Op Saterdag, 17 Augustus 2013 was dit weer die beurt van die tradisionele Onkruid Vasvra (Rally). Die dag is vroeër jare deur die destydse koöperasie aan die produsente gebied in die vorm van 'n rally. Jy het gery van plaas tot plaas en die manne se plase besoek en na trekkers, parte ens. gekyk. Jy moes dan meganiese vrae beantwoord en wenners is aangewys. Hierdie was die oorspronklike byeenkoms. Hierdie formaat het uitgesterf en die dag het doodgeloop. In die 90'er jare het die manne weer die byeenkoms afgestof en die Hermon Boerevereniging Onkruid Rally het ontstaan. Die dag was altyd 'n groot hoogtepunt op die kalender. Die nuwe formaat was dat vrae by spesifieke punte op koringlande uitgewys word. Daarheen word dan "gejaag" en vrae moet beantwoord word. Vrae het gegaan oor watter tipe onkruid by die spesifieke punt staan en waarmee dit beheer kan word, asook algemene kennis vrae oor die distrik. Die wenner was die span met die meeste regte antwoorde in die vinnigste tyd - 'n regte Rally! Verskeringseise het veroorsaak dat die formaat weer later verander het en die tydtoets is afgeskaf (daar was van die deelnemers wat te entoesiasties geraak het). Dit bring ons nou by die hedendaagse formaat.
Elke landbouvereniging doen sekere dinge om fondse in te samel. Hermon Landbouvereniging gebruik die Onkruid Vasvra. Ons vra al die organisasies waarmee ons besigheid doen om 'n bydrae vir die dag te maak. In ruil daarvoor kan hulle kom uitstal en die dag met hulle kliënte sosiaal deurbring. Hierdie jaar was geen uitsondering nie. Organisasies het nie geskroom om 'n bydrae te lewer nie. Martin Jooste Landboubemarking wat my Nexus kollega is, was die hoofborg van die dag en het deur Wildboar Catering (Marius en Ursel Wagener) gesorg dat almal genoeg te ete en drinke kry.
Die dag is bygewoon deur 75 mense waarvan 54 die roete gery het. Vrae word by punte op verskillende produsente se plase gevra. Aanwysings na die punte word met die wegspring aan deelnemers gegee en die roete word gevolg. Die deelnemers kry dus die geleentheid om verskillende plase te sien in die ongeveer 40 km roete wat gery word. Op die ou end van die dag word vraestelle "ingegee" en gemerk en 'n wenner word op 'n prysuitdeling aangewys. Vanjaar was die wenners (ook die verdedigende kampioene) Deon Steyn, Nelius van Santen en Van der Bijl Brink. Daar is natuurlik baie pret op die dag met spanne wat gediskwalifiseer word weens verskeie redes (onwettige telefoon oproepe, handboeke, Google, ens.) Na afloop van die prysuitdeling kan almal die dag verder geniet. Vanjaar is ons bederf met 'n lekket T-been biefstuk deur Wildboar Catering.


Vir nou is dit weer terug na die oefen. Verlede week was ek bietjie siek gewees en ook al die reëlings met die boeredag het maar redelik tyd gevat.
Groete,
JG
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking