Ek en Hildegarde het besluit om op Saterdag 12 April 2014 'n lekker lang ent te gaan fietsry om haar knie te toets na Epic. Die fisio het haar egter die Vrydagmiddag meegedeel dat indien sy die Transkaroo wil ry, sy nog eers rustig moet wees. Ek besluit toe laat die aand om die volgende dag die Fine Breed MTB net buite Worcester te gaan doen. Dit was 'n 46 km wedren. Die hele Epic het ons gery aan gemiddeld 100 km per dag. Nou skielik moes ek 'n baie kort afstand jaag. Ek het glad nie geweet hoe ek sou voel om van die geweerskoot af reg te wees om hard te ry nie en was stilweg ongemaklik met die onbekende. Ons het eers 08h30 weggespring en dit was reeds warm. Ek het in groep C begin en was dadelik voor in my groep, maar kon voel die bene is nie gewoond aan die vinnige wegspring nie. Na ongeveer 'n halfuur was ek lekker opgewarm en kon die pas opstoot. Ons het van die A en B groepe se ryers begin verbygaan en ek was baie tevrede met hoe ek gevoel het. Ek het klaargemaak in die 23ste posisie algeheel in 'n tyd van 2 uur 22 min. Johann Rabie (my chaffeur vir die dag) het gewen in 'n tyd van 1 uur 54 min. Sy prys was wyn tot dieselfde gewig as wat hy is. Ons is daar weg met 13 x 6 bokse! Geluk Johann...
Om terug te kom na die Transkaroo, ek en Lood het dit verlede jaar saam voltooi. Hierdie jaar was daar 9 ander ryers van Malmesbury teenwoordig. Wat 'n lekker uistappie om na uit te sien. My voorbereiding die week voor die wedren was weglaatbaar min. Ek het die vakansiedag (Maadag van Paasnaweek) met Hildegarde 2 ure gery en gevoel my keel voel nie lekker. Van daar was dit al die tyd afdraend met my gesondheid. Woensdag dokter toe, Vrydag weer en antibiotika moes my deurtrek. Ek het myself tot 100 km in die wedren gegee om te besluit wat ek sou doen.
Hierdie is nie 'n wedren waaraan jy deelneem vir 'n tyd nie. Jy neem deel om onder die afsnytyd van 17 ure klaar te maak. Dis glad nie tegnies nie, maar baie lank en jy klim oor die 3 000 m op die rit van 240 km. Die ergste van alles is dat jy die pragtige Oubergpas op 190 km bereik. Teen daardie tyd is jy redelik siek en sat van jou fiets se saal en dan wag hierdie monster voor jou!
Ons het om 07h00 op 'n pragtige oggend weggespring by Eselfontein in Ceres. Die roete sou ons oor die Bo-Swaarmoed pas neem, deur die Karoo Poort oor die Oubergpas na Sutherland. Gemoedere was goed en almal was gereed vir die groot uitdaging.
Ek en Hildegarde het besluit ons gaan weer net ry met 'n tempo waar ons gemaklik is. My keel het nog gekrap en ek het besluit om net op mart hartklop te konsentreer. Die oomblik wat hy oor 160 bpm gaan het ek die voet van die pedaal gehaal. Op 38 km het Saretha, Makkie en die kinders gewag en almal was baie behulpsaam om ons warm klere ens. aan te vat wat ons uitgetrek het, asook broodjies aangee. Hulle is ook verantwoordelik vir paar van die foto's in die blog. Die ander foto's is die werk van www.oakpics.com. Na hierdie dienspunt was ek en Hildegarde alleen vir ongeveer 30 km vanwaar ons by 'n bondel aangesluit het tot by die volgende "checkpoint" op 90 km. Hier het ek beter begin voel en besluit dat ek en Hildegarde as "Team Nexus" dalk 'n kans het vir die podium van die gemengde pare. Dit was 'n sieldodende stuk pad vir die volgende 90 km. Daar was darem 'n liggie in die tonnel met die kinders wat weer vir ons op 145 km sou inwag! Ons het die wind van voor gekry vir groot gedeeltes van roete met die middel klimme van die dag op 120 km. Ons kon vinnig stop op 145 km en die kinders was baie bly om ons te sien. Warm klere, ligte en kos en ons was binne 5 minute weer op die pad. Hierdie items sou later die aand eers nodig wees, maar ons moes dit nou al in ontvangs neem aangesien daar nie weer 'n dienspunt met ons eie "crew" was nie. Daar was 40 km teen die wind op die warmste deel van die dag wat voor ons uitgestrek gelê het tot die voet van Oubergpas. Die Tankwa karoo was pragtig en omdat die roete glad nie tegnies was nie, kon ons die omgewing regtig waardeer. Indien ons weer sal terugkom om hierdie wedren te ry, sal die skoonheid en SKOON-HEID (daar lê niks rommel en lug is skoon) die hoofredes wees.
Ons het aan die voet van Oubergpas besef dat ons dalk die sonsondergang van daar bo gaan kan beskou. Ons het ook vir Saretha by die vorige waterpunt ingelig dat ons vir 12 ure mik, wat sou beteken dat ons 19h00 in Sutherland behoort te wees. Oubergpas is moeilik, maar beslis nie die einde van die wêreld. Ons was rustig daarop, maar het nie piekniek gehou nie. 17h00 was ons bo. 198 km was agter die rug en die einde was in sig. Vinnig bottels volmaak, ietsie eet, warm klere aantrek en ons was weer op die pad. Ek weet nie of ek die woord op so 'n openbare platvorm mag gebruik nie, maar hier kon ek agterkom dat Hildegarde begin GATVOL raak. Ons was so net oor die 10 ure op die pad en wou net klaarkry. Daar was nog een of twee klimme oor en die beentjies kon dit begin voel. Ons het die laaste 40 min ons ligte nodig gehad en het om 19h17 Sutherland bereik. Ons totale tyd vir die Transkaroo was 12 uur 17 min. Die organiseerders het ons ingelig dat ons die eerste gemengde span was en die volgende oggend by die prysuitdeling moet teenwoordig wees. Saretha, Makkie en die kinders was daar en ons was baie verlig en trots!
Die prysuitdeling is gevolg deur die onderhoude. Vrae het meestal gehandel oor die afstand en lengte van die resies, asook die pragtige natuur ens.
Ons is na afloop van die oggend se verrigtinge weer terug na Blesfontein waar almal 'n redelike lang siesta gehad het en die aand afgesluit met 'n heerlike Noord-Kaap braai en sonsondergang.
'n Onvergeetlike naweek en goeie lafenis vir die siel. Blesfontein is vir ons 'n moet elke jaar en ons sal met hierdie tradisie (om daar te gaan kuier, nie noodwendig Transkaroo ry) voortgaan so lank as moontlik.
Ons hou onsself maar steeds besig met oefen, daar is lekker paar wedrenne in ons area in Mei maand waaraan ons sal deelneem.
Cheers vir nou,
JG
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking