Al wat ek kan sê is WOW! As ons op 30 Maart 2014 die helfte van die
bevrediging het wat ons na afloop van die afgelope Saterdag se Vrouedag ten
bate van Sistiese Fibrose het, het ons ‘n fantastiese Epic gehad. Verlede week was absoluut chaos met al die reëlings
vir twee funksies wat ek moes reël. Die
eerste een het Woensdag aand plaasgevind en was ‘n Bayer / Nexus aand met ‘n
rapsie oor die 100 produsente teenwoordig.
Ons het ‘n bietjie vorentoe gekyk na wat die jaar in die graanbedryf kan
oplewer, asook ‘n uitstekende praatjie van Prof Ettienne Kok oor “mens health”
gehad. O'kasi Spyseniering met Benita
Bester aan die stuur het vir die ete gesorg en die komplemente stroom steeds
in. Ek sal later in die blog weer daarna
verwys, maar dit help regtig as jy met mense saamwerk wat weet wat hulle doen,
dit haal ‘n enorme hoeveelheid druk van jou as organiseerder af.
Die hoogtepunt van my en Hildegarde en ek
hoop ook almal wat die oggend bygewoon het, se week was egter die Vrouedag te
Delsma Farm ten bate van Sistiese Fibrose.
Ek was nou wel die ou wat die dag gereël het, maar blikskottel, dit het
selfs my stoutste verwagtinge oortref.
Ek het altyd geweet dit sou ‘n lekker dag wees as alles saamwerk, maar
ek het nooit kon dink dat dit so geslaagd sou wees nie. Ek is maar van nature redelik skaam teenoor
die skoner geslag, so vir my was dit nogal rof om een van 5 mans tussen 200
dames te wees! Hier wil ek dit
beklemtoon aan enigeen wat ooit so ‘n tipe funksie wil reël, werk met
profesionele mense en jou werk is beslis die helfte ligter.

Ek het vandat ons die Epic inskrywing gekry
het die idee van ‘n Vrouedag gehad. Ek het net nie op daardie stadium geweet
ten bate waarvan ons dit sou doen nie.
Hildegarde was van die begin af aan boord met die gedagte. Ek dink nie ek het al voorheen presies gesê waarom ons juis Sistiese Fibrose gekies het as ons organisasie nie. Ek dien op Malmesbury Fietsryklub
(Voorsitter), Malmesbury Wingerdstudiegroep (Sekretaris) en Hermon
Landbouvereniging (Sekretaris). In die
gevalle waar ek sekretaris is, werk jy baie nou met jou voorsitter. In Oktober 2013 moes ons totsiens se aan ons
Malmesbury Wingerdstudiegroep voorsitter, wyle Bennie Lambrechts (Bennie
Punte). Dit was ‘n tragiese ondervinding
vir ieder en elk, maar vir my het dit op ‘n ander vlak geraak. Ek het besef dat ek in situasies geplaas word
waar ek nou saam met mense werk, met wie ek nie noodwendig sou saamwerk as ons
nie op die komitee saam gedien het nie.
Ek het in hierdie proses redelik “close” geraak met meeste van my vorige
voorsitters. Hulle het my beter leer ken
en ek verseker vir hulle ook. Dit bring
my by die rede hoekom ons Sistiese Fibrose gekies het. My huidige voorsitter by Hermon
Landbouvereniging lei aan Sistiese Fibrose.
Hy het my eenmaal op ‘n gholfdag ten bate van die siekte laat saamspeel
en ek het daardie tyd alreeds die nood gesien.
Die Epic en die hele reis het egter my oogklappe laat afgaan om te sien
dat ons as “Team Nexus” ‘n verskil in iemand se lewe kan maak deur die
positiewe energie vir ‘n goeie saak aan te wend. Die ander hoofrede was natuurlik die feit dat
75% van diagnosisse van die siekte gedoen word op kinders onder die ouderdom
van 2 jaar. Ons kinders is
onderskeidelik 3 en 5 jaar en ons kan net elke dag dankbaar wees dat hulle
blakend gesond is, almal is nie so gelukkig nie.
Nou goed, lang storie om uiteindelik by die
detail oor ‘n baie lekker Vrouedag uit te kom.
