Ek en Lood |
Lekker afdraand |
Ek en Lood in die wingerd |
Ons het saam weggespring en die wedren was van die begin af lekker vinnig. Na 25 km het ons vir mekaar gese dis te maklik, want tot op daai stadium was daar geen wesenlike klimme nie. Die weer was fantasties en ons het die een noemenswaardige klim lekker uitgesukkel en die 52 km saam in 2 uur 56 min voltooi. Dit was baie gesellig by die eindstreep en ons het lekker saam met vriende daar gekuier.
Hildegarde - Merida |
Jaco - Scott (Gumtree) |
Presies een week later, 10 Maart 2013, was dit tyd vir die grote! Die grootste padfietsrit ter wêreld, die Cape Argus Cycle Tour! Hildegarde het met haar kansellasie 'n fantastiese wegspringtyd gekry om 07:10! My geluk was dat ek om 08:48, na al die liefdadigheidsgroepe moes wegspring! Hildegarde is hierdie keer saam met Lood vroegoggend al weg, terwyl ek die kinders klaargemaak en by ouma Fanie en oupa Kola gaan aflaai het. Parkering met my wegspringtyd was 'n nagmerrie. In my Nexus klere was ek darem betyds by wegspring en kon toe die skoot klap in die pad val. Ek moes alles insit om verby al die stadige groepe te kom, maar nerens kon ek iemand optel wat my spoed ry nie en het geweet dat 'n harde dag voorle. Padfietsry werk op die beginsel dat jy as 'n groep in mekaar se "slipstream" ry. Die werk word gedeel en ryers maak beurte om voor te ry om energie verbruik te bestuur.
Kort na Simonstad is daar 'n klim op na Smitswinkel toe. Dis op ongeveer 40 km die rit in. Die ou by wie ek die fiets gekoop het, het my gese die "shifters is sticky" dit het my nie gepla nie, want met die oefen het ek agtergekom dat as ek hom ligte tikkie op kant gee hy gemaklik ratte verwissel. Teen die klim op wou hy net niks weet van ratte verander nie. Ek het afgekyk om fout te soek en toe ek opkyk gaan staan die ou voor my in die pad doodstil! Ek raak sy wiel en val....Ek weet nie presies waarop ek val nie, maar voel my ribbes is bitter seer! Ek staan op, spring op my fiets en trap, maar o wee, my ketting is af en die "shifters" staan heel skeef! Ek vat toe maar my tyd en kry die ketting op en begin stadig aantrap. My skouer en ribbes pyn en ek is kwaad vir myself. Elke hobbeltjie in die pad voel ek in my ribbes. Ek was vas oortuig hulle is gekraak of tussenribspiere beseer. Na so 65 km het ek aangeneem dat Hildegarde al klaar moes wees en ek het haar gebel. Sy het my meegedeel dat sy veilig is en 3 uur 48 min gery het! Ek was vas oortuig dat ek 4 en 'n half ure gaan ry, Chapman's Peak en Suikerbossie was nog immers voor! Ek het my ritme stadig maar seker teruggekry en teen 'n stadiger as gewoonlik, maar tog aanvaarbare pas aangebeur. Chapman's en Suikerbossie oor en toe 10 km voor die einde 'n paar vinnige krampe in elke been en toe oor die wenstreep waar Hildegarde en Lood vir my gewag het tussen al die duisende mense. Hulle kon my nie kry en Lood vra my toe oor die telefoon of ek ooit by die regte wenstreep is! Hy het 'n skitterende 3 uur 28 min gery, my droomtyd!
Hildegarde - Suikerbossie |
Jaco - Chapman's Peak |
Ons het beide die resies baie geniet en sal beslis volgende jaar weer probeer ry, dis darem immers in dieselfde maand as die Epic!
Mooi bly,
Jaco G
Skitterend gedoen. Sterkte vir 2014.
AntwoordVee uitEk is so trots op julle twee!! Baie sterkte met alles wat voorlê. Lief vir julle. Ma Stephanie.
AntwoordVee uit