21 Januarie 2014

Attakwas 2014

Dit word beskou as die moeilikste eendag bergfiets wedren in Suid-Afrika.  Dit word aanbeveel deur ieder en elk om te doen in die jaar wat jy aan die Epic deelneem, want dan kry jy 'n voorsmakie van wat jy vir 8 dae gaan deurmaak.  Dis die Attakwas van Oudtshoorn na Groot Brak waarvan ek praat.  Die wedren bestaan uit 'n 121 km, baie tegniese, amper onrybare roete wat 2 900 m se vertikale klim in het.  Die eerste 70 km is so tegnies dat 90%, self meeste van die professionele ryers party dele eerder loop.  Die laaste 50 km het weer die klimme waarvoor jy glad nie lus is na die vorige 70 km se "full body workout" nie.


Ek, Hildegarde en die kinders het die Donderdag middag na Heroldsbaai vertrek, die aand by my ouers geslaap.  My pa het ons die Vrydag deurgeneem Oudtshoorn toe.  Die kinders het die Vrydagaand ook daar geslaap.  Iets wat ek nog nie genoem het nie, was dat beide ek in Hildegarde in die week voor die Attakwas van fietse verander het, beide van ons ry nou "Dual Suspension".  Dit het net meer sin gemaak om dit so te doen vir die Epic - was ons nie op die eindstreep van die Attakwas baie bly hieroor nie!  Ons het by Kleinplaas oornag, dieselfde plek waar die registrasie ook plaasgevind het.  Ons het kinderloos die aand heerlik saam met Lood en Saretha gaan uiteet en vroeg in die bed probeer kom voor die groot wedren.  Deelnemers van Malmesbury aan die Attakwas Mini was Shane Ketel, Madeleen Kotze en Elishia Drotschie.  Malmesbury Fietsryklub het 'n hele paar verteenwoordigers in die Attakwas Extreme gehad.  Sien op onderstaande foto vlnr - Lood Fouche, Pieter Malherbe, Hildegarde, Johann Loubser, Jaco, Kobus Drotschie.


Ek was veronderstel om in groep B weg te spring, maar het saam met Hildegarde in groep D begin - die plan was altyd dat ons as span sou ry en kyk hoe ons as span funksioneer.  Ons het met 'n lekker spoed begin en feitlik die heel dag daardie spoed gehandhaaf.  Ek het meeste van die tyd voor gery om te kyk watter gevare op die horison is sodat ek vir Hildegarde betyds kan waarsku.  Ons het tot by die Spur waterpunt (70 km) goed gery en was daar na so 4 uur 50 min.  Hildegarde het begin kla van krampe.  Ons het geëet, ergste modder afgewas en was weer op die pad.  Die klimme het begin - ek en Hildegarde is altwee sterker teen die bulte uit - en ons was net dankbaar die erge tegniese dele is klaar.  Na 100 km het ons beide begin krampe kry, maar deur dit gewerk.  Ons het altyd 'n mikpunt van 8 uur in die oog gehad en die tyd was vinnig besig om ons in te haal.  By die laaste 2 waterpunte het ek haar laat verby ry, ek het die bottels volgemaak en ander versnapperings gekry.  Ek het haar weer gevang en ons het ten minste 2 minute per stop gespaar - sal beslis dit meer doen in toekoms.  Sy behou haar ritme, maar kry steeds wat sy nodig het.  Die laaste 5 km het verby gevlieg en ons het klaargemaak in 7 uur 56 min.  Ons het ons mikpunt behaal!  Saretha was met die kinders op die eindstreep wat dit nog meer spesiaal gemaak het.  Voorwaar 'n belewenis.  Twee van ons lede het ook by die Ratel klub aangesluit, dit beteken jy het die Attakwas al 5 keer voltooi.  Hulle is Pieter Malherbe en Johann Loubser - baie geluk julle!


Ons is baie tevrede met hoe die wedren verloop het, hoe ons fietse hulle gedra het, asook waar ons fiksheidsvlakke is voor 23 Maart 2014.

Op die werksfront is daar paar projekte wat in die volgende paar weke plaasvind.  Hierdie komende Saterdag is die Malmesbury Wingerd Safari te Jakkalsfontein.  Dit bestaan uit gesinne wat saam op 'n roete deur die Paardeberg geneem word.  Verskeie vrae word dan aan die deelnemers gestel.  Meeste vrae handel oor wingerd, die omgewing en relevante gebeurtenisse.  Voorwaar 'n lekker dag om saam met jou geliefdes die natuur te ervaar.  Daar is ook hope pryse te wen.



Kaartjie verkope vir die CF Vroue Oggend op 8 Februarie 2014 verloop ook uitstekend.  Indien jy nog nie 'n kaartjie het nie, maak asb kontak met my of Hildegarde.  Dit gaan voorwaar 'n fantastiese oggend wees vir 'n baie goeie doel.


Aanhou oefen, lekker baie ure inkry en positief lewe!

Groete,
JG

1 opmerking:

  1. More Jaco, het bietjie jou blog deurgeblaai en glo my die wil is daar en wat julle nie alles doen om mense te help met CF nie. Ek wil graag weet ek wil van my kant af dit meer sigbaar maak deur media, en uitsaaiwese te nader om meer mense te kan betrek en betrokke te kan kry. Planne is en gaan probeer hard werk daaraan is om eerstens CarteBlanche betrokke te kry om die bewusmaking van CR te bevorder en soedoende mense te kan help. Kobus Olivier het my genader om hom behulpsaam te wees met die projek, en dat hy graag 'n boek oor dit wil skryf.

    AntwoordVee uit