Die kaartjies is aan verskillende gasvroue uitgegee en elkeen moes ‘n
tafel probeer volmaak. Februarie is egter
nie ‘n maklike maand wat kinders se sport ens. aanbetref nie, maar wanneer is
nou eintlik deesdae ‘n goeie tyd vir iets?
Ons het reggemaak vir 220 dames.
Elkeen het ‘n “goodie bag” op sy stoel gekry met aankoms. Die span by Delsma het absoluut uit hul pad
gegaan om dit die beste Vrouedag ooit te maak.
Die kos en diens was puik. Wicus
van der Merwe was ons seremoniemeester en hy het dit met die “flair” gedoen wat
slegs hy kan. My persoonlike opinie is dat die sukses van die dag grootliks toe te skryf was aan die manier hoe hy die
dames op hul gemak geplaas en meeste van die tyd laat skater het. Niks met Wicus is egter normaal nie en vir
hom om ons funksie op Hermon, wat 30 km van sy huis, is te kon doen moes hy eers
Donderdag aand in Buffelsfontein (êrens in die Noorde van die land) en Vrydag
aand in George optree – waarna hy dieselfde aand terug na Malmesbury gery het
(03:00 by huis gekom) en toe kraakvars vir ons funksie die volgende oggend
was! RESPEK Wicus, jy is super
professioneel en ‘n plesier om mee saam te werk. Dit was natuurlik nie sy laaste optrede van
die naweek nie en hulle moes nog dieselfde aand in Robertson ook ‘n funksie
doen.
Die volgende sleutelpersoon van ons oggend
was ons gasspreker. Mnr. Peter Leid is
‘n Sistiese Fibrose leier wat ‘n dubbele longoorplanting gehad het. ‘n Merkwaardige praatjie met uitstekende
foto’s wat meeste van ons presies gewys het hoe nodig bewusmaking en fondse vir
hierdie siekte is. Ons het verseker
geslaag in ons doel om persone wat nog nooit van die siekte gehoor het nie,
bewus te maak daarvan en ek dink vir baie van hulle, geintreseerd ook. Die ander saak wat hy aangeraak het, en dit
sal dalk deel uitmaak van ‘n volgende projek vir my en Hildegarde, is die belangrikheid
van orgaan skenking. As dit nie vir
iemand anders was, wat tragies oorlede is nie, het Peter nie vandag gelewe
nie. Die spesifieke skenker het op die
dag van haar afsterwing die lewens van 6 ander mense gered deur ‘n
geregistreerde orgaanskenker te wees.
Peter het kans gegee vir vrae en die dames het hul antwoorde en ekstra
inligting gekry.

Na Peter se praatjie wat genoeg stof tot
nadenke gelaat het, moes ons die gemoedere ‘n bietjie ligter maak en Andriette
Norman het op die verhoog verskyn met haar kitaarspeler Sven Blumer. Mense, ek het geweet sy kan sing, maar ons
het nooit geweet dat sy SO goed is nie!
Sy laat die gehoor spesiaal voel, sy praat met hulle asof sy hulle jare
al ken, sy deel dinge van haar eie lewe en deur dit alles sien mens net hoe
“nice” sy is. Andriette, julle het
gekook! Julle vertoning was tops en al
ons verwagtinge is oortref. Andriette
het uit haar eie 2 CD’s geskenk om ook opgeveil te word ten bate van Sistiese
Fibrose. Die 2 CD’s is onderskeidelik
vir R540 en R1 400 verkoop! Hoe’s daai
vir ‘n advertensie vir die vrou se gehalte? Andriette, Sven en Alice – julle is “great” mense en het ons almal se
dag gemaak.
Wicus het voortdurend gelukkige trekkings
gehou met sy kwinkslae tussenin. Daar
was sonbrille, geskenkbewyse, eiers, geskenkpakke en vele meer wat uitgedeel
is. Hierdie pryse, asook die pryse in
die “goodie bag” is alles aan ons geskenk deur instansies in ons streek. Die lys is aangeheg in die blog. Hierdie organisasies het hul harte en
beursies oopgemaak om die dag ‘n sukses te maak. Ons het op die oggend ook ‘n paar lootjies
verkoop. Die prys was ‘n skaap. Ons het ‘n verdere R3 000 met die lootjies
ingesamel! Ek het heeltyd ‘n bedrag in
my kop gehad wat ek wou oorhandig aan die Cape Cystic Fibrosis
Association. In die week in opbou na die
Vrouedag het ons ‘n enorme tjek laat druk met ‘n bedrag op. Ek het geweet dat daar nog baie water in die
see moet loop voor ons heeltemal by daardie bedrag sou kon uitkom, maar het
geweet dinge sal uitwerk. Die ekstra
gelde wat ons met die CD’s en die lootjie ingesamel het, maak die bedrag wat op
die tjek staan – R25 000 ‘n realiteit.
Hierdie gelde word aangewend om die masjiene te koop wat die Sistiese
Fibrose leiers daagliks moet gebruik.
Een masjien kos in die omgewing van R2 000, so ons help met 12 en ‘n
half masjiene!
Daar is geen manier wat jy so iets kan
aanpak sonder ‘n sterk span nie, ons het so ‘n span. Ek gaan niemand hier uitsonder nie, maar
julle weet wie julle is en daarvoor bedank ons en Cape Cystic Fibrosis
Association julle opreg. Dankie ook aan Talitha Lambrechts en Saretha Fouche vir die pragtige foto's. Ons klere is in
die proses om gemaak te word, waarmee ons op die eerste en laaste dag van
vanjaar se Epic ten bate van Sistiese Fibrose gaan ry. Ons is ambasadeurs vir die organisasie en wil
nog ‘n klomp masjiene help koop. Jy kan
enige tyd ‘n verdere bydrae maak deur deel te neem aan my en Hildegarde se “We
Ride To Breathe” projek. Die Epic
bestaan uit 718 km en 15 000 m vertikale klim.
Ek en Hildegarde verkies altwee om eerder bult op as bult af te ry (ons
maar lekker bang vir vinnige afdraende), so ons wil graag die meters wat ons
klim in die Epic vir Sistiese Fibrose klim.
Borg ‘n meter vir ‘n rand en ons kan ‘n verdere R15 000 aan Cape Cystic
Fibrosis Association oorhandig. Kontak
my gerus hieroor.

Verlede week was ‘n swak week van oefen met
al die funksies, maar die gevoel wat ek het soos wat ek hier sit en tik, is een
van dankbaarheid en ek weet met hierdie mense rondom my kan dit net goed gaan
met ons voorbereiding en pad vorentoe.
Lekker week vir almal en hou die gedagtes
positief!
Cheers,
JG
Jaco, soos jy genoem het, die funksie was 'n absolute sukses in die oortreffende trap! Nooit geweet dat 'n mens soveel pret kan geniet met die insameling van fondse nie. Dit is absoluut fantasties om die jaar met so 'n groot finansiele hupstoot te begin en ons is opreg dankbaar vir almal wat meegewerk het aan die grootse geleentheid. Sonder jou en Hildegarde se besielende leiding sou dit egter nie so suksesvol gewees het nie. Ons kry geen hulp van die Staat nie en die nood bly hoog, want vele pasiente het eenvoudig nie die fondse om die siekte doeltreffend te beveg nie. Julle help om die lewensverwagting van vele mense beter te maak, GROOT DANKIE. Alwine Pretorius, Voorsitter, Cape Cystic Fibrosis Association
AntwoordVee uitWat 'n fantastiese oggend was dit nie!! Baie dankie, my kinders, vir al julle harde werk om so 'n oggend moontlik te maak! Ek is trots op julle en baie lief vir julle!
AntwoordVee uitJaco en Hildegarde... julle kan baie trots wees op al die harde werk en sukses tot dusver. Saterdag se vrouedag was great!! Soos wat ek praat oor die vroueoggend kom ek al hoe meer agter hoe min mense regtig weet van CF... en besef hoe belangrik bewusmaking is. Sterkte met die res van jul voorbereiding vir die Epic. GROOT inspirasie vir my! Mooi bly, Marisa :-)
AntwoordVee uit