Hierdie afgelope week is die roete bekend gemaak. Dit duur van 23 tot 30 Maart 2014 en neem ons van Meerendal na Robertson na Greyton na Oak Valley tot by die eindpunt in Lourensford. Almal het met groot afwagting vir hierdie dag gewag en noudat dit bekend is, weet ek nie of ons opgewonde, bang of dalk net heeltemal onseker is nie! Die roete behels 718 km met 14 850 m se klim oor die 8 dae. Oudergewoonte begin almal op Sondag, 23 Maart 2014 by Meerendal vir die "Prologue". Hierdie is 'n bene losmaker om net almal se senuwees tot bedaring te kry. Die volgende 3 dae begin in Robertson vanwaar ons op dag 3 na Greyton ry en twee dae van daar wegspring. Ons laaste vesting is Oak Valley in Elgin en die laaste Sondag ry ons weer oor die berg na Lourensford soos in die vorige 7 jare.
Die twee mees uitdagende dae is Dag 1 en Dag 5 - om niks weg te neem van die res van die roete nie! Glo my alles is 'n enorme uitdaging. Voorbereiding verloop goed en ons is positief dat ons op die regte pad is. Ons is ook stadig maar seker besig om vir ons 'n klomp "spares" bymekaar te maak na aanleiding van wat alles met die mense gebeur het op vanjaar se Cape Pioneer Trek. Al het ons nie gery, het ons baie geleer. Ek was baie voor op die wa en het so 'n paar weke gelede van 'n baie goeie bron verneem waar die roete is en vir ons gastehuise in die spesifieke dorpe bespreek. Gelukkig was die dorpe reg en ons gaan in bietjie meer luuksheid oornag - my bruid se een groot voorwaarde!
November is die maand waar ons programme ook in alle erns afskop. Dit is 'n dol maand wat Wines2Wales, Double Century, Stellenbosch Origins of Trials en Die Burger padwedren insluit. Baie goeie voorbereiding vir alles wat op ons wag. Ons (Ek, Manus Bester en Thom Orchard) het so 'n week of wat gelede in Darling by Gabri Steyn op die plaas gaan ry. Gabri het 'n 21 km "singletrack" op die plaas gebou. Wat 'n fantastiese ondervinding. Baie goed ontwerp en onderhou met 'n pragtige roete in Darling. Hierdie roete is oop vir enigeen om te ry. In die werf is 'n "Courtesy Box" waar jy R20 ingooi en die roete gaan ry.
"Singletrack" in Darling |
Ons gaan in die volgende paar maande oor die 2 000 km as "Team Nexus" ry. Ons wil aan elkeen die geleentheid bied om vir die projek 'n bydrae te lewer. Borg 'n km vir R10 en maak 'n verskil aan iemand se lewe - "We Ride to Breathe".
Maak asb 'n donasie in die volgende rekening:
Cape Cystic Fibroses Association
First National Bank
Table View Bank
Branch Code: 203 809
Acc no: 600-2120-3588
Ref: Nexus Epic
Ek wil dit duidelik stel dat alle gelde wat ingesamel word na Cape Cystic Fibroses Association gaan. Ons wil graag bewusmaking skep van 'n siekte waaroor daar huidiglik nie baie gepraat word nie. Een van die beste maniere vir 'n langer lewe met die siekte is oefening, so dit pas perfek by dit waarmee ons besig is!
Lekker oefen, ons hou almal op hoogte van ons aksies. Maak ook asb aan die onderkant van die blog 'n opmerking en deel ons opgewondenheid.
Groete,
JG