20 Mei 2013

Aspen Transkaroo (240 km)

Na afloop van die Cape Argus was alle fokus verskuif na my groot wedren van die jaar, die Aspen Transkaroo 240 km uithourit van Sutherland na Ceres.  Ek en Lood het besluit om dit as individue aan te pak, maar steeds saam te ry.  Indien jy as span ry en jou rymaat maak nie klaar, dan kry jy ook nie die "finisher" medalje nie.  Ons het glad nie geweet wat vir ons wag, hoe ons dit gaan hanteer en of ons dit ooit sal kan klaarmaak nie.

Elke naweek na die Argus was dit 4 - 5 ure per dag in die saal en elke weeksoggend aan die gang gebly met normale oefen.  Sien aangeheg grafiek van totale km's gedraf, padfiets en bergfiets.  Baie ure!

Op hierdie stadium na die besige jaar tot dusver het my gewig gestabiliseer by 79 - 80 kg en ek het geweet watter kosse werk en watter nie.  'n Week verlof voor die Transkaroo het ook gehelp om die logistieke gedeelte van die resies beter te kon beheer.  Glo my, baie logistiek met ons gesin almal in Sutherland!

Perd kosgee - Hilge
Khoivisse kosgee
Ons het die Donderdag voor die Transkaroo ingeboek by Blesfontein Gasteplaas so ongeveer 30 km vanaf Sutherland.  Wat 'n fantastiese plek!  Die stilte van daai wêreld is onbeskryflik en die nagte is pikdonker.  Die Vrydag was 'n gesinsdag op die plaas voor ons die middag moes gaan registreer in Sutherland.  Die kinders het lammers melk gegee, perd gery, Khoi visse kos gegee en net die asemrowende natuur waardeer.


Akkomodasie - Blesfontein
Blesfontein vlaktes
Ons gasheer en gasvrou vir ons
verblyf te Blesfontein was Nicol
en Marina van der Merwe.  Die
akkomodasie was fantasties.  Nicol bied self 'n "stargazing" aand aan waar jy kan luister na baie interessante feite oor die lugruim en deur die teleskoop kan kyk.  Ons sal beslis gedurende die winter weer daar draai, wanneer dit regtig koud is!  Dit raak glo tot -10 grade Celsius daar!

Die middag is ons deur Sutherland toe vir registrasie by Jupiter Lounge en vinnig kon ons agterkom dat daar spanning in die lug is vir die volgende dag se groot wedren.  Lood en Saretha het in die hotel op Sutherland gebly en ons het afgespreek om mekaar die volgende oggend by die wegspring te ontmoet waar die vroue van daar sal begin saamry om ons ondersteuning span te wees en ek en Lood natuurlik op die fiets Ceres toe.....


Wegspring - Sutherland
Natuurskoon na 25 km
Die oggend van 6 April 2013 was koud en donker op Blesfontein.  Ons moes die ongeveer 30 km inry Sutherland toe om 07:00 te kon wegspring.  Dit was ongeveer 8 grade Celsius met die wegspring.  Die eerste 45 km was redelik maklik tot by CP1 (Checkpoint).  Daar is 'n plakker op elke fiets geplak en jou tyd is neergeskryf.  Tafels was vol kos en vloeistof.  Hierdie punt was nie 'n SP (Service Point) nie, dus mag daar nie hulp / toeskouers wees nie.  Ons het die Oubergpas afgegaan en seker een van die mooiste uitsigte op hierdie aarde in die oë gestaar.  Die Oubergpas af was senutergend - 8 km bult af met jou remme!


"Plug" in band
Oubergpas uitsig
Ons het dit maar kalm gevat, want die dag was nog lank!  Aan die onderpunt van die Oubergpas het ek gevoel daar spuit vloeistof teen my been, my agterwiel het 'n klip ingehad wat in die band gesteek het en ons moes stop om 'n "plug" in te sit.  Dit was my en Lood se eerste "plug" so ons was baie opgewonde toe dit werk!  Daarvandaan het ons net gery om by CP2 wat ook SP1 was te kom op 95 km.  Ons het geweet ons sal die vrouens en kinders daar kry en dan kan ons gou weer fietse deurgaan, ietsie eet en weer ry.  Daardie punt het 'n ewigheid gevat om te kom.  Teen net voor 11:00 het ons daar aangekom en so 20 min verwyl.  Die kinders was natuurlik in ekstase om ons te sien en dit was 'n baie lekker gevoel.


Tankwa Padstal na 170 km
Van hier het die werklike resies begin.  Die bene het begin voel hulle het al gery en die eerste paar klimme het aangebreek.  Die wind was ook nie meer so stil nie.  Ons het geweet die volgende CP is op 145 km, waar ook ligte middagete sou wees.  Ons het maar aangehou en uitgehou teen ons spoed en die lang tyd in die saal het sy tol begin eis.  Uiteindelik na wat soos 'n ewigheid gevoel het, het ons ingedraai by CP3.  Daar is gesig gewas, bottels volgemaak en aartappels geëet.  So 15 min later is ons weer in die saal gewees, die volgende CP en ook SP2 was immers net 25 km verder op 170 km.  Nou was die wind sterk van voor.  Ek het net oë toegemaak en gese Lood moet in my "slipstream" sit, steeds wou die pad nie korter word nie.  Ons was erg negatief toe ons uiteindelik op 170 km aankom by die Tankwa Padstal.  Die vrouens en kinders was daar met skoon klere, gevriesde water en lekker broodjies.  Hulle het ons ook na die klein swembadjie geneem om met ons bene in die ysige water te sit.  Dit het beslis gehelp!  Ons was regtig nie meer lus vir ry nie en hierdie ekstra bietjie liefde en ondersteuning van ons gesinne het ons net die nodige energie gegee om verder te wil gaan, hulle sou mos weer by eindstreep wees!




Laaste CP - 210 km
Soos uit boonste foto kan sien het die resies nou eers begin!  Die grootste klim van die dag, die Skittery Pas, was 'n 14 km lange stuk pad en oor daai afstand moes ons ongeveer 800 m klim.  Enige persoon wat fietsry sal jou kan se dat dit 'n rowwe klim is, maar om dit te doen teen die wind met bene wat al 180 km gedoen het is baie EINA!  Ons het gery, geskel, gevloek, gelag en nog enige ander emosie denkbaar beleef.  Met ons aankoms wat ons gedink het die bokant was en nou moes begin afry, kom ons agter dat ons eers nog ongeveer 15 km bo-op die berg moes ry voor ons die 3 km Katbakkies Pas kon afjaag.  Klein beloning vir baie harde werk!  Dit was so in die omgewing van 18h30 en dit het begin donker word.  Die volgende CP was op 210 km en elke plek wat gelyk het of daar lig het, het vir ons na die "pitstop" gelyk.  Om 19h45 het ons by ons laaste CP aangekom.


"Finisher" T-hemp
Medalje
Die vraag wat ek daar vir die mense gevra het, het as volg gelui:  Is daar nog bulte?  Antwoord:  Nee, net "rolling hills"!  Om dit vir 'n leuk te verduidelik, ja, daar is nog bulte, want julle bene en boude is gaar en julle moet nog 30 km ry in die nag!  Ons het letterlik aangesukkel.  Alles was seer en moeg, maar die adrenalien en die fokus was dit wat ons laat aanhou het.  As ek moeg raak, was Lood sterk.  As Lood moeg raak, was ek sterk.  Uiteindelik het daar 'n bord voor ons in die pad opgekom wat gese het "finish" met 'n pyltjie.  Ons het daar ingedraai en nuwe energie gekry.  Ons het om 21h50 klaargemaak!  Daar was ligte, musiek, komberse, koffie en ek was heeltemal uitgemergel.  Ek het toe ek afskakel, my laaste bietjie energie verloor, asook my eetlus.  Lood het soos 'n riet in die wind gebewe, maar braaf ons storie aan die vrouens vertel.  Ek was te moeg en kon net luister.  Ons het as beloning 'n T-hemp, medalje en nog 'n waterbottel gekry.  "Been there, done that, got the T-shirt!"

Hildegarde het vroeër my ouers in Ceres gekry en die kinders saam met hulle huistoe gestuur.  Sy het ons veilig weer in Malmesbury gekry.  Ek was meer uitgepaas as wakker oppad terug.  Ek wil dan ook hier weer ons vrouens bedank vir hulle ondersteuning vir daai baie lang dag.  Ons waardeer dit regtig verskriklik baie en sou dit op geen ander manier wou he nie!  Julle is ons alles!


ODO lesing na Transkaroo
Die volgende dag het ek op my rekenaar gesien dat die mense van Transkaroo ons hopeloos te ver laat ry het!  Hierdie was een van die grootste toetse vir my liggaam nog, en ek het verskriklik baie van myself op hierdie dag geleer.  Ek sou dit beslis nie sonder Lood kon doen nie.  Die feit dat daar iemand was wat dieselfde doelwit voor oë gehad het asook sy deursettingsvermoë het dit vir my 'n realiteit gemaak.  Dankie Lood, jy is 'n insperasie!

Volgende jaar ry ek en Hildegarde die Epic en die Transkaroo is ongeveer 'n maand daarna.  Hopelik gaan alles goed dat ons dan die opwaartse rit kan doen van Ceres na Sutherland en weer by ons vriende op Blesfontein kan kuier.

Groete,
Jaco G

1 opmerking: