30 Augustus 2014 - Asics Dirty Double
Meeste van julle weet reeds dat Hildegarde 'n baie bekwame atleet is. Sy is glad nie 'n persoon wat te lank dieselfde oefening wil doen nie en toe die Asics Dirty Double op die horison verskyn het sy dadelik gesê dat sy dit wou doen. Ek het tot die dag voor die wedren nog gewonder of ek nie dalk moet deelneem nie, maar het 'n belofte aan myself gehou en die spesifieke dag as haar en Lood se ondersteuning span saam met JJ en Hilge opgetree.
Die wedren het bestaan uit 'n uitmergelende 10 km "trailrun" met oor die 300 m klim, en dit alles op een bult tot op rondom 5 km en 'n bergfietsrit van net so oor die 20 km in Wellington se bekende Welvanpas. Hildegarde het die 10 km in 50 min klaargemaak in die 7de plek en kon op die bergfiets tot in die 3de posisie vorder waar sy naby aan die einde ketting probleme opgetel het wat haar algeheel 7de laat eindig het. Baie lekker gesellige dag en beslis iets vir ieder en elk om in die toekoms te doen. Dankie aan Pieter van Wyk, Marc Kerr en die res van die span vir die ongelooflike dag.
Die idee vir my deelname aan hierdie wedren was om te sien presies waar my vorm is na die winter en min lang ure in die saal. Op werksfront was dit 'n baie besige graanseisoen en alhoewel ek steeds gereeld gery het, was dit beslis met 'n ander fokus. Meer instandhouding as voorbereiding. Ek wou in die eerste plek net die 115 km klaarmaak om sodoende myself gerus te stel vir die Karoo2Coast wat 14 dae later sou plaasvind.
Ons was 'n redelike klompie van Malmesbury wat daar was en dit was gerustellend om te weet daar is soveel ondersteuning. Ons het soos die vorige jaar agter die TipTrans vragmotor in die neutrale sone gery. Die enigste verskil was dat die trok teen amper 60 km/h gery het en die groep sommer op die teerpad in 2 gedeel was. Ek was van die voorstes in die 2de groep. Ek wou net daar bly hang en ander ouens die werk laat doen sodat ek darem die eindstreep kon sien.
Meeste dinge in die lewe werk nie uit soos jy dit beplan nie, sommiges slegter en sommiges baie beter. My geaardheid wat, nie eintlik geduld insluit nie, het sommer op die eerste klim die oorhand gekry. Ek het voor gaan sit en bietjie die spoed opgedruk. Ons was 'n groot groep van seker 30 ryers op daardie stadium. Ons het die groot klim van die dag bereik en ek het gedink ek mag dalk begin betaal vir my harde pogings van vroeër. Ek het egter goed gevoel en redelik gemaklik daaroor gegaan. Vandaar was dit redelik plat en afdraend vir die volgende 30 - 40 km en ons kon 'n redelike hoë spoed handhaaf. Ons groep het op die klim verklein na so 12. Daar was 'n redelike lelike val en ons was net 7 in ons groep oor. Van die aanvanklike groep het by die beseerde persoon agtergebly en ons het gery na die naaste waterpunt om die ongeluk aan te meld aangesien daar nie selfoon opvangs was nie. Ek was op daardie stadium die persoon in die groep wat die meeste van die werk gedoen het en het die groep gevra of ons net vinnig by die volgende waterpunt kon stop om die ongeluk aan te meld. Net 3 van ons het gestop...
Ons het tussen WP2 en WP3 alleen gery en 'n groot groep het ons daar gekry vanwaar ons enduit saam gery het. Ek was na 100 km redelik gaar en het effens begin kramp, maar vinnig weer herstel van dit. Ek het klaargemaak in 4h30 min en was vol moed vir die Karoo2Coast oor 2 weke.
Botrivier naweek - 13 -14 September 2014
Lood en Saretha het ons 'n geruime tyd terug genooi vir 'n wegbreek naweek na Botrivier Hotel saam met ou skoolpêlle van hom. Ons het dadelik ja gesê om bietjie afwisseling te bring met al die aktiwiteite. Hier sou die hele gesin dan vir die naweek saam wees. Daar is natuurlik 'n bergfiets sessie gereël onder die manne, maar dit was iets heeltemal anders as wat ek al voorheen gedoen het.
Die roete was van Botrivier, verby Dassiesfontein Padstal na die "singletrack" teen die berg (ken nie al die roetes se name). Dit was ongeveer 30 km tot by die halfpad merk. Pragtige roetes is daar gebou en was beslis 'n belewenis om daar te kon ry. Halfpad is waar dinge vir my nuut was. Ons het by een van die manne se huise gestop en daar is weggelê aan verversings wat bietjie sterker as jou normale energiedrankie is! Wat my die mense verbaas het, is dat die manne nog op hul fietse die roete terug ook gery het. Baie sosiale sport! Ons het die res van die middag as groep saamgekuier by die hotel, waar meeste van die ryers en hul gesinne ook oorgebly het.
Die Sondag is ons vir 'n kort, maar lekker rit op 'n ander roete wat net weer die prag van hierdie gedeelte van die Wes-Kaap uitgewys het. Daar was 'n effense koeligheid in die lug en jy kon die verandering van die seisoene op die grane waarneem. Ons sal beslis terugkom na hierdie pragtige plek.
Ons was nie aanvanklik ingeskryf vir 2014 se Karoo2Coast nie. Die logistieke nagmerrie van die wedren het dit na die vorige jaar vir ons meer na 'n berg voor ons as 'n uitdaging laat voel. By dit sit jy met oor die 4 000 mense wat deelneem en indien jy enigsins 'n goeie tyd wil ry, moet jy sorg dat jy van die begin af in 'n posisie is waar ander jou nie gaan ophou nie. Hierdie tipe wedrenne met sulke groot getalle is gewoonlik frustrerend vir die persoon wat sy eie doelwitte najaag omdat so baie dinge gebeur wat buite jou beheer is. Ek sal later meer hieroor noem.
Twee van ons klublede het besluit om nie meer te gaan ry nie en ek en Hildegarde het besluit om hulle inskrywings oor te neem, asook die verblyf in die Kerksaal op Uniondale. Ons het in opbou na die Sondag van Karoo2Coast steeds getwyfel of ons al die pad van Malmesbury na Uniondale wou reis, maar toe ons twee ander passasiers bykry was die planne in plek. Ons sou almal saamry, ons kar het 'n geleentheid na Knysna en ons sou die Sondag direk na die wedren terugkom.
Saterdag net na 11:00 is ons op Malmesbury weg en het heerlik gery en was net na 17:00 in Uniondale. Ons het by die Kerksaal omgery voor ons die ander 2 by die koshuis sou aflaai, net om seker te maak waar dit is. Met ons aankoms by die koshuis het Elfriede verneem sy het 'n 4-bed slaapkamer. Ek deel toe die aand 'n koshuiskamer met 3 ander dames! Beslis 'n eerste vir my, maar baie beter as die vorige jaar se rooi tente.
Ek het in die A-groep weggespring en na my TipTrans wou ek bitter graag 'n sub 4 uur Karoo2Coast ry. Hildegarde was in die B-groep en sy het haar eie doelwitte gehad. Ons het weggespring en die eerste deel was 'n neutrale sone. Daar was egter by senuwees en sommer op die eerste afdraend het twee fietse mekaar getref en 'n redelike botsing veroorsaak. Ek het hier gesien dat ek om by my doelwit uit te kom redelik op my eie gaan moet werk. Dinge in die bondel, was net te deurmekaar so vroeg in die resies. Ons het die eerste tweespoor pad gekry wat ook die eerste klim was. Dis hier waarna ek vroeër verwys het. Selfs in ons A-groep is hier opeenhopings en dis waar baie mense baie van hul tyd verloor omdat hy wel die bult kan ry, maar in 'n ander persoon se hande is wat dalk voor hom loop. Niks gaan hier help behalwe geduld nie. Niks wat jy gaan sê, gil of doen gaan die situasie verbeter nie, want voor die persoon wat jou ophou is daar net weer een wat hom ophou. Dit het niks te doen met hoe sterk of tegnies goed jy is nie, maar wel met die groot hoeveelhede mense wat deelneem. Beste raad, "chill", jy gaan later hard ry met die energie wat jy nou spaar.
Om terug te kom na die eerste klim: Ek was gelukkig, was redelik voor en kon die hele klim ry met 'n gemaklike hartklop. Dit was goed vir my, want dit het my energie laat spaar wat ek dalk later kon nodig kry en as ek teen my eie spoed daar sou uitgaan sou dit my later ingehaal het. Ek het lekker in my eie ritme gekom van sterk klim en bietjie stadiger as die gewone ou op die afdraende (ek is immers 'n verantwoordelike man en pa van 2). In die middel van die resies het ek sterk gevoel en besef dat ek in my groep die leiding sal moet neem om my eie doelwit te behaal. Ek het uitgewerk dat ek teen die einde 'n gemiddelde spoed van 24 km/h of meer moes ry om 4 ure te breek. Al die klim in die eerste 60 km het gemaak dat my gemiddelde spoed op 'n stadium onder die 20 km/h was. Vir die volgende 20 km het ek alles gegee om die gemiddelde spoed op te kry en het na 80 km begin voel ek sal bietjie rustiger moet gaan aangesien daar nog die laaste klim op na Simola is. Ek het vir 5 km rustiger gery en toe die klim kom al my laaste krag gebruik. Ek het 4 mense verbygegaan op die laaste klim en toe ek die teerpad afvat Knysna toe, het ek geweet ek is binne bereik van my doelwit, my tyd het gesê 3 uur 48 min. Ek het nie ontspan nie, voluit gegaan teen die wind tot ek oor die blou matte was en klaargemaak in 3 uur 56 min - "Mission accomplished".
