27 Mei 2016

Comrades - 2 Days to go!

Dit sal geensins help om eers te probeer verduidelik waarom daar niks op hierdie blog aangegaan het die afgelope paar maande nie, maar nou ja, ons is nou hier, 2 dae voor Comrades 2016 en dis waaroor ek gaan verslag doen.  Ek gaan vlugtig, al is dit net vir my eie dagboek doeleindes, neerpen wat alles in die Geldenhuyse se lewens aangegaan het die laaste paar maande.

Na verlede winter se skrywe het ons steeds elkeen aangegaan met ons oefening soos altyd, doelwitte het net baie verander met baie van die "bucket list" items wat voltooi is.  Dinge wat vir my voorgelĂȘ het was steeds Wines2Whales, Double Century en Attakwas.  Hildegarde en Lood aan die ander kant het na haar en Marisa se African X besluit dat Comrades hul volgende doelpaal is.  Deur die winter is daar geoefen om September by die Cape Town Marathon te probeer kwalifiseer vir Comrades.  Die volle ondersteuning span was daar om hulle 2 aan te moedig.



Die Cape Town Marathon was natuurlik die dag nadat Suid Afrika teen Japan in die Wereldbeker verloor het en Pietman kon nie die foto oomblik met 'n Japanese atleet laat verbyglip nie.  Beide Hildegarde en Lood het kwalifiseer en ons het geweet Comrades gaan ons in 2016 sien.

In my vorige blog het ek verwys na Blesfontein waar ons elke jaar gedurende die winter gaan kuier.  Daai wereld het ons en die Fouche's se harte gesteel, maar wat ons nie geweet het nie, is dat die ander twee Geldenhuyse (Pietman en Woel) net so versot is op die Tankwa Karoo.  Die aand na ons winterbesoek van 2015 aan Sutherland het ek spottenderwys vir Saretha gevra of ons dalk saam moet kyk na 'n strandhuis of 'n plekkie in die Tankwa en haar antwoord was beslis Tankwa, want ons kan altyd kamp by die see!  Die Dinsdag stuur sy aan my 'n advertensie wat op Gumtree is.  Ek het kontak gemaak met die eienaar en om 'n lang storie kort te maak, nadat Saretha en Pietman-hulle ook gepraat het is die Mooibergplaas (Edms) BPK maatskappy gestig en ons het ons eie stukkie hemel gekry.



Ons gesin is "gegear" vir 'n man en 'n vrou wat oefen, die gym, my werk, kinders op skool, vergaderings in die aande, maar Comrades oefening het alles kom verander!  Tussendeur moes Hildegarde ook Double Century en Wines2Whales ry waarvoor sy fietlik niks op die fiets was nie.  Haar gym, draf en die uur of 2 per week het haar egter deur beide gekry en die fokus kon 100% na die Comrades verskuif vanaf Desember 2015.  Dit was presies 6 maande voor Comrades en Hildegarde het genoeg tyd gehad met die gym wat toe is om baie "base" myle in te kry voordat die hoer intensiteit oefening begin.  Drawwers hardloop maar altyd met die een of ander besering en in Hildegarde se geval was daar geen uitsondering nie.  Sy het egter maar altyd deur die pyn gedruk (want sy is hardegat) maar dit het sy tol begin eis toe sy nie haar doelwitte op haar program kon behaal nie.  ITB is pynlik en jy moet dit rus en behandel.  Rus is nogal 'n moeilike woord vir my bruid om te verstaan, maar sy het besef Comrades is die doelwit en ons het 10 weke gehad om dit reg te kry.  Intensiteit is afgebring en rehabilitasie is aan die gang gekry.  Lood het op sy beurt voortgegaan met sy program en die kilometers kaf gedraf en die kilogramme het weggesmelt van sy liggaam.  Hy het 'n doelwit vir 'n gewig vir Comrades gehad en was baie vinnig oppad daarheen.

Intussen het ek saam met my skoolvriend Dirk Kotze, wat besig was om voor te berei vir sy derde Epic, aan die Tankwa Trek wat deelgeneem.  Ons het vir die welsynsorganisasie waarvoor hul alreeds 2 Epics voltooi het, die J9 Foundation gery.  Ons het 3 fantastiese dae gehad en sal hierdie geleentheid aan ieder en elk aanbeveel.  Dit is nie net van die beste roetes om met 'n bergfiets te ry nie, maar ook die hele atmosfeer rondom dit is 'n belewenis. Baie goeie slypwerk is gedoen deur baie van Epic 2016 se ryers!



Op 1 Maart 2016 het @Hildegarde sy nuwe Spinstudio oopgemaak.  Ons het ondervind dat daar 'n groot behoefte is vir so iets in Malmesbury.  Klasse is lekker volgeboek en dit is 'n goeie toevoeging tot die gym soos wat hy nou daaruit sien.



Die ITB behandeling het baie goed verloop en Hildegarde was ingeskryf vir die Two Oceans Ultra Marathon wat deel sou uitmaak van haar voorbereiding vir Comrades 2016.  Doelwitte het baie verander en tye was nie meer belangrik nie, maar wel die behoefte om te weet hoe haar vorm lyk presies 8 weke voor Comrades.  Ons het die dag ingegaan, baie senuweeagtig en heeltemal onseker oor wat die been gaan doen.  Die doelwit was om 30 km te hardloop en te kyk wat gebeur en indien die pyn te erg is, op te hou en met rehabilitasie voort te gaan tot so na as moontlik aan Comrades.  Hildegarde hou egter nie van "DNF" agter haar naam as sy ingeskryf is vir 'n item nie en sy het in 5 uur 20 min die 56 km klaargemaak.  Daar was natuurlik moeilike tye in die wedloop, maar sy  het gevoel haar geluk is besig om te draai.  Haar eerste Ultra met 'n effense besering, dinge kan net beter gaan, of so het ons ten minste gehoop.



Dit was skoolvakansie en die Geldenhuyse was oppad Kruger Wildtuin toe vir 4 nagte.  Ek het grootgeword met feitlik elke tweede jaar in die Wildtuin gedurende die Julie-vakansie, maar met die aard van my werk is dit deesdae my besigste tyd van die jaar.  Ons het die oggend na die Two Oceans gevlieg en dit was so uitgewerk dat Hildegarde die week wat ons weg van die huis was sou rus aangesien jy nie in die Wildtuin baie km's in die kampe kan afle nie.  Ons het wonderlike gesinstyd spandeer en die tyd saam verskriklik geniet.  Die Donderdag het Hildegarde begin kla van 'n krapperige keel en dat sy sukkel om asem te haal.  Ek het gese dat dit moontlik die verandering van klimaat kan wees, asook die verskil in lugdruk.  Ons het die res van ons vakansie geniet en met ons tuiskoms die Sondag het sy besluit om 'n ent te gaan hardloop.  Sy sou 90 min hardloop, maar na minder as 'n uur was sy tuis.  Ek het geweet daar was groot fout.

Longontsteking.  Haar bors was seer, sy het baie gehoes en die uiteinde was 'n tussinribspier wat seergekry het van al die inspanning.  Die volgende wedren was die Weskus Marathon te Langebaan op 23 April, 1 maand voor Comrades en Hildegarde was nie gesond nie.  Sy het onttrek, die eerste keer ooit in haar lewe, maar ons fokus was by Comrades, nie by alles wat tussenin gebeur nie.  Alles was gereel vir die naweek, sy het selfs registreer!  Ons het saam met Lood en Saretha in 'n pragtige plek op die see gebly en dit sommer 'n naweek van ontspan gemaak, behalwe natuurlik Lood wat steeds die Weskus Marathon gehardloop het. Ons almal het ondersteun.  Dit het goed met Lood gegaan en hy het geweet hy is naby aan reg vir Comrades.  Ons het maar hoop en bid dat alles met Hildegarde sal reg uitwerk om oor 'n maand in top kondisie te wees.



Dinge het stadig beter begin gaan en op 2 Mei het hulle die Safari Halfmarathon in Wellington gehardloop.  Lood het sy PB (persoonlike beste) van 1 uur 42 min gehardloop en Hildegarde het sonder enige pyne klaargemaak, alles was weer "on track".  Daar was nog 2 weke van harde voorbereiding oor en dit het ook sonder beserings, pyne of dramas plaasgevind.  Die laaste week, die een waarin ons nou is, is vir sekerlik enigeen wat so 'n ultra wedloop seker die moeilikste, aangesien jy feitlik niks "mag" doen nie.  Rus is die heel belangrikste van hierdie week.  Dit maak natuurlik dat jy baie meer energie het, asook baie meer tyd om senuweeagtig te wees oor die groot taak op hande.

Ons glo alles sal Sondag, 29 Mei 2016 goed gaan en dat alles gelyk sal "click".  HIerdie jaar is die "downrun" soos die mense praat, dus harldloop hul van Pietermaritzburg "af" na Durban waar hul by Kingsmead Krieketstadion klaarmaak.89,1 km is nie maklik nie, maar ons glo die atlete se koppe is reg.  Baie opofferings is deur baie mense gemaak om hierdie wonderlike ervaring vir ons moontlik te maak en ons wil van hierdie geleentheid gebruik maak om julle opreg te bedank vir al die ondersteuning.  JJ en Hilge bly by Ouma Fanie en Oupa Kola en ons hoop hulle kuier lekker.  Die wegspring is Sondag 05:30 en word gebeeldsend op SABC 2.  Jy gaan waarskynlik nie vir Hildegarde of Lood sien nie, maar dit bly 'n insperasie om na die gebeurtenis te kyk.  Vir updates oor die twee, volg my op Twitter by @Jaco_Geldenhuys.  Sterkte ook aan almal wat deelneem, veral die Malmesbury span - Hercu Hofmeyer, Riaan van Zyl, Jenita du Plessis.  

Nou ja, kom ons hoop Mango vat ons veilig tot in Durban.  Volgende week gee ek terugvoering oor hoe dit gegaan het!



Cheers,
JG

3 opmerkings:

  1. Baie, baie sterkte, Lood en Hildegarde! Ons is SO trots op julle!! Xx

    AntwoordVee uit
  2. Ag dis altyd so lekker om te lees! Baie sterkte Hildegard en Lood. Alle voorspoed vir julle! Groete, Hestia

    AntwoordVee uit
  3. Ag dis altyd so lekker om te lees! Baie sterkte Hildegard en Lood. Alle voorspoed vir julle! Groete, Hestia

    AntwoordVee uit