08 Januarie 2014

'n Nuwe begin - 2014

Ons het aan die einde gekom van 2013, 'n baie vol jaar met baie hoogtepunte en regmerkies wat langs ons "bucket list" gemaak is.  Die nuwe jaar het begin en die pas sal seker gouer as later begin optel.  Ons het 'n heerlike feesseisoen saam met familie en vriende gehad.  Daar is steeds hard geoefen, maar wanneer die normale roetine effens versteur word, voel oefen ook soos vakansie!



Ons het 'n hele paar lekker sessies gehad, onder andere 'n groot deel van die Prologue se roete by Meerendal, wat baie vir die selfvertroue beteken het!  Julle sal nie glo nie, maar ek en Hildegarde het vandat ons die inskrywing vir die Epic gekry het, weinig saam geoefen.  Sy het 'n intense "cross-training" program (fietsry, draf en kragoefeninge) en ek oefen meestal op die fiets.  Ons was oppad na Heroldsbaai vir 'n week en wou graag van die geleentheid gebruik maak om 'n paar keer saam te oefen.


Hildegarde - Meerendal
Die week het goed begin met elkeen 'n aparte sessie op die eerste dag.  Ons kamp in die karavaanpark en die kinders het vakansie-maatjies wat elke jaar daar is.  Die enigste manier om Heroldsbaai te verlaat, is om teen een van die twee enorme bulte uit te ry of draf.  Hierdie is reeds 'n groot "workout".  Wat dit nog moeiliker maak is die feit dat jy die bulte slaan nog voordat jy enigsins opgewarm is.  Ek het baie klimme geoefen en baie ritte langs die see gehad - dit kan mos nie tel as oefen nie?!


Ek en Hildegarde het die voorreg gehad om een oggend lekker vroeg die pragtige Montagu Pas net buite George te gaan ry.  Dit was 'n mistige oggend en windstil.  Ons het lekker rustig gery en die pragtige natuur waardeer.  Dit is beslis 'n moet vir elke bergfietsryer om hierdie pas te gaan ry.
Alles was darem nie net oefen die heeltyd nie.  Ons het baie goeie familietyd spandeer en lekker ontspan na die harde jaar.  Batterye is gelaai en ons kan fokus op die volgende 3 maande.  Dit gaan beslis nie maklik wees nie, maar die grootste pret is die uitdaging en dan die terugblik daarop wanneer jy dit kan afmerk.


Al die positiewe energie wat ons aan die hele Epic-reis spandeer, het vir ons die geleentheid gegee om vir 'n goeie doel ietsie van onsself terug te gee.  Ons neem aan vanjaar se Epic deel ten bate van Sistiese Fibrose.  Ons hou op 8 Februarie 2014 'n Vroue-oggend om mense bewus te maak van die siekte en fondse vir dit in te samel.  Gaskunstenaars is Wicus van der Merwe en Andriette Norman wat ons glo vir groot vermaak sal sorg.  Daar is 'n klomp "lucky draws" en elkeen kry 'n "goodie bag" met hul aankoms.  Daar sal 'n spreker wees wat ons meer oor Sistiese Fibrose vertel, asook van die masjiene en toestelle wys waarmee hierdie mense elke dag van hul lewens moet werk.  Indien jy enigsins belangstel om die dag by te woon, voel asb. vry om my te kontak.  Ek sal onderaan die blog al my kontakbesonderhede plaas.  Alle gelde wat op hierdie dag ingesamel word, word geskenk aan Cape Cystic Fibrosis Association.



Lekker baie uitdagings op die horison en baie positiewe energie om te versprei.  Lekker oefen, en onthou asb die volgende leuse (My moto vir 2014) - "Don't promise when you're happy, Don't reply when you're angry, and don't decide when you're sad."  Weet nie wie dit gesê het nie, maar dit sal my riglyn wees met emosies in 2014!

Voorspoed met alles en 'n geseënde jaar vir elkeen en sy familie!

Groete,
JG

Kontakbesonderhede:

Twitter:  @Jaco_Geldenhuys
Facebook:  Soek vir Hildegarde Geldenhuys
E-pos:  jacogeldenhuys@icloud.com

2 opmerkings:

  1. Hallo Jaco en Hildegarde. Sterkte met julle Epic jaar. Ek het self twee kinders met CF (oudste is 6 jaar terug oorlede) en waardeer julle bewusmaking en insameling vir Sistiese Fibrose. Ek was bevoorreg om self die Epic in 2012 en die Transalp in 2013 te doen. Dit is 'n belewenis!!

    AntwoordVee uit
  2. Sjoe, Danie, baie jammer om te hoor van jul verlies. Glo my dat ons ons uiterste bes sal doen met bewusmaking van die siekte. Die Epic is net die cherrie op die koek - die reis is die belangrikste...

    AntwoordVee uit