18 Mei 2013

Totalsports Xterra - Grabouw

Op Sondag, 24 Februarie 2013 het die Totalsports Xterra te Grabouw Country Club plaasgevind.  Ek, Hildegarde en Peet Smit was ingeskryf.  Peet swem 1.5 km, ek bergfiets 28 km en Hildegarde "trail run" 13 km!  Ons het as gemengde span ingeskryf.


Grabouw Country Club
Twee weke voor die Xterra het Hildegarde haar kuit beseer by die gym een aand.  Ons was vas oortuig dat dit nie ernstig is nie en het geglo 'n paar fisio sessies sal haar gereed hê vir die hardloop gedeelte van die Xterra.  Ek en Peet het intussen net vir ingeval "transitions" geoefen en onsself voorberei om die hardloop been te doen indien Hildegarde nie reg is nie.  Sewe fisio sessies later en sy kon steeds nie hardloop nie.  Die hardloop het my of Peet se verantwoordelikheid geraak!

Die Sondag oggend dou voor dag is die hele Geldenhuys gesin en ouma Stephanie (my ma) deur Grabouw toe.  Dit was die eerste keer dat Hilge, JJ en my ma saam met ons na 'n wedloop toe gaan.  Hildegarde was 'n toeskouer en ek kon sien dat sy baie eerder 'n deelnemer wou wees.  Daar aangekom het ons agtergekom dat ons ongeveer 2 - 3 km van die wegspring moet parkeer!  Dit het al ons planne van gazebo's, kampstoele en piekniekmandjies in die wiele gery.  Alles het steeds goed uitgewerk en die toeskouers het 'n lekker tafel onder die groot tent gekry en daar was oral genoeg te koop om te eet en drink.

Peet na swem
Ek het my bergfiets en ander klere na die "transition" geneem en alles daar in orde gekry.  Om 08:15 het die skoot geklap en Peet was in die water.  Steeds het ons nie geweet wie gaan hardloop nie!  Peet het 'n lekker pas geswem en was na 31 min uit die water.  Ek kon sien daar was fout.  Peet was nie lekker nie.  Hy was gedisoriënteerd en het baie deurmekaar gelyk.  Ek het die "tag" by hom gevat, op die fiets gespring en gejaag.  In my hart het ek geweet ek gaan hardloop ook!  Die voorlopers swem die 1.5 km in ongeveer 18 min, so jy kan dink hoeveel bergfietsryers reeds voor my op roete was.  Die roete van die dag was grotendeels enkelspoor padjies, dus vir die minder ervare bergfietsryer, baie tegnies en stadig.

Ek is soos 'n koeël uit 'n geweer uit die
 "transition" en het probeer om op die eerste klimme soveel moontlik mense verby te gaan om dalk later vinniger by die enkelspoor te kon afkom.  Ek het lekker gery en net naby die baie berugte "rock garden" 'n vinnige val gehad, sonder blywende letsels!  Ritme was goed en ek het begin dink aan die volgende been wat ek dalk moet doen en myself net so 'n bietjie begin spaar vir 'n moontlike uitmergelende 13 km "trail run".  Temperature was op hierdie stadium reeds in die baie hoë 20's.  Ek het die bergfiets roete klaargemaak in 1 uur 50 min en Peet het vir my in "transition" gewag.  Na 'n vinnige gesels het ek agtergekom ek is steeds in baie 
beter kondisie as hy.  Hy was maar wit om die kiewe!  Ek het toe my drafskoene aangekry, 'n bietjie vloeistof geneem en maar weer in die pad geval. 


Nog 'n bult!
Om die dam op sand
"Trail run Profiel"
Die eerste 2 km tot by die waterpunt het dit redelik gegaan, daarna het ons begin klim en ek kon aan my lyf voel dit is nie my eerste aktiwiteit van die dag nie.  Intussen het die temperature ook gestyg na rondom 32 grade Celsius en dit het my glad nie gehelp nie.  Ek het maar geloop en dan gehardloop en die heeltyd die eindstreep as mikpunt gehad.  Die tyd was glad nie meer belangrik nie en die "finisher" medalje was al wat in my oog was.  Dit was regtig baie "tough"  en toe ek die gedeelte op die sand begin was daar weer 'n greintjie hoop by my, die einde was in sig!  Uiteindelik na 1 uur 36 min was ek klaar, dankie tog!


Die Eindstreep!
JJ - Xterra Warrior
Ons finale tyd vir al 3 bene was 4 uur 07 min.  Op die ou end het dit glad nie saakgemaak nie, die tevredenheid om wel te kon klaarmaak was van groter belang.  Dit was 'n asemrowende ervaring en solank leef sal ons beslis volgende jaar terug wees om ons tyd te verbeter.  Indien ons regte drawwer daar was, sou ons baie aan ons tyd kon skaaf!  Volgende jaar, beslis.

Dit was fantasties vir my om my hele gesin vir die geleentheid daar te kon hê.  Hulle almal het dit net so verskriklik geniet.  Altwee het hul Xterra tatoe's opgesit en was ook regte "Xterra Warriors"!  Hildegarde se hart was maar baie seer, maar ons weet nou baie beter wat om volgende jaar te verwag met hierdie geleentheid.



Hilge - Xterra Warrior
Moeë Warriors!
Die pad huistoe vir die kinders was lank en dit was nie 10 tellings nie, toe is hulle uitgepaas.  'n Lang dag vir almal, maar iets wat ons beslis na uitsien vir 2014.

Peet is die Maandag dokter toe en daar is vasgestel dat hy 'n mantelvliesbreuk het!  Die volgende week sou Hildegarde nog fisio kry vir die kuit.  Ons het intussen plek vir haar ook vir die Cape Argus gekry op 'n vriend van ons (Eddie du Toit) se naam en ons moes alles regkry vir haar vir die groot resies!  Vir my was die Argus Bergfiets uitdaging die week vir die Cape Argus nog eers aan die beurt. Meer van hierdie twee wedrenne volgende keer!

Groete,
Jaco G

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking