27 Mei 2013

SAD, Welvanpas en MTN Gravel Travel

Ek het reeds in een van die vorige blogs gesê dat die langer afstande draf nie vir sissies is nie. My lyf is beslis nie gebou vir dit nie, Hildegarde s'n is wel. So het ek dan myself weer daarin gekry om 'n halfmarathon saam met My Bruid te doen, die SAD Halfmarathon op 1 Mei 2013. Nou moet ek julle ook darem se, my fokus was in aanloop tot dit glad nie gerig op draf nie. Ek het elke moontlike kans wat ek kon kry die bergfiets gegryp en die pad gevat. Ek het een maal per week, maksimum 2 maal so 7 km gedraf, maar die algemene fiksheid was daar en ek was nie bang vir die 21.1 km nie - ek het wel nie baie uitgesien daarna nie! Hildegarde in teendeel, draf ten minste 4 dae van die week tussen 7 en 12 km, haar fiksheidsvlakke is baie hoog en ek het geweet ek sou weer die onderspit delf.


Jaco - SAD
Hildegarde - SAD
Ek het gemik om 2 uur te breek en sy het gemik om 1 uur 45 min te breek. Dit was 'n lieflike oggend in Wellington en perfekte weer vir hardloop. Een ding waarvoor ons nie reg was nie, was die derduisende mense. Ons moes omtrent bontstaan om net te kon wegspring en toe die 
skoot klap het ons 
geweet dat die nie 'n 
goeie dag is om jou persoonlike beste tyd te hardloop nie. Ons moes die eerste bult na die wegspring opstap, almal het, daar was net te veel mense. Die eerste 2 km het ons 15 min geneem. Ek het vir Hildegarde gese sy moet hol en nie oor my worry nie. Dit was 'n baie mooi roete en ek het dit verskriklik geniet, tot op so 13 km. Ek kon voel hoe alles begin pyn en styf raak, maar ek het deurgedruk en klaargemaak en net-net 2 ure gemis. Hildegarde het baie goed gehardloop en klaargemaak in 1 uur 43 min. Ek kon vir 3 dae nie normaal loop nie! Draf is nie my beste pel nie! Om te dink die oggend na die Transkaroo 240 km kon ek weer fietsry, maar na 21.1 km draf kan ek vir 3 dae amper nie beweeg nie.

Hildegarde - Welvanpas
Tier - Welvanpas
Die Saterdag na die SAD het ek, Charl du 
Plessis (Tier), Hildegarde en Lood by 
Welvanpas - ook in Wellington gaan bergfietsry. Hierdie was die ideale voorbereiding vir die volgende naweek se MTN Gravel Travel. Dit was ook baie goeie oefening vir Hildegarde wat die "downhills" aanbetref, baie tegnies! Sy het met vlieënde vaandels daar deurgekom. Dit is die pragtigste roetes daar bo in die berg en Pieter van Wyk en sy span doen uitstekende werk daar. Tier het ons van die roetes laat ry wat hy weet deel van die Gravel Travel roete is. Dit was 'n fantastiese middag en ons het die ondervinding terdeë geniet.  Goeie geselskap en pragtige natuurskoon.  'n Moet vir elke bergfiets ryer.

Die volgende Saterdag, 11 Mei 2013, is ek en Lood deur om die MTN Gravel Travel 75 km te gaan ry. Die wegspring was by Diemersfontein en ons kon die Elite ryers sien wegspring. Lood en ek was in verskillende wegspring groepe en ons het besluit om die dag maar individueel aan te pak. 'n Baie moeilike roete het vir ons voorgele. 75 km waarvan 60% enkelspoor was en
Geelslang se pik!
MTN Gravel Travel - Wegspring
2 200 m vertikale klim! Die eerste gedeelte om uit Diemersfontein te kom was 'n geplaveide bult. Ek was styf, bene moeg en boude het gepyn. Ek het gedink daar is groot fout. Die fout was dat ek yskoud was en glad nie opgewarm nie. Die bene het begin warm word en ek het sterk begin voel, maar aan die gemiddelde spoed gesien dit gaan 'n lang dag wees. Ons wat in en om Malmesbury bergfiets ry het wonderlike oop plaaspaaie, maar baie min enkelspoor, so ons geniet dit nog meer as die ander ouens. Dit was 'n ontsettende lekker roete. Daar was die "Cheese Grader", "Rollercoaster", Groen Mamba, "Lord of te Rings en dan die Geelslang - wat my gepik het! Ek is by die Geelslang by die afdraend af, my wiel steek vas en ek duik vir die naaste Bloekomboom, my pedaal slaan terug en slaan my op die knie! My arm sal ook blou wees soos ek die boom getackle het. Ek het lekker gery en klaargemaak in 4 uur 56 min. Lood was net agter my in net so oor die 5 ure. 'n Lang dag maar verskriklik lekker!


Ons volgende resies is die Amarider 100 en 50 Miler. Ek en Lood sou 100 Miler ry en Hildegarde die 50 Miler. Ek moes onttrek weens ernstige griep, so ek sal die beste ondersteuner vir hulle wees! Dit vind plaas op Saterdag, 25 Mei 2013, so meer daaroor net na die resies. Julle sal nou agterkom ek is op datum met al die goed wat ons vanjaar al gedoen het, so van nou af sal blogs "live" wees en ek sal skryf soos wat goed gaan gebeur of sopas gebeur het.

Groete,
Jaco G

1 opmerking:

  1. Julle is werklik indrukwekkend! Sterkte vir die res.

    AntwoordVee uit