|
Ons opset by Hartenbos ATKV |
Die afgelope naweek was een van die lang afgewagte geleenthede van ons jaar, ons eerste Karoo to Coast van Uniondale na Knysna. Ons het lank gewik en weeg of ons moet voortgaan om deel te neem aan die wedren, dis 'n logistieke nagmerrie en die feit dat ek en Hildegarde beide deelneem maak dit net nog ingewikkelder. Ons het plek bespreek in Hartenbos by die ATKV oord en my ouers gevra om saam te gaan. Hierdie was ook die eerste amptelike wedren vir ons Epic voorbereiding. Ek wil vir al ons borge wat tot op hede na die tafel gekom het, baie dankie sê vir die ondersteuning. Almal se inligting verskyn aan die regterkant van die blog!
Die naweek program sou dan as volg lyk:
|
Nuwe borge baadjie! |
|
Die manne braai |
Vrydagaand, 20 September 2013 - Slaan kamp op in Hartenbos en slaap die aand daar.
Saterdagaand, 21 September 2013 - Pa Kobus neem ons deur na Uniondale en ek en Hildegarde slaap in tente op die Hoërskool se rugbyveld. Sondag, 22 September 2013 - Ry Karoo to Coast van Uniondale na Knysna en hele gesin kom haal ons in Knysna en slaap weer in Hartenbos. Kamp vandaar in Hartenbos!
|
Hilge en Ghia |
Redelike deurmekaarspul, maar soos julle kan sien, die ondersteuningsraamwerk was weer almal teenwoordig! Om alles te kroon, was ons bure - Ivan, Ankea en Ghia Louw - ook in Hartenbos. Hulle is saam met my ouers en Elsie (ons getroue huishulp) ons regterhande. Die kinders speel permanent oor en weer en ons is soos een groot familie! Die kinders was dus heeltyd besig by die see.
|
Tente op rugbyveld - Uniondale |
|
Die wit is ys! |
Saterdagmiddag is ek, Hildegarde en my pa deur Uniondale toe. Ek het vir my en Hildegarde elkeen 'n eenman tent geboek om die deurmekaarspul van die volgende oggend te probeer afweer. Die weer het mooi saamgespeel en daar was geen reën, maar die koue was met ons. Ons het alles in ons vermoë gedoen om gepanser te wees teen die koue en om eerlik te wees was dit op die ou end nie so sleg nie. Die registrasie proses was maklik en ons het 'n lekker spaghetti ete vir aandete gehad. Vroeg in die bed gekruip om 100% te wees die volgende oggend. Sondagoggend 05:00 was ons wakker en het stadig maar seker die koue begin trotseer. Die tentjie het 'n yslaag oor gehad, maar toe die sonnetjie sy kop uitsteek het dit begin warmer raak. Ons het muffins, koffie en oats vir ontbyt gehad en begin aanstoot na die wegspring. Ons was in groep C wat beteken het ons moes 08h10 wegspring.
|
Jaco neem foto van Hildegarde! |
Die skoot het geklap en ons was in die pad. Ons eerste Karoo to Coast het amptelik begin! Ons het vir ons 'n tyd van 4 uur 30 min as mikpunt gestel, maar moes vroeg al verstaan dat dit nie so maklik tussen al die mense gaan wees nie. Daar is 'n wye spektrum van fiksheid- en uithouvermoë vlakke, dus die opdraendes waar slegs tweespoor paadjies is, was maar redelik beknop. Daarna was dit 'n "oop" wedren en ons kon lekker gemaklik ry. Hierdie is 'n pragtige roete met van die mooiste natuurskoon wat ek nog op my bergfiets beleef het. Dit wissel tussen die stiltes van die Klein Karoo en die bosse van Knysna. Dit was nooit warm nie, maar ook nooit onaangenaam koud nie - net perfek! Ons het geen probleme op die pad gehad nie en toe die laaste 30 km aanbreek het ek vir Hildegarde gesê dat as ons hard ry, ons nog 'n kans het om ons mikpunt te behaal. Sy het nie op haar laat wag nie en het 'n baie sterk poging ingesit. Ons het lekker gejaag en klaargemaak in 4 uur 40 min. Ons mikpunt met 10 min gemis, maar steeds baie tevrede. Hildegarde was die 32ste vrou.
|
Team Nexus op die eindstreep! |
Daar was 'n baie lekker atmosfeer by die eindpunt. Die Lions Klubs van Uniondale en Knysna het baie hard gewerk om 'n groot sukses van die geleentheid te maak. Fondse wat ingesamel word op hierdie geleentheid word gebruik vir die Lions se "SightFirst" projek. Die projek behels oog genesing operasies vir die armes en dien dus weereens 'n uitstekende doel. Baie dankie vir jul inisiatief en harde werk! Baie geluk ook met 'n uitstekende geleentheid! Ek sal beslis enige persoon wat van 'n uitdaging hou aanbeveel om hierdie wedren te gaan doen. Dit is beslis nie "a walk in the park" nie. Oefen genoeg, anders gaan dit 'n lang dag op die fiets raak. Dit klink afdraand, maar jy klim rondom 1 800 m vir die dag!
Die Maandagoggend het Hildegarde vir 'n uur gaan draf en ek het 'n "recovery ride" van so bietjie meer as 'n uur gedoen. Dit was heerlik om langs die see tussen Klein Brak en Hartenbos net rustig te ry. Sou graag elke dag so wou kon oefen!
|
"Recovery Ride" teen die see! |
Hierdie naweek neem ek deel aan die Piket-Bo-Berg wedren. Sal volgende week meer daarvan vertel!
Lekker bly,
JG