Dag 10 – 06.03.2017
Op die stasie aangekom vind ons uit dat dit beslis die
maklikste sal wees om ‘n taxi na Europcar te neem waar ons huurmotor is. Hulle is in “downtown” Mannheim en bietjie te
ver om te loop. Hierdie rit kos ons 12 €. Ons motor is ‘n Kia en eers sukkel ons om die
GPS op Engels te kry, met dit uitsorteer kom Pieter redelik vinnig reg aan die
“verkeerde” kant van die pad as wat ons ry.
Die motortjie trek lekker en ons is tevrede. Ons hotel was die Park Inn By Radisson. Hierdie was ‘n lekker ruim hotel en alles het
nie so beknop gevoel.
Dit was net na 16:00 en ons moes onsself gaan gereed maak
vir die aand saam met BASF se manne. Ons
sou ‘n weinkeller toer en proe doen asook ‘n aandete in die 5-ster
Gesellscahftshaus der Badischen Anilin & Soda-Fabrik (BASF).
Nadat ons voorgestel is aan ons gashere van die aand, Ivan
Jurasin-Havranek (Gewasbestuurder Afrika en Midde-Ooste) asook Marco Moorfeld
(Hoof van Gewasbestuur Grane en Mieles - Europa, Afrika, Midde-Oosteen Sentraal
Asie) is ons deur ‘n baie interessante weinkeller toer gelei. Ons het meer geleer rondom die weinkeller en
hoe dit ontstaan het. Die storie is
eintlik baie interessant, aangesien dit steeds die rede vir hierdie afdeling
is. In die vroeë jare moes mense met
perdekarre dorp toe kom. Daar wees geen
ander manier om wyn in die hande te kry as om dit self by die wynkamers op hul
plase te gaan koop nie. Die werknemers
van BASF het in daardie jare die gewoonte gehad om na werk ‘n glas wyn te drink
en te sosialiseer met mekaar. BASF het
dus ‘n fasiliteit geskep sodat hul werknemers dit daar by die werk te kon
doen. Hul het die wyn
“bymekaargemaak”die kelders en dit dan na werk aan hul werknemers te koop
aangebied. Die publiek het gesien wat
gebeur en die vraag het ontstaan na verkope aan die publiek. Dis dan steeds hoe dit vandag is. Intussen het BASF later begin self wyn maak,
maar dit ook ongeveer 15 jaar terug gestaak as gevolg van die feit dat dit nie
winsgewend was nie. Deesdae koop hulle
regoor die wêreld wyne in en hierdie wyne word sentraal verkoop. BASF is een van die top 6 wynverspreiders in
Duitsland. Ons het verskeie van die
plaaslike wyne geproe soos gesien kan word onder aan die foto. Ons proemeester het ons vertel met watter kos
die wyn gepaar kan word en ons het dit terdeë geniet. Wat ‘n heerlike ondervinding. Duitsland is baie bekend vir sy verouderde
Rieslings en dit het duidelik uitgekom uit die proe. Ons is rondom 20:00 na die restaurant…min het
ons geweet dat ons vandat ons daai trappies sou klim soos konings behandel sou
word.
Ons is onmiddellik verwittig dat foto’s nie toegelaat word
nie. Jacobus kon darem ‘n skelm fototjie
van Pieter en Christoffel asook die nagereg neem. Ons het ‘n 5-gang maaltyd geniet met verskeie
disse soos jul kan sien op die spyskaart foto hieronder. Daar was ‘n 6de gang wat vooraf bedien was
wat eintlik net een hap was, ek weet self nou nog nie wat dit was nie, maar dit
was iets visserigs! Alles was
voortreflik, ons het regtig die beste van die beste beleef in terme van voedsel
en wyn. Ek het natuurlik ten volle
gebruik gemaak van hierdie twee wereldkenners rondom hul gewas en produkte en
hul gepeper met die vrae. Dit was
voorwaar ‘n voortreflike aand en die kontakte wat ek opgebou het sal my verseker
in my loopbaan baie help. Ons was
redelik uitgeput na ‘n lang dag en paar dae tot dusver en na hierdie “laat”
aand was die manne reg vir die bed. More
se eerste afspraak was 09:00 by BASF se besoekersentrum.
Dag 11 – 07.03.2017
Ontbyt was regtig goed, hier was ‘n verskeidenheid van
kouevleise beskikbaar wat nie teenwoordig was in Parys nie en almal kon hulself
lekker volmaak vir die besige oggend wat voorlê. Ons het bietjie gesukkel met parkering en het
09:05 ingehardloop by die besoekersentrum waar ons toerleier reeds gewag
het. Ons is deur 3 verdiepings
voorlegging van BASF se geskiedenis en watter produkte hulle maak. Hulle is eintlik feitlik in enige produk wat
jy in jou besit het teenwoordig.
Weereens is ons gewaarsku dat geen foto’s toelaatbaar is nie. BASF werk met enigiets van landbouchemie tot
die plastiek wat in tekkies is asook issolasie teen koue wat in geboue se dakke
is. Die toepassing van hul produkte is
eintlik oneindig. Ons is na ‘n uur na
buite waar ons in ‘n bussie geklim het wat ons deur die hele produksie aanleg
geneem het. Hierdie is ‘n enorme
opset. Daar is 2 800 km se pyp op die 10
vierkante km wat die area beslaan. Hulle
het hul eie vervoersisteem binne hierdie area en 15 000 fietse tot die 36 000 mense
wat hier werksaam is se beskikking om tussen geboue te beweeg. 90 % van alle produkte wat geskep word, word
gebruik. Die afval gasse word omgeskakel
na energie of na byprodukte. Hierdie
sisteem hardloop soos ‘n ge-oliede masjien en hier werk almal in sy boksie om
te verseker dat dinge glad verloop.
Foute kan katastrofies weers, so alle veiligheidsmaatreels is in plek om
dit te verhoed. Ons was verskriklik
beindruk. Om 11:00 is ons afgelaai waar
ons na ons motor is om 11:30 by die Agri-Centre wat ongeveer 12 km van die
produksie aanleg te kon wees.
Ons was bedtyds en na ‘n enorme sekuriteits ondersoek is ons
die perseel toegelaat waar ons deur ons toerleier Inge Webb deur middel van ‘n
PowerPoint voorlegging vertel van presies hoe dit vir BASF en ander maatskappye
werk om ‘n nuwe produk na die veld te bring asook die tydlyn en koste daaraan
verbonde. Dit maak mens se oë bietjie
oop om te sien wat alles in so ‘n produk ingaan. Ons het ‘n ligte middagete geëet. Ons is na afloop van hierdie voorlegging na
die praktiese deel om te gaan kyk na die tonnels en labratoriums waar hierdie
seleksie van produkte gedoen word. Na 4
ure se intense besoeke was ons dit eens dat hierdie mense geweet het wat hulle
doen en ons was vol komplimente vir hoe welkom hulle ons laat voel het. Ons het een laaste stop gehad in Mannheim,
die John Deere perseel in John Deere Straat!
Hierdie was nie ‘n gereelde toer nie, aangesien dit sou bots
met ons besoeke aan BASF en omdat ons reeds baie van die produk gesien het by
SIMA, wou ons net daar draai sodat ons darem kon se ons was daar. Daar is baie geskiedenis opgeskryf rondom die
totstandkoming van John Deere en dit was baie interessant. Min het ons op die stadium geweet dat ons in
die volgende dag nog baie gaan uitvind oor die geskiedenis van die
motorbedryf. Ons het ‘n paar geskenkies
gekoop en het die 130 km aangevat na Stuttgart.
Ons was uit die veld geslaan met die hoeveelheid “lorries”
op die pad. Daar is een baan wat net vol
trokke was. Dit het gereen, maar in die linkerbaan
(Autobaan) was daar nie beperkings op spoed nie. Ons het by tye gesien dat die Kia tot 170 km
/ h doen. Die Duitsers het vinnige
karre, wat warmgemaak is. Hulle is
blitsig!
Natuurlik kan alles nie seepglad verloop op so ’n toer nie en
ek het die vekeerde adres in die GPS getik wat gelei het tot ‘n draai van so
ongeveer ‘n uur en ‘n half. Dit het
darem egter vir ons die geleentheid gegee om die wereld bietjie te verken en
die stad Stuttgart self te sien. Ons
het by ons hotel aangekom en was baie verbaas om te hoor dat die bestuurderes ‘n
Suid Afrikaner van Port Elizabeth is.
Ons het lekker gesels en deur al die geselsies agtergekom dat hier baie
Suid Afrikaners kom oornag wat vir opleiding na Mercedes Benz kom. Ons is uit vir ete en ons wou regte, egte
Duitse kos hê. Die restaurant van keuse
was die Funzel. Met die intrapslag het
ons almal dadelik geweet wat ons wou eet en dit was net oor ons die ander mense
se borde gesien het, Eisbein! Jy kon
kies tussen die bygeregte en ek het die tipies Duitse Sauerkraut gekies. Ons het weggelê aan die 800 gr Eisbeins en
nie een kon alles baasraak nie. Ons het
besluit hierdie oorskiet moet saamgaan en dien as middagete die volgende dag.
Dag 12 – 08.03.2017
Ons het besluit om die Porshe Museum asook die Mercedes
Museum te besoek. Biede van hierdie
museums maak 09:00 oop en ons moes ons huurmotor om 15:00 weer by Stuttgart
lughawe he, dus was dinge redelik “tight”.
Ons is eersta na Porshe waar ons deur die geskiedenis beweeg het. Hierdie is vakmansskap op die hoogste vlak en
selfs al is jy nie ‘n groot “petrolkop” nie, moet jy herdie ryke geskiedenis
asook die kuns om sulke pragstukke te bou, waardeer. Die manne het soos klein kindertjies
opgewonde geraak as hulle die dreuning van ‘n sekere model oor die luidsprekers
kon hoor. Ons moes aanbeweeg om nog by
Mercedes te kom en het die verkeer aangevat.
Mercedes is ‘n regte museum.
Die Porshe museum was intiem met al die geskienis op 3 vlakke, maar
Mercedes was enorm. Sewe verdiepings
waar jy bo begin en af beweeg was net die ou voertuie. Dit het ook vir jou ‘n tydlyn gegee wat in
Europa op daardie spesifiekte tydstip gebeur het terwyl Mercedes se stigters
bv. besig was om die eerste selfaangedrewe voertuig te bou, of watter model
Mercedes op die paaie was terwyl die Berlyn muur afgebreek is. Alles het soos ‘n legkaart inmekaar
gepas. Die karre is bitter, bitter
mooi. Daar staan baie ou, unieke
voertuie wat ons nog nooit gesien het nie.
Jy kon ‘n F1 motor se “simulater” ry en voel hoe dit voel om teen 300 km
/ h te jaag. Alles hier was die tekens
van goeie kwaliteit. Ons is na die
geskiedenis toer na die 3 verdiepings met die nuwe voertuie. Hierdie was baie spesiaal, want die “AMG”
reeks was hier. Dis hul vinnige
karre. Daai karre is amper te mooi om na
te kyk. Ek het persoonlik die Mercedes
Museum meer indrukwekkend gevind as die Porshe Museum. Dit was ‘n belewenis. Ons het vertrek na Stuttgart lughawe om ons
huurmotor terug te gee en ‘n vlug te vang na Schipol Amsterdam waar ons die
laaste dag van ons reis sou spandeer.
Die vlug was eers vertraag en daarna deur baie terbulensie, Pieter het
dit nie verskriklik waardeer nie! Veilig
anderkant het ons ‘n bus gevat na ons hotel (Hotel Central Park), amptelik die kleinste kamer op die
hele toer. Ek en Jacobus kon nie saam ons
sakke langs mekaar oopmaak nie. Hierdie
was letterlik ‘n geval van neem jou besluit voor jy by die badkamer ingaan,
want daar is te min plek op jou gedagtes te verander. Ons het naby die hotel by ‘n restaurant gaan
burgers eet en het uitgesien na ons laaste dag van die toer waar ons Amsterdam
te voet sou aanvat.
Dag 13 – 09.03.2017
Ek wou ‘n draffie inkry aangesien ons hotel langs Vondelpark
was, maar die oggend was mistroostig met ‘n ligte, natmaak reëntjie. Ons het ontbyt geëet en die strate
ingevaar. Ons was hopeloos te vroeg vir
die winkels en het net lekker rondgeloop
en die Hollanders bekyk was so mobiel is met die fietse. Almal ry fiets en dit lyk so gemaklik en
lekker. Al was die weer nie goed nie het
hulle steeds fietse gebruik om oor die weg te kom. Vir ons was dit vreemd, maar Amsterdam maak
deeglik voorsiening vir die fietse met oral hul eie bane en verkeersligte, so
jy kan eintlik nie anders nie. Ek sal
nogal van hierdie tipe leefstyl hou. Ons
is oor die kanale en in die winkels waar ons ons laaste aandenkings van die
reis te koop. Ons kon darem nie Holland
verlaat sonder om rou “herring” te eet nie.
Niemand van ons 4 het dit al voorheen probeer nie en 2 van ons toerlede
sal dit moontlik nooit weer probeer nie (Jacobus en Christoffel). Ek en Pieter het nogal gehou daarvan. Dit is rou “herring” wat voorgesit word saam
met gepekelde agurkies en gekapte uie.
Jy eet dit by ‘n straatkafee. Die
pekel maak dat dit soet is. Ek het dit
geniet. Sien foto’s hieronder. Ook moes ons Fritis en Mayonaisse eet en op
die koop toe sommer Bitterballen daarby saam met Heineken. Hierdie was ons laaste dag en ons het alles
probeer, letterlik, inprop!
Ons is na Madame Tussaud waar Christoffel en Jacobus die
waspoppe bekyk het terwyl ek en Pieter op die plein rondgedwaal het. ‘n Lang dag met baie stap is afgesluit in ‘n
Argentynse “steakhouse” waar ons ‘n heildronk ingestel het op ons baie
suksesvolle reis. Die ete was heerlik,
die vleis smaaklik en dit het die manne se verlange vir die huis meer
aangehelp. Die span wou nou braai! Ons is oppad terug hotel toe deur die baie
bekende / berugte rooiligdistrik, wat na Pigalle waar ons in Parys gebly het
niks vreemds vir ons was nie. Dis iets
wat jy moet sien as jy in Amsterdam is, al is dit net om te weet waarvan mense
praat. Dit is sekerlik een van die
grootste toeriste attraksies van Amsterdam waarvoor jy nie hoef te betaal
nie. Jy kan bloot deurstap en waarneem
saam met die ander duisende toeriste op straat.
Ons is terug hotel toe waar ons redelik uitgeput was en tot redelik laat
moes sukkel om ons tasse wat nou baie anders gelyk het as op dag 1, toe te
kry! Die volgende dag vlieg ons huistoe,
die tyd was nou reg.
Dag 14 – 10.03.2017
Ontbyt word in ons hotel eers van 07:00 af bedien en ons
moes te vroeg lughawer toe, so ontbyt sou op lughawe geniet word. Ons is weer met ‘n bus tot by die lughawe wat
ons so 5 €
per kop gekos het. Die inboek, deurstap
en sekuriteit het ongeveer ‘n uur en ‘n half geneem waarna ons ‘n ontbyt geeet
het en die laaste, heel laaste, geskenke gekoop het. Ons KLM vlug het ongeveer 10:30
opgestyg. Ons het almal baie opgesien na
die vlug, maar dit was in retrospek een van die lekkerste vlugte waarop ek nog
was. In die eerste plek sit jy langs
mense wie jy ken. In die tweede plek was
dit ‘n dagvlug, so jy voel nie gedwing om te slaap nie. Dit was ‘n redelike nuwe vliegtuig en die
nuutste flieks het gewys. Ons is twee
etes en ‘n “snack” bedien tydens die vlug.
Ek persoonlik het 3 flieks gekyk, die helfte my boek klaargelees, asook
hierdie blog getik tot op die punt waar ek slegs die foto’s moes bysit as ek
weer internet het. Die tyd het letterlik
gevlieg en daar was nie een oomblik wat ek verveeld was nie. Ons het 22:30 geland in Kaapstad en was spyt
alles waarna ons so lank uitgesien het was verby, maar het baie uitgesien om by
ons gesinne te kom. Volgende keer vertel
ek julle bietjie meer rondom kostes van so ‘n uitstappie asook wat ek
persoonlik uit die toer as mens neem.
Afrika Groete,
JG