Ek sit en skryf nou hier, presies 'n week na die ABSA Cape Epic van 2014. Ons het ongelooflik baie tyd en energie in dit ingesit en dit voel asof iemand die ligte afgeskakel het. Dis oor en verby en 'n mens wonder of jy as amateur weer in jou lewe so hard sal werk om 'n doelwit te bereik. Ek is baie gevra oor hoogtepunte en laagtepunte van die week. Ek gaan so bes moontlik 'n opsomming van die hele wedren gee en so bietjie wat agter die skerms by ons gebeur het.
Prologue - Meerendal (23 km met 700 m klim)
Alles is reg, die fietse is gediens, ons voel goed en het vir 9 maande voorberei aan hierdie geleentheid wat hom nou uiteindelik kom voordoen het. Daar is baie emosies wat deur ons gaan. Opgewondenheid, senuwees en dan natuurlik al die adrenalien. Die belangrikste op hierdie dag is om in een stuk klaar te maak. Nie te haastig te begin en onnodige foute maak wat op die einde die einde van jou hele droom kan beteken nie. Familie en vriende was in groot getalle daar om ons te ondersteun en jy het tussen jou eie mense soos 'n "celebrity" gevoel! Ons het in ons "limited edition" hemde gery ten bate van bewusmaking van Sistiese Fibrose. Ons grootste vrees was om by die trappe van die Manor House af te ry. Die oggend toe ons daar aankom, sien ons daar is nog 'n kinkel in die kabel. Daar het plastieksakke vol druiwe gelê op die stuk gras net na die trappe. Ons moes van die trappe bo-oor die druiwe ry. Hulle maak dan 'n spesiale wyn van die druiwe waaroor ons gery het. Teen die tyd wat ons moes wegspring (08h48) was ons redelik kalm en baie lus om te begin. Ons het goed begin, deur die huis, trappe af, oor die druiwe en toe veilig op die pad sonder probleme. Dankie tog, die ergste deel van die roete was verby. Ons het baie verkeer op die pad gekry, maar steeds klaargemaak in 1 uur 33 min. Ons mikpunt was 1 uur 30 min, maar ons was tevrede. Hierdie was dan ook die grondslag vir ons week, want ons het gesien ons is die 20ste "Mixed Team" en het besef dat ons dalk in die top 20 van die gemengde pare kan eindig as ons konstant is.
Foto's van Prologue in Sistiese Fibrose klere |
Stage 1 - Robertson tot Robertson (113 km met 2 950 m klim)
Ons eerste "race village" was by Arabella Wines in Robertson. Ons het nie in die "race village" geslaap nie, maar meeste van die goed daar gedoen. Ons het soggens voor wegspring daar ontbyt genuttig en een of twee aande daar gaan eet. Jou wegspring tyd word bepaal op jou GC (General Classification). Hoe beter jou klassifikasie is, hoe vroeër is jou wegspring die volgende oggend. Die eerste ryers spring 07:00 weg en vandaar volg die res in groepe 10 min uit mekaar uit. Stage 1 was 'n harde dag (soos op elke Epic!). Die organiseerders WIL jou seermaak en kyk of jy mans genoeg is om Stage 2 weer by die wegspring te wees. Die oggend was effens mistig en koel, maar eintlik baie aangename weer vir fietsry. Ons was lekker vars en reg vir die aksie. Die klimme het gewag en ons voorbereiding moes ons nou deurtrek. Die eerste 30 km was relatief plat en vinnig. Ons is deur wingerde met baie volstruisdorings en die wiele het baie gespuit (seëlmiddel wat die gatjies moet toemaak). Ons het die eerste klimme bereik sonder probleme. Van hier het ons die grootste deel van die dag in die koppe by Robertson gery. Die mis was dik daar hoog bo en daar was baie gevaarlike en vinnige afdraendes. Hildegarde het almal gery en hoef nêrens af te geklim het nie. Afdraendes was haar grootste vrees voor die Epic en ek kan met trots sê dat sy haar vrese oorkom het. Sy het dit soos 'n professionele ryer hanteer. Dit was 'n harde dag, maar ons het dit suksesvol klaargemaak in 6 uur 46 min. Ons was die 15de "Mixed Team" vir die dag en die 218de span vir die dag. Ons baie klim oefening het beslis ingeskop! Dit het ons testaan gebring op 15de van die gemengde spanne en 234ste vir die wedren se totale tyd....Skielik het ons geweet dat ons nie meer hier was om net klaar te maak nie, ons kan hier dalk iets bereik as alles hou!
Stage 2 - Robertson tot Robertson (103 km met 1 550 m klim)
Ons het reeds deur die nag gehoor daar kom moeilikheid. Dit het katte en honde gereën. Ons is nie bang om nat te word nie, maar modder en fietse gaan beslis nie saam nie. Ons is begroet met 'n modder massa by die wegspring en geweet vandag gaan 'n lang dag wees. Dit was veronderstel om 'n "rusdag" te wees in Epic terme, maar die natuur het anders besluit. Ons het versigtig gery op die gladde paaie en die fietse so goed moontlik probeer oppas. My ouers sou met die kinders by waterpunt 2 in McGregor vir ons inwag. Ongeveer 10 km voor McGregor het ons deur taai modder / klei gery en die fietse se "drivetrains" was heeltemal toegepak. 'n Rivier moes eers gebruik word om alles af te was voor ons verder kon ry. Ons is deur McGregor en kon ons ondersteuners sien! Dit het ons nuwe energie gegee om die eindstreep te haal. Ons was deurtrek met die modder. Dit was op plekke waar ons nie eens geweet het modder kan in nie, maar ons het klaargemaak in 6 uur 18 min. Ons was die 14de "Mixed Team" vir die dag en 229ste algeheel. Dit het ons gehou by totale posisie van 15de in die gemengde afdeling en laat afskuif na 226ste vir die totale wedren. Gelukkig was my ouers daar om te help met die klere was. Dit was 'n enorme gemors en ons moes hard spook om dit alles skoon te kry. Nuwe briekblokke moes installeer word na hierdie rowwe dag.
Die modderdag - Stage 2 |
Stage 3 - Robertson tot Greyton (134 km met 1 900 m klim)
Ons het ons laaste aand in Robertson deurgebring en was vandag oppad na The Oaks Estate in Greyton. Die langste dag van Epic 2014. Ons het geweet Stage 3 gaan moeilik wees. Jou liggaam is nog nie gewoond aan die roetine van 'n Ultra Marathon elke dag nie. Jou bene en lyf is moeg en jy voel pap. Ons het geweet ons moes net deurdruk, Stage 4 sal makliker gaan as die liggaam se nuwe roetiene inskop. Stage 3 was baie plat stukke distrikspaaie. Groot gedeeltes is soos 'n padwedren hanteer waar jy in bondels ry. Die eerste 20 km kon Hildegarde eenvoudig net nie by een bondel bly nie. Sy het die heeltyd vir my gesê sy trap swaar. Ons het toe besluit om te stop en kyk wat fout is. Haar nuwe remblokkies het teen die "rotor" geskaaf wat haar weerstand gebied het. Ek het dit reggemaak en dit het beslis baie makliker gegaan vandaar. Dit was 'n uiters lang en sieldodende dag met meeste van die gedeeltes die wind van voor. Ons was baie verbaas om by die laaste waterpunt weer my ouers en die kinders te sien. Hulle het besluit om weer vir ons te kyk en weereens het dit veroorsaak dat ons 'n ekstra bietjie energie kry om die eindstreep te haal. 'n Lang dag het in Greyton tot 'n einde gekom na 7 uur 39 min. Ons het gedink ons gaan redelik plekke verloor aangesien ons heeldag nie so sterk gevoel het soos die vorige paar dae nie. Tot ons verbasing het ons 19de van die "Mixed Teams" en 333ste algeheel vir die dag geëindig. Dit het ons totale posisie soos volg laat lyk - steeds 15de gemengde span en 262ste algeheel. Ons kon die kinders lekker druk en aangaan met ons Epic roetine.
Ons was 3 spanne wat vir Eddie du Toit van RE-CON gebruik het vir ons masserings. Hy het hulp gehad van Pallo Manuel om ons so spoedig op die regte plekke te kry. Na afloop van 'n dag sal Eddie die eerste groep dadelik huistoe neem en so gou moontlik begin met die masserings. Gewoonlik teen die tyd wat hy met die eerste span klaar is, was die ander span reg vir hulle sessie. Dit het baie goed gewerk en het vir ons as deelnemers die lewe baie makliker gemaak.
Ons aankoms in Greyton na Stage 3 |
Stage 4 - Greyton tot Greyton (88 km met 1 850 m klim)
Weereens 'n lekker mistige oggend, maar perfekte bergfietsry toestande. Ons het 'n goeie nagrus gehad en het baie goed gevoel. Dit het reflekteer in die fietsry met die wegspring. Ons was sterk vandag en ons het 'n punt gehad om aan onsself te bewys. Daar was een of twee van die ander gemengde spanne wat ons vandag wou wen. Ons het lekker gery en redelik tyd opgemaak, maar na sowat 15 km het my fiets snaakse geluide begin maak. Iets was ernstig fout. Op ongeveer 20 km kon ek nie meer die geraas verduur nie en het gestop, my agterwiel gewikkel en besef my "bearings" het opgepak. Ek kon deur nou te begin stap ernstige skade en kostes vermy, maar dit sou baie langer vat. Ek moes by waterpunt 1 kom waar die "Techzone" was sodat hulle na my wiel kan kyk. Dit was nog 9 km. Hildegarde het so 'n klein valletjie die oggend gehad en ons het hier tot 'n skop agtergekom dat haar "handlebar" gebreek is, presies waar sy dit vashou. Na die volgende 8 km het my wiel "gecease". Hy wou glad nie meer draai. Ek het die laaste km tot by die waterpunt gehardloop en my fiets gedra en gesien hoe ons grootste kompetisie verby ons gaan....
Die stukkende wiel... |
Hildegarde se hart was gebroke. Ek het om hulp gesmeek by die "Techzone". Hulle het my meegedeel dat ek redelik ernstige skade veroorsaak het en hulle niks vir my kan doen nie. Ons het toe besluit om nuwe wiele te koop, asook 'n 10-spoed cazette. Dit op my fiets te bou en te hoop dat ons sou kon aanry. Dit het so 35 min geduur. Ons het besef dat daar nog ekstra "spasers" kort en hulle moes "race village" toe bel en die persoon moes dit met 'n motorfiets na ons bring. Na 1 uur 5 min was ons weer op die pad. Hildegarde het in die tyd wat ons gewag het op 'n stadium gewonder of sy nie maar alleen moet aanry nie. Die Epic is egter baie streng wat dit aanbetref. Indien jy en jou rymaat enige tyd verder as 2 min uitmekaar is, sal jy met 'n uur gepenaliseer word.
Met ons aankoms by die waterpunt was ons ongeveer 250 ste, met ons vertrek het die aankonidger gesê dat daar nou 1 100 ryers duur die waterpunt was. Dit het beteken dat ons ongeveer 550ste was! Ons moes deur die hele veld terugry en daar was bitter baie "singletrack" op hierdie dag. My nuwe wiele was egter nie "tubeless" en op 58 km het ek 'n pap wiel gehad. Hildegarde het nie besef ek het probleme en sy het aangery. Ek moes wiel regmaak en nadat die nuwe binneband in was wou hy ook nie styf! Ek het die klim uitgehardloop en hopelik kon ek vir Hildegarde sien. Sy was nêrens in sig en het al die ander "tools" gehad. Ek het aanhou hardloop met my fiets tot iemand my uiteindelik gehelp het met 'n ander binneband. Met die laaste pomp het Hildegarde van voor gekom en ons kon net lag vir wat nou nog kon verkeerd gaan. Ons het besluit om net te probeer klaarmaak. Ons het ongeveer 1 uur 45 min verloor op hierdie dag, so ons was glad nie meer optimisties oor posisies nie. Die nuwe mikpunt was om die Epic te voltooi! Ons het uiteindelik klaargemaak in die 53ste posisie van die "Mixed Teams" en 529ste vir die dag. Ons was baie verbaas om te sien dat ons algeheel steeds 20ste van die gemengde spanne was en afgeskuif het na 321ste vir ons totale tyd. Daar was steeds lig aan die einde van die tonnel! Ons fietse is ingegee vir 'n deeglike / duur diens en ons was die laaste span wat op hierdie dag masseer sou word. Lang, deurmekaar dag.
Begin van die nagmerrie - Die "smiles het egter nooit verdwyn! |
Stage 5 - Greyton tot Elgin (115 km met 2 950 m klim)
Hierdie was die monster stage. Baie spanne het hulself deur die hele Epic gespaar vir hierdie dag. Ons het egter elke dag gery soos wat ons op daardie spesifieke dag gevoel het. Die nagmerrie van die vorige dag het ons ook weereens laat besef hoe bevoorreg ons is om steeds deel van die Epic te wees en dat daar dalk geen môre is nie. Jy moet elke dag alles tot die beste van jou vermoë doen. Die Epic is voorwaar baie soos die lewe (sal later in my opsomming weer hierna verwys). Ons het sommer van die staanspoor saam met lekker groepe gery en geweet dat indien ons die eindstreep gaan haal, die kinders saam met Lood en Saretha daar vir ons gaan wag. Ons hou van klim, maar selfs ons was redelik moeg van al die klimme op hierdie dag. Dit was bitter warm op die bo-punt van "Rusty Gate", die langste klim van die dag, maar ons het 'n paar gemengde spanne in die oog gehad wat ons moes verbygaan en ons het ons alles gegee. Uiteindelik was Oak Valley in sig. Ons het geëindig in 7 uur 35 min - 14de van die "Mixed Teams" en 242ste algeheel vir die dag. Ons het opgeskuif na algheel 16de van die gemengde pare en 297ste met ons totale tyd. Ons was besig om onsself terug te werk...
Stage 6 - Elgin tot Elgin (85 km met 1 800 m klim)
Ons nuwe "Race Village was by Oak Valley. Ek en Lood het verlede jaar saam W2W gery en ken die plek goed. Hierdie is beskou as die speeldag van die Epic. 'n Beloning vir die vorige dag se harde werk. Vir Hildegarde was dit 'n dag waarna sy glad nie uitgesien het nie. Enkelspoor paadjies is nou nie iets wat sy as lekker beskou nie, maar ek dink sy het tot haarself hierdie dag verbaas. Sy het voluit in dit ingegaan en haar uitstekend van haar taak gekwyt. Dit was 'n heerlike sonnige dag en ons het goed gery. Hildegarde se knie was besig om redelik ernstig inflamasie te kry en Eddie moes dit reeds die vorige dag "strap". Die pyn was besig om al erger te raak en ons wou so gou moontlik klaarmaak. 3 km voor die einde het Hildegarde 'n harde val gehad en dit nog op die knie ook! Ons het klaargemaak in 5 uur 33 min - 13de van die "Mixed" en 255ste vir die dag. Ons algehele posisie was nou weer 15de van die gemengde spanne en 287ste algeheel. Ons moes die laaste dag net konstant ry om ons posisie te verdedig. Ons was reeds baie tevrede met wat ons bereik het en kon dit eintlik steeds nie glo nie. Vriende van ons Pierre en Caroll Rossouw het ons kom ontvang by die eindstreep en 'n luilekker middag saam met ons spandeer.
Stage 7 - Elgin tot Lourensford (67 km met 1 800 m klim)
Iets ernstigs moet gebeur wat sal veroorsaak dat die posisies vreeslik verander. Die Epic is egter nie verby totdat jy oor die finale eindstreep is nie. 'n Harde oggend het vir ons voorgelê en toe dit met die wegspring reën was dit net nog harder. Ons moes die meeste van die klimwerk oor die eerste 35 km doen. Bene is koud, moeg en vol melksuur. Dit voel asof jy die eerste halfuur van die dag sonder jou bene ry. Hulle voel swaar, maar na die uitgerekte opwarming gaan dit darem beter. Ons wou klaarkry en het weereens nie op ons laat wag nie. Die spanne wat voor ons op die algehele klassifikasie was, was feitlik onmoontlik om verby te gaan, maar ons kon hulle ten minste op die dag probeer wen. Ons het alles gegee op die klimme en toe ons twee van die top gemengde spanne teen die pad verbygaan (hulle meganiese probleme) het ons begin droom van 'n plek in die top 10 vir gemengde pare vir die dag. Hildegarde se knie was swaar verbind en toe ons die ou wapad bereik wat 'n verpligte loop deel van ongeveer 1.2 km was, het Hildegarde regtig gesukkel. Die rowwe terrein, gladde klippe en afdraend het haar knie glad nie goed gedoen nie. Die son het egter uitgekom en die einde was in sig. Ons het mekaar bly motiveer oor die laaste paar km's en die pylvlak binne gery en die atmosfeer beleef. Wat 'n enorme voorreg! Ons het geëinding in 4 uur 32 min - 11de in die "mixed" en 221ste vir die dag. Ons was algeheel die 15de gemengde span en 275ste uit 620 spanne in 2014 se Epic. Ons was ook die 1ste getroude paartjie oor die eindstreep. Die Epic waarvoor ons so hard gewerk het, was in die sakkie!
Die Grand Finale te Lourensford |
Die Epic was vir ons 'n onvergeetlike ervaring. Dit het 'n totaal van 47 uur 30 min oor 8 dae vir ons geneem om te voltooi. Dit het bestaan uit 718 km en 15 000 m se klim. Ons sou nooit in ons lewens kon droom dat ons 15de uit 73 gemengde spanne sou eindig nie. Ons kon al ons doelwitte bereik waarvoor ons so hard gewerk het. Hierdie reis is nie moontlik sonder baie goeie ondersteuning en mense wat in jou glo nie. Daarvan het ons te veel gehad om op te noem. Wat egter baie belangrik is met so iets, is die geloof in jouself en jou spanmaat. Sonder mekaar is daar niks. Ek was baie bevoorreg om hierdie projek saam met my "bruid" te kon aanpak. Ek het 'n nuutgevonde respek vir haar en haar innerlike krag. Ek loop oor van trots vir wat sy bereik het in die laaste jaar. Ek het vroeër verwys na die Epic as 'n simbool van die lewe. Net soos die Epic baie hoogtepunte en laagtepunte het, is die lewe ook. Die manier om dit te hanteer is wat jou 'n beter mens maak. Ek het met die Epic meer bereik as net nog iets wat om my "bucketlist" was wat ek kon afmerk. Ek het as mens gegroei in my benadering tot moeilike situasies. Ons (Team Nexus) is almal ewig dankbaar vir alles wat julle vir ons gedoen het die afgelope klomp maande. Ons borge wat in ons geglo het en ons heelpad ondersteun het, baie dankie.
Dit is beslis nie die einde van die pad vir my en Hildegarde nie. Ons volgende wedren is die Transkaroo op 26 April 2014 van Ceres na Sutherland waar ons ook as 'n gemengde span (Team Nexus) sal deelneem. Ons hou julle op hoogte!
Groete tot later,
JG
My kinders, ons is SO trots op julle!! Deur julle het ons iets belewe wat ons asems weggeslaan het. Oupa Kola en oumie Fanie sal weer help met die kleintjies. Hulle was een groot plesier!!!! Baie dankie dat julle ons altyd deelmaak van julle lewe. Lief julle baie!!!
AntwoordVee uit