27 September 2013

Karoo to Coast 2013

Ons opset by Hartenbos ATKV 
Die afgelope naweek was een van die lang afgewagte geleenthede van ons jaar, ons eerste Karoo to Coast van Uniondale na Knysna.  Ons het lank gewik en weeg of ons moet voortgaan om deel te neem aan die wedren, dis 'n logistieke nagmerrie en die feit dat ek en Hildegarde beide deelneem maak dit net nog ingewikkelder.  Ons het plek bespreek in Hartenbos by die ATKV oord en my ouers gevra om saam te gaan.  Hierdie was ook die eerste amptelike wedren vir ons Epic voorbereiding.  Ek wil vir al ons borge wat tot op hede na die tafel gekom het, baie dankie sê vir die ondersteuning.  Almal se inligting verskyn aan die regterkant van die blog!

Die naweek program sou dan as volg lyk:
Nuwe borge baadjie!


Die manne braai
Vrydagaand, 20 September 2013 - Slaan kamp op in Hartenbos en slaap die aand daar.
Saterdagaand, 21 September 2013 - Pa Kobus neem ons deur na Uniondale en ek en Hildegarde slaap in tente op die Hoërskool se rugbyveld.  Sondag, 22 September 2013 - Ry Karoo to Coast van Uniondale na Knysna en hele gesin kom haal ons in Knysna en slaap weer in Hartenbos.  Kamp vandaar in Hartenbos!

Hilge en Ghia
Redelike deurmekaarspul, maar soos julle kan sien, die ondersteuningsraamwerk was weer almal teenwoordig!  Om alles te kroon, was ons bure - Ivan, Ankea en Ghia Louw - ook in Hartenbos.  Hulle is saam met my ouers en Elsie (ons getroue huishulp) ons regterhande.  Die kinders speel permanent oor en weer en ons is soos een groot familie!  Die kinders was dus heeltyd besig by die see.


Tente op rugbyveld - Uniondale
Die wit is ys!
Saterdagmiddag is ek, Hildegarde en my pa deur Uniondale toe.  Ek het vir my en Hildegarde elkeen 'n eenman tent geboek om die deurmekaarspul van die volgende oggend te probeer afweer.  Die weer het mooi saamgespeel en daar was geen reën, maar die koue was met ons.  Ons het alles in ons vermoë gedoen om gepanser te wees teen die koue en om eerlik te wees was dit op die ou end nie so sleg nie.  Die registrasie proses was maklik en ons het 'n lekker spaghetti ete vir aandete gehad.  Vroeg in die bed gekruip om 100% te wees die volgende oggend.  Sondagoggend 05:00 was ons wakker en het stadig maar seker die koue begin trotseer.  Die tentjie het 'n yslaag oor gehad, maar toe die sonnetjie sy kop uitsteek het dit begin warmer raak.  Ons het muffins, koffie en oats vir ontbyt gehad en begin aanstoot na die wegspring.  Ons was in groep C wat beteken het ons moes 08h10 wegspring.


Jaco neem foto van Hildegarde!
Die skoot het geklap en ons was in die pad.  Ons eerste Karoo to Coast het amptelik begin!  Ons het vir ons 'n tyd van 4 uur 30 min as mikpunt gestel, maar moes vroeg al verstaan dat dit nie so maklik tussen al die mense gaan wees nie.  Daar is 'n wye spektrum van fiksheid- en uithouvermoë vlakke, dus die opdraendes waar slegs tweespoor paadjies is, was maar redelik beknop.  Daarna was dit 'n "oop" wedren en ons kon lekker gemaklik ry.  Hierdie is 'n pragtige roete met van die mooiste natuurskoon wat ek nog op my bergfiets beleef het.  Dit wissel tussen die stiltes van die Klein Karoo en die bosse van Knysna.  Dit was nooit warm nie, maar ook nooit onaangenaam koud nie - net perfek!  Ons het geen probleme op die pad gehad nie en toe die laaste 30 km aanbreek het ek vir Hildegarde gesê dat as ons hard ry, ons nog 'n kans het om ons mikpunt te behaal.  Sy het nie op haar laat wag nie en het 'n baie sterk poging ingesit.  Ons het lekker gejaag en klaargemaak in 4 uur 40 min.  Ons mikpunt met 10 min gemis, maar steeds baie tevrede.  Hildegarde was die 32ste vrou.


Team Nexus op die eindstreep!
Daar was 'n baie lekker atmosfeer by die eindpunt.  Die Lions Klubs van Uniondale en Knysna het baie hard gewerk om 'n groot sukses van die geleentheid te maak.  Fondse wat ingesamel word op hierdie geleentheid word gebruik vir die Lions se "SightFirst" projek.  Die projek behels oog genesing operasies vir die armes en dien dus weereens 'n uitstekende doel. Baie dankie vir jul inisiatief en harde werk!  Baie geluk ook met 'n uitstekende geleentheid!  Ek sal beslis enige persoon wat van 'n uitdaging hou aanbeveel om hierdie wedren te gaan doen.  Dit is beslis nie "a walk in the park" nie.  Oefen genoeg, anders gaan dit 'n lang dag op die fiets raak.  Dit klink afdraand, maar jy klim rondom 1 800 m vir die dag!
  
Die Maandagoggend het Hildegarde vir 'n uur gaan draf en ek het 'n "recovery ride" van so bietjie meer as 'n uur gedoen.  Dit was heerlik om langs die see tussen Klein Brak en Hartenbos net rustig te ry.  Sou graag elke dag so wou kon oefen!

"Recovery Ride" teen die see!
Hierdie naweek neem ek deel aan die Piket-Bo-Berg wedren.  Sal volgende week meer daarvan vertel!

Lekker bly,
JG 

10 September 2013

Lentefees en Cederberg Xperience 2013

Die afgelope 2 weke was 'n wipplank tussen baie mooi weer en baie slegte weer.  Dit bring teweeg dat oefentyd min is en fyn beplan moet word om kwaliteit uit elke sessie te kry.  Uit 'n werks oogpunt het dit gemaak dat daar min buite gedoen kon word terwyl die reën val en alles dan bottelnek om te gebeur wanneer die son uitkom.  Ander maniere moet dus gekry word om tyd konstruktief aan te wend.

Op Woensdag en Donderdag (28 en 29 Augustus 2013) het ek toe gereël om 'n Veilige Hantering van Landbouchemie vir die plaaswerkers aan te bied.  Ons het al die lede van Riebeek en Hermon Landbouvereniging in kennis gestel van die twee datums (dit was ook die 2 dae waar daar ongeveer 75 mm reën geval het!) en die terugvoering was uitstekend.  Ek het oor die twee dae die kursus vir ongeveer 120 persone aangebied.  Elkeen is beloon met 'n lekker warm koppie koffie en pannekoek na afloop van die aanbieding.





Die Saterdag van 31 Augustus 2013 was dit Hildegarde se beurt in die Riebeek Kasteel Lentefees Halfmarathon.  Die wedren gaan gepaard met die jaarlikse kerkbasaar en is 'n moet op elkeen se kalender!  Sy het die oggend saam met Riaan van Zyl en Eduard Mostert deurgery.  Hierdie twee manne het my vrou bygestaan om haar beste 21.1 km tyd tot op hede te hardloop.  Sy het die resies voltooi in 1 uur 36 min en haar vorige beste met 'n volle 6 minute verbeter!  Dankie julle twee, voorwaar ysters!  Hildegarde was toe algeheel die 5de vrou.  Daar was ook 50 gelukkige trekkings met 'n vleispakke ter waarde van R200 van Tomi's Abatoir.  Hildegarde het een daarvan gewen en darem nie leë hande huistoe gegaan nie.





Die afgelope naweek het ons deelgeneem aan die Tip Trans Cederberg MTB Xperience.  Dit bestaan uit 'n 115 km bergfietsrit deur die pragtige Cederberge.  Baie goeie voorbereiding vir die Karoo to Coast oor 2 weke.  Malmesbury Toyota het ons Vrydag verras met die "branding" van ons voertuig - baie dankie julle!


Ons het die aand voor die resies in Citrusdal oorgeslaap (kinders by Oupa Kola en Ouma Fanie) by Bydidam.  Ons was 3 paartjies (Ek en Hildegarde, Dirk en Lize en Kat en Elmari).  Dit is 'n baie mooi plek ongeveer 1 km buite Citrusdal en ook die beginpunt van die 115 km resies.

Bydidam - Citrusdal
Daar het 'n hele klompie Malmesbury manne ook deurgekom om deel te neem.  Onder hulle was Charl du Plessis (Tier), Jean du Plessis, Jaen Fouche en Davy Midgley.  Lood het ook deurgekom en aan die 45 km deelgeneem.


Dit was 'n fantastiese lentedag in die Cederberge.  Die roete was lank en dit het warm geraak op die pad met baie stof!  'n Tip Trans trok het ons uit die dorp begelei en die voorste manne het gejaag.  Ons (ek, Hildegarde en Dirk) het ons self mooi "gepace" en die heeltyd seker gemaak dat ons nie te hard gaan en dalk later spyt sal wees nie.  Op 30 km het die lang klim van die dag aangebreek - ongeveer 500 m in hoogte oor 'n afstand van 10 km.  Die roete was pragtig en het ons almal dele gewys wat ons nog nooit voorheen gesien het nie.  Almal het maar deur die loop van die dag deur hul eie wroegings gegaan, maar ons is daardeur en het klaargemaak in 5 uur 22 min.  Tier was die eerste Malmesbury man oor die wenstreep (algeheel 12de) in 'n tyd van 4 uur 24 min.  Well done!  Dit was 'n baie lekker dag en 'n moet vir volgende jaar.

Ek en Lood was vir 6 maande op die waglys vir die Wines2Whales resies in November en het verlede week die goeie nuus gekry dat ons 'n inskrywing het.  Team Nexus sal dus daar ook verteenwoordig wees!  Volgende resies is die Karoo2Coast en ons sien baie uit daarna.

Ek wil net graag hier gebruik maak om dankie te sê vir almal se insette, belangstelling en ondersteuning.  Julle help ons regtig baie om al ons drome 'n realiteit te maak!  Lekker oefen en bly gefokus...

JG

20 Augustus 2013

Hermon Onkruid Vasvra 2013

Ek het in een van my vorige blogs verwys na my regte werk.  Hierdie afgelope naweek was daar weer 'n geleentheid wat indirek te doen het met my regte werk.  Ek is baie bevoorreg om in 'n posisie te wees waar ek op verskillende kommitees dien.  Die afgelope 6 jaar is ek op Hermon Landbouvereniging se bestuur en die laaste 4 jaar die sekretaris.  Dit gee mens die geleentheid om baie intensief betrokke te wees by hoe so 'n organisasie funksioneer.  Hermon Landbouverening is een van die mees aktiewe en operasionele organisasies waarby ek betrokke is.  Dit is 'n unieke groep produsente en baie betrokke by die gemeenskap.  Dis 'n baie tradisievaste vereniging met ongeveer 8 byeenkomste per jaar.  Meeste van die vergaderings vind plaas by Hermon Hotel - 'n bymekaarkomplek met sy eie boek vol stories!


Op Saterdag, 17 Augustus 2013 was dit weer die beurt van die tradisionele Onkruid Vasvra (Rally).  Die dag is vroeër jare deur die destydse koöperasie aan die produsente gebied in die vorm van 'n rally.  Jy het gery van plaas tot plaas en die manne se plase besoek en na trekkers, parte ens. gekyk.  Jy moes dan meganiese vrae beantwoord en wenners is aangewys.  Hierdie was die oorspronklike byeenkoms.  Hierdie formaat het uitgesterf en die dag het doodgeloop.  In die 90'er jare het die manne weer die byeenkoms afgestof en die Hermon Boerevereniging Onkruid Rally het ontstaan.  Die dag was altyd 'n groot hoogtepunt op die kalender.  Die nuwe formaat was dat vrae by spesifieke punte op koringlande uitgewys word.  Daarheen word dan "gejaag" en vrae moet beantwoord word.  Vrae het gegaan oor watter tipe onkruid by die spesifieke punt staan en waarmee dit beheer kan word, asook algemene kennis vrae oor die distrik.  Die wenner was die span met die meeste regte antwoorde in die vinnigste tyd - 'n regte Rally!  Verskeringseise het veroorsaak dat die formaat weer later verander het en die tydtoets is afgeskaf (daar was van die deelnemers wat te entoesiasties geraak het).  Dit bring ons nou by die hedendaagse formaat.


Elke landbouvereniging doen sekere dinge om fondse in te samel.  Hermon Landbouvereniging gebruik die Onkruid Vasvra.  Ons vra al die organisasies waarmee ons besigheid doen om 'n bydrae vir die dag te maak.  In ruil daarvoor kan hulle kom uitstal en die dag met hulle kliënte sosiaal deurbring.  Hierdie jaar was geen uitsondering nie.  Organisasies het nie geskroom om 'n bydrae te lewer nie.  Martin Jooste Landboubemarking wat my Nexus kollega is, was die hoofborg van die dag en het deur Wildboar Catering (Marius en Ursel Wagener) gesorg dat almal genoeg te ete en drinke kry.  


Die dag is bygewoon deur 75 mense waarvan 54 die roete gery het.  Vrae word by punte op verskillende produsente se plase gevra.  Aanwysings na die punte word met die wegspring aan deelnemers gegee en die roete word gevolg.  Die deelnemers kry dus die geleentheid om verskillende plase te sien in die ongeveer 40 km roete wat gery word.  Op die ou end van die dag word vraestelle "ingegee" en gemerk en 'n wenner word op 'n prysuitdeling aangewys.  Vanjaar was die wenners (ook die verdedigende kampioene) Deon Steyn, Nelius van Santen en Van der Bijl Brink.  Daar is natuurlik baie pret op die dag met spanne wat gediskwalifiseer word weens verskeie redes (onwettige telefoon oproepe, handboeke, Google, ens.)  Na afloop van die prysuitdeling kan almal die dag verder geniet.  Vanjaar is ons bederf met 'n lekket T-been biefstuk deur Wildboar Catering.


Die eintlike "sports" begin eers na ete.  Dis dan wanneer die manne hulle voertuie bietjie vuil maak.  Vanjaar was dit ekstra vuil!  Hulle maak "doughnuts" en sit vas en doen al die dinge wat hoë testosteroon vlakke 'n man laat doen!  Gewoonlik word hierdie dinge gedoen met 'n groot skare en met al die nodige aanmoediging.  Vanjaar se Onkruid Vasvra was weer 'n reuse sukses en Hermon Landbouvereniging wil graag al hul getroue borge bedank vir die volgehoue ondersteuning.

Vir nou is dit weer terug na die oefen.  Verlede week was ek bietjie siek gewees en ook al die reëlings met die boeredag het maar redelik tyd gevat. 

Groete,
JG

15 Augustus 2013

Java MTB Challenge 2013

Skurwekop
Gedurende Mei 2013 het ons kampgroep (Karavaan Kinders) by Skurwekop in Robertson gekamp.  Ek en Lood het die bergfietse saamgevat en lekker roetes daar gery.  Ons het onmiddelik besluit dat ons beslis weer sou terugkeer.  'n Paar dae na ons terugkeer het vriendin Annake Basson met my kontak gemaak en laat weet dat daar 'n bergfietsrit op 10 Augustus 2013 te Van Loveren sou plaasvind wat die Java MTB Challenge heet.  Ek het dadelik die Karavaan Kinders laat weet dat ons die langnaweek van 9 Augustus sou kamp -weer te Skurwekop en vir my en Hildegarde ingeskryf vir die 70 km uitdaging wat baie van Epic 2012 se roetes bevat het.


Ons is verlede Donderdag middag vort en moes 'n baie koue naweek trotseer.  Karavaan gehaak en fietse op die dak.  Die kinders tel natuurlik die slapies al vir die laaste 2 weke af, so die opwinding was groot!  Ons was 4 gesinne die naweek daar, so die kinders is permanent besig.  Kamp bly steeds een van ons gesin se lekkerste tydverdrywe.

Saterdag het aangebreek en Saretha het my en Lood na Van Loveren geneem.  Hildegarde het besluit om eerder nie te ry nie.  Sy was nog baie stukkend en seer na die valle die vorige Saterdag.  Lood sou deelneem aan die 30 km resies - hy het egter sy skoene vergeet en vinnig moes daar planne gemaak word om sy skoene betyds by die wegspring te kry!  Ek het 08h00 weggespring en die temperatuur was 'n skamele 3 grade Celsius.  Bitter koud, maar ek het geweet dit sou vinnig meer aangenaam raak.


 

Ek het in die tweede groep weggespring en dadelik probeer voor kom.  My en Hildegarde se ooreenkoms is dat as beide van ons in die wedren is, ek saam met haar ry (ons doen wat ons doen om saam te wees), maar as ek alleen in die resies is, ek maar kan gooi!


Ek het paar manne verbygegaan en so ongeveer 5 km in die resies in was ek voor in ons groep.  Daar was 'n pyltjie wat wys dat jy regs moet draai, met 'n motorfiets spoor net regs van dit.  Ek het gedog jy moet die motorfiets spoor langs die pyl volg.  Ek was verkeerd en die hele peleton het my gevolg!  Ek het na so 500 m agtergekom ek is verkeerd - daar was geen pyle of ander fiets spore van die eerste groep nie.  Ek het omgedraai en teruggedraai - nie sonder kommentaar.  Die groep het geskel en nie geweet wat aangaan nie.  Ek is toe terug op die regte pad en kon vinnig nuwe aanwysings sien.  

Verlore "cleat"
Dit was 'n heerlike roete, redelik tegnies en op die ou end 75 km.  Ons het amper 1 500 m geklim deur die roete.  Ons moes na ongeveer 20 km oor 'n klomp bande loop wat onderdeur 'n brug gepak was.  My een "cleat" het losgekom en toe ek weer op die fiets klim kon ek voel my voet voel los in die pedaal.  Ek het net aangery.  Ons het op so 38 km die tawwe klim van die dag bereik.  Daar was 'n gedeelte met 'n 27 % helling.  Ons almal het daar die gedeelte uitgestap.  Die grond en klippe was nog nat van die week se reën en alles het gegly.  Ek vermoed my "cleat" het daar besluit om sommer heeltemal die wedren te verlaat.  Ek moes die res van die resies met slegs een "cleat" ry.  Dit is nie te maklik aangesien jou voet die heeltyd van die pedaal gly en tegniese stukke kan nogal gevaarlik raak.  Ek het my egter nie deur dit laat afsit nie en steeds so hard as wat ek kan gery.

                           

Ek het op die ou end die wedren voltooi in 4 uur 20 min, wat darem in die top 20 van die dag was.  Ek het 'n gemiddelde hartspoed van 160 gehad en kon duidelik voel ek het hard gery - ek was tevrede.  Dit was 'n baie goed georganiseerde dag en vir die rondom 500 ryers wat oor die 3 afstande aan die dag deelgeneem het, beslis iets om na terug te keer volgende jaar.

Fondse wat die dag ingesamel is word geskenk aan die Robertson Voorbereidingskool.  Meeste van hierdie wedrenne waaraan ons deelneem het 'n goeie doel waarheen die fondse gaan en dit maak elke geleentheid nog meer spesiaal.  Om 'n kind skoolgereed te kry is beslis hoog op enige ouer se prioriteitslys, maar fondse by skole is nie altyd so maklik bekombaar nie en geleenthede soos hierdie skep vir die skole en dus vir die kinders daardie geleenthede.

Ons volgende wedren is die Bovlei MTB Classic op 31 Augustus 2013 te Lelienfontein in Wellington.  Gedeelte van die fondse van die geleentheid word weer geskenk vir die Bovlei Gemeenskap Sentrum.  Besoek www.graveltravel.co.za vir meer inligting.

Hierdie naweek het een van die organisasies waar ek op die bestuur is - Hermon Landbouvereniging sy jaarlikse Onkruidvasvra.  Ons reël hard daaraan, so volgende week vertel ek julle meer van die spesifieke dag!

Groete,
JG

07 Augustus 2013

Die Burger Bergfietsuitdaging 2013

Hildegarde en Johann besig met "setup"
Voorbereiding vir die wedren het begin met iets wat lankal reeds gedoen moes gewees het, ons "bike setups".  Dit behels basies die opstel / instel van jou fiets sodat dit perfek vir jou is.  Dit is waar jy al jou krag en energie optimaal in die fiets plaas en die beste resultaat vir jou trap kry.  Ek en Hildegarde het vir Johann Rabie (Professionele pad- en bergfietsryer) genader om ons s'n te doen.  Ons is in die wolke!  Die resultaat is baie meer as wat ons verwag het en ons voel fantasties in die posisie wat ons nou op fietse is.  Ons het sommer al vier ons fietse (2 pad en 2 berg) gedoen.  Johann is geduldig en gebruik sy tyd met die opstellings - wat 'n belewenis.  Ek sal dit beslis vir enigeen aanbeveel.


Delheim enkelspoor - Jaco
Delheim enkelspoor - Hildegarde
Saterdag, 3 Augustus 2013, het aangebreek en dit was die eerste keer dat ek en Hildegarde met ons nuwe "kit" as Team Nexus sou ry.  Ons het van die begin af gesê dat ons as 'n span gaan ry, dus bymekaar gaan bly.  Makliker gesê as gedaan.  Ons het in groep D die oggend weggespring - 08h35.  Dit was koel, maar beslis nie koud nie.  Daar was 'n neutrale zone vir ons om uit die dorp te kom waar die regte resies sou begin.  Almal het ons gewaarsku dat daar ongeveer 1 500 m se vertikale klim in die 60 km wat ons sou aflê, is.  Ek was redelik goed voorbereid en het sterk gevoel.  Ons het met 'n gemaklike pas begin en die eerste klomp klimme trotseer.  Hildegarde het baie goed bygehou en ek het die heeltyd net gesorg dat sy my van agter kan sien.  Ons het lekker gery tot op so 25 km waar ons eerste probleempie van die dag om die draai was.  Dit was net na die eerste "singletrack" van die dag, gevolg met 'n afdraand.  Ek was voor en het 'n sloot in die pad gesien en stadiger gery.  Hildegarde het nie waargeneem dat ek stadiger ry nie en toe sy dit agterkom was dit te laat.  Sy het ankers gegooi, maar die koeël was reeds deur die kerk.  Sy is links teen die wal af en het 'n groot rots skrams geraak - val 1 en die bloed het gevloei en die humeure het begin optel.

Team Nexus - Einde in sig!
Julle moet nou mooi verstaan, Hildegarde is my Epic Partner, maar sy is ook die ma van my kinders en my bruid.  Dit is glad nie lekker om haar te sien seerkry nie.  Dit is die hoofrede hoekom ek op die stadium voor ry - wat die oog nie sien nie, weet die hart nie van nie!  Ek stres myself dood as ek agter haar ry en maak dan self onnodige foute.  Na die val kon ek min reg sê of doen.  Ek verstaan dit, want daar was pyn.  Bergfiets is egter 'n ingewikkelde sport en om emosies by die saak te gooi maak dit nie makliker nie.  Ons het in redelike stilte vir die volgende uur verder gery.  Ek kon agterkom Hildegarde raak al hoe sterker en vir myself gevra waarom nou en nie vroeër nie.  Sy het my meegedeel dat sy nog nie lekker weet om haarself te "pace" nie en dit met tyd sal regkom.  Dit maak sin en beteken vir my ook baie aangesien ek geneig is om te vinnig uit die blokke te kom en dan uit te sak in laaste deel van resies.
Ons is klaar!
Ouch! Hildegarde mediese hulp

10 km voor die einde het die noodlot ons weer getref.  Die korter afstand se groepe het deel geword van ons resies en daar was baie onervare ryers deel van die pakkie.  Ons is teen 'n bult af en die persoon voor my het briek  aangeslaan, ek ook - nie Hildegarde nie!  Sy het verby my gekom en my handvatsel getref.  Ons altwee het 'n pragtige stukkie wingerd in Stellenbosch gekoop!  Ek het nie so baie skade, maar Hildegarde het op die ander elmboog as die vorige val te lande gekom en hierdie was 'n lelike wond.  Haar agter cazette het ook vir die 2de keer losgekom en ons moes stop om dit met hand vas te draai - slegs 'n tydelike opsie.  Ons het klaargemaak in 3h55 min - baie tevrede.  Ons weet baie meer oor mekaar se vermoë asook waaraan ons moet werk.

Ons wil ook vir Malmesbury Toyota baie welkom sê as deel van ons borge span.  Malmesbury Toyota gaan ons ondersteun op ons pad na die Epic.  Ons waardeer die lojaliteit wat julle aan ons betoon en wees verseker van ons volgehoue ondersteuning.

Volgende op ons kalender is die Java Challenge wat gaan plaasvind op Saterdag, 10 Augustus by Van Loveren in Robertson.  Meer daaroor volgende week!

Groete,
Jaco G

29 Julie 2013

Gauteng toe

Scott Scale 900 RC
Laat ek begin deur jul te vertel hoe die afgelope naweek afgespeel het.  Daar het so baie dinge gebeur, dit voel amper asof dit langer as 'n naweek moes wees.  Ek is Vrydag rondom middagete op na Gauteng om my nuwe "Scott Scale 900 RC" te gaan haal.  Ek het verlede Maandag die advertensie op www.thehub.co.za gesien en dadelik geweet die fiets is vir my bedoel.  Ek was nie eerste in lyn vir hom nie, daar was reeds ander belangstelling, maar die aand het Iwan Roux (vorige eienaar) my laat weet die fiets is myne as ek hom wil he.  My antwoord was 'n besliste JA!


Welkom by Lanseria
Ek het reëlings begin tref om Vrydag op te vlieg, die fiets op te tel, by my broer te kuier en weer Saterdagaand terug te vlieg - regte Stralerjakker!  Ek is toe Vrydagoggend by Adventure Cycles om waar ek 'n boks gehuur het vir die naweek - ek kan dit aanbeveel indien jy ooit met 'n fiets moet reis.  Gaan kyk by www.bikesafe.co.za hoe die bokse lyk en werk.  Jou fiets is veilig en die boks sluit, so niks kan verdwyn nie.  Ek is na die lughawe en is toe om 11:20 in die lug oppad na Lanseria.  Ek sal nie sommer weer OR Thambo toe vlieg nie - Lanseria is lekker rustig en dinge gaan net baie makliker, ook goedkoper.


Ek en Iwan
Lekker Kaapse wyn!
My broer (Stephan Geldenhuys) het my opgetel en ons is Parkhurst in Johannesburg toe.  Dit was 'n eerste vir beide van ons - dankie GPS!  Vrydagmiddag verkeer in 
Johannesburg is nie vir sissies nie.  Teen hierdie tyd was ek al net so opgewonde om my bike te sien soos wat ek was toe Hildegarde my gevra het om te "kys" destyds!  Ons het by Iwan Roux se huis gestop en voordat ek die fiets gesien het, het ek geweet die fiets sal netjies wees.  Hul huis is onberispelik en ek kon 'n trots by Iwan bespeur en het geweet die fiets sal met dieselfde trots hanteer wees.  Ek was ook nie verkeerd nie. Top kondisie en elke sent werd - dankie Iwan.  Iets wat ek nie vroeër genoem het nie was dat Iwan my gesê het ek skuld hom Kaapse wyn omdat hy so baie mense moes wegwys.  Ek het toe so gemaak (sou elk geval) - dit tel nie as omkoop nie!

Hyundai vol gelaai!
Ek en Stephan - Monte Casino
Ons moes toe die fiets in die boks in 'n Hyundai I20 kry, nie so maklik, maar beslis doenbaar - sien foto!  Ons het van Parkhurst gery na Monte Casino vir lekker aandete by een van my gunsteling restaurante - Col'Cacchio.

Gesonde Ontbyt
Ellispark
Die volgende oggend het ons 'n rustige ontbyt by Mugg & Bean gehad, vanwaar ons na Ellispark vertrek het vir Stephan se wedstryd wat hy moes blaas Goue Leeus O/19 vs Vrystaat O/19 om 13:00. Hy moes ook 15:00 lynregter wees by die O/21's.  Ek moes 17:40 op lughawe wees.  Dit beteken dat as hy 17:00 klaar is met die wedstryd ons 40 min Lanseria toe het van Ellispark af.  Enigeen wat daai paaie ken sal weet dat dit feitlik onmoontlik is, maar ons moes probeer!  Ellispark was 'n enorme voorreg.  Ek was in die kleedkamers, in die tonnel en ook op die veld.  'n Voorreg wat ek dink nie vir almal beskore is nie - dankie Boet!


Ons het daai Hyandai oop kêtels lughawe toe gejaag.  Ek het solank ander vlugte begin "Google".  Om 17:43 is ek Lanseria binne, sonder my fiets, Stephan het nog aangekom met hom.  Ek is amper bo-oor die toonbank en het gemaak asof ons in 'n ongeluk was en dit net-net lewendig tot by lughawe gemaak het.  Hulle het my gehelp en om 17:50 het ek alweer geklim!  Ek was lanklaas so verlig.  Dit het gesorg vir enorme opwinding (en stres) na 'n fantastiese dag en 'n half saam met my broer.

Met my aankoms tuis rondom 21:30 het ek sommer dadelik begin om weer die fiets inmekaar te sit net vir ingeval dit ophou reen en ek die volgende dag dalk 'n spin kan gaan vat - kon toe nie en moes maar noodgedwonge Sondag padfiets ry.

My "trippie" was op verskillende vlakke vir my uiters geslaagd.  Ek het 'n great ou in Iwan Roux ontmoet.  Ek het meer as een nuwe plek in Johannesburg omgewing gesien en ek het kwaliteit saam met een van my beste pelle (my boet) gehad.  Als in als 'n uiters suksesvolle "roadtrip" en 'n lekker verhaal om te vertel!

Volgende op die lys is my en Hildegarde se "bike setups" met professionele fietsryer Johann Rabie voor Saterdag se Die Burger Bergfietsren.  Sal 'n blog skryf net oor die "setup" aangesien daar baie mense is wat nou begin ry en dalk nie die belangrikheid van so iets besef nie.  Meer daaroor volgende keer!

Lekker jaag!
JG

25 Julie 2013

Julie eskapades

Almal wonder seker nou al wat aangaan dat die blog so stil is.  Die feit van die saak is, dis koud en nat in die Wes-Kaap, my seisoen by die werk is aan die gang, dit was skoolvakansie wat dit 'n bietjie meer rustig gemaak het en daar was geen "races" op ons kalender gewees nie.  Dit is besig om vinnig te verander.  Ons volgende "race" is Die Burger Bergfietswedren op 3 Augustus 2013 te Stellenbosch.

Wat het die afgelope 3 weke in ons lewens gebeur?  Ek en Hildegarde is besig om fiksheidsvlakke in stand te hou.  Elkeen is steeds besig met sy eie oefenprogram.  Myne is so 7 - 9 uur per week op fiets.  Ek het ook weer begin draf - wat 'n marteling vir my, maar voel dis goed vir die longkapasiteit.  Hildegarde is besiger as ooit.  Klas gee, draf, bergfiets, padfiets en gym is heeltyd op haar program.  Ek dink die bergfiets gogga het haar nou lekker gebyt.  Sy is in konstante gesprekke met mense wat reeds die Epic voltooi het en weet nou al baie meer oor wat om te verwag.  Sy het ook begin om 'n biokinetikus te sien wat haar gaan help om die regte spiere te oefen en sterker te kry - sy sal maar vir my moet help!

Ons gesin - Oubergpas
Lekker om die vuur
Oubergpas van bo
Ons was die laaste naweek van die skoolvakansie vir 'n wegbreek na Blesfontein in Sutherland waar ons glad nie geoefen het nie - dit was baie nodig.  Lood en Saretha het saam met ons gegaan en ons het lekker gerus en gekuier.  Ons het ook met die terugkom slag dieselfde roete gery as wat ek en Lood met die fietse in April gedoen het, wat 'n belewenis!


Kerk in Sutherland
Die pragtige natuur daar is baie goed vir die siel en ons het vol energie teruggekom.  Die kinders kon darem ook so 'n bietjie van die vakansie gevoel kry en het die heeltyd gevra wanneer dit gaan sneeu!  Pa se antwoord - nooit die naweek nie!.


Skerp draai op Oubergpas
Ek en Lood kon elke knikkie in die pad onthou en het vir onsself gesê dat as ons voor die fietsrit geweet het hoe die pad is, ons dit waarskynlik nooit sou aanpak nie.


Lood se foto
Ons terugkoms het ook die nuwe skoolkwartaal se aankoms aangekondig en dinge is weer vinnig terug na normaal.  Week 1 na die skoolvakansie het vir my drie aandvergaderings beteken en weereens moes ek my dinge fyn sny om te kon oefen.  Een baie lekker van die nuwe kwartaal was ons nuwe "racekit" wat deur die pos gekom het.  Ek het lank daaraan beplan en is baie tevrede met die eindresultaat.  Dit voel fantasties en ek hoop dit vang die oog soos wat die bedoeling was!
Hildegarde - Fitting

In Malmesbury het ons die afgelope week ook die Malmesbury Fietsryklub "herstig".  Die sport groei baie goed in ons area en ons wil dit meer formeel aan die gemeenskap bemark.  Ons sal voorsiening maak vir pad- en bergfietsryers.  Gaan volg asb malmesburyfietsryklub.blogspot.com.  Daar sal inligting oor opkomende wedrenne, oefenritte en ander kommunikasie voordurend deurgegee word.

Eerskomende naweek gaan ek my "nuwe" fiets in Gauteng haal.  Ek gaan ook by my broer daar draai.  Hy blaas Saterdag op Ellispark, so dit sal 'n eerste vir my daar wees.  Bly asb ingeskakel op die blog, want Sondag "post" ek alles oor my trippie na die ou Transvaal!

So tot dan, lekker oefen en bly positief.  Onthou ons almal jaag verskriklik, maar eindig op dieselfde plek!

Tot dan,
JG

02 Julie 2013

My "regte" werk

Ek het op 'n plaas grootgeword, so die liefde vir die natuur was nog altyd daar.  Dit is ook waarom daar so 'n groot aantrekking na sporte soos bergfiets, draf en driekamp is.  Die beroep wat ek as my "regte" werk beskou, is 'n landbouchemiese verteenwoordiger.  In die ou dae het die mense na ons verwys as "gifsmouse"!  Ons werk met die natuur en ons kantoor is buite.  Ons het in meeste gevalle 'n baie alleen werk - op jou eie in die lande.  Ek kan my werk en my oefenprogram lekker kombineer deur my laaste kliënt van die dag se kampe met my fiets te besoek.  So kry ek die ure in die saal en ek kry die "regte" werk gedoen!


Hierdie boonste foto is 'n algemene gesig in ons beroep.  Die natuur op sy mooiste.  Hierdie foto is naby Riebeek-Wes geneem met verlede week se reën net na die laaste bui van die dag.  Ek het hierdie lande met my bergfiets deurgery toe ek die pragtige verskynsel sien!


Die volgende dag het ek hierdie foto van die berge by Hermon geneem tydens land besoeke.


Mooi uitsig van Kasteelberg in die verte.

Wat behels my werk, behalwe om die pragtige natuur te sien en foto's daarvan te neem?  Ons besoek ons kliënte en verskaf konsultasie aan hulle vir peste en plae.  My werk is om te verseker dat die produsent die beste moontlike opbrengs (kwaliteit en kwantiteit) lewer.  Ons kyk na swamme, insekte en onkruide wat 'n bedreiging vir die oes kan wees en gee ook aanbevelings vir blaarvoeding om die gewas te "boost".  Alle gewasse wat ons bedien (grane, druiwe, vrugte en groente) word op 'n gereelde basis deurgegaan en aanbevelings word gegee aan produsent om te spuit.  Ons is huidiglik in die middel van die graanseisoen in die Wes-Kaap.  Gewasse wat nou bestuur word is koring, hawer, korog, canola, medics en lupiene.  Voedsel vir die mensdom is van kardinale belang, aangesien die bewerkbare grond nie meer word nie, maar die populasie van die aarde wel.  Ons moet die grootste moontlike oes afhaal op die grond tot ons beskikking.




Lande word met vierwiel motorfiets deurgery om te kyk na moontlike probleme.  Elke land word individueel hanteer en kry sy eie aanbeveling vir die moontlike bedreigings.  Daar word 'n fyn lyn getrek tussen 'n plaag / probleem wat ekonomiese skade kan veroorsaak versus een wat slegs kosmeties is.


Bogenoemde foto is 'n medic land wat vir Raaigras behandel is.  Raaigras is die grootste onkruid probleem op die stadium in die Wes-Kaap.  Dit is 'n baie agressiewe plaag wat grane kan "doodgroei".  Die bruin hierbo is die grasse wat besig is om te vrek en die groen is die medics wat aanhou groei.  Kasteelberg is in die agtergrond.

Meeste van my en Hildegarde se borge is verskaffers van Nexus, maw, ons koop produkte by hulle wat ons dan weer aan die produsent verkoop om sy probleem aan te spreek.  Die verskillende borge handel onder andere in die volgende:

AgChem - Blaarvoedings, Oro Agri - Benatters saam met mengsels, Cosmocel - Blaarvoedings (Gespesialiseerde bemesting), Insect Science - Lokvalle en paringsontwrigting, Dow AgroScience - Swam, Insek en Onkruid middels en Sun Lab - Blaarvoedings.  Hierdie organisasies spandeer duisende rande jaarliks in navorsing en ontwikkeling om beter en innoverende oplossings vir ons as agente na die tafel te bring.

Ons is voorwaar bevoorreg om in so 'n pragtige omgewing en met sulke goeie ondersteuning ons dagtaak te kan verrig.  Ons is 3 vennote in die besigheid (Jaco, Stephan Venter en Eric Venter).  Ons twee admin dames (Anja Westenraad en Anke Steyn) is die rugsteun van die besigheid wat sorg dat daar altyd voorraad is en fakture die regte eindbestemming bereik!  Hierdie klomp is dan ook my klankbord wat daagliks oor my eie wedervaringe moet hoor en help met raad en wysheid.  Dankie vir alles julle!

Wat die oefen betref - ek ry gemiddeld so 9 ure per week fiets en Hildegarde is voluit op haar verskillende programme.  Die winter het ons darem tot dusver nie te veel gekortwiek nie - ons eet net meer!

Groete tot volgende keer,
Jaco G