Hildegarde het haar eie drama gehad. Haar voorste "shifter" kon nie die ketting van klein na groot kry nie. Sy het noodgedwonge die hele Karoo2Coast in haar klein voor-"blade" gery. Op die klimme was dit heel aanvaarbaar, maar op al die plat stukke het die groepe haar agtergelaat. Sy het steeds klaargemaak in 'n baie goeie tyd van 4 uur 26 min. Na alles is ons baie bly ons het gaan deelneem. Dit was 'n vinnige, maar baie leer "trippie". Ons sal seker maar weer gaan....
Malmesbury Fietsryklub Gesinsdag - 4 Oktober 2014
Die fietsryklub het sy jaarlikse Gesinsdag op 4 Oktober 2014 by Malmesbury Skougronde gehou. Die oogmerk van die dag is om die hele gesin by die sport te betrek. Die dag skop af met 'n pretrit vir die hele gesin. Elke kind word deur sy ouer vergesel op die 2.5 km roete deur die wingerde. Elke kind kry dan na afloop van roete 'n pragtige medalje vir sy of haar deelname. Vanjaar se roete is deur amper 60 kinders gery en was 'n reuse sukses. Hierdie pretrit is opgevolg deur 'n aflos vir die groter kinders en volwassenes wat in spanne van 2 aan 'n wedren deelneem wat 2 ure aanhou. Die span met die meeste rondtes in die 2 ure word as die wenners gekroon. Hierdie dag gaan egter nie oor wen of verloor nie, maar oor die lekker saamkuier. Die dag word afgesluit met baie gelukkige trekkings met pryse van borge. Almal was dit eens dat dit 'n dag op die kalender is wat nie misgeloop mag word nie. Die klub het ook een lot (2 bottels rooiwyn en 'n skaapboud) opgeveil vir CANSA (kinderkanker). Die veiling en die ekstra donasies wat die dag gemaak is het 'n bedrag van R3 350 vir 'n baie goeie doel ingesamel. Dankie vir almal se wonderlike bydraes en teenwoordigheid die dag, veral aan Die Courant en Malmesbury Superspar!
My belofte aan Hildegarde is om ten minste een halfmarathon per jaar saam met haar te doen. Die afgelope Sondag was dit weer die beurt van die Gun Run. Soos ek nou hier sit is ek steeds in pyn. Maak nie saak hoe fiks jy is nie, draf is 'n ander ding. Jy moet hom oefen en jou liggaam moet gewoond raak aan die afstand. My mikpunt was om 2 ure te breek en Hildegarde wou onder 1 uur 40 min hardloop. Sy draf deesdae baie min met die gym wat haar feitlik voltyds besig hou.
Ons het by haar ouers oorgebly Saterdag aand en die kinders was by ouma en oupa terwyl ons gehardloop het. Ek het Hildegarde by die wegspring afgelaai sodat sy 'n beter wegspringplek kan hê terwyl ek parkeerplek gesoek het. Ek het feitlik heel agter weggespring, maar was vol vertroue dat ek my doelwit sal bereik. Dit was my 3de Gun Run en ek het presies geweet waar dinge vir my die vorige 2 keer verkeerd gegaan het. Ek het baie lekker gehardloop en het die eerste 10 km in onder 50 min gehardloop. Daarna het die vasbyt begin. Die lyf het begin seer raak en ek moes my kop reg hou. Die onderstaande foto is ongeveer 3 km van die einde en jy kan sien dis laat in die dag! Ek het net aangehou hardloop en sommer die laaste km my laaste energie gebruik. Ek het klaargemaak in 1 uur 48 min, 12 minute vinniger as my vorige beste! Hildegarde het klaargemaak in 1 uur 37 min en ons het altwee baie tevrede teruggekeer huistoe.
Eerskomende Sondag is dit die beurt van die Impi Challenge. Ek belowe ek sal nie weer so lank vat om julle in te lig nie. Hierdie was baie "catch-up" werk vir my!
Groetnis,
JG
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking