonder ‘n sterk span nie, ons het so ‘n span.  Ek gaan niemand hier uitsonder nie, maar julle weet wie julle is en daarvoor bedank ons en Cape Cystic Fibrosis Association julle opreg.  Dankie ook aan Talitha Lambrechts en Saretha Fouche vir die pragtige foto's.  Ons klere is in die proses om gemaak te word, waarmee ons op die eerste en laaste dag van vanjaar se Epic ten bate van Sistiese Fibrose gaan ry.  Ons is ambasadeurs vir die organisasie en wil nog ‘n klomp masjiene help koop.  Jy kan enige tyd ‘n verdere bydrae maak deur deel te neem aan my en Hildegarde se “We Ride To Breathe” projek.  Die Epic bestaan uit 718 km en 15 000 m vertikale klim.  Ek en Hildegarde verkies altwee om eerder bult op as bult af te ry (ons maar lekker bang vir vinnige afdraende), so ons wil graag die meters wat ons klim in die Epic vir Sistiese Fibrose klim.  Borg ‘n meter vir ‘n rand en ons kan ‘n verdere R15 000 aan Cape Cystic Fibrosis Association oorhandig.  Kontak my gerus hieroor.



Verlede week was ‘n swak week van oefen met al die funksies, maar die gevoel wat ek het soos wat ek hier sit en tik, is een van dankbaarheid en ek weet met hierdie mense rondom my kan dit net goed gaan met ons voorbereiding en pad vorentoe.

Lekker week vir almal en hou die gedagtes positief!

Cheers,

JG